vlugtige jareverslag : ode aan ʼn pampoen
1.
Die herfspampoen
ʼn Man was van plan om vir hom ʼn pampoen te koop vir sy verjaardag die sestiende September die tyd was op hom en hy wou nie nalatig wees teenoor sy vriende nie net nou dink hulle hy is dood sonder om te laat weet dat dit te laat is selfs vir laatwerk die kalf is klaar deur die kerk en hy’t nog in die koster se fyntuin gemis ook. Wat jy waar gaan kry? het sy vrou vir hom gevra. Die kalf? Nee, jou bobbejaan – die pampoen! Jy weet tog die pampoenseisoen is verby dis nou die tyd van vlieë en sampioene en swaeltjies op die vlerk vir vertrek. En pampoene is nie inheems aan hierdie streek nie. Maar is dit dan te veel gevra om iewers ʼn geel pampoen in die hande te kry vir my verjaardag die sestiende September hier is mos ʼn mark in die dorp en geel is tog die kleur van volhoubare onafhanklikheid in dié geweste my vriende verwag dat ek die pampoen sal vreet en my bek hou asof dit reeds vol grond is in die aarde by wyse van spreke? Te laat te laat het sy vrou gesê. Die son het nou wel gehurk in eie skaduwee asof sy die hitte uit haar lyf moes baar maar aan die einde van die dag was daar nog pampoen nog versoening nog skoene vir ons dogter wat kaalvoet deur die lewe moet gaan op soek na die goue kalf en waar is die vriende wat jy wil beïndruk selfs jou tjom moes erken jy’s die grootste kakprater in die suidelike halfrond. Maar ons woon dan in die noorde het die man teëgewerp. Wat! Kak is kak noord of suid en jy het so baie gemiddelwêreld-middelwêreld dat ons tot selfs ons tale kwyt is hoekom gaan vang jy nie liewers die maan nie? Omdat ek nog elke jaar ʼn pampoen gekoop het vir my verjaardag die sestiende September het die man gemompel. O wee. Iewers moet daar tog nog ʼn ou pampoen boepens en geel op ʼn sinkdak lê al is sy ook net ʼn windswelsel wat moet keer dat drome nie die plate lig en wegvlieg maan toe nie. Te laat! sê sy vrou. Selfs al sou daar iets so buiteseisoenliks ingevoer uit China word ook dan nog kan mens nie ʼn dronk bobbejaan op die dak laat klouter nie. Nou praat jy in raaisels sê die man en hou sy kop vas asof hy wil ween. Die tyd is op jou sê sy vrou en dis normaal dat jy nie meer die verskil tussen pampoensoek en maanvloek kan verstaan nie. Hoe meer verslete en deursigtig die vleeskleed hoe digter geweef die doodsluier om wat moet kom. Wat sou sy van praat? Wat het oogskille met laatwerk te doen? Sal die bobbejaan en die kalf gaan baklei vir ʼn sonvrug wat toe nooit bestaan het nie? Beter om dan maar hierdie woordpitjies soos ʼn soen aan die papier toe te vertrou en vir my verbeelde maanskynvriende te stuur. Beter nog om nie te verjaar nie. Maar wat sal ek nou hê om hoog en laag te soek vir my verjaardag die sestiende September?
2.
wat is die storie van ʼn mens se lewe
wanneer die bewussynsdraadjie
tussen vingers bewe ?
hoe om dit te vertel en aan wie
aan al die ander stories wat weeg en wik
tussen aanhou lewe
en die snik van kortgeknip te word
soms met ʼn roggel in die strot
verdwyn onder die grond van vergeet
of uitgestrooi teen die lig
wanneer dit te laat is ?
dis altyd te laat en nooit verby nie
die voëltjies se vere is stof en as
wanneer vlerke die aand se kleure buig
en hulle die dowwe hartslag van paartyd sing
om deur eensaamsaam te dring
na saambestaan se klare afbakening van ʼn woordgebied
en daar die ink te drink
en ʼn storie saadjies weg te bêre
vir die ewigheid van sterwe
soos vingerverkneukelinge van die maan
watter eggo is daar in die roeproep van ʼn naam
as nabootsing ʼn dans is
om toegang te verkry tot die begraafde duisternis
se finale ekstakulasie
waar donker ink geskink word ?
