Joan Hambidge. “Die anatomie van reis”
Die anatomie van reis
Footfalls echo in the memory
Down the passage which we did not take.
T.S. Eliot
Elke digter het ‘n indeks
‘n plattegrond of kaart.
In elke stad is daar ‘n katedraal,
‘n kerkhof, bushaltes, soms ‘n hawe,
hotelle – en ander merkers
vir die besoeker voor ‘n monument
van ‘n vryheidsvegter, insurgent
of ter-dood-veroordeelde, bekend.
Elke bundel het ‘n inhoudsopgawe
met verse oor die liefde of die dood.
Selfs ongeskryfde verse, ‘n stilpunt,
word die subte of die ondergrond
wat die reisiger nog mag neem;
vereers wagtend by ‘n bushalte
of ‘n taxi-halte op pad na ‘n baken,
immer op pad tussen hier én daar.
Partykeer is die reis vooruit beplan
met koepons oorhandig aan ‘n gids;
telkemale is dit die onverwagse koers
van Frost se the road less travelled
of ‘n indraai na ‘n holte vir die voet,
‘n klein boetiekhotel of ‘n kroeg
wat iets oopmaak, openbaar:
Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder
Dank God ek is ook hier?
(c) Joan Hambidge / Januarie 2015