Tomorrow is Saint Valentine’s Day,
All in the morning betime (Ophelia se lied uit Hamlet)
Februarie is die maand van die liefde. Of so word dit soos koue kos aan ons opgedis. Tematies gaan jy nie sommer ’n tydskrif van die rak oprakel sonder belowende artikels oor bedsake, beertjies, ‘Vaaltyn’-hartjies en pienk lieflikhede nie. Die foltering word voorgesit in meeste winkels: lingerie in rooi; blommewinkels se ruikerpryse skiet die hoogte in soos vuurpyle. Een so ’n eienaar het my een jaar met geur vertel dat hulle genoeg kan muntslaan uit die mite van 14 Februarie dat die res van die jaar se huur gedek word. Bloemfontein is ’n studentedorp en troppe mansstudente piekel heen en weer (o, die eerstejaartjies in tragiese baadjies en dasse, die hare sweterig in die hittegolf) om hulle laaste sakgeld of beursgeld aan rooi rose en ’n piekniekmandjie te spandeer.
Feit is: blomme verwelk byna oornag in die Afrika-hitte, die tjoklits gaan sit om treurige heupe; spoedig is daar ’n fyn kraak in die hartjie-bekers en word dan oor die tyd saam met die sagte beertjies in ’n kas geprop. Ook roep Valentynsdag ’n pynlike paradoksale vraag op: aan die een kant voer dit die allesoorheersende wens (wat aan vraatsugtig grens) na intense beminning op: om iemand se romantiese attensies op jou te vestig. Maar, aan die ander kant is die dag-van-bloedige-Valentyn ook deurdrenk van ’n goeie skeut nihilisme: die niksheid wat volg na sogenaamde verliefdheid of liefde wat al te vinnig getaan het. In my suster se kamer staan ’n rooi ‘horny devil’ (perdalks ketoolse satantjie ter vertaling?), steeds al die jare na ’n hoërskool-kys. Niks het daarvan gekom nie. Maar die duiwel se piromaniese grimas bly, so alleen daar op die boekrak van haar ou kamer. Skrynend.
Verlies, verlatenheid. Daar is vele gedigte oor die eeue geskryf oor romanse, oor die liefde. Maar hier wil ek ’n betoog uiter vir dié wat verdrink het in die maand van Februarie, gedagtig aan Ophelia. Subterranean Homesick Valentine’s Blues.
Antjie Krog se eerste gedigte (Dogter van Jefta) roep jongmens-pyn na ’n verhoudingsbreuk op. Haar beeldgebruik spruit uit haar fisiese milieu: die landelikheid van die Vrystaat. Hier is geen stedelike verwysings soos byvoorbeeld in Loftus Marais se urban liefdesverse nie (pragtig verwoord en gesentreer in die vibiness van Kaapstad). Die eenvoud van bloekoms, kerke, jasmyn, koorsbome en mispels dra by tot die tydloosheid van Krog se jong verse. Let byvoorbeeld op hoe sy die kiewiet as objective correlative gebruik in “Kiewietjie” (29):
My flenterhartjie is gestelt
op rooikiewietbeentjies in die veld
wat aaklig roep en soek na liefde
as ek prik-prik
van die dubbeltjies verstrik.
Hélène Kesting het digterlike bekendheid verwerf deur haar uitstekende stilistiese beheer oor die haikoe in Afrikaans. Sy bly ongelukkig onderskat en daar is ’n besliste hiaat in die kanon betreffende haar oeuvre. In een van haar minder bekende gedigte, “Ek het jou dus nog”, word woordorde ’n spel van liefde en verlies; let veral op die gebruik van die punt in die eerste en tweedelaaste strofes wat finaliteit aankondig. Haar besondere klankgebruik versterk die sensitiwiteit rondom die tema van emosionele verlies; die ‘ek’ wat steeds bemin, maar nie noodwendig terugbemin word nie (15):
Ek het jou dus nog
lief.
En bo alle twyfel.
Omdat alle twyfel en haat
verdwyn
In die rook van jou kyk
onverwags vol son
Ek het jou
dus nog
lief
omdat jou besorgdheid plotseling sprei soos ’n geur
en oor mý,
my longe loop vol
Nog, dus,
omdat ek meteens die klankloosheid ken
van my roep
as jy nie daar sou wees nie
Nog.
Dus.
