Klein Reis deur Geledinge van Laat-Gaan, Sept – Okt 2014
Ons kondisie : ons kan niks behalwe die huidige ken en ervaar nie. Of dan – die teenswoordige is die lens of die spieël waardeur ons onsself belewe, waarin die verlede gereflekteer en die toekoms geprojekteer word. Dis die enigste Altyd wat ons van weet, en tog gee dit altyd pad onder ons. Die enigste substansie wat ons ooit van bewus sal wees word voortdurend nie-substansie.
Tog : beweging, die ervaring daarvan, word ook gedeeltelik bepaal deur patrone of siklusse – instinktief om vergang te begelei, of as sediment van die geheue. Dit begin iewers, dit verloop langs ʼn kurwe wat beskryf kan word, daar is verwysings en ruspunte, die herhalings met variasies is soos ʼn hartklop en jy kyk uit na die toemaak of afronding.
Die mens aap sy eie dood na. Miskien juis omdat sluiting gesoek word. Dis immers makliker om ʼn aap dood te gooi met woorde as om jouself op te hang.
Maar die paradoks is dat betragting distansiëring meebring. Die beweeg van die skrywe is ʼn eie reis, soms gelyklopend met wat jy ervaar en dit sou miskien sonder daardie belewenis nie tot stand kon kom of in beweging gebring word nie. Al is dit eiewoordig : ʼn estetika op soek na die sintuiglikheid van etiek.
*
die dag vol water was
donker soos die stotterende nag
deurpriem met ligskigte
asof rammelende voertuie
nou buite beheer die pad
byster raak en knallend
in die afgrond donder
en die dowwe hemel skeur
in ʼn stortvloed water
*
Daar is indrukke – jy sou kon sê ‘momente’ behalwe dat die tyd geen sê het nie – so skerp, wat so ʼn skeur laat in die weefsel van aaneengroei, dat die diktate van die intuimelende besef van verbyganklikheid opgehef word. Die aand se verdwyning kom lê in onomskryfbare glorie op die water en maak ʼn bespotting van spieël. En skielik is daar die flitsbesef van binding, miskien selfs van ʼn wil-tot-wees. Want tensy jy die aand verbrand kan dit nie nag word nie.
*
Op die eerste dag van September sal ons in Lissabon arriveer. Emmanuella kom wag ons in op die lughawe. Haar ma was van die Kaap Verdiese eilande, haar pa van Angola. Enkele weke later sou jy in Thiés (ʼn dorp in die Senegalese binneland) by die middagete soortgelyk intiem daarvan oortuig wees dat die kelnerin in die eetplek, wanneer sy so wegstap kombuis toe, se boude in ʼn veelseggende en selfs suggestiewe gesprek gewikkel is wat die mond voorgee om g’n sout of water van te weet nie.
Ons sal in ʼn gastehuis in die Travessa de São Pedro tuisgaan in Bairro Alto – ʼn ou en ietwat vervalle buurt van nou straatjies op een van Lissabon se heuwels. Daar is baie klein restaurantjies waar fados gesing word, die mure is vol tags (die stilte van gestolde name), die smal sypaadjies is glinsterend wit gelegkaart met kieselsteentjies wat lyk asof dit van porselein mag wees, op straat staan mans met bierblikkies in die hande en kyk deur oop vensters na sokker op televisieskerms in donker kamers, twee honde baklei. Die glimlagkêrel agter die ontvangstoonbank is van Guinea-Bissau, hy praat Frans. Onder die bed in die kamer is ʼn leë geldtrommeltjie aan ʼn ketting in die vloer gebout.
*
Die rede vir die besoek is dat jy en jou vrou genooi is om aanwesig te wees by die eerste aanbieding van die verwerking vir die verhoog van jou tronkboek, Die ware bekentenis van ʼn albino terroris. Die teater in die volksbuurt het sitplekke vir 99 mense. (Dit word beweer dat die Profeet se Koraniese verwysing na 100 min 1, wanneer daar gepraat word van prysname en al die eienskappe toegedig aan die Oubaas, die samevatting sou wees van die mistieke kennis van en misterieuse omgang met Allah.)
Die regisseur, Rogério de Carvalho, is 83 jaar oud. Klein en stewig van lyf, kaalkop, bril, hy is oorspronklik van Angola en word gesien as ʼn kultusfiguur in die teaterwêreld van Portugal. Die akteurs – die groep se naam is Teatro GRIOT – sê hy is fanaties, al wat hy eet en dink is teater en hy laat hulle eindeloos repeteer. Hulle sê hulle loop almal rond met die koppe vol alternatiewe of versaakte tekste soos wappervlae op ʼn slagveld bestrooi met lyke waar net skimme nog dwaal op soek na vlees. Ons probeer in Frans kommunikeer maar dit haper. Wat hy en die spelers wil nagaan is of hulle die Afrikaanse name en die boep se wheaty reg uitspreek. Hulle was by verskillende ambassades met lyste woorde. By die Angolese afvaardiging was dit ʼn situasie van paniek, byna ʼn noodtoestand, tot daar verduidelik kon word dis nie broer Jan Breytenbach se storie wat hulle weer tot by oom Daantjie in die kalwerhok op loop sal jaag nie en dat hulle veilig is.
*
Dis asof jy deur ʼn luik terugval in ʼn ander bestaan, ʼn onderwêreld wat tegelyk beklemmend bekend en tog so vreemd soos ʼn glinsterende swart spieëlsaal is.
Ana Rosa Mendes, Daniel Martinho, Giovanni Lourenço, Maria Duarte, Matamba Joaquim, Miguel Eloy, Zia Soares… Sewe spelers om die angsverhaal op te roep – drie vroue soos weduwees, Zia is swart, en vier mans waarvan net die jong enetjie so witterig is soos Dawid Minnaar op sy dag (en Dawid, synde ʼn Afrikaner, het ook maar net gepass). Sewe stemme skreeu en fluister en murmel soms klik-klik om in groepsuiting te kommunikeer wat oorspronklik ʼn interne monoloog was, ʼn dowe diskoers gerig aan Meneer Ondervraer. Hulle gebruik geen dekor, beligting moet alles doen, beweeg op ritualistiese wyse en asof hulle haastig is van die een stoel na die ander wat op strategiese plekke op die verhoog neergesit is, op die klankbaan is daar momenteel klaviermusiek en later snouende honde.
As dit so moet wees dat mens by die afsterwe aan die oordeelsengele moet gaan verslag doen van al die personasies en beelde wat mens in jou lewe geskep het sal jy met trots pa wil gaan staan vir hierdie Afrikane.
Jy herken maar jy onthou nie. Niks verdwyn ooit. Niks word finaal uitgevee nie. Uit die uitvee kom vorm. Net belewenisse gaan dood om in ander gedaantes te herlewe. Dié wat nie ʼn gevoelsbelewenis ontketen nie word vergeet want onthou word deur intense emosionele ervaring vasgelê. Jy word herinner aan die begrip duende wat so nou verweef is met Spaanse diepsang en bulgevegte, daardie rou grasie wat anderkant tegniek waarneembaar deurskemer, gebore in die stryd tussen ʼn syn en die ander skadusyn wat binne die speler lewe. Om te kan getuig van die waarheid van jou verhouding tot jou kuns moet jy die duende wakker maak om met hom te stoei. In hierdie stryd word logika ontwrig om plek te maak vir die erotiek « wat die varsheid het van dit wat geskep is… »
Dis alles onwaarskynlik maar waar, dink jy. Hier sit jy saam met jou vrou in die donker teater van ʼn arm buurt en luister na die klip- en sisklanke van ʼn vreemde taal. Jy verstaan en volg alles behalwe die woorde. Net af en toe dobber daar ʼn herkende naam verby soos onverteerde bolle stront in die afvoer : Huntingdon, Kalfie Broodryk, Hendrik Goy, Spyker van Wyk…
Links van jou in die donker saal sit die Eerste Sekretaris van die Suid-Afrikaanse ambassade (« die ambassadrise is nog nie terug van vakansie in Suid-Afrika nie want die skoene het haar voete seergemaak ») en vroetel met sy bobbejaanspieëltjie (selfoon). Seker ʼn ontplooide kader. In die loop van die aand sal hy jou vra watter land jy vandaan kom en later ook of jy miskien die stuk geskryf het. Die ambassade is by die openingsaand om ʼn skemeronthaal aan te bied vir die teatergroep en hulle gaste. Daar is die almalomvattende Afrikaner tannie-wat-die-werk-moet-doen (in baie gesantskappe is dit nog so) en sy is duidelik ontsteld na die opvoering. Sy neem eksepsie teen jou gebruik van ‘Boer’. « Ons het darem al veel verder gekom as dit. » Jy word gevra of jy iets wil drink. Na die tweede vinnige whisky herinner jou vrou jou daaraan dat jy nou sonde soek.
