Digstring: Andries Bezuidenhout.Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

*

VEELVULDIGE GEBRUIKE VIR HUISHOUDELIKE TOESTELLE

 

Es gibt ein Bild von Klee, das Angelus Novus heißt. Ein Engel ist darauf dargestellt, der aussieht, als wäre er im Begriff, sich von etwas zu entfernen, worauf er starrt. Seine Augen sind aufgerissen, sein Mund steht offen und seine Flügel sind ausgespannt. Der Engel der Geschichte muß so aussehen. Er hat das Antlitz der Vergangenheit zugewendet. Wo eine Kette von Begebenheiten vor uns erscheint, da sieht er eine einzige Katastrophe, die unablässig Trümmer auf Trümmer häuft und sie ihm vor die Füße schleudert. Er möchte wohl verweilen, die Toten wecken und das Zerschlagene zusammenfügen. Aber ein Sturm weht vom Paradiese her, der sich in seinen Flügeln verfangen hat und so stark ist, daß der Engel sie nicht mehr schließen kann. Dieser Sturm treibt ihn unaufhaltsam in die Zukunft, der er den Rücken kehrt, während der Trümmerhaufen vor ihm zum Himmel wächst. Das, was wir den Fortschritt nennen, ist dieser Sturm.

– Walter Benjamin, Über den Begriff der Geschichte

 

1

 

hierdie droom wat ek droom begin in die kombuis

waar ek hebbelikheid en kookboek eenkant los

om strydige elemente deur ’n worsmasjien te wurg

bestanddele verkeerdom te klop en te karring

die brousel arbitrêr die oond in te stamp.

 

in die droom wat ek droom rys iets,

druis iets, maalkolk die stoof, rondomtalie,

knars en bars in ’n warrelwind oop, tol vinniger,

al vinniger, tot atome skeur, nies, ontplof

sampioen, o sampioen! ek swik, ek tuimel.

 

in hierdie droom wat ek droom staan ek weer op

als stil in die tornado-oog.

draai om, kyk deur ’n tuit ver terug,

druk teen ’n vlies, prik die membraan

tot die lens skeur en ek vryval, ingewurg.

 

2

 

in die droom wat ek droom dop verf terug

staan tafelblad en -poot weer bloots

val brode plat, skei beslag tot korrels wat

aan halms hang, eierwit en -geel verdeel,

slink tot dop, torpedo vir kloaak.

 

in hierdie droom wat ek droom kondenseer water

uit keteltuit, rinkink en slurp dan terug

tot kraan, verdig krake in emalje tot handvatsel

en oppervlak weer maagdelik blink en sing

vir helios wat ooswaarts ondergaan.

 

in die droom wat ek droom ruil wasmasjien

pole tot die silinder terugtol om die son,

sweet yskas, verkluim oond, blaas stofsuier

’n laaste asem uit, koel strykyster af, vergeet

oplaas van kreukels verplaas.

 

in hierdie droom wat ek droom vloei druppels saam

tot water in ’n waskom slop, teen rivierklip spat

en weer terugdruis in die stroom;

word klere van lywe afgeskil

en klap en fluit dan soos stormseile.

 

in die droom wat ek droom fladder beeldradio

tot stilte, tol platespeler ’n oomblik

antikloks, lig ’n naald in stomme saluut

weifel snaar en konsertina verlaas om kampvuur

maar eggo dan klankloos teen die eter.

 

in hierdie droom wat ek droom wyk kompressor

voor sout en salpeter, word vlees weer die dag

van die jag verorber, stol elektrone in tentakels,

trek in buise terug en val van mure af,

ontbind steenkool tot plant, verdamp olie uit lamp.

 

in hierdie droom wat ek droom bly splinter

en stomp oor, tot boomtakke terugtrek

die aarde in, is dit dan donker.

is hier nie meer hiér nie, maar orals, of nêrens.

klink aksente hol, ’n rare intonasie:

 

“ons het jou kom haal, jy wat verdwaal het,

jy wat vertak het tot sipres nie meer na bowe

groei nie. jy het omgedraai, windop teruggetuimel.

vind jou pad terug.”