Leser, my ewige ontwykende beminde :
jy beter woorde pak
op die herinneringstapel aan die dooie
voordat hy deur dowwe hartslae
van die geheue rys
om jou dood te praat
want kyk :
die oorledige ek bly lewe in skede
van hede uit hede
totdat slegs verlede
ooglede en stomp swaarde
vergister in die grond
3.
« sodra die mens gebore word is hy oud genoeg om te sterwe »
– Heidegger
99 jaar al berei ek sorgvuldig
voor vir die dood
woordjie vir woordjie om ʼn leegte
te bou te ontvou
waarbinne vergaan en vergeet
kan lewe
woordjie vir woordjie
om ʼn nes met vere uit te voer
vir die eier van niks
om in uit te broei
woordjie vir woordjie
om die baarmoeder te fatsoeneer
waar die fetus van vergeteling
in die oond gebare kan maak
soos ʼn engel
woordjie vir woordjie
as gedagtepatroon getrajekteer
vir die uiteindelike ruimtetuig
wat kan vervaag in die eindelose niet
waar stilte woord
vir woord raas
saad vir saad
en liefde vir liefde
om hierdie gedig gesig te gee
en staan te maak
vir die groot gaan lê
en die nooit weer sê
van seerweet in verbygaan nie
4.
jy sou dat jou vers ʼn vrug moes wees
geleidelik vol met die sap van groei
die pyn van wasdom die vreugde
van vervulling die wurm
se soet vrotknaag
tot aan die stolling van volwassenheid
voordat dit val
en uitmekaarspat in woorde
5.
hierdie is die vel van ʼn lewe
beskryf langs paaie gelei deur landskappe
oor grense en passe en berge in die oog
onder wind en sterre
en nooit is ʼn verlore saak teëgekom
waarvoor jy nie bereid was
om die lendene te omgord
en die ekstra myl te loop
om die vel te verkoop
vir soetkoek nie
6.
natuurlik was daar by geleentheid
ʼn hik of ʼn snik
toe ek gedog het die tyd katrol my in
skielik soos ʼn harpoen
vermond in die soen van herkenning
en dit het my verskrik
dat ek nog nie gereed was
om met vrees soos ʼn oop seerweetwond
in die genadige verdoemenis te sink nie
maar geluk was in my hand
toe jy, Leser, my die les leer
woordjie vir woordjie
van maak eers klaar
en geluk was aan my kant
want jy, Leser, het my geleer
van maak eers klaar
woordjie vir woordjie
sodat jy mag sien hoe val my hede
skrede vir skrede
in die suigkolk
van ʼn verlede toekoms
ek kan nie sterf
voor ek die lewe gedelg het,
wil nie dat dit soos nagmaalbrood
in my keel bly steek,
wil immers nie aan die lewe verstik nie
7.
wat sou jy nie wou gee
om hierdie verbeelding in te klee
te reinig te vou in dood se py
soos jy vroeër die lewe
daarmee in kon kleur ?
8.
en dan was daar die liefdespassie
smaak van heuning en van as
op die tong
toe jy dog : niks wat van die aarde is
is vir my onbekend
en niks wat die donkerte my kan vertel
oor die weemoed van verdwyning
wanneer die dag breek nie
die rivier vang en hou die aand
se sterwenslig
gee oppervlak dan diepte en skemering
totdat sterre oorhoofs stroom
om te lewe is ʼn strewe na lewe
en ʼn wegraak soos jy dit jou eie
wou maak
in die geliefde se ewige lyf
9.
thisonestonemomentmoon
thisonemoonmomentstone
thisstonemoononemoment
10.
jy moes tog weet jy wéét niks
behalwe dat alle verandering wentel om ʼn lyn
wat aanhou breek
jy kan nie terugdraai of blaai nie
is skaars weer jy, Leser :
die môrester is nie jou god
en geen mens sal ooit weer leef
van eie hand na eie mond
die snit word die oopgaan
van lig op lig
en al wat aanhou bewe
en val is vlerkegewapper
van die harmonie van oorgange
11.