Mens moenie so in die verlede krap nie. Op die eiland, ʼn paar weke later, op die stoepie van die kamer wat die Nelson Mandela genoem word, terwyl ʼn dag van uitmergelende hitte ʼn aand van ondraaglike soelheid word, die reent het uitgebly vanjaar, lees Jek vir Johnny Leser ʼn ongepubliseerde gedig van destyds voor. Dis toe mens se keel nog rou was en duende baie bar.
(Gemeentebrief)
Na die riool met julle nasionalisme,
na die mishoop met julle nageaapte Nazisme,
na die see met julle rasegte afgod in sy
wit manel van sy, julle myne van hebsug
en plase van vraat,
die murasies melaats van julle vrees, julle haat
Gaan kak met julle impi’s huursoldate,
julle veetrokke veiligheidspolisie en ander elektrisiëns,
na die hel met julle rugbyspanne predikante,
julle bewind van aassuiers en hiënas,
julle ontbinde Gryshemde, vierdeklas Klukluxklanners,
die gelate melaats van julle vrees se gepraat
Wildehonde, mal swyne, selfingenome prehistoriese
nie-kleurling barbare, wit mombakkies gepleister
oor skande-swart are, laaste uitvaagsels,
sendelinge van die Westerse Christelike Aristoteliaanse
lig-of-donker dinastie van uitbuiters,
vrybuiters, vryboere… Hoe krepeer die boere sit-sit-so…
Gemeentelede, landgenote, fanatiese broeders
in verbond met afval : dis moeilik om Afrikaan te word.
Die son kry mos nie vatplek nie.
Ek weet, ek behoort te weet, ek is van julle,
ek kots dit soggens binnetoe in my maag
en sweet dis snags terug –
hoe sou ek anders dit kon skryf ?
Liewe behoeders van die pes, vrot voort !
Hou so aan. Plant ons kruise, grenspale
teen die nag. Ons sal op die knieë sing, hierdie selfmoord
met houtmesse volbring. Laat ons jammerklagte tog opklim
tot ʼn oor.
Want dis amper ryp, die lemoene het reeds baard.
Die honde sal volstrek waterblomme pis op ons memoriam
*
Die baas van gisteraand in die piepklein eetplek waar slegs tien mense kan aansit op ʼn keer het oorbelle aangehad wat albei ore heeltemal toemaak. Soos metaalgroeisels. By die fontein op die esplanade, die Mirador de São Pedro de Alcantara, was en plons stadsduiwe in die water en sit dan kroeserig plat op die lyf in die son om droog te word. Onder in die stad is Dom João 1 ʼn indrukwekkende brons ruiterbeeld met ʼn seemeeu op die helm en nog een op sy septerpunt. Langs die rivier is die seemeeue ʼn oorlas, veral wanneer vullis tydens stakings ophoop. Hulle verjaag ook die ander voëls. By die vlooimark het ʼn sameswering papegaaie drie of vier jaar gelede uit aanhouding ontsnap en hulle het nou aangeteel tot ʼn ingeburgerde, kletsende kolonietjie in die buurt. Julle besoek die Kerk Van Die Ongesteldes. Aan die een end staan ʼn beeld op ʼn voetstuk – skraps geklee en met die gespierde bolyf van ʼn Boland rugbyspeler wat nog nie onkant gevang is deur die suip nie, hy’t ʼn paar pyle in die lyf, een gevaarlik naby aan die koker van lekker en kwaad. Sint Stefaans. Jy het jou laat vertel hy’s die beskermmaatjie van die amaMofi. Die sentrale middeskip is beslaan in ʼn oordaad van goud en porselein. In ʼn alkoof staan die bekroonde Mariasbeeld met ʼn mantilla oor die gesig. Jy besin dat daar net vier stamme op die aarde is : die sinpapeles, toeriste, Chinese, en die gewone gente wat nou ʼn bedreigde spesie geword het. Langs die Taag op die enorme Praça do Comercio is daar ʼn standbeeldgroep met ʼn engel wat ʼn olifant lei. Iets te doen met koloniale aanwinste. Oor ʼn paar jaar sal mens vir die kinders moet probeer beduie wat ʼn ‘olifant’ was, en ʼn ‘renoster’. Op die plein loop daar ʼn man met ʼn wit baard, vasgebind in sy lyfband is ʼn figuurtjie waarvan net die beentjies uitsteek onder die loshangende hempspante. « Is die kind nog lewendig ? » vra jy bekommerd. Sy maat met die ongeskeerde gesig, so groot soos ʼn bul uit Bulgarye, frons diep : « Dis ʼn pop ! » Hulle verkoop hasjis. Die stad kan gelees word in terme van voor en na die groot aardbewing en brand van 1755. Die koningsgesin was op reis en het die vernietiging vrygespring, maar die keiser wou nooit weer in die verwoeste paleis woon nie. Daar naby is ʼn kerk vol ex-voto plaatjies. Ou dames met dik bene kniel op die banke en tel hulle bidkrale prewelend deur die vingers. Dis miskien die ingang tot ʼn oorkant. Sofia sê : « In Lisbon it’s easy to find silence. »
*
(die digter en die gedig)
na ʼn lang reis
is ons eendag weer terug
in die geweste waar Breytenbach skuil
ons het kontak verloor
oor die jare. verneem
dit gaan nie so goed met hom en sy varkies nie
dat hy oud geword het. hy bly
nog steeds by sy ma iewers
in ʼn agterplaas. en dat hy sukkel
met die tong. dit is vandag
sy pampoendag onthou ons nou.
ons het hom te lank afgeskeep
miskien kan ons vir die klong ʼn bord
warm kos neem sê die vrou.
sjym hy verwaarloos seker sy vleeslike
behoeftes so in die gespartel
om kop bo woorde te hou.
maar nee. ek dink dit
sal hom ontstel om te sien ons is
soveel beter daaraan toe
na al die jare se verwydering.
hy was nog altyd ʼn liggeraakte jakkals.
dit sou beter wees om aan die hand
van rym en patroon ʼn verjaardag
gedagte agter te laat.
hom aan te roedig om digter begrippe
te verlip met minder spasie
tussen die reëls van stasie
tot stasie wanneer hy in die nag
ʼn verbygaande trein ver klopperuk hoor apoklip
*
Dan is julle weer in ʼn taxi op pad lughawe toe. Teen ʼn muur lees jy in die verbygaan : « They’ve got the numbers but we have the guns. » Dis ʼn besonder lommeryke stad – daar is ʼn aantal parke en botaniese tuine en die strate, behalwe nou dié in die ou middestad, is beskadu met bome en welige struike : lindebome, bloekoms, platane, palms, loekwart, jakaranda, vlambome, micocoulier (Celtis australis), lourierbosse van verskillende kleure. Plek-plek druip die eendagmooi of trompettertjies pers oor buitemure ; dit word ook blouwind genoem. In Alfama, die kasba met die kronkelende steë en ʼn uitsig oor die Taag waar die seevaarders wat Afrika uit die verbeelding omsoom en ingekleur het se karvele gelaai is met gepekelde varkvleis in vaatjies, het elke denkbare klein openbare pleintjie of oopte by kruispaaie ʼn eie lemoen- of suurlemoenboompie. In een van die gange van die lughawe waar julle wag om aan boord te gaan, staan daar groot geskryf : « Às vezes durante horas, não està aqui ninguém » (sometimes there is nobody here for hours).
*
Die Air France vlug daal oor ʼn flonkerende Dakar – hier van bo sien mens nie die kus nie, soms wel liggies van ʼn diepseeboot wat na ʼn onsigbare horison gaan soek, en jy is onbewus van deining of glooiing – en stryk neer in die donker. Dadelik slaan die drukkende hitte jou soos ʼn effens klam vadoek in die gesig. Na jare het ons weer ʼn ‘konneksie’ op die lughawe – Jean-Claude da Silva ( afkomstig van Cabo Verde, hy smokkel met alles van motorkarre uit Europa tot invloed by die doeanniers, sy glimlag is onweerstaanbaar) sal sorg dat jou aankoms deur die hoogwaardigheidsbekleërs se salon glad verloop. ʼn Futuristiese laserinstrument meet jou temperatuur en dan is jy anderkant uit. (Iemand behoort ʼn boek te skryf met die titel, Ebola vir die lewe.) Ibrahim neem jou na die hawe vanwaar die Coumba Castel eiland toe vertrek. Hy skud jou hand met ʼn fladdering nerveuse drukkies en wanneer hy opgewonde raak duik daar onverwags ʼn sarsie tjk-tjk-tjk geluidjies op in sy praat.