 

3

 

in die droom wat ek droom is ek die engel

heel aan die begin, droom ek nou windstil,

doelgerig, loop ek stadig,

observeer hoe hulle hul hande van die aarde lig,

implemente kerf en daarmee kap, jag, ploeg.

 

in hierdie droom wat ek droom stap ek

van wieg tot wieg, soek uit, roep by die naam.

o, hulle smeer bloed aan kosyne, hulle bid om my af te weer,

die engel wat tydsaam die toekoms in stap

doen ek my werk, in nedersetting, dorp en stad.

 

in die droom wat ek droom staan ek

by elke wieg, proe enkele name bekend in die mond –

adolf, josef, talaat, pol pot,

idi, lothar, hendrik, leopold,

slobodan, vader en baba doc.

 

in hierdie droom wat ek droom rol ander name

vreemd en vars van kies na tong. neem elkeen

aan die hand. in sonlig stap ons, langs implemente

van kamp na oond, verby wit piramides,

inspekteer linie, donga, galg, skavot.

 

in die droom wat ek droom stap ons terug

tot by die wieg, kyk elke telg in die oë, stel ’n vraag;

as wrewel tot walging filtreer doen ek stil my werk,

skuif ek lid vir lid oor elke dooie lens.

kom dan by andries. kyk ek in my oë.

 

in hierdie droom wat ek droom word ek wakker

verplaas klere van wasmasjien na tuimeldroër

vee uit, was skottelgoed, sit aandete voor.

 

(c) Andries Bezuidenhout (Uit: Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle, 2014: Protea Boekhuis)

*

Andries, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Dis een van daardie gedigte wat as bevlieging aangemeld het. Ek dink die eerste weergawe het in Namibië gekom. Of dalk iewers in die Oos-Kaap. Ewenwel, dit was tydens ʼn ruskans – in die Namib of op ʼn Karooplaas. Ek kry selde sulke bevliegings as ek besig is met alledaagse sloer. Die gedig kom uit ʼn tyd van stilte – tyd wat stilstaan. Ek het reeds geweet wat die titel van my volgende bundel gaan wees en dat dit oor huishoudelike toestelle sou handel. Die idee van omgekeerde evolusie – devolusie – het goed hierby ingepas.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar was vele weergawes. Dit was aanvanklik seker twee keer so lank as wat dit nou is. Ek het lank gewroeg en geworstel met leestekens. Alhoewel dit ʼn refrein het en die meerderheid van die verse uit vyf versreëls bestaan, is dit steeds ʼn chaotiese gedig. Die gedig se struktuur is oppervlakkig, maar ek dink verkies dit so. Dis ʼn droom.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die aanvanklike idee is aan my gegee. Die moontlikheid vir tyd om stil te staan en om dan om te draai. Die moontlikheid om terug te keer na die begin van die geskiedenis toe en om baie stadig, meer afgemete, die toekoms in te stap. Die moontlikheid om vorentoe te kan kyk en met daardie wete ander morele keuses te kan maak, eerder as met jou rug na die toekoms gedraai.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek vind dat ek lang gedigte makliker lees as daar ʼn mate van ordening is. Ek het reeds die refrein genoem. Dit kom seker uit my ander lewe as liriekskrywer. Die reëlmatige verse is kosmeties, maar tog ʼn belangrike ordeningsbeginsel, dink ek. Die refrein kan nie daarsonder werk nie.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Die bundel waarin dit gepubliseer is, was deel van ʼn slypproses onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Die graad in kreatiewe skryfkunde waarvoor en ingeskryf was, is een van die lekkerste dinge wat ek nog in my lewe aangepak het. Ook soms traumaties, maar meestal heel opwindend. Die slypwerk aan hierdie gedig het meer oor kwessies soos vorm en grammatika as die idee gegaan. Ek heg ook baie waarde aan Martjie Bosman se leiding as redakteur.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het lank gewroeg oor ʼn kwessie wat handel oor skrywers se verantwoordelikheid teenoor uitgewers waarin ek myself as gevolg van ʼn kombinasie van voortvarendheid en onkunde laat beland het. Die bundel het daarom nog ʼn rukkie gelê nadat dit deur die eksaminators beoordeel is. Ek dink hierdie gedig het slegs in “Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” verskyn. Dis moontlik dat ʼn vorige weergawe iewers in Versindaba se argief rondhang. Dis die titelgedig, dalk ook sleutelgedig. Dit staan in gesprek met baie van die ander gedigte in die bundel.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dis die naaste wat ek aan surrealisme sal kom, alhoewel dit nie ʼn surrealistiese gedig is nie. My werk is meestal redelik realisties en hier verwys ek ook na my skilderye. Die idee agter die gedig is seker nogal modernisties, in die outydse sin van die woord, dalk in aansluiting by Walter Benjamin en sy tyd.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit sluit by Walter Benjamin se engel van die geskiedenis aan. Laat ek my Afrikaanse vertaling van die Duits hier plaas:

 “Daar is ’n skildery van Klee, getiteld Angelus Novus. ’n Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ’n ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.”

Die gedig neem Benjamin se lineêre beskouing van tyd en buig dit deur ʼn dromerige verbeeldingsvlug waarin die spreker daarin slaag om die tyd deur middel van ʼn kombuiskonkoksie te laat stilstaan, om te draai en dan terug te keer na die begin toe. Die tydlose posisie word gebruik om sekere morele vrae oor die individu se rol en aandeel in historiese trauma te stel. Die engel van die geskiedenis verander in ʼn doodsengel. Historiese figure, wat deur sommige as monsters beskou word (Hitler, Pol Pot), word in die kinderwieg die keuse gegee om te sterf, eerder as om voort te gaan met ʼn lewe waarvan die gruwelike toekoms bekend is. Hulle kies om eerder te sterf. Die spreker as doodsengel kom dan voor homself te staan. Die droom eindig egter as tipiese riller-cliché as die spreker wakkerword en terugkeer na die alledaagse lewe van klere was en kos kook. Die gedig begin en eindig m.a.w. in die kombuis.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Laurie Anderson se pragtige lied “The dream before”, wat in gesprek met Benjamin se teks tree. ʼn Lesing deur William Kentridge waarin hy gepraat het oor tyd as ʼn vlies. In die oomblik, die moment van die huidige, druk mens teen daardie vlies, wat onmiddellik die toekoms, sowel die verlede word. Die idee dat mens tyd soos ʼn vlies kan voel, kan aanraak, is vir my ʼn pragtige beeld. Wat sal gebeur as mens daardie vlies kon skeur, of prik? Op ʼn minder estetiese noot moet ek noem dat my navorsing oor werkers in yskasfabrieke ook ʼn groot invloed op die gedig en die bundel in geheel gehad het. Ek het baie oor die geskiedenis van die preservering en voorbereiding van kos opgelees, maar min daarvan in my akademiese werk gebruik. Dis hoe baie van daardie leeswerk in die gedigte beland het. Daardie histories-tegnologiese perspektief is belangrik, maar ook die feit dat toestelle wat die lewe makliker moet maak ook gebruik kan word om te vermoor. Paul Klee se skildery waarna verwys word en die feit dat Benjamin se teks oor dialektiese materialisme handel het ook ʼn invloed op die gedig gehad. Benjamin se teks “Über den Begriff der Geschichte” word gewoonlik in Engels as “Theses on dialectical materialism” vertaal. Daar is ʼn gesprek met Marx en materialisme in van die ander gedigte ook. Die bundel se motto kom uit een van Tony Hoagland se gedigte:

and each of them was thinking
how with dialectical materialism, accidents happen:

how at any minute,
convenience can turn
into a kind of trouble you never wanted.