hier is die aankoms
in die uitademende monddom van geluide maak :
hier die stapeltjie woorde
wat jou kom en gaan gedenk
dit lyk soos ʼn gedig
dit ruik na ʼn gedig
dit sing styfgelyn soos ʼn gedig –
dan moét dit mos stront wees !
watter ander aanwysing is daar
om aan te kom in die aand se gebied
waar die eindelose koei die lied op sal vreet
en weet : maan sal weer pampoen in die nag ?
12.
Die klippampoen
ʼn Man het die begeerte gehad om vir hom ʼn pampoen te koop vir sy verjaardag die suffelste September hy het nie tred of rekord gehou nie maar gedog dit sou sy gees tot bedaring bring. Wat jy waar gaan kry ? het sy vrou gevra. Moenie vir my sê dis al weer sulke tyd nie skaam jy jou nie ? Elke goddelike jaar is dit dieselfde gemors van woorde jy weet tog die bobbejane het die ding gesteel om die varke te voer en hulle wil niks weet van die gees nie hulle het dit uitgespoeg mens moet darem iets los vir die draadtrekkers van poësie. Buitendien hierdie land is te arm vir pampoene en wat sou ons daarmee maak ? Portugal is ʼn land van kleinboere en fadosangers ek is seker hulle sal my verstaan het die man gepleit. Gee my nog net één kans die lewe was teen my al wat ek wil koop terwyl ek nog voete het om op te staan teen die skuinste is ʼn pampoen om te eet vir my verjaardag die suffelste September. Wat is die lewe van ʼn mens en aan wie kan dit vertel word ? O vriende, pampoene, skille, lelle… Wat ? Waarvan praat jy ? het die vrou gevra. Vriende het die man gesê om die pampoen met my te deel ons kan onthou van goeie ou dae toe die beeldvorming nog vanself gevloei het. Ek ken daardie rympie het sy vrou hom in die rede geval. Jy kan maar vergeet van jou tjomme en jou gabbas en jou tjaainas hulle is almal bokveld toe. Jy moet nou ophou probeer verjaar het sy verder getroos. Kom ons kry ʼn klip wat jy geel kan verf en in die tuin begrawe dan stuur ons ʼn foto vir die dogter en sê dis pa se maan vir sy verjaardag die suffelste September jy sal nie die onderskeid sien nie. En intussen kiek ek ʼn prentjie van jou hier op straat in Lissabon langs die abobora in die winkelvenster dis Portugees vir pampoen met ʼn strepie op die eerste o.
***
© Breyten Breytenbach. 2014.




Die pampoendigter is tans in Rotterdam en betrokke by baie spesiale geleenthede. Kyk by:
http://fleursdumal.nl/mag/category/fictionandnonfiction/south-african-library
http://www.poetryinternationalweb.net/pi/site/collection/article_item/int_article/24784/Breyten-Breytenbach-in-Rotterdam
Francis
1964 – hoe kan mens hierdie wonderjaar met die dubbeljoekel ( hierdie woord vandag op Haarlem se mark van n blommeverkoper geleer) ooit
ophou vier? Die impak in die Klein Karoo van Ysterkoei en Katastrofes
was so oorweldigend, bevrydend en hoopgewend dat die volstruise,
klapperbosse,en meerminne nooit weer tot besinning gekom het nie!
Jy maak my dag, Leon. Wys nou net die Ysterkoei het darem geChoke ook!
Breyten, jy mag dalk hierin belangstel: in ‘n vorige lewe in Bloemfontein was ek bevriend met die de Witt-broers wat die Stadion Garage besit het. Ten spyte van hulle rowwe uiterlikes (en tot ‘n mate innerlikes) het hulle nogal iets van die digkuns geweet. Net langs die petrolpompe was een van daai outomate waar mens ‘n geldjie ingooi om ‘n Coke of hamburger of so iets te koop. Bokant die outomaat ‘n groot bord: ”DIE YSTERKOEI”. Eendag, as ek ‘n geskikte gedig in die hande kan kry en as niemand deur my taalgebruik affronteer sal word nie, kan ek ‘n baie snaakse en ligisinnge verhaaltjie oor die de Witt-broers hier vertel.
