Lykdig 50: Trienke Laurie. Swiep van ‘n windswael

Swiep van ‘n windswael
               Pieter Claassens (1949–1983)

Windswael, wat het van jou geword?
Selfs as jy na benede stort,
val jy nie op die grond:
Jou maats vang jou vere
pik donsies vir hulle neste
teen vertikale rotslyste
en die wind draai om jou
ondeursigtig, ‘n wolkkombers.

Speeksel uit jou bek
dié was jou nes en tuiste
en die Hottentotte van die oervlak
sou teen hulle tande suigklik
hulle tonge teen die verhemelte laat klots
en ‘n sug gee oor jou te vroeë dood.

Jou lewende windharpklanke
ramkie nie soos die hoë skree
van die hutjie-hee
of van die windswael
as hy vertonerig buitel nie,
maar kom lê, kom drup-drup
“in my diepste oor.”

Sommige swaai ‘n daggapil
of ry die baaik heluit
as hulle down is,
maar metafisika
is bog teen aërobatiek.
Die windswael rus
op die strome van die lug
en vinnig wik hy sy wîe rond.

In sy slaap, haal jy aan,
dig die digter oë-oop.
Die windswael vlieg in sy slaap:
het jy in jou slaap gevlieg?
‘n Brik se twee seile
—vlerke vir hemelvaar gevorm—
en ‘n veer skryf in die lug:
“Hier het ‘n windswael geroep
geroep” en terwyl ek soek
vou die smalt van die lugstroom
die woorde weer toe.

Bookmark and Share

Comments are closed.