Stilte
In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)
In bossies van drie en sewe,
pomp die see ‘n buik vol skulp en wier
teen die strand se korrels vas;
strooi dit oor haar onderrok se borrelsoom
tot voor die rooiskoen- vrou met die
die briefie in haar hand.
Ontvlugting, reeds jare dood
vir nou bly net die stilte oor:
Stilte.
Hartseerkind word hartseervrou:
Stilte.
Die water om haar enkels en dan heupe
het haar vir oulaas vasgehou —
‘n selluloïedpoppie, reeds gesterf
met ‘n profetiese brander vervullend doodgerol:
“Korreltjie klein,
korreltjie dood. “
Ek hoor nog steeds haar stem bo die branders redeneer
en die sleepspoor waar sy haar beker van wanhoop-wense vul;
waar die die diepsee die geheime van rooi-wang pop kodeer
offer sy haar lende en die kurwes van haar laaste pen.
Sý is die hond wat steeds op strande draf,
die seëvoel wat verhongerd vir oulaas daal
en stukkies waarheid tussen wier en gras kom
haal en opdis as die brood, wyn en water
by ‘n nimmereindigende laaste avondmaal.
Skielik was sy “Safe soos Jesus”;
haar leë binneste weer heel –
“Pie” en “Gousblom” het geantwoord
geglo, geweet en toe gedoen.
Die fluister van die branders is die wit spook
wat ongebore drome verenig en my terugruk
tot die toetse van haar tikmasjien
waar wonderwoorde die lig kan sien:
Vir álmal maar nie vir haar nie.
Stilte.
Stilte.