Nou hoekom dink ek nou aan “man ek lus ‘n twakkie” (Krog)?! Wat sou ‘n relevante vertaling daarvan kon wees?!
Desmond: Jy maak dat ek met dronkverdriet hier op die oog se dak onthou van al die bollie wat ek en my voorgaande nabootsers al vyftig jaar lank kwytraak. Terwyl ek juis met trane in my oë besig was om my te troos aan die Dalaï Lama (die ou waarvoor die papbroeke in Poestoria so bang is soos duiwels vir ‘n slypsteen) se wyse woorde: dat niemand onder ‘n donker ster gebore word nie, maar dat daar slegs mense is wat nie weet hoe om die hemelruim te lees nie.
Ek wil hierdie eendag op my grafsteen hê:
ek het hane hoor kraai en
die roep van treine en stemme in my
bed en gode op die dak en ek het
drake gesien in dieretuine en die baarde
van vriende en ek het die son geruik.
sneeu in die winter en druiwe in die somer
maar ek onthou nie meer veel daarvan nie
Die verkoper sou darem veronderskuldigend kon s^e: ‘It’s all one horse!’ (Die perd s^e natuurlik: Aa mens…) (Sy droom soms runnikend daarvan?)
Jy herinner my, Desmond, aan die storie van die kêrel, uitermate kort van portuur en met ‘n soort van Waterkloof uitspraakdefek, wat ‘n merrie wou koop, maar, skrikkerig dat dit dalk ‘n kat in ‘n sak sou wees, daarop aangedring het om die perd te sien trippeldraf. Totdat die geïrriteerde verkoper naderhand die kort ventjie optel en sy gesig letterlik in die perd se Malema druk. En die voornemende koper wat verontwaardig proes: “I said I wanted to see her trot, not her twat!”
Eintlik jammer, Breyten, dat jy nie 50 jaar gewag het nie; jy sou jou bundel vandag “Die Ysterkoei moet Tweet” kon genoem het!
NS: Mens behoort darem seker rekenskap te kan gee van hoe jy op die kroeg se dak beland het! “Wel, ‘n man het gaan soek vir die vreksel wat sy verjaardagpampoen opgevreet of verlei het, en toe sien hy die maan raak…”
Askies… ek het dit nie aspris bedoel nie (ek bedoel nou die oor-skellende indruk). Maar aan die ander kant gaan ek ook nie die verantwoordelikhede neem vir iemand anders se met-die-deur-in-die-huis-van-ons-vaadre-val nie. Dit was immers nie ék nie.
En as ek mag: hierdie ék is baie dankbaar vir al julle mense se lieflike wense en mooi woorde hier bo. Natuurlik veral vir die feit dat dit aanleiding kon gee tot nuwe verse. Ek gaan niemand uitsonder nie…
Dis ‘n bietjie soos om bo op die dak van die kantien te staan en die mense te hoor skree: “Spring! Spring!” Of deurmekaar te hoor en nie te onthou wat jy op die dak kom soek het nie, want miskien is dit: “Vlieg! Vlieg!” (Die wind raas ook so in die riete dat tot die onderdorp se honde se hoor en sien vergaan.)
Hoetemin dan, dêmmit, dit beteken mens sal moet probeer om nog ‘n stukkie te lewe (en nie vertrap te word deur al die aandagsoekende ekke nie – want hulle is vlytig by die bak). Moet nou nie agterna kom sê julle is jammer nie!
Kameraadskaplike groete
Bysterkoei
Die digbundel “Die ysterkoei moet sweet” en die kortkunsbundel “Katastrofes” is gelyktydig uitgegee, laat in 1964. Op 16 Desember 1964 verskyn die eerste resensie van “Katastrofes”, deur Anna van Zyl, in “Die Volksblad”; op 18 Desember bespreek J.L. Steyn dit in “Die Vaderland”. Die eerste resensie van “Ysterkoei” is Ernst van Heerden s’n wat op 20 Desember 1964 in die Sondagkoerant “Dagbreek en Sondagnuus” verskyn onder die opskrif “Jong digter se eersteling maak oorstelpende indruk”.
