Mede-wete deur Antjie Krog
(Human & Rousseau, 2014, R200 TBC*, bls. 128 :ISBN 978-0-7981-6787-1, e-ISBN 978-0-7981-6788-8)
Resensent: Marlies Taljard
Soos altyd is die verskyning van ʼn Antjie Krog-bundel groot nuus binne die Afrikaanse letterkunde – die verskyning van Mede-wete is in dié opsig nie ʼn uitsondering nie. In die titel, waarin die woorde “mede” en “wete” deur ʼn koppelteken van mekaar geskei is, resoneer ʼn verskeidenheid van temas wat in die bundel aangesny word. Die belangrikste hiervan is sekerlik dié van medewete en dus medeverantwoordelikheid. Dan is daar ook die verhouding van die self met die A/ander – die saam- of medebestaan; bewussyn – “wete”, asook kennis van die self, die A/ander en die aard en geskiedenis van ons saambestaan.
Soos verskeie van Krog se vroeër bundels, het Mede-wete ʼn sterk outobiografiese inslag. Die digtende ek ondersoek veral haar eie lewe en oortuigings soos dit ingebed is binne die groter opset van die Suid-Afrikaanse nasie in ʼn poging om sin te gee aan die wyse waarop ons naasmekaar leef in dieselfde konkrete ruimte, maar as deel van verskillende kulturele, politieke en gendergroepe. Besinning oor identiteit kom onder andere eksplisiet voor in die gedig om te ver-jy waarin die digter se worsteling vergestalt word om haarself “los te sny” uit die identiteit van diegene met wie sy in noue verbondenheid saamleef ten einde vas te stel wie sy werklik is:
om uit-
mekaar-te-haal
die ek
van die ook-ek
die jy
van die verdagte byna-
jou-in-my
en dan die besef:
daar waar ek anders as jy is
begin ek
dis waar
maar daar waar ek jy is
julle geword het
begin ek buite myself
ligte polsslae kwiksilwersingend
iets anderkant alle menslikheid kaats[.]
ʼn Belangrike identiteitskeppende aspek wat veral in die eerste afdeling van die bundel, werf, ontgin word, is die verband tussen grondbesit, mag en die patriargie. Implisiete vrae bly huiwer: kan grond besit en oorgeërf word en wie kan/mag dit besit? Die bundel begin met ʼn gedig oor die begrafnis van die vader, naamlik ‘ek wil ʼn graf hê om van om te draai’ waarin die netelige politieke en emosionele grondkwessie en die postkoloniale verskille tussen plek en ruimte aan die orde gebring word:
[my pa se]
nageslag staan waar ons voel ons nie hoort nie
verduur deur geboortegrond waaraan ons vir geslagte
bloei plek kon niemand vir ons bestendig nie verwond
bly ons agter konkelend bedompig van verwyt onmede-
deelsaam trap ons water in mitologieë ’n stilte sprei
oor ons en die bruin spruitwilger-swepe swyend
in die snykoud Vrystaat skitterlig is dit asof
iets sugtends van ons uitgaan van ons
Afrikanergewete ons taalheid ons witheid
In teenstelling tot die bostaande gedig waarin die manlike afstammelinge (“my pa se seuns / en kleinseuns”; “swaers skoonseuns kleinseuns neefs”) ʼn belangrike rol speel, stel die gedig [grond] – tussen hakies onvertaalbaar as’t ware ʼn korrektief. Daarin word die verhaal van die digter se oumagrootjie vertel wat haar skelm tweede man uitoorlê het toe hy tydens haar siekte met haar testament gekonkel het. Dié gedig toon aan dat grondbesit in hierdie land nooit die prerogatief van mans was nie en ontluister daarmee verskeie aannames oor manlikheid terwyl dit ook verouderde opvattings verwerp wat die (getroude) vrou as onderdanig en ontdaan van mag beskou:
[ ] [ ] hulle sê dat oumagrootjie Helena Susanna Delport
al die grond tussen Kroonstad en Renosterspruit besit [ ] het
na haar man se dood bly sy agter met twee dogters
een van hulle my ouma Anna Elizabeth
hulle sê sy het oujongkêrel Hennie Geldenhuys getrou
[ ] dat die grond bewerk kon word [ ][.]
