Wicus Luwes. ‘n Storie van Jan

 

Jou naam is Jan Publiek. Jy verteenwoordig beide die minderheid en die meerderheid van die plek waar jy woon, werk of wonder.  Jy is beide reg en verkeerd. Jy is net ‘n klein bietjie anders as Jan Alleman. Jy dink die meeste mense redeneer dieselfde as jy; ervaar dieselfde as jy. Jan Rap en sy maats lag vir jou.

“Jan, jy’s `n beautiful man, jy sal baie vêr gaan.
Al is die wêreld krom en skeef,dink ek jy sal oorleef,
want jy’s sag maar jy’s trots, onthou dit as jy kan.”
– ‘Jan’ deur Karen Zoid

Veronderderstel Jan Publiek is die verteenwoordiger van dit wat die meeste mense wil hê. Is daar dan iets soos Jan Dwars of Jan Korrelkop vir die mense wat nie dieselfde as Jan Publiek voel nie? Ons weet dikwels wat ons nie wil hê nie. Ons weet ons wil nie saam met daardie spesifieke bure gesien word nie – ons groet hulle as ons nie ‘n uitkomkans het nie. Om dit na die musiekfront te neem: Ons weet ons hou nie van ‘n sekere soort musiek en sien selfs neer daarop, maar as die topverkopers aangekondig word, is daardie musiek aanhoudend in die kollig. ‘n Mens kan selfs gedefinieer word deur dit wat hy nie van hou nie. Daar is ook ‘n onuitgespreekte veronderstelling dat dit wat jy nie van hou nie, juis deel van jou is – of jy dit wil hê of nie.

“Whenever you find yourself on the side of the majority, it is time to pause and reflect.”
– Mark Twain

Wat is die definisie van Jan Afrikaner, Jan Afrikaans of Jan Suid-Afrikaner? Wat is die dinge wat elkeen van die groepe nie van hou of deel van wil wees nie? As jy dink wat die vrot appels in die groepe is, kom daar dalk ‘n paar gesigte na vore. Moet egter nie so vinnig aan jouself dink nie. Dink eerder aan arme Jan Appel: Wat maak die appels die bangste? Is dit die wete dat die een vrot kol deur die hele kissie kan versprei? Miskien is dit die wete dat die appel ook eens soos die res van hul was en nog meer: dit is die lot van alle appels om ook vrot te word. Deur die een vrot appel uit te haal, vertraag jy bloot die proses.

“Apart from the primitive contract, the vote of the majority always binds all the rest. This follows from the contract itself. But it is asked how a man can be both free and forced to conform to wills that are not his own. How are the opponents at once free and subject to laws they have not agreed to?
I retort that the question is wrongly put. The citizen gives his consent to all the laws, including those which are passed in spite of his opposition, and even those which punish him when he dares to break any of them.”
– Jean-Jacques Rousseau

Wat is ‘n meerderheid of die minderheid? Is die meerderheidsbesluit van die meerderheid noodwendig die regte besluit of is die minderheidsbesluit noodwendig verkeerd? Wat is die waarde van ‘n kworum, as die meerderheid nie deur die vergadering verteenwoordig word nie? Die waarheid is mos ‘n snaakse karakter en staan soms soos ‘n Repelsteeltjie en lag terwyl mense sy naam probeer raai. Die vraag is of iemand homself as deel van Jan Publiek sien. Hoe lyk Jan Publiek nou eintlik? Het hy ‘n wit boordjie of ‘n blou boordjie; dra hy ‘n blou baadjie en het sy beskouing van die nuutste modes deur die jare verander of vernuwe?

Ek dink weer aan ‘n stukkie Russiese geskiedenis wat ek raakgelees het oor die Bolsjewiste en Mensjewiste tydens Revolusionêre Rusland. Bolsjewik beteken ‘meerderheid’ of ‘een van die meerderheid’ in Russies en het ook die meerderheid setels in die destydse regering gehad. Mensjewis beteken ‘minderheid’, maar op ‘n stadium vorm die Mensjewiste ‘n alliansie met die Joodse Bond, en skielik is die Bolsjewiste in die minderheid. Ek vind dit nogal ammusant, want jy kan amper sê die ‘Meerderheid’ was in die minderheid op daardie stadium. Dit is dus gevaarlik om jouself te definieer deur jouself die ‘meerderheid’ te noem as jy eintlik die ‘minderheid’ is.

