Melanie Grobler. La poésie du Trans-Siberien
La poésie du Trans-Siberien
Kind wat soos ‘n ligte sneeuvlokkie reis
vir jou sal ek ’n trans-Siberiese gedig skryf
kind van flikkering treinklanke
kind van rokerige platforms en stasies
vir agt dae stoom die trein
tot Krasnoyarsk uit die rook verrys.
Kind van die wilde eende wat oor die steppe vlieg
die horison leer haar dat seemeeue
in ’n papierdroom van sneeu slaap
hoeveel jare reis ons sonder om te verstaan
sonder om te weet van Vladivostok
aan die voetheuwels van die Stille Oseaan.
Daar is die besoek aan Irkutsk
waar die son terug staan van sy eie vuur
kind wat bo-op die vulkaan aansit vir ’n ete
bakke rooi kaviaar, vars rooibessies en soet tee.
Die sug van die kind is wit soos kersiebloeisels
haar asem ’n vespers omkring deur lig
Pushkin se kleinkind skrik vir haar sneeubedekte lag
kind van die wintersneeu, die gefladder
van reusagtige wit motte om haar hande.
© Melanie Grobler / 2015