ʼn Skeeloog outjie op die veerboot, leser van Flaubert o.a., sê hy is die voorsitter van die plaaslike studentevereniging maar hy het sy studies moes staak want die geld was op. Hy wil so graag skryf. Dis sy werklike ontvlugting. Vra jou : « Hoé is dit om ʼn skrywer te wees ? »
Wat gaan jy sê ? Dat dit kakwerk is teen ʼn hongerloon op sy beste ? Dat dit jou niks wyser en weinig meer ingelig maak al sou jy dit in jou alleswetendheid nooit erken nie ? Dat jy eintlik ʼn brocanteur is wat brokke en skeursels probeer saamvoeg ? Dat dit jou ʼn onhandige en soms onhanteerbare ego besorg, jou in ʼn stekelrige krimpvarkie verander ? Dat dit sleg is vir die oë en die hart, dat dit jou leer lieg en bieg soos ʼn Jesuïet ? Dat duende swaar op jou bors lê en hyg in die nag, ʼn blink ingevette stoeier ? Maar ook, maar ook… Die wind oor die see… Hy is so ernstig en gretig. Jy beter niks sê nie.
*
Emma is borrelend mooi soos swart sjampanje. Sy het arm op Gorée grootgeword voordat sy by die Instituut begin werk het. Dis sy wat na Jek omsien – diskreet, maar niks ontgaan haar nie. Enkele jare gelede het ʼn groep filmers en akteurs uit Barcelona twee weke op die eiland deurgebring om dokumentering voor te berei oor die onwettige sinpapeles wat by honderde elke maand in Europa uitspoel. (Dis nou duisende, en baie verdrink nog lank voor hulle die kus gewaar.) Eintlik was die onderwerp ʼn verspotte projek van die Spaanse owerhede om woestynbokkies uit hulle dieretuine as historiese ‘opmaak’ te skenk aan die Sahel lande waar die wild uitgesterf het, elke dier met kundige sorg begelei op die vliegtuig deur twee oppassers – terwyl vlugvragte vol ‘illegales’ hardhandig terug gestuur is Afrika toe sonder enige begeleiding. Jordi, een van die akteurs, se koerasie was dalk onrealisties gretig : sommer die tweede dag al het hy kom kla dat iemand sy voorraad kondome vasgelê het. Dit kon net Emma wees. Mens kan slegs hoop dat dit goed en kundig gebruik is. Self het sy nog net een keer probeer om die land uit te kom noordwaarts met ʼn karavaan handelaars om lappe te verkoop. In Algerië het sy omgedraai. Sowat drie jaar gelede het sy getrou met ʼn veel ouer man. Haar dogtertjie, sy maak die kind op haar eie groot, is nou vyf. ʼn Tydjie terug het sy geskei, en nou maak sy vol brawade maar tog skamerig bekend dat Adama (ook van die Instituut) haar vorige maand tot vrou geneem het. Sy is gade nommer twee, die eerste een (met kinders) woon op die eiland, sy wat Emma is in Dakar. Adama besoek haar elke week en bly dan twee nagte oor. Of sy goed oor die weg kom met die eerste vrou ? Sy slaan die oë neer, huiwer : « So-so… » Maar tipies fatalisties hoop sy dit sal regkom.
*
(die digter en die gedig : ʼn ghazal)
die lewe was vir lank ʼn bysaak
en kon ek met die heuning boer
wanneer die gedig ryp was
het ek ʼn sluier oor my kop gevou
en gewierook om die woedende woorde
weg te hou soos ʼn weduvrou
in rou die vloeiende goud gleuwende
uit stanzas teen die lig laat gloei
maar nou is die korf leeg geroof
met slegs miere wat nog ʼn saak probeer pleister
waarom so droewig, Byeboer ? om te bou
aan die lewe asof daar ʼn lewe sou wees om te onthou
is immers ʼn bevrugting van die verlede ?
*
Gorée. Stilte van oggende, mense oop-oë onder vuil komberse buite, mense wat op en neer loop en na die see kyk. Die afwagting. « Hulle begin eers praat wanneer hulle iets in die maag het. » In die televisie maak mense mekaar dood. Sogenaamde ‘vegters’ met lang haarlokke en stywe oë en moderne wapentuig. Die rat-tat-tat. Wapenvervaardigers, wapenverkopers, wapensmokkelaars vryf die hande skoon van bloed. En nou is dit aanvaarbaar dat onbemande hommels (drones) geruisloos en so hoog dat jy hulle nie kan sien nie, dalk ʼn klein flitsberig van die son, beheer of ‘gevlieg’ deur pilote met uniforms aan iewers in hulle jakkalsgate van beton in Amerika, duisende myle verder hulle lading doodsbomme los. Stil en lae sirkels van roofvoëls en hoog teen die bolletjies wolke bo die see die swaeltjies. Jy lê op jou rug in die dik stink water van die hawetjie, jy weet dis waar mense hulle klere was en soms in nood moet ontlas.
Saam met Johnny Leser loop Jek die bult uit. Vullis en rommel oral. Langs die moskee wat op herwonne grond digby die see onder die basalt rotswand gebou is, sit die posmeester met ʼn stapeltjie papiere. Hy woer-woer opgewonde, kan met vers en kapittel aandui presies wanneer die fondamente van die moskee heeltemal weggekalwer het, opgevreet deur die getye tussen die 23ste en die 24ste Augustus laaslede so en so laat in die nag toe hy in Touba was om sy gebedekrale te tel, hy gaan nou op staande voet met die imam praat, iets moet gedoen word.
Bokke (‘skape’ genoem) wag geduldig om oormôre geslag te word, oë omgedop styf starend in die hemel, die rictus, die dik blouagtige tong, die sloepie bloed in die sand.
« O, vous humains, nous vous avons crées à partir de mâles et de femelles. Nous vous avons repartis en peuples et en tribus pour que vous vous reconnaissiez mutuellement. Pour Allah, les plus honorables parmi vous sont les plus pieux. Allah connaît tout et sait tout. » (O mense, ons het julle gemaak uit die manlike en die vroulike. Ons het julle opgedeel in volke en stamme sodat julle mekaar kon erken. Vir Allah is die mees eerbare tussen julle die mees godvrugtige. Allah ken almal en weet alles.) Dit kom uit die Koran, Les Appartements 13, en is as geskenk van die volk van Quatar teen die moskee se muur op ʼn marmerplaket aangebring.
*
Die jong lat op straat, vroeg al ʼn bietjie geswaai, loop vir Jek en Johnny Leser tromp-op en stel voor dat hulle saam ʼn bok koop vir Eid-el-Kebir. (Nood loop hoog, pryse het nie gedaal nie, is nog altyd sowat CFA 100,000 vir ʼn volgroeide skaap, die diere lê gelate vasgemaak, die klokke so groot soos baobabpeule swaar tussen die bene in die sand. En hoekom is daar geen skaapstelers hier nie ? ʼn Klein Karoo se skaapdief sou mos sommer tjoptjop die mark kon reguleer !) Jek wys die ‘aanbod’ van die hand met die verduideliking dat hy ʼn Boeddhis is, dat hy nie vleis eet nie… (lieg hy nou soos ʼn smous met die vet nog blink om die mond). En buitendien : « Afhangende van jou gedrag op die ondermaanse kan jy miskien herbore word as ʼn bok of ʼn skaap in die volgende lewe. Hoe sal jy daarvan hou om met ʼn tou om die nek tjoepstil te lê en wag om keelaf gesny te word ? » Die lat se daggarooi oë dwaal daaikant toe. Sy ore kan nie glo wat hierdie toubab hom probeer wysmaak nie… Maar Tabaski is dan so ʼn ou geskiedenis, probeer hy paai ; veel ouer as hierdie jakkalsdraaie oor reïnkarnasie…
*
(die digter en die gedig)
jy vra of ek in my gedigte is
en ek moet nadink
die woorde deur ʼn siffie syg
om te sien of ʼn muggie
sig sou manifesteer
die marsjerende geledere klanke
ledige betogers
wat uit één keel
die afwesige gesig se bewering
probeer besweer
jy vra of ek in my gedigte is
en ek moes dink aan die nadrink
van die versuipte denker
in die leivoor terwyl die rye
leuseskellende ketters om die hoek
verdwyn soos waarhede
vergek tot ekke
se holle betoog
wegsyg in ʼn boeksoekbeweging
geletter in papier
*
« Alles wat tydelik is, is ewig. »
Wanneer dit donker is oor die eiland sit julle op die Boufflers terras wat uitkyk oor die hawetjie waar mense nog swem om af te koel en die strand waar pirogues uitgesleep word vir oornagting. Geen ander klante te bespeur nie, die seisoen was ʼn mislukking kla baas Papou, die geneuk van visums wat toeriste nou benodig om in die land te kom en die veerbote wat nie gediens is nie sodat mense tou moes staan tot verby die kerk om te wag dat die ene wat nog gebruik word al bulkende opdaag, en skielik hierdie ding van doodbloeikoors waar die hele Afrika oor dieselfde kam geskeer word. Sit julle met ʼn groeimaan bo in die dynserigheid, om dronk te word van gin & tonic en om vis te eet.