En ongeag groot skild
klein skild
helm
Marlise Joubert se digterlike forté berus op haar liriese digstyl wat dikwels op die lyflike metafoor sentreer; haar bundel Lyfsange is by uitstek ’n joernaal aan lyflike liefde. Ook skryf sy die tema van die verganklikheid van liefde tussen minnaars oop. In ‘ek het bederf geraak’ (36) berig die poëtiese ek van ’n afstandelikheid tussen haar en die geliefde en dien die reël, “ek het bederf geraak” as inkantasie wat ’n toon van berou uitstippel. Ook word die leitmotief wat die bundeltitel inhou in die laaste strofe ingemessel. Hier word die ekstase van ‘lyfsange’ verweef met ’n sterk elegiese komponent:
jy is ver vandag
asof jy nooit bestaan het nie
so bedrywig tussen engele
toegespin in die klanke van jou vel
ek het bederf geraak
met jou trosse ryp woorde se proe
daarom onthou ek kringe van jou tong
en vou my verhemelte sy duiwevlerke oop
verlangend omdat dit jy is en omdat jy
goed is soos wat nuwe bloed uit druiwe loop
(klink die wolke daar
soos neutedoppe teenmekaar
is daar foto’s op jou rekenaar
of ’n vers oor ’n begin
reën dit snags oor die bome
en wie tap water vir die voëls
aan die some van jou tuin?)
ek het bederf geraak met jou
en vandag se afstand word oorbrug
asof jy reeds bloeisels dons
op my bed versamel en ’n sug
van soene op my mond invou
ek het so bederf geraak
en met die lente in die wentel
van my lyfsange
skuifel ek teen jou aan
aromaties met ’n tros note
wat droewig sing
in die boorde van jou keel
Melanie Grobler verwoord die verlies van lyflike liefde tussen huweliksmaats op ’n roerende wyse. “Die verwoesting lê troosteloos tussen ons” (50) is ’n relaas wat spruit uit matelose magteloosheid wat deur die ek ervaar word. Die rouheid van hierdie magteloosheid is veral wat hierdie gedig so toeganklik aan die leser maak:
Die verwoesting
lê troosteloos tussen ons
en ek sidder as ek aan jou dink
in woede kon ek nooit
jou gelyke wees nie
oë wat morsig
oor die vertrek spat
sê wie gaan vandag
die onderspit delf
jou lyf worstelstoei deur my brein
en brul deur diep ravyne van die siel
Grobler se spesifieke vroulike perspektief oor erotiese verlies word verder uitgestippel in “Gister nog was jou vingerpunte” (53). Die verwonding deur so ’n verlies wat deur die vroulike komponent van ’n huwelik of verhouding ervaar word, is dikwels onderskat: vrouwees kan direk gekoppel word aan beminning en daarsonder kan daar ’n gevoel van ontsetting en isolasie ontstaan by die vrou:
Gister nog was jou vingerpunte
koesterend op my week buikvel
maar nou is alles nutteloos
jou liefdestoppe het my roeserige
vel verlaat
en ek diep verwond
keer ek na die kortstondigheid
van die binnelyf
in die enge smalte van vrouwees
oor afgronde van isolasie
neig ek weer na ’n verlore pleitende intimiteit
Die ewige ontwykende sug na beminning en die gevolglike intense emosionele verlies wanneer so ’n liefde nie haalbaar was nie, is vergelykbaar met dwelmverslawing. Om jou daarvan te speen is byna onmoontlik en daarom kan die individu ’n terminale afhanklikheid ontwikkel van die geliefde, ’n tipe ‘co-dependence’:
aanbevole dosis oorskry
die geneesheer skryf voor
in gematigde mates,
die apteker ontsyfer dit dan so
maar ek
neem
jou sonder voorskrif,
vermeerder die dosis
oor die jare
tot ek terminaal
oordoseer
op jou.