Ek hou van Hoagland as digter, maar ook van sy meer kritiese essays oor digkuns. Ek wil een van sy essays hier uitsonder: “Thingitude and Causality: In Praise of Materialism”. ʼn Kort aanhaling daaruit, ter illustrasie:

“Modern consciousness may indeed be splintered, but it is one function of poetry in our time to fasten it back together – which does not mean to deny its complexity. When poetry can name the parts and position them, when it brings us out of the speedy, buzzing fog that is selfhood and modern life, our sense of being alive is heightened and intensified. How strange it is that when I read a particular poem, which brings the world into focus for me, that I can feel my own self come into focus. I was already part of that world, I know – but the unifying, clarifying impact of the poem delivers me to a deeper, and more conscious state of being-in-the-world. Deeper and better than before, when I was only lost in it” (uit: Tony Hoagland, “Real sofistikashun: Essays on poetry and craft,” Graywolf Press, 2006, p. 172).

Ek put inspirasie uit van die nuwe letterkundige ontledings in Afrikaans wat erns maak met die “nuwe materialisme”. Anders as Marx se ekonomiese ingesteldheid is dit meer feministies-ekologies. Ek vind aanklank daarby.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Goeiste, seker maar die sowat vyftig mense wat ernstig is oor Afrikaanse poësie. Dalk ook ʼn paar goeie vriende, waarvan die meeste darem ernstige lesers is. Dis ʼn frustrasie dat baie van hulle nie Afrikaans kan lees nie en dat ek nie gedigte in Engels of ander tale kan skryf nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis langer, meer chaoties, dalk meer filosofies.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Benewens die feit dat dit in Afrikaans geskryf is, nie werklik nie. Dalk eerder die obsessie met historiese skuld en verantwoordbaarheid. Dan weer, dalk is ʼn obsessie met skuld en historiese verantwoordbaarheid nie juis ʼn tema in die Afrikaanse digkuns nie.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek wens dit kon korter.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Wie wil nou ʼn gedig met so ʼn lang motto in Duits lees? Pretensie op note! Op ʼn ernstiger noot, van die meer ernstige besprekings van die bundel het die gedig op insiggewende wyse behandel. Hieroor is ek dankbaar. Oor hierdie gedig het ek nog nie enige reaksie van nie-resenserende lesers ontvang nie.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek wil dit eerder vergeet. Dis in ʼn skoolkoerant gepubliseer. ʼn Adolessente gedig oor verlore liefde. Sy woon nou in Australië. Bloos ek nou.

Toe maar, Andries. Ons almal ken daardie gevoel. Nietemin, dankie vir jou deelname en nogmaals geluk met ‘n waardevolle toevoeging tot jou oeuvre. Voorspoed met die volgende een!

*

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Digstring: Andries Bezuidenhout.Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle”

  1. Marlise :

    Dankie Andries, vir jou uiteensetting van hierdie gedig se ‘onderdele’. Ek het dit ‘n lieflike meesleurende (dromende) en ritmiese gedig gevind. Visueel Soos ‘n film wat mens terugspeel/draai.

  2. Desmond :

    Andries, jou verwysing na Benjamin , die geskiedenis, skuld en verantwoordbaarheid laat my nou dink aan iets wat ek die naweek oor Duitse skilder Anselm Kiefer in die Guardian gelees het:

    http://www.theguardian.com/artanddesign/2014/sep/22/anselm-kiefer-royal-academy-of-arts-review

    En ook:

    http://www.theguardian.com/artanddesign/2011/dec/08/anselm-kiefer-art-white-cube

  3. maria snyman :

    Heerlik – laat my dink aan Derrida opmerking wat ek onlangs raakgeloop het

    The poet … is the man of metaphor: while the philosopher is interested only in the truth of meaning, beyond even signs and names, and the sophist manipulates empty signs … the poet plays on the multiplicity of signifieds. – Derrida

    Ook onlangs Benjamin se opstel “Moscow” gelees – vol mooi materiële sinne:

    The city seems to deliver itself at the outset, at the station.

