Kobus van der Riet. Nie op haar mond geval nie.

 So pas na Pase is dit moontlik gepas om aandag te gee aan ‘n Oos-Romeinse digter uit die 9de eeu, t.w. die Heilige non Kassiani, wie se beroemde lied, die sg. Gesang van Kassiani, weer plegtig in Ortodokse Kerke gesing is tydens die Mette van Groot en Heilige Woensdag. Veral in die Grieks-Ortodokse tradisie word haar lied, aan die einde van die diens, met groot plegstatigheid gesing, en kan dit tien tot twintig minute neem om te voltooi. Daar heers gewoonlik groot afwagting om te sien hoe die kantor of psalti die lied sal vertolk en of hy regkan laat geskied daaraan – party gee roerende weergawes en ander sukkel miskien weens ‘n gebrek aan kennis of musikale vermoë. Hoe die verskillende vertolkings in hemelse kringe ervaar word, is uiteraard ‘n ander saak, want uiteindelik is dit ‘n gebed.

 Kassiani was afkomstig van ‘n welgestelde familie en boonop ook bedeeld met intelligensie en skoonheid, in der mate dat sy na bewering die toekomstige keiser se oog gevang het. Sy het egter die abbes van ‘ n klooster in Konstantinopel geword. Sowat twee dosyn van haar digterlike komposies het die Ortodokse Kerk se liturgiese tekste gehaal, en sy was ook bekend vir haar kort gnomiese aforismes, waaruit haar sterk opinies duidelik blyk. Sy kon haar sterk voor- en afkeure pittig verwoord, en bv. sê:

             “Ek haat stilte wanneer dit tyd is om te praat.”

Wat die sg. Gesang van Kassiani betref, dink sy haar in die gedagtewêreld van die sondige vrou wat die Heer se voete gesalf het, in, en op ‘n wyse wat tipies aan die himnogafie van die Ortodokse Ooste is, maak sy ‘n paar skerp teenstellings en vergelykings.

Hieronder is ‘n letterlike vertaling, met bloot ‘n kort weglating van ‘n pleonastiese gedeelte (die oorspronklike sê sy het “met haar ore gehoor”). Die reëlverdeling is ook nie eie aan die oorspronklike nie.

O Heer, die vrou wat in baie sondes verval het,

het u Goddelikheid erken

en die rol van ‘n mirredraagster aanvaar

en weeklaend bring sy U mirre voor u begrafnis.

“Wee my, ” sê sy, “vir my is die nag ‘n raserny van uitspattigheid,

‘n duister en maanlose verlange na die sonde.

Aanvaar die fonteine van my trane,

U wat die water van die see na die wolke begelei,

neig U tot die versugtinge van my hart,

U wat die hemele gebuig het in u onuitspreeklike selfontlediging.

Ek sal u vlekkelose voete soen

en hulle weer met die hare van my hoof afvee,

die voete waarvan Eva die stappe in die aand in die Paradys gehoor het,

en waarvoor sy haar verberg het.

Wie sal die menigte van my sondes

of die dieptes van u oordele naspeur, my sielreddende Verlosser?

Verag my, u dienares nie,

U wat onmeetlik barmhartig is.”

Op Youtube is daar klankweergawes van die lied (‘n mens tik bloot “Troparion of Kassiani” in, of “Hymn of Kassiani”). Die lengte van die opnames wissel na gelang van die gedraendheid al dan nie waarmee die sangers sing. Gevolglik is party opnames korter as tien minute en ander langer as twintig. Die Afrikaanse musiekweergawe van die lied volg die Russiese musiektradisie, en is dus polifonies, anders as die Grieks-Bisantynse tradisie. Daar is ‘n mooi Engelse klankweergawe kompleet met Westerse musieknotasie op die Internet, maar dit verg gevorderde speurvermoëns om dit op te spoor.Omte sien hoe die gesang binne ‘n Mettediens figureer, blaai na bladsy 24 by:

 https://ortodoksekerk.files.wordpress.com/2014/06/heilige-woensdag-mette1.pdf

‘n Ander lied van haar word op die vooraand van Kersfees gesing. Weereens word dit deur teenstellinge gekenmerk:

Toe Augustus alleen op aarde geheers het,

het die menigte menslike heerskappye tot ‘n einde gekom.

En toe U mens geword het uit die reine Maagd,

is die veelgodedom van die afgode vernietig.

Die stede het onder een aardse koninkryk gekom.

Die nasies het in die een Heerskappy van die Godheid geglo.

Die volke is opgeteken deur die bevel van die Keiser,

maar ons, die gelowiges, is ingeskryf in die naam van die Godheid,

toe U, ons God, mens geword het.

Groot is u barmhartigheid, eer aan U.

Ek het  ‘n gedig oor haar aangedurf, waarin ek haar klassieke opvoeding in gedagte probeer hou het:

 Die Heilige Kassiani, die Gesangdigter (oorl. ong. 890 n.C.)

Feesdag 7 September

 By watter bron het jy eens gebuk en ‘n suiwer teug gedrink?

Het jy die hange van Hélikon geklim, waar Pégasus se hoef

skrams die rotswand tref en die Hippokreen sy waters skink,

dat jy so hartverskeurend verhaal hoe ‘n ontugtige bedroef

vir die Meester mirre bring? Of was jy by Kastalia se fontein

waar Parnassus se kruine hoog bo Delphi se tempels troon,

jy wat jou veer so sekuur kan doop in wanhoop se diep rafyn

om ons die maanlose nag van selfverwyt en berou te toon?

 

Nee, in jou is ‘n Hermon waar die Jordaan opnuut ontspring,

waar woorde en frases val in kaskades van klinker en vokaal,

en kataklismies oor die hoë oewers van ons weerstand spoel.

 

Wanneer die kantor jou gesange klaar en meesleurend sing

in die hoogste registers van die Bisantynse musiek en taal,

kan ons jou hart se Godstuwende galop in ons binneste voel.

Dat ‘n gedig of lied na 1200 jaar steeds waardeer word, is natuurlik merkwaardig. Uiteraard geniet ‘n liturgiese lied hier ‘n voordeel bo skryfsels vir sekulêre gebruik, vanweë die inherente konserwatisme van die liturgiese benadering. Die Grieks van die H. Kassiani se lied is nog in ‘n mate ontsyferbaar vir die moderne opgevoede Griek, ondanks die veranderinge wat die taal deur die eeue ondergaan het, hoewel daar ook moderne Grieke is vir wie haar taal ontoeganklik geword het, asook haar lewensuitkyk. Sy deel klaarblyklik nie die opvattinge van die moderne Weste oor amoreuse losbandigheid nie. Daarom is dit dalk juis goed om met ‘n ouer siening van sake gekonfronteer te word, en met haar piëteit.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Kobus van der Riet. Nie op haar mond geval nie.”

  1. Carin Lawrie :

    Jy stel ons bekend aan die onbekende, dankie, Jacobus.

  •