In hierdie en dergelike gedigte in die bundel word gefokus op die matriargie – die stamboom van moeders soos ons dit byvoorbeeld ook in André P. Brink se Sandkastele en Elsa Joubert se Die reise van Isobelle vind. Die eerste tien gedigte in die bundel is verhale wat op een of ander wyse grondbesit, magstrukture, bevoorregting, rasse- en genderkwessies problematiseer. Deur die narratiewe aard van dié gedigte word die mag van die verhaal geïllustreer, die mite wat ook in ons land diepgesetelde persepsies oor die bogenoemde kwessies gevestig het, hetsy dit deel geword het van die sogenaamde Afrikanerpsige óf mites is wat die persepsies van ander groeperinge kleur. Natuurlik lê dit ook in die aard van die narratief om dinge wat onthou word te interpreteer en sodoende sin daaraan te gee. Daarmee saam hang die kwessie van die betroubaarheid van die geheue. In die gedig om soos vroeër word ʼn idilliese prentjie geskilder van die digter se tuiskoms waarin sy “soos vroeër” die bekende afdraaipad vat en dan hartlik in haar ouerhuis verwelkom word. Maar by nabaat besef sy dat haar geheue gevorm is deur die kultuur waarbinne sy grootgeword het, dat sy medeverantwoordelik is vir die onregpleging wat gelei het tot haat en liefdeloosheid tussen mense:
ag, ek verlang na my pa en my ma soos wat hulle was
daar aan die bopunt van die tafel voor in die kar
geselsend in die hoofslaapkamer en die wêreld deur hulle
in stand gehou volkoringheilsaam en onvernietigbaar
so het dit gevoel ek hardloop julle van agter-af in sit
my arms om julle skouers en loop in die warm wesend-
heid van julle knorrige gewetes loop liedswermend soos
ek eens geloop het as julle kind, julle wit batende kind
oor die uitgestrekte werf van leuens want kyk
’n heerskare was onder ons hak ’n gehaksel
wat bloei: ek dra met julle saam dit wat nou so
skeur uit ’n haag van bloed en bitter wraakgebroei
Die problematiek rondom mag, onderdrukking en miskenning kom in Krog se werk dikwels tot uitdrukking in feministiese diskoers. Hiermee wil nie gesê word dat dit by haar gaan oor vroue-bevryding as sodanig nie – eerder dat die vrou ʼn metafoor word vir onderdrukking en miskenning as universele sosiale euwels. In die gedig Vrou Justitia geblinddoek word die skrikwekkende wanpraktyke wat ons samelewing kenmerk deur middel van gendermetafore aan die kaak gestel. Magsmisbruik, gierigheid, diefstal, korrupsie, koopwellus, oneerlikheid en gebrek aan morele waardes word stilswyend aanvaar óf die verantwoordelikheid word verplaas:
die broek is oopgezip, die ereksie du
Vrou Justitia lê op die vloer – deur mans
gepen wat verbete in die slordige leem
van hul gewetes rondgrawe om
te verbaliseer dat sy gesoek het
daarvoor, sy tart mos (…)
*
dit pas ons dat sy ʼn vrou is want nou is dit
haar woord teen ons sʼn: versoening is die viering
van onreg, minderwaardighou dit wat haat beset[.]