Francis, ek het 50 jaar bedoel; ‘n hele halfeeu. Mens sou eintlik verwag het dat die twee 1964 boeke heruitgegee sou word en dat daar ‘n partytjie of iets sou wees, maar nou ja. Wat was die presiese publikasiedatums?
Desmond, dit is vanjaar 50 jaar na Breyten se dubbele debuut in 1964. En wat ‘n konsternasie het dit nie veroorsaak nie!
Baie geluk, Breyten. 75 is eintlik niks; maar absoluut merkwaardig is dat jy 40 jaar na jou eerste boeke nog ‘n relevante, dwingende stem is. Hoop dit was makliker om wyn in die hande te kry as pampoene. Aa mens! Aa mens!
Baie geluk, Breyten Breytenbach. Jou ink het op ons almal gespat.
Baie geluk, Breyten. Groete uit die Spur op Bothaville, waar die “wedj of ze dei” heel toepaslik vir die geleentheid gekies is, al is die chef waarskynlik heel onbewus van hoe die maatsnoere geval het. Andries
Mag die mooi pampoenskrywer ‘n soetpampoentjie van ‘n dag hê en nuwe ‘n jaar vol gloeiende klippampoenmane!
“maan sal weer pampoen in die nag?” – dis vreeslik mooi!
Tot in Engels sing(vra) dit: “moon will again pumpkin in the night?”!
Mag jou verjaarsdag oorvloed geluk bring en mag jy ligvoet draf met die lewe wat in jou nek blaas.
Hartlik geluk!
Baie, baie geluk, Breyten! Mag daar nog vele wees, ook pampoene.
Oe….groot dankie en hartlik geluk, Breyten!
Baie dankie, Breyten en baie geluk met jou verjaarsdag!
Van my kant af ook veels geluk Breyten en baie dankie!
Adriaan?! Nee bliksem, ek maak daar g’n kop van nie. Wat probeer jy sê? Elkgeval, Breyten, lekker verjaar en mag daar sommer nog ‘n hele munisipale reservoir van verse uit jou voortvloei vir al ons dorstiges om te geniet. Dankie veral vir hierdie pragtige stuk wat jy as “geskenk” gestuur het op jou verjaarsdag. Sommer lag ek my ‘n pampoen. 🙂
Edel agbare, ek pleit onskuldig. Ek het ‘n alibi. Op die dag en tydstip wat hierdie skrywer (lees neet in planeet) van sy sinne (lees verjaarsdagwense) beroof is, het ek horings, ‘n stert en braaitang aan die duiwel gesmous.
Breyten, baie dankie dat ons gister by die Tuin van Digters hierdie ode kon meemaak tydens die uitvoering van die Katalekte-opnames. Die multimedia-aanbieding met vertolkings en voorlesings en beelde was (soos die program belowe het) ‘n beeldskone en hipnotiese reis van woorde en klank. Dankie aan almal wat die reis moontlik gemaak het.
‘n Verjaarsdagwens vir breyten
As ek ’n pampoen gehad het,
’n groot gele so vet soos die maan,
sou ek dit vir jou gestuur het.
Ek sou die pampoen opgegooi het
hoog in die lug en almal sou weet
dis werklik die son.
Pampoene kom op
en pampoene gaan onder
en waar hulle reis word
mense se oë blink
en wat hulle dink word rond
soos die son en die maan.
Want pampoene is padkos,
hulle bly in ons rondhang
soos woorde, soos die woorde
van die man met die menslikste oë.
Pampoene, nes woorde, het groen windligte
vlerke waarmee die liefde nooit wegvlieg nie.
Magtig, die liefde waarvan jy skryf, is om aan te hou verjaar. En die pampoen daar is die testikel van ware verset. Sou jy die tyd wou versit?