Jannie Malan. Oor Klitskassette en gedigte

Daar is min dinge uit die jare tagtig wat ek mis. Nie die frustrerende Rubiks-blok nie, nog die neon hemde. Ek mis nie die groot hare nie…wel, ek mis die hare, punt. Ek mis nie die biep-biep-biep en blokkerige grafika van Space Invaders op die Atari speletjiekonsole nie. Ek het die A-Team so bietjie gemis, maar net tot ek dit nou die dag weer op een of ander kanaal raakkyk en nie kon verstaan hoekom nie. Maar daar is een ding wat ek bitterlik mis. Ek mis die Mixtape, die maak daarvan, die ontvang daarvan en die eerste opgewonde luister daarna. Soos die smartvraat Morrissey in 1991 teem:

A sad fact widely known
The most impassionate song to a lonely soul
Is so easily outgrown

But don’t forget the songs that made you smile
And the songs that made you cry
When you lay in awe
On the bedroom floor
And said : “Oh, oh, smother me Mother…” No.

                   Uit: Rubber Ring; 1991; The Smiths

(Belangrik. Ek het gespeel daarmee om Mixtape na Klitskasset te vertaal, maar dit klink net nie dieselfde nie. So ek volstaan deurgaans met ‘Mixtape’.)

‘n Vriend sê gisteraand oor ‘n ligte bier vir my, “ek het jou bundel gekoop”.

“Dit is wonderlik, dankie man, en wat het jy daarvan gedink?”, vra ek beide opgewonde en effe skrikkerig.

“Ek het dit nie gelees nie,” kom die antwoord bot, asof ek gevra het of hy ‘n seksueel oordraagbare siekte het.

Eintlik was ek nie verbaas nie. Dit was vir my baie dieselfde as destyds op skool, met musiek. In die arrogansie van adolosensie het ek gevoel dat daar weinig van my vriende was met wie ek in diepte oor indie musiek en obskure groepe kon gesels. In ‘n filantropiese en misplaasde poging om hulle op te voed het ek verbete Mixtapes begin saamstel en uitdeel, kompleet – soos dit hoort – met handgeskrewe snitlyste en omslae noukeurig en van pas uit die Top40 en NME geknip. Ek vermoed dat meeste van hierdie kassette ongeluister steeds êrens in dose in garages en bo in kaste lê en stof vergaar.

Die maak van ‘n properse Mixtape was ‘n wetenskap van sy eie. Eers moes jy besluit of jy ‘n 60 of 90 minute kasset gaan gebruik. 90 minute het jou natuurlik meer tyd gegee, maar hulle was geneig om vinnig te rek, sodat veral die eerste en laaste snit op die band begin trek en bewe het. Dan het jy een van daardie radios (“boomboxes”) nodig gehad met twee ‘tape decks’ en dan was dit ‘n grootliks ‘n proses van PAUSE, PLAY, REC, en STOP beurtelings druk om die nodige snitte oor te dra. As jy werklik gekonfyt geraak het, kon jy later skat hoeveel spasie ‘n liedjie sou opneem, veral om daardie laaste moeilike oorblywende segment optimaal te benut. Ook het jy geleer om die hoorbare ‘klik’ in die pouse tussen liedjies te vermy. Ek het sedert daardie jare weer musikale samestellings gemaak – op CDs en as speellyste op my iPod. Vreemd genoeg was dit net nie dieselfde nie. Miskien vir dieselfde redes dat plate hulle terugkeer maak. Miskien raak die hipsters ook weer nostalgies oor kassette!

Vanuit ‘n estetiese oogpunt glo baie entoesiaste dat omdat ‘n kasset jou nie toelaat om oor snitte te spring – soos ‘n CD of mp3 speler wel doen – die Mixtape in sy geheel oorweeg moet word. Dit beten dat die Mixtape outeur die oorgang tussen liedjies, die effek van jukstaposering (sag hard, opgewek depressief), en die oorkoepelende narratief van die hele kasset moet beskou. Sjoe.