Die geskiedenisse, verhale en name van mense wat deel was van minderheidsgroepe soos vroue, mense van kleur, gay mense, gestremdes, slawe, ensovoorts was dekades en selfs eeue lank in stilte gehul. Onderdrukking is ingegrein in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: onderdruktes was as’t ware onsigbaar, stom en sonder mag of invloed in die openbare ruimte. Hulle is nie toegelaat om aan amptelike diskoerse soos wetgewing deel te neem nie. Hulle ervaring en lotgevalle is nie belangrik genoeg geag om in die geskiedkundige kanon opgeneem te word nie. In die letterkunde is hulle verhale lank verswyg. Om uit so ʼn liminale ruimte terug te beweeg na die sentrum, vereis simboliese erkenning en simboliese handelinge soos die openbare vertel van die verhale wat nooit vantevore vertel is nie. In die bundel Mede-wete word talle sulke verhale vertel, onder andere in die boesman waarin die brute geweld teenoor ʼn Boesman wat ʼn skaap gesteel het, uitgebeeld word. Die diskoers waarin na hom verwys word, tipeer hom as sub-menslik – “Oom moet hom maar self met die stiegriem regsien / sê die jong konstabel vir Pa / dis vreeslik vir so ʼn boesman in ʼn tronk / te wild om te rehabiliteer”. Dit is interessant hoe dikwels hierdie verhale met patriargale denke en optrede in verband gebring word. Nooit bly Krog egter vassteek in ʼn ongenuanseerde siening van enige kontensieuse saak nie. Die troue vriendskap tussen swart en wit (hoewel nie altyd onproblematies nie) is byvoorbeeld die onderwerp van die gedig ʼn verhaal oor Hendrik Sengapane Nakedi se vriendskap met die digter se vader. Die mooi vriendskap tussen baas en kneg word egter gerelativeer deur voor-verkiesingspraatjies waarin die plaaswerkers se optimistiese sieninge van die verkiesing uitloop op bespiegelinge oor watter werk hulle die “baas” sal gee wanneer hulle die grond kry: “beelde van ʼn trop skape met pa te perd (…) ‘melk!’ Pa in die hardste, mees fisiese werksure op die plaas (…)”.
Die lang gedig bediendepraatjies is ʼn epos in die kleine. Dit is die verhaal van ʼn lank uitgerekte, selfs nimmereindigende worsteling tussen die wit werkgewer en die swart werknemer om mekaar en mekaar se kultuur te verstaan. Die motto van die gedig kom uit Gayatri Spivak se werk A moral dilemma. Spivak is die Indiese literêre teoretikus wat bekendheid verwerf het met haar opstel Can the subaltern speak? – ʼn teks wat allerweë beskou word as een van die belangrikste tekste binne postkoloniale diskoers. In die motto by die genoemde gedig is die volgende sin ʼn belangrike interpretasiesleutel: “By definition we cannot – no self can – reach the quite-other …” Hierdie insig vind gestalte in die ingewikkelde struktuur van die gedig. Die gedig bestaan uit drie vlakke wat – soos die solder, die middelvlak en die kelder van ʼn huis saam op ʼn bladsy verskyn. Die boonste “vlak” is telkens die Afrikaanse teks, die “middelvlak” is ʼn gedig in isiXhosa, terwyl die onderste “vlak” ʼn Afrikaanse vertaling van die isiXhosa-gedig in prosa is. Op die oog af lyk dit asof die drie diskoerse waaruit die gedig bestaan, geen raakvlakke met mekaar het nie. Die boonste vlak bevat tipiese bediendediskoers met die fokus op die wit werkgewer:
sy wil tienduisend rand leen vir haar pa se grafsteen
ek het dit nie dis so eenvoudig soos dit
buitendien ek gee nie geld vir dooies nie
ek sê vir haar: my pa lê in die veld
ons het net sy naam op ʼn stuk sandklip uitgekap
maar mens weet sy dink:
as julle wittes nie worry oor julle dooies nie ons wel
Daarteenoor staan byvoorbeeld die onderste diskoers:
? jy moenie siek word nie ek wil nie job swap met jou nie my lyf brand en my maag is naar dis die clinic se goed jy moes by Ouma geluister het nou’s die powers teen jou ek het mos die rituals gedoen ja en jy was beter maar nou nie meer nie (…)
Hierdie gedig illustreer onder andere die totale onvermoë van mense uit verskillende kulture en uit verskillende vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing om mekaar te verstaan. Benewens die kulturele verskille (soos byvoorbeeld rites in verband met afgestorwenes), kan die deursnee bevoorregte wit Afrikaner geen voorstelling vorm van die lewe wat hulle bediendes in townships lei nie, van wat vir hulle belangrik is en van hulle lewens- en wêreldbeskouing nie. Hierdie parallelle diskoerse wat geen raakvlakke bevat nie, die dele van die gedig wat vir byna elke Afrikaanssprekende onverstaanbaar is (die meeste sal nie eers kan vasstel watter inheemse taal gebruik word nie), die vermoede dat die vertaling dalk nie heeltemal juis is nie, nie die emotiewe krag van die vertaalde gedig het nie, simboliseer die wyse waarop swart en wit, “baas” en “kneg”, arm en ryk, bevoorreg en benadeel in hierdie land saamleef.
