Dodemis vir Federico García Lorca
Op die heuwel onder ‘n olyfboom
sprinkel blinde boogskutters
‘n liturgie van kordiet
oor jou stiervegter postuur
kantel jou blinddoek die maan
kantel jou liggaam die graf
kantel die graaf sand
oor die bloedstola van jou jodiumlose lyk
en bind die nagtegaal in jou are af.
Die swart bul en die vyeboom
skreeu jou naam
teen die banale doodsplegtigheid
in daardie fascistiese somer van ses-en-dertig
uit die stal van jou lippe bars
‘n brigade perderuiters loop
‘n bende storm spring oor ‘n muur
en vertrap sonder genade of vergifnis
die diktator se hartseertong.
Maar uit die liggaam
van jou woorde en die bloed
van jou lamente kantel
nog steeds uittartend odes
wat met kristal en nikkel
die strofes van ander digters,
na en voor jou,
versplinter in metafore
van gefolterde grafiet.
En om vyf in die laat agtermiddag, my liewe Lorca
klokslag jou granaat en arseen woorde
die dood se requiem
oor dood alleen
in jou ewige lewe van agt-en-dertig.
( Die beelde kom uit die Engelse vertalings van die volgende gedigte deur Lorca; Before the dawn, Gacela of the dark death, Ballad of the moon en natuurlik Lament for Ignacio Sánchez Mejías.
Die doodsmis liturgie wat as basis dien vir die struktuur van die gedig is die van Our Lady of Mt. Carmel Roman Catholic Church)
Manjifiek – met deernis en woorde vol belofte (al is dit die dood self)
Ook vir my besonder mooi
‘n besonder mooi gedig, myns eenvoudige insiens.