In sy 1995 boek High Fidelity gee Nick Hornby se karakter ‘n lys van sulke estetiese reëls:

“To me, making a tape is like writing a letter — there’s a lot of erasing and rethinking and starting again. A good compilation tape, like breaking up, is hard to do. You’ve got to kick off with a corker, to hold the attention (I started with “Got to Get You Off My Mind”, but then realized that she might not get any further than track one, side one if I delivered what she wanted straightaway, so I buried it in the middle of side two), and then you’ve got to up it a notch, or cool it a notch, and you can’t have white music and black music together, unless the white music sounds like black music, and you can’t have two tracks by the same artist side by side, unless you’ve done the whole thing in pairs and…oh, there are loads of rules.”

Mmm. Baie reëls… ‘n mens kan nie help om die ooreenkoms met die skep van ‘n gedig, en meer nog, van ‘n bundel gedigte, te herken nie. Op Wikipedia sluit die inskrywing onder andere die volgende in: “In beide is daar ‘n berekende kodering van emosie-belaaide inhoud om ‘n soortegelyke emosionele reaksie by die dekodeerder te bewerkstellig. Sommige reken dat die outeur van ‘n Mixtape as kunstenaar verhef word deur die kombinasie en teenmekaarstelling van nie-verwante musiek tot ‘n nuwe kunswerk. Hierdie beskouing het egter kritiek uitgelok as elitisties (word dit nie maar ook oor die poësie gesê nie!?) met skeppers wat meer besorgd raak met die opspoor van geheimsinnige en verassende kombinasies van snitte as om ‘n kasset te skep wat lekker is om na te luister en geskik is vir die voorgenome gehoor.”

Op ‘n webwerf met die titel Get frank spoor ek “15 onfeilbare reëls vir die maak van die perfekte Mixtape” op. In lyn met die ooreenkoms hier bo vermeld, herposisioneer ek die riglyne vir my doeleindes tot agt en maak dit ook op die skryf van gedigte van toepassing.