Die gedigte in (veral) die laaste afdeling van die bundel probeer die ontoereikendheid van die gesproke en geskrewe woord verwoord deur verwringings, die gebruik van onbekende Afrikaanse woorde, nuutskeppings en vervreemdende samevoegings. In sillabe-sinaps in die noord/ suid-kompas klink dit só:
hoor jy my
jy wat julle/ons is
hoor jy my grabbel
in hegge en omhagte heinings in papiere
gerasse en die stoomkreng van harsings
Die bundel Mede-wete herinner aan ʼn laataand-gesprek waarin die knelpunte van ons lewe in hierdie land en ons bestaan op aarde op diepsinnige wyse en met inagneming van die geskakeerde aard van die werklikheid en die waarheid uitgepluis word. Die bundel het ʼn diep spirituele stramien wat in die grein van die gedigte lê, dikwels sonder om beredeneer te word. ʼn Voorbeeld van besinnende refleksie oor spirituele dinge vind ons in ʼn eland staan by ʼn kuil met sy intertekste van sjamanistiese San-praktyke waarin die eland ʼn belangrike rol speel:
ek hou stil: die eland die water die vlakte
die berge brand in op my retina ek kan voel
hoe iets in my probeer oopgaan wat soek hoe
die eland die water die berge deel is
van ’n geheue van oneindige voortglippendheid
hoe wéét hulle van mekaar?
voel die eland aan haar horings die slypgeluide van sterre?
proe die tong vol watermolekules die pastelpunte
in ’n wolk? ruis berg-ewigheid in nog-hongerende halms?
geur die berg mee as elandknieë klip-klop boontoe klap?
sterf hulle ooit as newe-wêrelde af van mekaar
of stort keelvel en klip soomloos mekaar
binne? was die eland berg voordat sy wolk
was? was gras eens eland? bedroef sit ek
en kyk na die eland die berg en die lug so niks
kan ek onthou van die ontniks waaruit ek kom
so niks verstaan ek van die niksheidsnoute waarheen
ek op pad is – haglik in hiernamaalsflardes krap-
krap ek toevallende gaatjies na die Groot Goddelike Niets
Die digterlike styl van Mede-wete is, soos ons nou reeds van Antjie Krog te wagte is, kenmerkend van ʼn digter wat ʼn meester van haar ambag is. By haar gaan gedigte met ʼn narratiewe aard naatloos oor in liriek, in argumentatiewe betoog; van die mees informele register na die formele akademiese register sonder dat sy ooit haar greep op die poëtiese aard van die gedigte verloor. Die wyse waarop sy taal hanteer, vorm en vervorm om nuut te klink en nuut te be-teken het reeds by haar ʼn handelsmerk geword en laat die leser telkens sprakeloos. Sy skryf ewe gemaklik in vrye versvorm as wanneer sy van ingewikkelde vaste poëtiese strukture gebruik maak. Mede-wete hoort myns insiens voor in die vertoonkas van die Afrikaanse poësie. Ek haal ten slotte die laaste deel aan uit een van my gunstelinggedigte, mirakel, met sy pragtige liriese – byna inkanterende – inslag:
ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak
ek het geen ander land
as dié land nie
mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde
ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land
was ʼn wonder – onkant en lighoofdig bly
dit by my die weergaloosheid daarvan
bly my by
(c) Marlies Taljard / Desember 2014