Johnny Leser praat van ʼn bron wat sou verwys het na die konserwatiewe opinie dat die bestaan van die Mens bewys God bestaan nie. Jek reken jy behoort nie die ore uit te leen nie – so ʼn siening bewys die tweekoppigheid van die God/mens begrip, terwyl die teëwerpsel juis sou kon wees dat die god ʼn onvermydelike bokvergestalting is van die mens se beangsde behoefte aan ʼn verbeelde skepper wat ons wat mens is so sou gemaak en laat staan het as verbrouselverdriet. Die god sal dan ʼn siek verbeelding hê.
*
Stanislas Jean de Boufflers, hier agter glas geskilder en teen die muur van die hotel op Gorée wat sy naam dra omdat hy as goewerneur so ʼn diep indruk gemaak en op beskeie manier bygedra het tot die volksplanting, geb. 1738 (Nancy) – gestorwe 1815 (Parys). Sy ma was die amptelike maîtresse van Koning Stanislas van Pole, skoonpa van Louis XV. Vandaar sy naam. Rivarol het die jakkals so beskryf : « Ab-libertyn, soldaat-filosoof, diplomaat-liedjieskrywer, republikein-gigolo. » Na Voltaire se mening was hy egter ʼn mede-teendraadse sinikus.
In later jare, terug in Frankryk, sou hierdie avonturier wat sy adellike aanspraak eintlik maar gekoop het, beskryf word as vet en verslonsd. Dis ons almal se voorland indien ons ʼn asemwyle gegun word tussen lui lê en die laaste uitlê vir die langslaap.
*
Tydens die periode van afwagting voor Tabaski besluit julle om verder noord land-in te verken. Ibrahim bestuur veilig, hy beaam al jou opmerkings byna woord vir woord. Die eerste groot dorp is Thiés – Idrissa Seck se tuisbasis. Seck was jare lank die vorige president, Abdoulaye Wade, se eerste minister en kroonprins totdat hulle ʼn uitval gehad het oor die opdeel van groot bedrae geld wat as ontwikkelingshulp die land ingekom het. In hulle oorsese besittings het die koloniale bewind altyd ʼn hoërliggende en koeler uitvlugsoord geïdentifiseer om weg te kom van die gejaagdheid en die hitte in die hoofstad wat gewoonlik aan die kus geleë was. In Viëtnam was dit Dalat, vir Senegal is dit Thiés.
Die middelslag stad is boomryk met wye strate ; Afrika het egter lankal alles weer herskep in ander patrone van familiariteit deur die gestruktureerde uitleg van die setlaar uit te vee. By ʼn fast-food klim julle uit vir koffie, heerlik, reuse-croissants, pains chocolat en ander patisseries. Aan ʼn tafel sit en lees twee toubabs koerant asof hulle maar nog altyd hier was.
Die baobab-bome staan groen in die blaar, die hitte is drukkend. Julle ry verby kleiner uitbreidings, van die pad lyk hulle meer na kampongs. Dan ʼn volgende groterige dorp, Tivadouane, setel van die Tidjiaanse Sufi-gemeenskap. ʼn Imposante moskee waarvoor Marokko waarskynlik betaal het siende die stigter van die sekte se reste aldaar in ʼn praalgraf lê en vergaan. Verder deur Mékhé en Kébémer (waar jy ʼn onverwagse trop swart snuffelsnoet varke opmerk), en ander gehuggies met stapeltjies vrugte – suurlemoene, lemoene, waatlemoene – te koop aangebied langs die pad. Soms word plaaslike produkte uitgestal : kleipotte, mandjiesgoed en ander vlegwerk. Slank palmbome vervang mettertyd die baobabs, hier en daar is ʼn bewerkte landery te sien. Jy spekuleer dat grondboontjies, maniok en ander knolgroente seker verbou word en Ibrahim sê : « Tjk-tjk-tjk grondboontjies en maniok tjk-tjk-tjk en knolgroente word geplant. »
Julle ry deur markdorpe wat krioel van die lewe – skaaptroppe saamgeblêr, winkeltjies vol snuisterye, motorkarre wat langs die pad reggemaak word. Die verkeer is taamlik intens. Soms sien jy skape vasgemaak en vervoer in plastieksakke op die bussies se dakke, net die koppe steek bo die bondels uit en lyk soos kranse met wapperende linte op pad begrafnis toe. Af en toe is daar ʼn padversperring, gewoonlik net wanneer julle oor ʼn « donkierug » ry, gendarmes trek die trokke van die pad af en beboet die drywers summier, hulle soek ʼn bydrae vir die aankoop van die rituele skaap. Sedert die grense met naburige Mali en Guinea gesluit is as gevolg van ebola bly die prys van skape onbetaalbaar hoog. Die pad Mauretanië toe is wel oop en baie van die diere kom daarvandaan. Jong vroue in kleurryke gewade sit ingeryg op donkiekarrietjies. Daar is opvallend meer donkies te sien onder die bome, klein van portuur, geduldig soos grys gedagtes.
Na Louga, ʼn groterige stad uitgestrek regs swenk die roete weer wes, oseaan toe. Gandon is die laaste groot dorp voor St Louis bereik word. Die stad se verwesterse gedeelte lê op ʼn eiland, Ndar, die oorspronklike naam van die nedersetting in die mond van die Senegalrivier wat vir ʼn tyd die Franse kolonie se administratiewe hoofstad was. Julle ry verby soutpanne oor die 500 meter lange Faidherbe-brug die stad binne. Die oorkantse oewer van die wye rivier vorm ʼn landengte, la Langue de Barbarie, letterlik « die barbare se tong » – dit verwys na ʼn tradisionele ankerplek en vissersdorpie van die More, inkommers uit Mauretanië. Hulle is van Berber afkoms, aldus die ‘barbaar’ al was dit blykbaar die Grieke wat vir die eerste keer die term gebruik het in verwysing na die vreemdelinge in hulle poorte wat ʼn onverstaanbare « bar-bar » gebesig het.
*
Van ʼn vorige besoek onthou Jek die Hotel de la Poste, ook die Aéropostal genoem – bekend as die afsaalplek van pionier vlieëniers – Mermoz, Exupéry – wat die posdiens tussen Europa en Suid-Amerika behartig het. ʼn Ou hotel vol eggo’s en skimme en model vliegtuigies, groot oorgroeide binnehof, kamers wat uitkyk oor die rivier se bruin water. Die restaurant waar Johnny Leser en Jek gaan eet, die Flamingo, is leeg behalwe vir enkele toubabs wat mekaar se tande tel. Kelners buig laag, glimlag wit, die disse (giers van die omliggende distrik, garnale, seeduiwel) is voorstebos, die witwyn net koel genoeg, waaiers draai om die lug te laat vloei in ʼn geheue aan verfrissing. By die swembad daarnaas sit ʼn jong student en maak asof sy studeer. ʼn Rooigebrande Italianer by ʼn naburige tafeltjie probeer kennis maak met die student. Later sal hulle op die hotel se voorstoep sit en drink en hy sal nie ophou praat om haar te beïndruk nie. Toe Jek gaan swem vroeër het die swerwer ʼn gesprek aangeknoop, sê sy naam is Simon Snow en hy’s eintlik ʼn Amerikaner met vakansie, dat hy in die lykbesorgersbedryf werksaam is. Vir Jek klink dit of hy ʼn mislukte huursoldaat mag wees.
