‘n Troue is so ‘n praktiese affêre. Dis so ‘n heilsame affêre. Die wêreld skiet tekort aan heilsame gebruike. In ‘n wêreld waar niemand verbind wil wees nie, is dit eintlik interessant om te sien dat mense nog meemaak aan so ‘n seremonie. Vroeër-jare het die spreekwoord gelui: Trou is nie perde-koop nie, maar ek dink die twee transaksies het nogal ‘n paar raakpunte:
Beide is deesdae meer seremonieel van aard. Beide word dikwels aangeskaf vir die kinders. Beide is geneig om jou ‘n skop in die tande te gee as jy agteraf is.
Ek dink dit is amper al ‘n norm dat mense eers saam bly en mekaar dan hul ‘verloofdes’ noem. Die mense se ewige soeke na definisie. Ons kan nie net ‘saam’ wees nie. Twee siele wat een word. Natuurlik kan drie of meer siele een word in party kulture. Ons dink partymaal ‘n huwelik word deur alle mense dieselfde gesien, maar ek vermoed ons hoef nie ver te kyk om die verskil in gebruike te sien nie. In Junie is ‘n vrou in Suid-Afrika ge’gee’ aan ‘n SABC-voorsitter. In Pakistan is ‘n vrou aan die einde van Mei deur haar eie familie met klippe doodgegooi oor sy getrou het met die persoon vir wie sy lief was.
‘n Troue kon konflik tussen strydende dorpe of lande bemiddel. Troues moes dikwels kontrakte beklink en persoonlike keuse is nie altyd ‘n opsie wat aan die bruid en bruidegom oorgelaat is nie. Ek verstaan die gebruik dat ‘n mens nie die bruid voor die troue mag sien nie, kom juis uit die tyd dat die paartjie nie eintlik voor die tyd geweet het hoe die ander persoon lyk nie. As die persoon nie tevrede was met die keuse nie, kon hy/sy hul dalk uit die voete gemaak het.
Die moes-troue
Ek dink dikwels aan die storie van die wyse dokter wat aan die groentjie predikant moes verduidelik waarom so baie van die mense wat hy trou dan slegs ‘n paar maande later met ‘n baba rondloop.
“Jy sien dominee, die eerste babatjie kom somtyds op ses maande, self sewe. Die tweede baba word gelukkig klokslag altyd op nege maande gebore.”
Ek het al heelwat ‘moes troues’ bygewoon. Slegs een het my tot dusver na my asem laat snak. Die pastoor wou heel duidelik die boodskap inter-aktief maak. Hy vra toe die bruid: “Waarom is ons hier vandag? Wat dring jou om hier te wees? Wat is binne-in jou?”
Ek moet sê dat ek vir ‘n oomblik gedink het dat hy die paartjie van die kansel af gaan berispe. Toe die pastoor sien dat die bruid nie bereid is om te antwoord nie, het hy gelukkig die ‘voor-die-hand-liggende’ antwoord gegee: “Die Heilige Gees, natuurlik.”
Ek wonder tot vandag toe of die paartjie wat getrou het, die pastoor ingelig het oor die swangerskap.
Die verhaal van die haas en die skilpad het vir my geleer dat dit belangriker is hoe jy klaarmaak as hoe jy begin. Die liefde is mos veronderstel om geduldig te wees.
ballade vir ‘n 5-jarige huwelik
deur Antjie Krog
vanoggend met ontbyt vorm ons die klassieke spotprent:
jy met jou welige hare wat blink om jou nek en ore tros
jou oë penblou en skerp ingestel reeds op vandag se werk
jou hande korreleer presies die argitektoniese opsy
van perfekte spek en eiers
my gesig ongewas, sweterig van ontbyt maak
lê pofferig geplooi, ‘n kussinghaal keep my wang
my hare ongekam en my hande vol tissues, hooikoors en kinders
dan wonder ek wat het gebeur?
ek behoort artikels te lees oor hoe om jou man te behou
ek behoort pastelagtige rome vir my vel te koop
fyn hoëhak-sandaaltjies en kettinkies
ek behoort weer Miss Balmain te gebruik en kantsakdoekies
‘n breastlift te kry sodat my tieties weer rosig en lewendig
onder jou hande kan vroetel,
die leervelle oor my maag en gewese sexy boude te laat wegsny
(die baldadige moeras tussen my bene is goddank tydloos)
en dan?
dan weet ek nie verder nie
hoe lank voordat ons mekaar se vleis met naels van die ribbes ruk
mekaar se skedels in vreemde huise oor die matte rol
mekaar se genitalieë saam met uie in bredies rasper
cocktails met mekaar se oë versier
blou maraschino-kersies dobberend op lang kil martini’s?
(drink my altyd so met jou oë…)
ek staan op en laat vir jou ‘n roos kantoor toe stuur
sedert ek daardie oggend opgekyk
en jou tussen die karikature betrap het
het ek jou lief
Uit: Otters in Bronslaai
Die Vegas-troue
Die Amerikaanse TV- en fliek-kultuur het ook al inslag in ons eie land gevind. Soveel so dat ‘n mens beswaarlik ‘n troue daarsonder kan voorstel. Van die Ram(p)-party tot die kortstondigheid van kits-troues in Las Vegas. (Gelukkig het ons nog nie die Vegas-troue nie.) Die bekendste Vegas-troue is miskien die troue tussen die ware Elvis en sy bruid, Priscilla.
Deesdae kan ‘n Elvis-nabootser jou vinniger trou as wat dit neem om ‘n bankrekening oop te maak.