  1. Weet ‘n bietjie van musiek af. ‘n Mixtape is nie iets vir iemand wat musikaal naïef is nie. Dis nie die saamgooi van ‘n klomp kontemporêre radiotreffers nie. So moet jy as digter ook ‘n bietjie van die poësie af weet – jy moet darem al ‘n paar gedigte gelees het sodat jy nie in ‘n totale vakuum skryf nie. Jy wil in gesprek tree met die digters wat voor jou gekom het en die wat tans aan die poëtiese diskoers deelneem.
  2. Kies ‘n tema. Baie belangrik! ‘n Mixtape moet altyd ‘n tema hê, ongeag daarvan of dit getiteld is: “Somermusiek”, “Die beste “bokkie” liedjies”, of “Die klank van blou” ens. ‘n Tema bind die hele kasset en verhef dit bo ‘n losse sameflansing van liedjies. Dieselfde geld vir ‘n bundel – ‘n bundel behoort ‘n oorkoepelende tema te hê of verskeie tematiese eenhede bevat, maar ‘n vorm van tema moet verkieslik daar wees.
  3. Skep konsep snit lyste. In my skryfproses sit ek selde (indien ooit!) my finale werk met die eerste probeerslag op papier of op die rekenaarskerm. Net soos jy weer en weer (en dan nog ‘n paar keer) jou gedig skryf en herskryf moet jy ook jou Mixtape se snitte neerpen, herorden, uitkrap, nuwes bytrek ens. Toets al die kombinasies voor jy die REC knoppie druk, of die CD brand.
  4. Begin en eindig op ‘n hoë noot. Die eerste en laaste liedjies op ‘n Mixtape is die mees belangrike snitte. Die eerste liedjie posisioneer die hele klankkasset en huldig die luisteraar in jou wêreld in of nie. Begin dus met iets waarvan jy weet jou gehoor sal hou. Die laaste snit laat die blywende indruk en jy wil hê die Mixtape moet voltooid en afgerond oorkom. Pas dit toe op jou bundel se samestelling (waar moontlik). Begin sterk en eindig sterk – dit is soms die enigste twee gedigte in ‘n bundel wat die voornemende leser bestudeer terwyl hulle in die winkel snuffel.
  5. As jy twyfel, mik vir korter as langer. Niks is erger as ‘n Mixtape wat nie einde kry nie. Sit dan eerder net ses snitte op as hulle beter tot mekaar spreek as wat 18 sou gedoen het. Ek, persoonlik, het ‘n voorliefde vir ‘n korter gedig. Vir my is poësie tog ‘n oefening in minimalisme; om soveel as moontlik met so min as moontlik te sê. Die keuse van net die regte woord. Daarom sal ek, wanneer ek moet kies tussen ‘n lang of ‘n korter gedig, eerder vir die korter een mik.
  6. Gee jou Mixtape ‘n goeie titel. Mixtapes moet ‘n titel hê. Dit verpersoonlik en dit help om die tema te bewerkstellig. Dit kan meer generies wees soos “Lekker liedjies – Volume 1” tot meer spesifiek “liedjies wat my aan die spesifieke skakering van jou oë herinner”. Net so moet jy hard nadink oor die titel van jou gedig. Die titel posisioneer reeds die gedig en kan help met die ontknoping. Soms is dit die eerste metateks waarmee die res van die gedig in gesprek tree. ‘n Deurdagte titel kan ‘n goeie gedig nog meer “oemf” gee.
  7. Vra vir terugvoer. O, die opgewondenheid om vroegoggend fiets te trap skool toe sodat jy daardie spesiale iemand kan opspoor om te vra “en, het jy daarvan gehou?” Dit is belangrik om te weet van watter snitte hulle gehou het en van watter nie. Volgende keer sal jy beter weet om die seleksie 100% reg te kry. Net so ook jou digwerk. Deel dit met mense, vra vir eerlike en objektiewe terugvoer. Vat dit soos ‘n man as dit nie komplimentêr is nie – betwyfel dit as dit té vol lof is. Neem daaruit wat jy kan om jou werk te verbeter.
  8. Laastens, moenie die mag van die Mixtape onderskat nie! Op ‘n Mixtape gebruik jy die liriek en poësie van iemand anders om jou gevoelens (so moeilik om as tiener te doen) uit te druk. Dit is ‘n delikate handeling. Veral as jy ‘n Mixtape skep vir iemand waaroor jy baie passievol voel. Jy moet versigtig wees om geen snitte daar te plaas wat dubbelsinnigheid bevat, of wat heeltemal verkeerd geïnterpreteer kan word nie. Waar reël 10 vir die maker van die Mixtape as waarskuwing dien, is dit egter bemoedigend vir die digter. Moenie die mag van die gedig onderskat nie. As digter raak ‘n mens soms afgestomp oor jou werk. Ek het onlangs ‘n besondsere ervaring gehad. Om ‘n kampvuur, kuierend saam met die manne het ek ‘n paar gedigte uit my toé nog ongepubliseerde bundel aan hulle voorgehou. Groot was my verbasing toe een van hulle, ‘n onlangse geskeide persoon, ná die voorlees van een van die gedigte na my toe kom met trane in sy oë en met sy hand op my skouer reken “dankie vir daardie moerse mooi woorde”. Blykbaar – sonder my medewete – was die opstuur van Sjinese lanters een van die eerste dinge wat hy en sy dogtertjie saam gedoen het na die finalisering van die egskeiding. Dit het my baie nederig laat voel (ek druk die gedig hier onder).