    Moscow in winter is a quiet city. The immense bustle on the streets takes place softly.

    In the street scene of any proletarian quarter the children are important.

    Begging is not aggressive as in the South, where the importunity of the raggamuffin still betrays some remnant of vitality.

    Each thought, each day, each life lies here as on a laboratory table.

    Bolshevism has abolished private life.

    For each citizen of Moscow the days are full to the brim. Meeting, committees are fixed at all hours in offices, clubs, factories, and often have no site of their own, being held in corners of noisy editorial rooms, at the cleared table of a canteen.

    Travel by streetcar in Moscow is above all a tactical experience.

    Christmas is a feast of the Russian forest.

    Under capitalism power and money have become commensurable qualities. Any given amount of money may be converted into a specific power, and the market value of all power can be calculated. So things stand on a large scale. We can only speak of corruption where the process is handled too hastily.

    In the Red Army Club at the Kremlin, a map of Europe hangs on the wall. Beside it is a handle. When the handle is turned, the following can be seen: one after another, at all the places through which Lenin passed in the course of his life, little electric lights flash.

    What figure does the man of letters cut in a country where his employer is the proletariat?

    Now and again one comes across streetcars painted all over with pictures of factories, mass meetings, red regiments, Communist agitators. These are gifts from the personnel of a factory to the Moscow Soviet.

    Anyone entering a Russian classroom for the first time will stop short in surprise. The walls are crammed with pictures, drawings, and pasteboard models. (…) Red predominates; (…)

    In the streets of Moscow there is a curious state of affairs: the Russian village is playing hide-and-seek in them.

    The churches are almost mute.

    Even the most laborious Moscow weekday has two coordinates that define each of its moments sensuously as expectation and fulfilment. (…) the vertical coordinate of mealtimes, crossed by the evening horizontal of the theatre. (…) In the orchestra of such folk music, alongside accordions and violins, abacuses used as instruments are sometimes to be heard. (They can be found in every shop and office. The smallest calculation is unthinkable without them.)

    On the anniversary of Lenin’s death many wear black arm bands.

    Die teks begin met die eerste afdeling wat soos volg ingelei word:

    More quickly than Moscow itself, one gets to know Berlin through Moscow.

    In Moscow goods burst everywhere from the houses, they hang on fences, lean against railings, lie on pavements. Every fifty steps stands women with cigarettes,women with fruit, women with sweets.

    Kiosks, arc lamps, buildings crystallize into figures that are never to return. Yet this is dispelled as soon a I seek words. I must be on my way …

    “in hierdie droom wat ek droom word ek wakker”!

  4. maria snyman :

    Walter Benjamin skryf ook pragtig in sy opstel “Karl Krauss” in One-Way Street (1979:284-5)- ek kan dit nie weerstaan om dit ook hier aan te haal nie gesien Andries wat so bloos:

    “Language has never been more perfectly distinguished from mind, never more intimately bound to Eros, than by Krauss in the observation “The more closely you look at a word the more distantly it looks back.” This is Platonic love of language. The only closeness from which the word cannot escape, however, is rhyme. So the primal erotic relationship between closeness and distance is given voice in his language: as rhyme and name. As rhyme, language rises up from the creaturely world; as name, it draws all creation up to it.
    (…) His love is not possession, but gratitude. Thanking and dedicating – for to thank is to put feelings under a name. How the beloved grows distant and lustrous, how her minuteness and her glow withdraw into name, that is the only experience of love known in Words in Verse. And, therefore, “To live without women, how easy – to have lived without women, how hard..”

    Die deel wat ek uitgelaat het gaan oor “The Forsaken” waaromtrent Benjamin o.a. stel: “The Forsken” are forsaken by each other. But – this is their great solace – also with each other. On the threshold between dying and rebirth they pause. With head turned back, joy “in unheard-of fashion” take her eternal leave; turned from her the soul “in unwanted fashion” silently sets foot in an alien world.”