“The truth is always in the minority, and the minority is always stronger than the majority, because as a rule the minority is made up of those who actually have an opinion, while the strength of the majority is illusory, formed of that crowd which has no opinion — and which therefore the next moment (when it becomes clear that the minority is the stronger) adopts the latter’s opinion, which now is in the majority, i.e. becomes rubbish by having the whole retinue and numerousness on its side, while the truth is again in a new minority.” – Soren Kierkegaard (http://en.wikiquote.org/wiki/S%C3%B8ren_Kierkegaard)

20
(soos die wiel)

toe Mohandas K Gandhi nog in Suid-Afrika was,
‘n goeie man, goed vir sy naastes en ander ook,
het hy hoed gedra, deftig, donkergrys,
‘n homburg dalk – en ‘n gestyfde boordjie,
das onderbaadjie, oprygstewels, de lot –
en sy oë was wyd en effentjies klam
asof hy vermoed het die hele wêreld
is bevat binne daardie kamera
(mens sien om hom min beduidenis
van suikerrietplantasies,
van wuiwende groen golwe tot daar waar
die sari-blou golwe begin wuif)

later het die Mahatma pieperiger geword,
maer en meer soos ‘n spreeu, oor die neus
‘n koloniale brilletjie van geleerdheid
waarteen hy seker vas moes kyk,
die bo-kop en die ondergesig soos twee waggelende
hubcaps sonder wiele, en vir die dhoti
was daar weinig skaamte om te bedek
(‘n ander subkontinent hierdie krioelende
vreedsames wat Britse Bestuur lamlê – maar
teen die agtergrond ook pom-pom-pom en
rattetetat-tat en swaardstrale en Sikhs
met ellelengtes bloed om die hoofde gewikkel
want buit word nie somaar ontkaak nie)

nog later, met die afgaan na die water,
toe hy al te veel vasgebyt het aan die vastye,
en hy broos geword het soos die draadjie vlas
om die spinwiel, toe die dweper
hom geheil het, toe hy omgedraai
en op die lem van naaktheid geval gestort
die flits in die son asof op ‘n oogkruk
of is dit die voëltjie wat uit die kamera bars?
dan die skaam rooi, die vuur die speserye
die rook wat soos ‘n geroeproep opstyg ens.
– naak in naak uit –
(so is die monnik, so is sy py.
mens wonder of hy in die laaste tril telling
van uitgaan en binnetoe kyk ook die wind
die Drakenshellings weer sien blou het?)

– deur Breyten Breytenbach

 

Die gedig laat my wonder hoe Jan Publiek homself destyds gesien het en hoe dit verskil van die idee wat hy nou oor homself het. Ons land en sy mense is ‘n tydjie gelede as ‘n reënboog-nasie gesien. Op ‘n dag soos vandag, wat opsy gesit is vir versoening, dink ek aan eienskappe van ‘n reënboog: dit verskyn as teken dat ‘n storm verby is en vertoon al die kleure waaruit lig bestaan. Hoe sien Jan Publiek homself as komponent of bestanddeel van die reënboog? Hoe kyk die reënboog na Jan Publiek? Die vraag is of jy jouself in Jan Naak se klere kan insien. Of miskien moet jy ‘n entjie in Jan Kaalvoet se skoene loop.

reënboog

kyk hoe die sonstraal verkurwe
deur die wolkgety
kyk die kleure
sien hoe lig ontkiem

luister na die harmonie
van sewe klanke
hoor waar kleur
en klank ontmoet

dit sing in sirkels
dit praat in n boog
dit lei weer nat
wat die son uitdroog

Bronnelys:
1. Breytenbach, B. Voetskrif. Johannesburg: Perskor-Uitgewery, 1976
2. Internet. http://tabs.ultimate-guitar.com/k/karen_zoid/jan_crd.htm
3. Internet. http://www.brainyquote.com/quotes/quotes/m/marktwain122378.html
4. Rousseau, J. The Social Contract and Discourses. London: JM Dent & Sons, 1973
Skildery: The Bolshevik deur Kustodiev

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wicus Luwes. ‘n Storie van Jan”

  1. Renée du Toit :

    Wicus, jy het die gawe om Jan Kaalvoet te laat huppel

  •