 

Geluk

Tweedenuwejaar klink die klompie

kinderklopse se blaasorkes hard-sag

 soos klanke in die Weskus-wind kom

                                                            en gaan

as ek en jy afstap na die voorstrand

verby die laatkuierligte van restaurante

tot op die donker sand

ons kyk skouer aan skouer

hoe kinders

Sjinese lanterns die lug in stuur

 oud en jonk beur in truie en baadjies

hulle blosende gesigte opgewonde na bo gerig

waar ’n wenteltrap lanterns eers tydsaam

                                                                            dan al hoe haastiger

die nag in vaar

oranje reddingsbootjies

wat wegdryf van ’n sinkende maan

(Uit: In ligte laaie. Protea. 2014)

Dus, met die reëls onder die knie is dit tyd om weg te spring met my poëtiese Mixtape, maar waar om te begin? Woorde vir die geliefde, Verse vir die vervreemde, Die mees polities-gelaaide gedigte, Lekkerleesgedigte, Kop-krakers… die opsies is opwinded en legio. Moenie op jou laat wag nie!

Foto-bronne: Shutterstock

Jannie Malan

Jannie Malan is in 1973 in Kaapstad gebore. Hy matrikuleer aan Hoërskool Eldoraigne, voltooi ‘n jaar van diensplig as foto-joernalis in die Lugmag en behaal in 1994 ‘n BA Honneurs in Uitgewerswese by die Universiteit van Pretoria.  Hy  werk onder andere as boekverkoper en opvoedkundige uitgewer, maar fokus vanaf 2004 op konsultasiewerk in die e-opleidingsbedryf. Hy werk tans as ‘n verhoudingsbestuurder vir ‘n bestuurskonsultasie maatskappy en woon saam met sy vrou en twee dogtertjies in Pretoria. In Maart 2010 word van sy gedigte in Nuwe stemme 4 (Tafelberg) gepubliseer en sy debuutbundel In ligte Laaie (Protea) verskyn in 2014.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Jannie Malan. Oor Klitskassette en gedigte”

  1. René Bohnen :

    Dít was nou ‘n trip down memory lane! Ons 90 minute tapes was sulke helder skelgroenes (was dit BASF?) Ons het TDK’s vir 60 minute gebruik. ‘n Mixtape was ‘n kykie in jou siel ook – party het jy eenvoudig met niemand gedeel nie 🙂

  2. Jannie Malan :

    Ja René. Ek het daardie einste BASF en TDK kasette gebruik. Ek het skeilik ook onthou dat daar vierkantige opening aan die bokant van die kasette was, wat – indien jy hulle met ‘n skerp voorwerp uitgebreek het, verhoed het dat iemand weer daaroor kon opneem. Jy kon dit egter omseil deur kleefband bo-oor die opening te plak. Vreemd wat ‘n mens onthou en vergeet!

  3. Fiona Strydom :

    Jannie, jy klink na iemand wat tegnies vaardig is in meer as een opsig. Ek het ‘n klomp kassette wat ek graag sou wil oorsit na CD’s toe. Hoe doen ‘n mens dit? Ek het gehoor daar is ‘n instrument/opnemer? wat mens kan koop, maar dat dit baie duur is. Is daar enige ander konstrepsies om te gebruik wat goedkoper sal wees? Ek het wel nog ‘n ou kassetspeler.

  4. Jannie Malan :

    Fiona,
    As jy ‘n rekenaar, kassetspeler en internetkonneksie het, hoef dit jou nie ‘n sent te kos nie.
    1. Laai die gratis klanksagteware “Audacity” af en installer op jou rekenaar.
    2. Konnekteer jou kassetspeler (oorfoon of audio-uit)met jou rekenaar (audio in).
    3. Speel die snit en Audacity neem dit vir jou op as ‘n MP3 (of formaat van jou keuse).

    Ek sluit ‘n videogreep se skakel hierby in wat vir jou die hele proses noukeurig verduidelik: https://www.youtube.com/watch?v=IygM9x9BTzc

    Hoop jy kom reg!

  5. Fiona Strydom :

    Dankie Jannie – gaan dit probeer!

  •