Charles Tait. Die pampoenvreter

Die Pampoenvreter

ʼn Anderman het gekyk hoe ʼn Man ʼn pampoen koop vir sy verjaardag die sestiende September. Deur die vuil ruit van ʼn bus het hy hom sien die pampoen in ʼn ou koerant toevou en dit sorgvuldig onder sy arm hou. Later het hy met die bol ongemaklik tussen die ander reisigers deur kom skommel totdat hy ʼn plekkie kon kry om te sit. ʼn Grommende geluid het vanaf sy rigting gekom en die klank het teen die metaaldak geëggo dat almal omkyk. Hy het ongemaklik die pampoen stywer teen hom gedruk. Die Anderman het besluit om hom te agtervolg. Hier is ʼn slang in die gras. Het hy gedink. Een wat nog sy eie stert gaan insluk. Nie lank nie was hulle voor ʼn vyfverdieping-woonstel en dis daar waar die Anderman moes wag toe die pampoen sug en saam met die Man in sy arms by die trappe op verdwyn.  Jare het verby gegaan, die maan het verbrokkel en in die see geval. Dis eers toe dit torings van Babel inmekaar stort voor hy weer die pampoen sien. Saam is hulle na Union Square toe om ʼn pampoen te koop vir die Man se verjaardag die sestiende September. Hy het hom dié keer in ʼn plastieksak gedra. Versigtig het hy huis toe geloop en senuweeagtig met sy baard gespeel. Dit het gelyk asof hy wil weghardloop vir die maan. So 31 treë agter hom het die Anderman geloop en hulle het hand geskud voor die pampoen in die hysbak op is na die 12de verdieping. Die Anderman het in die goeie oranje son sit en bak. Totdat die polisie met ʼn geloei verby gestorm kom. Hulle het vir hom gesê ʼn terroris bly hier. Hy moet trap. Nie lank daarna nie sien die Anderman hom weer – die Man met die begeerte om vir hom ʼn pampoen te koop vir sy verjaardag die suffelste September. My tjomme, my gabba, my tjaaina!, het die Anderman geskree, maar die Man kon hom nie hoor nie. Die eende maak te veel geraas in die Swartland se modder. Geluk, het die Anderman vir homself gesê met ʼn mond vol kaneel en pampoen. Mag die pitte wat jy gesaai het nooit deur die maan opgesluk word nie, op jou verjaarsdag die suffelste September.

 

16 September 2014

(Charles Tait)

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Charles Tait. Die pampoenvreter”

  1. karla mulder :

    Wanneer ‘n digter eer gee aan ‘n ander digter deur woorde op papier neer te skryf, gebeur iets wat woorde nie kan beskryf nie. Dis wat in die stuk gebeur.

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Anderman: So deur hierdie pampoenbril bekyk (want die ingewikkelde maneuwers oor die jare heen was eintlik om insae te probeer kry in die prosesse van groei) wil dit lyk asof jy nou hierdie ritueel oor mag neem, pens en pootjies, en met ‘n veel beter kans op sukses. Dit trouens reeds gedoen en vermag het. Of daar enige voordele saamgaan met die plegtigheid, of daar enigiets te leer sou wees, sal ek nie weet nie. Miskien ‘n meer intieme en konfliktuele verhouding met die maan. Maar ‘aansteek’ is seker ook reeds ‘n manier van ‘aangee’. En dis in ieder geval nou te laat want ‘kyk’ is ook besitname. Die bybie is joune…

    Dankie vir die belangstelling. Dis ‘n verligting. En sterkte vorentje!

    Cara Negra, die emeritus pampoensmous