In die straat van die Flamingo word julle omgepraat om in ʼn calèche, ʼn perdekarretjie, op ʼn begeleide toer van die stad geneem te word, die manne smeek byna vir ʼn bietjie besigheid. Hier sit jy op die foto met Leser langs jou. Die drywer het ʼn letsel oor sy wang en voorkop, sy een oog is langsaam. Sy maat, Mohammed, is die gids. Ook hy moes sy studies versaak omdat hy dit nie kon bekostig nie en hy was vas van plan om die ondergrondse pad te vat Europa toe maar toe kom die Spanjaarde en begin ʼn sentrum om mense op te lei as gidse, hy is die jongste, of te skool in landboutegnieke. Die bedoeling is natuurlik om die vloedgolf sinpapeleste probeer stuit. Terwyl die skemer toesak oor die ruisende stad van vlermuise en verlore siele ry julle op ʼn klopdraffie deur die strate. Die verval is oral sigbaar in verkrummelende mure, hope rommel en vullis. Mohammed papegaai entoesiasties wat die Spanjaarde hom geleer het, van boustyle en bewaring en grepies geskiedenis. Jy weet nie of die wit perd dit gaan maak nie. Is dit dan nie die ros waarop Mohammed hemel toe gegaan het nie ? Hiér en hiér het mense in afsonderlike buurte gewoon, handelaars bo hul pakhuise en winkels langs die oewer waar bote vasgemeer het, die verskillende graderings van vermenging tussen onderdane dieper die stad en die donker in tot by die verworpelinge en die uitvaagsels. Nuwe kastes het ontstaan, plaaslike dames het met die tubabigèes (« wittes wat uit die see gekom het ») getrou, die signares het ryk geword en slawe aangehou om die waaiers te swaai en groot huise laat bou. Die Kompanjie kon nie die geskiedenis keer nie. In 1688 is daar nog uitgevaardig dat geen amptenaar met ʼn negerin mag verkeer nie, nie in hulle huise mag ingaan of toelaat dat hulle sy woning penetreer onder watter voorwendsel dan ook, op las en met die straf van ʼn 6 pond boete en twee dae agtermekaar se wagstaan vir die oortreder. Maar die vlooi was reeds bekeer, gedoop en in die kooi. Mohammed sê hy het al vantevore Suid-Afrikaanse kliënte gehad, hulle was vriendelik en het selfs by hom tuis besoek kom aflê, hy vra uit na die Pistorius hofsaak, stem saam dat Zuma ʼn dief is. Afrika leiers is almal skurke. Let my people go. In die donker bevind julle jul opeens aan die oorkant van die rivier in die village des pêcheurs. Dis ʼn ander wêreld waar duisende families opmekaar lewe – 30,000 mense in ʼn area van 30 hektaar, volgens informasie wat oor die jong gids se lippe vloei is dit een persoon per elke vierkante meter. Johnny Leser begin paniekerig word, dis nou te laat om aan hierdie haglike teks of die hof van mirakels of selfs die nag te ontsnap. Ontoeganklike seremonies word op straat afgespeel. Op ʼn stadium ry die karretjie deur ʼn somber skare versluierde mense wat almal buite is vir ʼn begrafnis. Dis met groot verligting dat julle oplaas weer die leë hotel bereik. Die maan is vol en rooi van stof. Die woestyn kan geruik word.
*
o waar is my waarheid
my waarheid my waarheid
o waar is die waarheid
die waarheid van my
o waar is die wees-is
die wees-is die wees-is
o waar is die wees-is
die wees-is van my
o hier is die waar-is
die is-wees die waarkis
o hier is die wees-waar
die isheid van my
*
Leser, jy wat die jonger, meer presentabel, afgeronder, gesonder, wyser en subtieler gebalanseerde weergawe van myself is, luister nou na Jek Oubok se vanselfsprekende: ‘oorlewe’ is om op reis te staan al weet jy nie altyd waarnatoe nie, dis om voor die venster te sit en droom oor volgende jaar, om ʼn ruimte te skep waarin die leegte kan uitvloei en waar beweging ontstaan. Al bestaan daardie « volgende jaar » ook uit brokke en breuke uit jou verlede wat jy altyd weer herskep. Slegs die antipasie maak die oorgange moontlik. Anders begin jou skoene jou druk en raak jy verstrik en verskrik in jou eie asemhaling.
Met dik toue vasgemeer aan die oewer van die wye en snel rivier dobber die Bou El Mogdad, ʼn rivierboot wat aan die Compagnie du Fleuve behoort, om hersien en toegerus te word vir die volgende seisoen. Tradisioneel was die rivier net bevaarbaar tydens die ‘hoogseisoen’, dit wil sê vanaf middel-Julie met die eerste reent wat die rivier laat swel tot in November wanneer die waters sak met die aanvang van die ‘laagseisoen’. Mense, goedere, negosieware, lewende hawe, pante materiaal van die fynste katoen met arabeske en ander motiewe vir die dames se gewade, Arabiese gom… is vervoer tussen die handelsposte op die rivier.
Dis hier waar ons volgende jaar gaan inskeep, miskien net na afloop van Saint Louis se jaarlikse internasionale jazzfees in die park waar ons nou die aand in die donker by verby gery het. Ons sal ʼn geslepe skrywer of twee saamneem, mense wat skerp kan kyk en ʼn verstaan afdruk op wat hulle sien, dalk ʼn paar digters van die Dancing In Other Words poësiefees. Jek sal maak asof hy van alles iets weet.
In die kajuite met die verniste houtpanele sal ons wieg op maat van die rivier se lirieke. Ons sal vaar tot by die Diama keerwal en daarvandaan al langs die Diouling reservaat om na die voëllewe in die riete te kyk. Te kyk na die fluisterende vlug van die flaminke, die seerawe se duikstrepe, die parlementmaniertjies van die pelikane. Miskien met die syrivier, die Gorom, op tot by die Djoudj wildtuin vir die vlakvarke en die ape. Die volgende dag sal ons verby rysvelde op die oewers vaar, langs Rosso wat die grensdorp tussen Senegal en Mauretanië is, aan wal sal ons die suikerplantasies besoek. Ons sal die uitspattige kasteel, die « folie du Baron Roger », sien verbykom en vaar tot waar die rivier mond en mangoboorde die dorpie Gourmel omsoom en naat. Ons sal Tiepboudijen eet, die tradisionele rys en vis, en die dorpie Dagana, ʼn ou Wolof standplaas wat eens die hoofstad van die Waalo ryk genoem is, gaan besigtig vir sy fortmurasie en die mark. Ons skoene sal ons nie druk nie. Die tyd sal verbyvloei soos riviergetye. Oor die volgende dae sal ons gaan rondloop in ʼn tipiese Fulani dorpie met hutte wat deur die vroue gebou word, en verder rivier-op beweeg langs gehuggies wat uit die 13de eeu dateer tot in die Sahel hart van die Toucouleur gebied waar die kinders okerkleurig is. En so sal ons aankom in Podor, destyds ʼn florerende handelstasie waar gom en ivoor en slawe gekoop en verkoop is. Saans sal ons musiek maak aan boord, of argumenteer, of kyk na ou Sowjet films, of die sterre se voorspellings probeer ontsyfer.
*
Terug op Gorée stink die stegies na verskroeide bokhare. Op televisie sien jy die verslag oor die Londense cabby wat in Sirië liefdadigheidswerk wou gaan doen, gevang en as gyselaar aangehou is (« sy hart was van goud, » sê sy verdrietige swaer in ʼn dik Cockney-aksent) – en nou is hy onthoof. Ook ander materiaal van hoe gyselaars se naasbestaandes pleit vir die lewens van hulle seuns – ʼn sterwende oudchirurg in ʼn hospitaal wat deur ʼn klep in sy strottehoof probeer artikuleer, ʼn egpaar (vrou met kopdoek, blykbaar bekeer tot Islam)… En mens wonder oor die kontinuum tussen bokke keelaf sny en die onthoofdings. Is dit die offer konsep ? Of die intense besef van lewe wat kom met die oorskryding van ʼn taboe ? En dan onthou jy hoe jy miskien ʼn week gelede gestaan en kyk het hoe Seydou, jou seun, ʼn bokkie in die see was, hoe perfek mooi die dier is. Met die deernis waarmee mens ʼn huisdier streel. « Was jy hom vir Tabaski ? » het jy gevra. « Nee, » was die antwoord. « Hy is nog te jonk. Miskien volgende jaar. »
*
En toe die oorgang Holland toe, soos ʼn vlug terug in die verlede. ʼn Plataanboom van 131 jaar oud aan die Westersingel in Rotterdam sou her-heilig word as die Graf Van Die Onbekende Digter en jy moet die woord kom begrawe. Die oorspronklike teks soos dit in die tronk ontstaan het, uitgesmokkel is, waar gemaak is, is te lees in Mouroir. En in All One Horse die inwydingsbetoog van 1986 onder die boom in teenwoordigheid toe van die Rote Fanfare, die uitbundige blaasorkes met hulle vals musiek. Daar was vlaggies in die takke. Dié boeke sal jy nie in Moermikland kan kry nie. En twee muurskilderye in die Gaffelstraat, die een gemaak deur Lucebert en die ander deur Jek met die name van ʼn aantal digters wat oor die jare in gevangenisse beland het, is gerestoureer.
*
Maar eers na Amsterdam vir ʼn besonderse aandete verheerlik met twee bottels van die beste Spaanse wyn. ʼn Besoek die volgende oggend aan die Stedelike Museum om Marlene Dumas se oorsigtelike uitstalling te sien sou nie kwaad kon doen nie.