    “in hierdie droom wat ek droom stap ek
    van wieg tot wieg, soek uit, roep by die naam.”

    Jy kan maar gerus nog lang gedigte dig Andries!

  5. maria snyman :

    Verskoon tog “Kraus” – want ek lees en lees juis nou ook op Wikipedia:

    “Karl Kraus was convinced that every little error, albeit of an importance that was seemingly limited in time and space, shows the great evils of the world and era. Thus, he could see in a missing comma a symptom of that state of the world that would allow a world war. One of the main points of his writings was to show the great evils inherent in such seemingly small errors.

    Language was to him the most important tell-tale for the wrongs of the world. He viewed his contemporaries’ careless treatment of language as a sign for their careless treatment of the world as a whole.”

    Dat die Kontinentale denkers nog ontdek moet word in hierdie Anglo-Amerikaanse stand van sake waarin ons ons bevind word vir my by die dag duideliker.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Dankie julle! Desmond, daai een onderhoud met Kiefer het al ‘n draai hier gemaak – lank gelede. Ek het nou in die argiewe gaan krap:
    https://versindaba.co.za/2012/01/16/andries-bezuidenhout-lughawens-en-kragstasies/
    (Op die web is 2012 lank gelede.)
    Ek is bly ek kon van Kiefer se werk al van nader beskou (ek dink in Berlyn).
    Maria noem Karl Kraus. Desmond, speel hy nie ‘n rol in “The Rest is Noise” nie? Ek sit nou in Welkom (by die myne), so ek kan nie my boek konsulteer nie. Maar as ek reg onthou, beskou Ross hom nogal as ‘n diktatoriale figuur.

  7. maria snyman :

    Andries, Kraus is vol kontradiksies – ydel en obsessief en lief vir polemiek, ensovoorts. Hy was die redakteur van Die Fackel vanaf 1899 tot met sy dood in 1936; hy het byvoorbeeld ook geskryf: “I am perhaps the first instance of a writer who simultaneously writes and acts his writing.” (!)

    Benjamin betitel die drie afdelings van sy teks soos volg:
    I. Cosmic Man
    II. Demon
    III. Monster

    Hy sluit sy opstel soos volg af: “Perhaps one of those who, according to the Talmud, are at each moment created anew in countless throngs, and who, once they have raised their voices before God, cease and pass into nothingness. Lamenting, chastising, or rejoicing? No matter – on this evanescent voice the ephemeral work of Kraus is modelled. Angelus – that is the messenger in the old engravings.”

    Vanuit ‘n JD-perspektief sou gesê kon word hy is ‘n goeie voorbeeld van wat met ‘n totaliseerder gebeur – Benjamin haal Brecht aan wat oor hom gesê het: “When the age laid hands upon itself, he was the hands.” Benjamin stem nie saam met sy vriend Adolf Loos wat gesê Kraus “stands on the fronties or a new age nie,” hy meen hy staan eerder “on the threshold of the Last Judgement.”
    Kortom: ‘n persoon wat moeilik kategoriseerbaar is, soos almal na regte is.

  8. Desmond :

    Andries, ek self sal nooit die binneland aandurf sonder The Rest Is Noise in my rugsak nie, maar wie is ek om te oordeel? Kraus speel inderdaad ‘n rol; en ‘n heel fundamentele rol: hy was Schoenberg en Berg se literêre held.

    Ludwig Wittgenstein was ook ‘n Kraus-aanhanger: hy het Die Fackel glo selfs ontvang toe hy homself in die boendoes in Norweë gaan afsonder het. As ek my nie misgis nie, het Wittgenstein selfs ‘n paar gedigte in Die Fackel gepubliseer, tydens WO1.

    En dan is daar natuurlik, meer onlangs, Jonathan Franzen se The Kraus Project: http://tabletmag.com/jewish-arts-and-culture/books/147156/karl-kraus-jonathan-franzen

  •