(© Gisela Ullyatt 2015)
Verlies in liefde vir die gay vroulike digter is dikwels gedompel in ’n ander tipe problematiek waarmee die heteroseksuele vrouedigter mee te kampe het: stigma, diep verbonde aan hardnekkige patriargale sisteme. Joan Hambidge se gedig, “Vele redes waarom ’n gay vrou uit ’n straight vrou se bed moet bly” met die subtitel “’n soort ballade” (57) speel met liminaliteit op verskeie vlakke: afbakenings tussen gay en straight vroue, tussen lesbiese en heteroseksuele seks; persoonlike afbakenings tussen twee minnaresse wanneer dinge versuur, asook grense tussen die straight vrou se lewe van kinders, eggenoot en die gay vrou wat versteek moet word binne hierdie skedules: sy word die ‘ander’, the other, die slegte gewete, die Jungiaanse skadu (shadow). Soveel ambivalensie en betekenislading lê dus opgesluit in die volgende versreël: die gay girl wat bereid is om die “derdeparty-skyfie te hernieu”. Die L’envoi vestig die leser se aandag op die fallosentriese orde (‘op die paal’) wat steeds oorheers en waarteen die lesbiese vrou dus geen emosionele of seksuele verweer het nie:
Gewoonlik wil straight vrouens jou hê,
die gay girl,
wat help vertroos oor al die mans
wat hulle in die steek gelaat het
met aborsies, geboortes en miskrame
en nooit geweet het van post partum-depressie
of ’n orgasme ge-fake
soos koue melk oor Rice Krispies.
Gewoonlik wil hulle by jou bly,
die gay girl
wat lamstjops kan braai,
kerrie en osstert behendig kan kook,
die swembad en skottelgoedmasjien kan skoonhou,
bereid is om Pick & Pay toe te ry,
’n derdeparty-skyfie te hernieu
in ’n lang ry vol wagtende mense,
en veral ’n eksman op sy plek kan gooi.
Gewoonlik wil hulle neffens jou wees,
die gay girl
wat verstaan en vertroetel en begryp.
Maar wees gewaarsku, gay girls,
In die bed, ja, in die bed
Soek hulle méér as troos en troetel.
Dan moet jy uithaal en wys
anders haal jy nie die paal nie
en word alles ’n woordelose stryd.
L’envoi
Vergeet van vingertaal.
Hul begeer net die paal.
Valentynsdag: Verlies en verlaat; verdrinking in die poel van vergetelheid. Tóg berus die grootste hiervan steeds op die belofte van liefde. Die skerf van hierdie wensbeentjie haper: dit wat jy nooit in jou guns afgebreek kan kry nie. Dalk is Ophelia se blomme (helaas nie geen inter-flora hier nie) ’n sterker metafoor vir die ewige, ontwykende liefde? Ek laat dit oor aan die leser om self te besluit.
Bibliografie
Grobler, M. 1991. Tye en swye van Hester H. Kaapstad: Tafelberg.
Hambidge, J. 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.
Joubert, M. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea.
Kesting, H. 1975. Skip na die son. Kaapstad: Tafelberg.
Krog, A. 1990. Eerste Gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hanneke Jordaan, lees asseblief Versindaba se Reglemente? Die opsie is heel bo aan die webblad.
Baie dankie Evette, ek waardeer jou terugvoer opreg.
Dankie vir dieplasing van die pragtige gedigte ,
Gisela
Joan, jou gedig neem die blog op selfs ‘n verdere roete. Die liefde is ‘n gebroke sonnet, inderdaad. Dankie.
Dankie Hanneke en Ilisna, vir die lees.
Bravo! Jou bloggs gryp altyd my hart.
Gisela, ek hou van die perspektief op vroue se ervaring van verlatenheid …
Hiermee ‘n gedig:
Stil lewe
Ons liefde se vervaldatum
het aangebreek. In my badkamer
staan grimering en klein allerlei.
In die studeerkamer twee reistasse,
‘n pienk skulp rus langs my bed.
Die glasstaander vol helder blomme
van draad sal gelukkig nooit verwelk.
‘n Geraamde Gregoire Boonzaier
en ‘n handvol boeke woordelose getuies
van ons tyd saam, nes ‘n fotoalbum.
Dit alles kan ek weggee, verkoop,
selfs teruggee as dit jou sou ópwek.
Hoe op aarde, het jy, wonder ek,
beland in hierdie gekrokte sonnet?
Aangrypende digkuns-oor verlies aan liefhe. Ek het self n gedig geskryf oor “Vrou-wees” – wees gelaat mbt “die liefde”. Bestaan daar n moontlikheid van publikasie op Versindaba? Kan so n gedig vir moontlike evaluering deurgestuur word? Dankie. ‘N Hanneke Jordaan navraag.