Blou wolke laai op oor die stad, ʼn onhollandse wind riffel die gragte se water. Daar is selfs weerligstrale. Onder die boog van die Ryksmuseum word julle vir ʼn tydjie vasgekeer deur die storm. ʼn Uitstappie bejaardes in rolstoele, hulle het vir niemand niks gevra nie, eweneens deur die onweer onder skuiling ingehok, is nou hoenders met die piep op ʼn ry geparkeer terwyl hulle wag om in die museum hulle dosis kultuur in te kry. Vier jong mense in swart geklee saag energiek op hulle klassieke instrumente en Bach weerklink onder die gewelfde dak. Reën stort neer in griffelstrepe, papiere word deur die wind opgeswiep en verslind soos ʼn woordeboek van vlinders.
Dit vou die beeld by jou oop van ʼn renga wat op die eiland geskryf is ; Ka’afir was een van die deelnemers en jy het hom daarop attent gemaak dat sneeu in so ʼn geweste en skrif onvanpas sou wees. (Die tweede renga het immers so begin : « Over this island in the sun / suddenly a million white butterflies / fluttering shadow snowflakes »)
Tropical winter : white
clouds moving fast. Below,
scattered leaves and palm-singing,
clapping their hands to bring back
memories of distant dreams.
Ancient wind in the fronds.
In the sand, a new beetle
begins his climb.
How much longer do I need to clothe
this body worn with grief ?
Love, come, be winter
to my summer.
Fill me with snow.
Geheue is ʼn dansbeweging met die skaduwees. Dis ʼn sneeureis. Jy onthou, toe julle nou die aand in die perdekarretjie die skemering soos ʼn sluier oor Saint Louis se keie gesleep het, die ou man in die silwergrys boubou in ʼn stoel op straat voor sy huis, afgesonder van die stadsgeluide om hom, hoe hy ʼn verweerde gesig draai na waar die son reeds verdwyn het so asof hy nog die melodie of die ritme kan hoor. En op pad terug Dakar toe (Johnny Leser slaap op die agterste sitplek gedommel in die drome van iemand wat sat gelees is aan tekste wat nie kop of stert het nie), die maer man in sy vuil wit kleed met die wit donkie onder die mangoboom. Dis ʼn land van eseltjies.
Al-Buraq, wat ‘weerlig’ beteken, was die naam van die rydier wat vir Mohammed in die bestek van een nag heen en weer sou vervoer tussen Mekka en die Verste Moskee, te wete Jerusalem. Die insident staan bekend as die ‘Nagreis’. Die beskrywing lui : Toe is ʼn wit dier, kleiner as ʼn muil en groter as ʼn donkie na hom gebring… Hy was steeks toe Mohammed wou opklim. Die engel Jibril (Gabriël) het sy hand op die dier se maanhaar gelê en gesê, « Skaam jy jou nie, Buraq ? By my kool, wéét jy dan nie niemand in die Skepping is meer kosbaar vir Allah as hierdie man wat op jou wil ry nie ? » Toe hy dit hoor het ta hom papnat van die sweet beskaam, en hy het stil gestaan sodat die Profeet hom kon bestyg.
*
Marlene Dumas se uitstalling vervoer jou nie. Vir jou gevoel steun die werke te veel op ʼn omgewing van emosionele argumente wat ook in Holland waar die allochtoon ʼn eksotiese wese besoedel deur Westerse aantasting sou wees, weer moet oorwaai met die skoelappers. Wat moet dan nog alles gedoen word om op te kan maak teenoor die allos ? Die skakeling met gevoelighede buite die werk is nie altyd piktoraal verwerk of verantwoord nie. Vir hoe lank moet dit dan nog problematies wees om ʼn wit vrou te wees ? Sy woon al te lank in hierdie stad van kitsch waar ondeurdagte en uiteindelik oppervlakkige politieke korrektheid net-net pas oor die onderliggende betigtende moralisme. (Dis natuurlik Jek se babelaas wat hier babbel.)
Oor ontbyt het jy in De Volkskrant van 7 Oktober die verslag gelees oor ʼn rabbyn, tans in Nederland maar gesoek vir uitlewering deur Israel, wat ʼn charismatiese figuur skyn te wees. Eliezer Berland, 77 jaar oud, staan aan die hoof van ʼn Joods-Ortodokse sekte met die naam van Shuvu Banim. Inwoners in ʼn nabye dorp is ontevrede met die skade aangerig deur sy skaapagtige volgelinge toe hy daar gaan wondere verrig het. « Volgens verschillende media zouden zijn aanhangers zich hebben gewassen in de sloten en hebben gepoept in de berm. » Israel soek hom nadat ʼn pa sy dogter, ruim 16 jaar oud, in die middel van die nag na die rabbyn gebring het vir genesende behandeling. Die rabbyn het haar op elke wang en die voorkop gesoen, haar styf teen hom aangedruk, en sy beweer ʼn rilling asof van ʼn orgasme het deur die bejaarde heilige man se lyf gestuimig. Die advokaat wat die rabbyn verdedig sê dit kan nie wees nie, sy kliënt het nog al sy klere aangehad en is buitendien al jare ʼn suikersiektelyer, agter alles broei die kwaadwilligheid van sy seun wat die ou wonderwerker as ghoeroe na die kroon wil steek. Buitendien, wat sou die meisie kon wéét van ʼn man se orgasme ?
Jy moet buig voor Dumas se tegniese vernuf ; die vaardighede van sien beïndruk. Af en toe vlam ʼn bietjie kleur op in ʼn doek en skielik voel jy iets van die suide. En dit bied ten minste die geleentheid om môre te gaan sê en respekte te betoon aan ʼn voormoeder.
*
Hoe het dit gebeur, wie het toegelaat dat Rotterdam se stadkern so ʼn gemors van modernistiese argitektuur moes word ? Dis waar, die buurt is op straatvlak nog beset deur Turkse besighede en Chinese restaurante en dit is so dat die herwinning van agteruitgang reeds sigbaar knaag aan die baie geboue wat toe staan en te huur of te koop aangebied word, maar alles word verdwerg deur die aaklige, meervlakkige bousels wat bo jou troon. Ook die stasie het ʼn nuwe dak, seker ten duurste aangebring, wat lyk na ʼn enorme vlieënde piering van beton gespan oor ʼn giganteske sokkerstadium. Die derde dag toe jy tydens ʼn openbare gesprek in ʼn gesellige kultuurruimte met die naam WORM gevra word of dit waar is dat jy destyds in Parys ʼn Karel Appel skildery in sy ateljee gesteel het (die onderhoudvoerder is ʼn besonder gretige en ambisieuse jong skrywer ; later die aand sou jou voorlesing van gedigte ontaard in ʼn totale fiasko), moet jy bieg dat dit wel so gebeur het maar dat dit jou bedoeling is om die aansienlike opbrengs aan te wend vir die oprig van galge in die stad waar die argitekte aan hulle baobabpeule opgehang kan word.
Hier naby iewers, onthou jy, dit was baie jare gelede tydens een van die jaarlikse Poetry International feeste, het jy een middag oor ʼn bottel goeie wyn in ʼn donker restaurant ʼn renga kon sit en skryf saam met vriende. Vasko Popa, Edoardo Sanguineti, Yehuda Amichai. Die taal was ʼn gemompelde by-benadering want julle moes die woorde aangee vir mekaar toegedraai in ongewone doeke. Elkeen van julle sou die finale produk weer op die lappe bring in sy eie taal. Daar was dus lae en luiers van vertaling. Die gedig het die titel Made In Holland gekry. Duende het ons aan tafel bedien, ʼn getatoeërde stoeier vermom as ʼn kelner met ʼn wit glimlag. En nou is daardie vriende almal onder die grond of aan die vlamme toevertrou.
Wanneer digters sterf gaan hulle na Rotterdam het die destydse tronkteks beweer. Met afloop van die WORM petalje kom ʼn toehoorder na jou toe, hy’s ʼn Nederlander wat Afrikaans leer praat het met ʼn hoë stem, en stop jou ʼn kwatryn van destyds in die hand, van toe jy nog rammetjie uitnek was :
hier verwurm Grootpraat digter
en nou gans obskuur :
sy woorde is aldag ligter
in die aardgroot vuur
*
Nou is jy nie meer haastig nie. Te veel mense (om nie eens te praat van vriende en trawante nie), te veel onthousels, te veel gemompel onder sooie en gras ingespit. Wat het oorgebly en wie sal enigiets weer terugbring ? Maar wat tydelik is, is ewig, en uitvee is om vorm te gee aan die geheue wat per definisie in beweging bly. Want om te onthou is ʼn onvoltooide reis. Sou dit wat verby is weer kan lewe ? Is om oor iets te skrywe ʼn manier om dit weer te herroep ? Wat dan wanneer jy skrywe oor wat nog nie gebeur het nie en dit so sorgvuldig vasbind dat dit nie eens nodig sal wees om dit na te aap nie want iewers bestaan dit reeds en het dit selfs reeds bestaan ?
