Vrede. R
In die middel van die dorp
die sandsteenkerk met loodvensters
verrassend blou soos die vlae
van hierdie vars vrystaatse lug.
Wilgers hang tienvoet engele
met donker hartseer gelate
oor huise aanmekaargelap
soos ou bruidskoek
en smiddae lê skoolkinders en snuif
die gom van hulle eie snot en trane
op die warm songebakte grafte
aan die buitewyke voor berge met lyne
soos kampdraad al slap gestamp
deur die vet skape van wolke.
Deur die straatjies trek bakkies renbote
soos die wit renbote van wolke
wat teen skemer die son se ski’s trek
oor ’n blink mielieland.
Die hoofstraat vol herfsbome
is ’n skoolorkes wat verby ’n nuwe
vooraanstaande buurt se motorhawe marsjeer
met pom poms van ’n wassery wat
soos trompoppies uit ’n film
van die Amerikaanse Droom vibreer
Eenkant ’n hanekraai ver
van die môrester,
lê rubberbande op sinkdakke
soos mak aangehoude luislange,
’n verbond van sirkels ewig gesluit
in ’n arm verdrietige vrede.
©Heidi Papadopoulos