“One for the money, two for ring!”
Die ring speel ‘n belangrike rol in die meeste huwelike. Dit word die simbool van jou kontrak of verbintenis met die ander persoon. Die ring is teken van ‘oneindigheid’ en meer spesifiek ‘oneindige liefde’ wat die huwelik simboliseer.
Weereens spook die verhaal van die haas en die skilpad by my: ” If you never caught a rabbit, you ain’t no friend of mine.”
Koos du Plessis gee ‘n ietwat siniese kykie op die trouring en hoe ons na mekaar kyk voor en na die troue in die gedig hieronder. Die antwoord word gegee, maar wat is die vraag. Om die huwelik ook ‘n spreekbeurt te gee kan daar gevra word hoe die huwelik kyk na die mense wat daardeur aanmekaar gebind is.
“Alles was mos klopdisselboom totdat ons getrou het.”
Die goue kring
deur Koos du Plessis
O, die goue ring, die goue ring:
agtien karaat-versekering:
hoog heilig is die dubbelbed;
hoër heilig en geseënd die pret.
O, die goue ring, die goue ring
maak elke hoer ‘n hemeling
Uit: Skink nog ‘n uur in my glas
Die hof-troue
Die regs-wêreld steun vreeslik op die ‘redelike mens’ konsep. Dit sal dus een redelike mens wees wat met nog ‘n redelike mens trou. Ek dink dit sal goed wees vir meer mense om in ‘n hof te trou, want dit sal miskien meer erns aan die saak gee. Die probleem kom in by die redelike mens wat somtyds onredelike gedrag openbaar.
Ek verstaan die HVK, die binne gemeenskap, buite gemeenskap en as gevolg van gemeenskap deel. Ek verstaan die kontrak en die ring. Die dinge wat my laat wonder is die lewe sonder die kontrak en ring – die abstrakte konsepte van liefde of kameraadskap. Dit is seker maar weereens ‘n manier waarop ons probeer orde skep in die wêreld. Ek kyk na die bleek vel om my vinger as ek my ring afhaal.
A Marriage
deur Robert Creeley
The first retainer
he gave to her
was a golden
wedding ring.
The second—late at night
he woke up,
leaned over on an elbow,
and kissed her.
The third and the last—
he died with
and gave up loving
and lived with her.
Uit Selected Poems of Robert Creeley
Die kerk-troue
Troues was in plek lank voor kerke daar was en die meeste kulture het een of ander vorm van trou. Ek moet sê dat dit gaaf sou wees as predikante nuwe teksverse sou probeer by troues. Ek verstaan egter dat ‘n kerk-troue die veilige opsie is vir beide die predikant en die paartjie en dat ‘n mens seker nie op jou troudag ‘n boodskap wil hoor wat jou laat wonder nie. Troues is familie-reünies en sommer ook die plek waar jy nostalgies onthou waar jou familie Sondae gesit het as die troue op ‘n bekende plek plaasvind.
die trouvers
en daarom sal ‘n versreël
die vers verlaat
en ‘n vrye vers omarm
totdat die rym wat eens
sou moes kruis
in ‘n nuwe ritme en metrum verskyn
wees dan aan ritme onderdanig
soos wat ritme aan ons onderdanig is
en laat geen geleentheid gly
om ‘n stukkie alliterasie
in die nuwe versreël te kry
so spreek die digter digter
ritme, metrum en rym
en die eerste hiervan is die ritme
Ek wonder steeds watter doel die getroude lewe vir die hedendaagse samelewing het. Prakties gesproke verminder dit sekerlik fisiese en geestelike siektes. Getroude mense is blykbaar gelukkiger. Ek neem aan dat dieselfde geld vir mense wat in ‘n langtermyn verhouding staan.
Hoe om die lewe saam aan te pak, word goed opgesom deur Khalil Gibran in sy The Prophet:
“Love one another, but make not a bond of love:
Let it rather be a moving sea between the shores of your souls.
Fill each other’s cup but drink not from one cup.
Give one another of your bread but eat not from the same loaf.
…
And stand together yet not too near together:
For the pillars of the temple stand apart,
And the oak tree and the cypress grow not in each others’s shadow.”
Verhoudings en dan spesifiek die getroude lewe is lekker omdat ‘n mens dit nooit volkome sal verstaan nie. Daar is nie regte antwoord nie, maar eerder reg-vir-jou antwoorde.
Miskien kan jy die Elvis-nabootser ‘n ietsie ekstra gee om die dansbaan te open. Kyk dan diep in jou maat se oë en luister hoe die musiek in die agtergrond in verdwyn:
“Wise men say only fools rush in
but I can’t help falling in love with you”
Bronnelys:
1. Creeley R. 1991. Selected Poems of Robert Creeley. University of California Press
2. Du Plessis K. 1995. Skink nog ‘n uur in my glas. Kaapstad: Queillerie-Uitgewers
3. Gibran K. 1983. The Prophet. Parklands: AD Donker
4. Internet. http://keshet-atelier.nl/example_pulpit_cloths.htm.nl
5. Internet. http://wedding-blog.gigmasters.com/weddings-we-love-fall-inspiration/
6. Internet. http://www.azlyrics.com/lyrics/elvispresley/canthelpfallinginlove.html
7. Internet. http://www.mywedding.com/articles/10-most-famous-las-vegas-weddings/
8. Krog A. 1981. Otters in Bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau
Ek is jou grootste aanhanger.Dink nog altyd jys wonderlik.