En wie sal nou onthou hoe duende gelyk het ?
Vroeg een oggend wil Leser en Jek die Booijmans Van Beuningen museum besoek, dis nog nie oop nie maar julle kry wel toegang tot die verversingsaal langsaan en sien daar die uitdagende groot spotprent opgehang as boodskap uit Anderplek :
*
In die Hotel de la Poste (wat oorspronklik die Hotel Casablanca was) in Saint Louis, met van diep uit Afrika ʼn rivier stilte in die agtergrond, vertel ʼn hortende Simon Snow (hy is tot boordens en woordens en barstens toe vol van homself) die verhaal van sy seun se geboorte so ʼn ses jaar terug, dit was in Italië, sê hy, in ʼn vallei noord van Bolzano waar alle roomysmakers van die wêreld getoë is, 30° grade warm, byna soos hier waar die Sahara se stoftong aan ons lek. Hoe hy die nageboorte in ʼn plastieksak gedra het om te gaan begrawe, sy skoonma was ook by, ʼn vet ou vrou, en ʼn hond wat aanmekaar hap-hap om die plasenta te probeer bykom sodat hy die sak hoog moes hou in die hitte bo die klipperige grond, en hoe die vet vrou gehyg het. Hulle het die bloederige glibberigheid begrawe en ʼn vyeboom bo die plek geplant en dit het wortel geskiet in die vrugbaarheid van veilige vergetelheid. Nou onlangs het hulle dit weer besoek en van die vye geëet.
*
Uit Afrika… Was jy ook jare gelede al bewus van die Afrikaanderwyk suid van Rotterdam se rivier, dis seker die Ryn, in die minder gegoede deel van die stad ? Weliswaar is daar nog meer dorpe in Nederland met buurte waar die strate vernoem is na Boerehelde van weleer. Dit kom uit ʼn tyd toe daar simpatie en solidariteit was met hulle stryd teen Britse imperialisme. Maar hierdie wyk vergestalt ʼn wrange ironie : dat die name wat in Moermikland vervang word met dié van nuwe bevryders, let my people go, hiér behoue sou bly al is die inwoners, sinpapeles, afstammelinge uit ʼn honderd nasies van Marokko verby Somalië en Koerdistan tot Afghanistan… en al sou hulle sekerlik nie eens weet hoe om die name, Krüger en De Wet en Botha en Cronjé en Joubert en De la Rey en selfs Pretoria… uit te spreek nie.
ʼn Gids neem julle oor die rivier in ʼn watertaxi. Hy het die moestas en rooi wange en gesaghebbende buik van iemand wat in Engeland gewoon het, en ondernemingsgees, en die lintjie van een of ander toekenning in sy baadjielapel. Dis sy droom om hierdie wyk wat as gevaarlik beskou word te omskep in ʼn nuwe beleggingsarea. Intussen huur hy self twee woonstelle in een van die opgegradeerde geboue, een vir ʼn gasarbeider in die kunste, die bedoeling was dat jy ook daar onderdak sou kry, en die ander een vir homself. By die instap in die voorportaal en weer in sy slaapkamer pryk daar twee reuse-foto’s van sy vriendin, naak met nippels wat, gesien haar aansienlike ouderdom, onwaarskynlik prominent in die wind punt.
Op straat het julle ʼn vulliswa gesien met groot teen die kant ʼn reël uit ʼn gedig van Robert Hass aangebring : « Het is goed dat poëzie ons soms ontnuchterd. »
Waarom sou die Afrikaners bekommerd wees ? Het daar dan nie vorm uit die uitvee gekom nie ? Iewers is daar nog spore van ʼn taal soos klippe toegedraai in bloederige windsels in die grond begrawe. Iewers galop skimme nog oor die veld met wapperende linte soos dié van offers voortbestem vir die versoening van gebroke drome.
*
Dis die inwyding van die boom wat jou Rotterdam toe gebring het.
In die hotel waar julle tuisgaan ontmoet julle vir Bas Kwakman, direkteur van Poetry International, en besluit om sommer daar te eet. Hy kruip ʼn bietjie weg agter baard, bril en pet, dra ʼn knapsak wat seker vol manuskripte is, jy kan sien hy is saggeaard maar die intellek is skerp en die kennis beleë. Hy skets die program vir jou besoek. Oor ete vertel hy van sy onlangse reis in Mongolië (en jy sou eers die volgende dag agterkom dat hy ʼn mooi boek oor die ervaring geskryf het, geïllustreer met sy eie tekeninge van vlugtige waarneming), van hoe hy met sy gashere op ʼn stapel klippe afgekom het, miskien ʼn plek waar die lewende herinnering aan ander nomade saamgebring is, die onsigbares en die verbyganers, en waar daar soos in Tibet ook met tjk-tjk-tjk geluidjies in die keel besweringsrympies opgesê word. Hoe nader jy aan die hemel kom, hoe meer strak en eenvoudig word die mens se sigbare inkarnasie van interaksie met die vertroude onkenbare. Of is dit dat die mens eenvoudige en stom herinneringe aan sy passasie op aarde wil agterlaat ? Sy gashere was verbaas dat hy soveel aandag wou gee aan die hopie, vir hulle was dit die bewys dat hy eintlik ʼn Mongool is, miskien iemand wat moes terugkeer na waar die as uitgestrooi is op die wind. Hy wou ʼn klip optel en saamneem maar sy gidse het hom gestop, verduidelik dat dit traumaties sou wees vir die klip én vir die stapel, dat die klip in ballingskap vir drie maande in rou gedompel sou wees.
Jy onthou Mahmoud Darwish se graf in Ramallah. Hy wou juis nie ʼn graf hê nie, het gevrees dit sou ʼn plek word waar hoogwaardigheidsbekleërs krokodiltrane kom huil. Jy het ʼn klip van sy graf saam teruggeneem Wellington toe. En jy onthou nou dat jy ʼn paar dae gelede vir Leila Shahid raakgeloop het op die perron van die stasie in Parys waarvandaan julle trein na Holland sou vertrek. ‘Shahid’ beteken martelaar in Arabies. Sy het ouer geword, het al soveel gesien en belewe. Sy was saam met Jean Genet in Beiroet toe die Palestiniërs in twee woonbuurte, eintlik vlugtelingkampe, Sabra en Shatila, deur die Israeli invalsmagte onder bevel van Sharon omsingel en afgesper is sodat die Christen Falangiste hulle kon uitmoor. Sy het Darwish tot aan die einde begelei. Nou verteenwoordig sy die Palestynse Owerheid in Brussel by die Europese Unie, nog steeds vasberade en blymoedig in die oortuiging dat die gety geleidelik begin draai, dat al hoe meer instansies Israel se misdade teen « die mensdom en die Arabiere » (soos Hannah Arendt dit ironies gestel het) begin veroordeel en dat die Palestiniërs se wettige aandrang op ʼn eie staat vordering maak.
ʼn Bietjie later vertel Bas die storie van sy oom die skilder wat alles in één oogopslag kon inneem, hoe hulle op reis toe hy nog klein was in ʼn motor vol kinders sommer onverwags in die middel van nêrens moes stilhou sodat die oom ʼn boom of ʼn landskap kon vasteken. En hoe die oom se een oog verswak het met die jare, dalk was dit ʼn kwessie van losgeskeurde netvlies, dat die oogarts toe uit vergissing op die goeie oog opereer het. Wat sou erger kon wees vir ʼn skilder as om te belewe hoe sy lewende omgaan met sién en daarom met wat gesien word, wegspoel in ʼn swart versluiering ?
*
Die uitvee van aanwesigheid is ʼn manier om weer jou spore te herken, die lieflike plekke waar die snoere geval het. Ons maak met rituele op vir die jare wat soos klippe in die put waar ons die maan wou bewaar geplons het.
Die droomboom, die soom tussen die sigbare en die aarde, is naby Poetry International se kantore. Wanneer jy oor ʼn paar dae weer daar verbyloop op pad stasie toe sien jy langs die ingang van die kantore ʼn plek met die naam van Bootleg DJ Café, en dan ʼn Chinese Reisagentskap (« Drs. Lee Vertalingen Chinees »), dan die Skyland Drukkerij met ʼn bietjie verder aan die Tapas Club (« Shisha Lounge & Restaurant ») en daarnaas die Proeflokaal De Ridder (waar ʼn waarskuwing in die venster jou daarop laat let dat « Consumptie Verplicht » is), en dan Koinoonnia, duidelik die setel van die Societas Studiosorum Reformatorum Roterdamensis. Die boom staan waar hy hoort in goeie geselskap aan die eindpunt van die ry openbare kunswerke wat die mens se ondergang en weerstand uitbeeld in brons.
Ou vriende, sommige staan nie meer so kierts teen die aanslae van tyd en tyding nie, en jonger onbekendes is aanwesig vir die seremonie. ʼn Klomp hemde met gedigte van deelnemers oor die jare hang in die boom. Sou dit die ex-voto van tereggesteldes wees ? Jy sien nie enige bloed of snotstrepe nie. Bas Kwakman maak ʼn mooi en bondige toespraak. Jy het ʼn klip toegedraai in sneespapier met ʼn grafskrif daarop geskryf saamgebring vir die okkasie. Dit word nou seremonieel oorhandig vir veilige bewaring aan die Rotterdamse digter, Rien Vroegindewij, wat dit op sy beurt sal besorg aan die volgende fees se inwonende digter.
ligt hier de onbekende dichter
zorgvuldig voorzichtig
als de donker maan in haar watergraf
ieder avond een weinig lichter
Gedigte word voorgelees, die plaket wat gelyk met die gras is, word onthul. Dan verdaag ons soos ganse oor ʼn werf na die nabye Van Gennep Boekhandel vir meer gedigte en ʼn gesprek. Voor die boekwinkel is daar die driekwart mensgrootte bronsbeeld van ʼn kêrel, bokbaardjie en wegstaankuif, jas aan, kitaar in die hand : Speenhoff – dichter, zanger, tekenaar uit ʼn vorige eeu. ʼn Tokkelaar dus. Die regte buurman vir die onbekende digter onder die plat steen. Saam sal hulle sing. En op die hoek is daar nog steeds die groot portret van Multatuli teen die muur, met die aanhaling : « Van de maan gezien zijn we allen even groot. »
*
Vanaand in die hotelkamer sal jy die boomhemp wat jy present gekry het aantrek vir ʼn bruilofsdans, wit soos sneeu, met swart skoelappers oor die bors, en pronk voor die spieël. Miskien sal jy ʼn daaiding oopvou, soos ʼn pou die stervere in ʼn teater sprei :
(uit : die digter en die gedig)
om ʼn gedig te skryf
is soos ʼn hond dood te maak
hy weet vooruit die donkersny kom
en wurg aan die tou
met verskriklike tande
oë wat uit oogkaste peul
bloed en derms in die agterplaas
soms het jy bytmerke aan die hand
en brommers sing lofliedere
om die karkas se geskeurde vleis
wanneer vuurblomme swart mond in die nag
blaf iets onverwags onder die slaapkamervenster,
jy kyk na die geslagte woorde
met bewerige lippe
en voel hoe komma en punt jou hare
soos die diakritiese tekens van ʼn gedig
*
Dis tyd om om te draai. In Parys op die stasie is ʼn klavier neergesit. Jy kan dit wen as jy goed genoeg is en verfilm word terwyl jy speel. ʼn Amateurpianis speel sy hart uit. Hy het groot hande met baie vingers, hy swaai die hande rond asof hy van hulle ontslae wil raak, asof die vingers lastig en taai is. Af en toe klap hy homself teen die kop. Maar die note rinkel onder sy vingers met die klank van klippies waaroor ʼn sterk stroom vinnig vloei.
Skrywer en Leser sal weer die ondervindings wat hulle saam en afsonderlik deurloop het besoek, die paaie waarlangs hulle gewandel het, die landskappe wat hulle oë bevlek het, die seisoene wat ʼn bed so groot soos ʼn reis was – soms vars en bleek, soms natgesweet of koorsig van drome, soms soos ʼn somber kombers wat begin skif en waarin dooie dinge toegedraai word, en met pluime rook soos stil rouklagte.
Dis ʼn afstand doen, ʼn afskeid neem van wat nie beskryf kan word en nie ophou bestaan nie. Dis ʼn sigbaar maak van die klankweefsels wat die wêreld in al sy verbuigings bind. Dis gedeelde grond wat hulle opsy sal sit omdat dit geskiedenis is.
Die geskiedenis is wat voor hulle oopgaan, wat saam deur Leser en Skrywer geïnventeer, geïnventaris, bestryk en geporsie gaan word al proe die hand en die mond ook nie dieselfde nie.
Leser, kom saam
op hierdie reis oor seë
met meer ink as roem en dieper as vaam
sodat jy mag weet
die laat-gaan is jou binnenaam
*
In Katalonië word dit stadigaan herfs. In Poble Gran, onder die woud van aangeplante platane wat so hoog groei dat dit lyk asof hulle die wolke verflard, sal jy daaraan dink dat die wêreld vol onbekende digters is.
uit uitvee kom vorm /
ʼn laaste vlieg uit die nag
kleef met dooie gewig
aan hierdie skryfhand /
voordeur en rame is dig
geswel van die reën /
die hele aarde deurweek
ruik nou na oneindigheid
se groei / ʼn allesomvouende
asem van damp en vlerkskaduwees
van gisters en mis
verglinster / verduister die tuin /
mossies op die telefoondraad
versonke in gedagtes gewigtig
soos nat vere /
daar is sien in beweging
van die newel
wat ʼn verdigting bome
teen die oorkantse heuwel
skielik na die hand rig /
hoër berg-op waar wimpels en lappe
wolke word
blaf ʼn enkele hond stotterend
Can Ocells, 2 November 2014
© Breyten Breytenbach / 2014.
Liewe Breyten, ek het sopas jou vyf-en-veertig skemersange gelees. So ‘n ongelooflike bundel. baie dankie!
Breyten, baie dankie vir berigte en gedigte oor die lang en kort reis van ‘n lewe. Na binne, buite, agtertoe en vorentoe. Dit vul die medereisiger met verwondering.
‘n Geskenk, inderdaad! Dis altyd Desembers,op ‘n manier, om Breyten te lees. Die uiteensetting in die eerste paar reëls hierbo, sowel as die volgehoue toepassing daarvandaan van BB se besondere tydsdeiksis, herinner my aan die Puri Indiane na wie Thoreau in sy werk “Walden” (1854) verwys. Hulle het blykbaar een enkele woord gebruik om gister en vandag en môre mee aan te dui. Daarmee saam het ‘n gebaar rugwaarts met die wysvinger gister beteken, vorentoe met dieselfde vinger het môre gesê, en boontoe wys het die dag waarin hulle verkeer het benoem. Die teenswoordige was altyd sentraal. (En in die donkerte is nie oor tyd gepraat nie, lyk dit my).
T.o.v. die “onhandige en soms onhanteerbare ego” wat BB hierbo beken, en die betragting van dubbels in een lewe, haal ek die volgende aan uit Thoreau: “I only know myself as a human entity ; the scene, so to speak, of thoughts and affections; and am sensible of a certain doubleness by which I can stand as remote from myself as from another. However intense my experience, I am conscious of the presence and criticism of a part of me, which, as it were, is not a part of me, but spectator, sharing no experience, but taking note of it; and that is no more I than it is you. When the play, it may be the tragedy, of life is over, the spectator goes his way. It was a kind of fiction, a work of the imagination only, so far as he was concerned. This doubleness may easily make us poor neighbors and friends sometimes.”
Kry ek hierdie nou uiteindelik gelees, op ‘n Sondagoggend vol duiwe en raserige hadidas. Heerlik, oorweldigend, voel soos ‘n geskenk. Dankie!
Soos wyn verheerlik elke klein reis – skrywend en lesend – die ondermaanse.
Bravissimo, Breyten! Gelukkig is daar darem ook n vyfde stam: skrywers
wat ‘skerp kyk en n verstaan afdruk op wat hulle sien’ en lesers wat ‘spartel
om kop bo woorde te hou’.
‘n Lieflike beweegrede – behalwe nou dat ek dink Jek is verkeerd oor Dumas se uitstalling… maar ek sal moet gaan dink hoekom ek dit dink. Ek dink nie ek het die moralisering so sterk gevoel nie.
Dis altyd ‘n belewenis om saam met jou op ‘n ‘klein reis’ te gaan, Breyten. Dankie hiervoor. Dis eintlik ‘n hele oorrompelende kardoes vol reise waaraan daelank heerlik herkou gaan word.
Baie dankie vir die wonderbaarlike reis waarop jy hierdie leser geneem het.
Wat ‘n fantastiese stuk skryfwerk! Dankie, Breyten. Ek staan stom voor die reikwydte van jou denke. Jou openingsparagraaf veral slaan soos ‘n voorhamer.