Nog ’n raakpunt tussen die Boeddhistiese konsep, Interkonneksie, en die sosiale medium, facebook se Groot Poësiebrander, is die begrip ‘pay it forward’. Laasgenoemde vind sy oorsprong in Catherine Ryan Hyde se roman, Pay it Forward (1999), wat tot ’n filmweergawe verwerk is (2000). Hierdie term het soveel kykers aangegryp dat dit onafskeidbaar van die Engelse woordeskat geword het.
Die kern van die plot is dat Trevor McKinney (Haley Joel Osment) Graad 7 in Las Vegas, Nevada, moet aanpak. Outomaties is hy die nuweling en die buitestander by die skool vanweë sy ma (Helen Hunt) se rondtrekkery. Sy is ’n versukkelde enkelma wat té dikwels en té diep in die bottel kyk en van die een na die ander verhouding ronddobber. Trevor se Sosiale Studie-onderwyser, Eugene Simonet (Kevin Spacey), gee die klas ’n taak wat hulle as deel van sy vak moet toepas: elke kind moet drie begunstigdes kies aan wie hulle elk ’n spesiale guns moet bewys, dit wil sê iets wat die persoon nie self kan verrig nie. In plaas daarvan dat die drie begunstigdes dit ‘terugbetaal’, moet hulle elk ook aan drie mense ’n guns bewys. ’n Web van medemenslikheid en interkonneksie word dus geweef. Alhoewel die fliek tragies eindig (dit het ook wisselende kritiek ontvang) is dit die kernkonsep en manifestasie van interkonneksie wat deurskyn. Onwaarskynlike mense word dus direk verbind deur die idee van ‘pay it forward’.
Om terug te keer na die Boeddhistiese begronding van Interkonneksie: Thich Nhat Hahn, bekende Viëtnamese Zen-meester, het ’n begrip genaamd ‘interbeing’ ontwikkel wat inspeel op Hamlet se bekende alleenspraak (Die eerste toneel van die derde bedryf), ‘To be or not to be’:
‘to be’ is to inter-be. We cannot just be by ourselves alone. We have to inter-be with every other thing (1991:98).
Nhat Hahn verduidelik sy konsep van interbeing ook as:
The truth is that everything contains everything else. We cannot just be, we can only inter-be. We are responsible for everything that happens around us (1991:96).
Die Poësiebrander op facebook, soos aangetoon deur Deel 1-4, bied dus ’n perfekte platform vir nie net die ‘interbeing’-konsep nie, maar ook die ‘pay it forward’-idee.
Kom ons kyk na nog gedigte wat deel van die Poësiebrander was:
Twee kortverhale van Carien Smith, derdejaarstudent in Afrikaans en Filosofie, verskyn in Nuwe Stories 3 (“Binnekort” en “Likkewaan”). Eersgenoemde verhaal word as naaswenner aangewys en laasgenoemde verwerf Eervolle Vermelding in die gelyknamige kompetisie.
Carien se Dag 1 lyk só:
Verhaal
’n Vrou het stil geword van baie wag:
die aarde het gegly deur die spiraal
van dag na nag, was beurtelings groen en vaal,
en sy het soms gehuil en soms gelag.
Ook was sy dikwels wakker in die nag,
maar sy het in haar woning en op straat
gewoon gehandel en gewoon gepraat
en niemand het geweet hoedat sy wag.
Verlange word aanvaarding, langsaamaan,
want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot
die twee versmelt en stilte alleen bestaan.
En deur die jare het sy self die slot
van die verhaal geword: haar stilte en krag
was skoner as die ding waarop sy wag.
– Elisabeth Eybers
Dag 2:
Die tyd loop katvoet
Die dag stap luiters verby soos ’n kat,
stert omhoog. Laat my jou streel.
Spring nou op my skoot. Ek wil
jou iets vertel. Jy gaan my elke
dag verby en ek kyk jou agterna,
en roep, maar jy skuur jou wang
teen die verlede. Elke dag loop daar
’n dag uit my lewe en gaan slaap
opgekrul en droom hom met bewende
snor binne-in my daaglikse handel.
Vorentoe, agtertoe loop die tyd
katvoet aan my verby, en spin.
– Wilma Stockenström
Dag 3:
LLAMADA
jou hakskeensening was
‘n dungespanne cithara-snaar
tussen my wysvinger en duim
daardie eerste keer toe jou skraal voet
nageboortelik perfek en geseënd in my palm gepas het
toe jou lyfie
hoepel soepel
soos ‘n nat bokkie gebuitel
en gestrek het
jou eie llamada
die ritme van my bestaan
vir altyd nuut gemaak het
ek moes geweet het
toe
dat niks ooit weer
dieselfde sou wees nie
klein bailaores
klein sikloon van energie en klaterende Gatling-vuur
ek moes kon vertel
dat Terpsichore self jou gekies het
om haar geskenke
in vuur en ys te bewaar
dat jou voete perkussie en vlerke
en elke lit en werwel in jou lyf
furie is
ek moes geweet het
hoe ver afgronde en hoogtes
aan jou sou trek
dat jou ewewig vir ewig volmaak
tussen dolk en roos
tussen hemel en aarde
sou hel
– Susan Smith
(“llamada”: Oproep na die kitaarspeler – die Spaanse danser sein met haar voete aan die kitaarspeler dat sy die ritme gaan verander
“cithara”: ‘n snaarinstrument van Griekse oorsprong
“bailaores”: danser)
Dag 4 se keuse val op “Katrina” van I.D. du Plessis, “aangesien hy my Oumagrootjie se neef was en ek hierdie gedig vertolk het toe ek drama geswot het”:
Katrina van die Bo-Kaap
Het voor haar deur gestaan.
’n Boot lê in die hawe,
Matrose kom al aan
Oor Strandstraat na die Boereplein,
Die donker strate in;
En netnou sal Katrina
Se nagtaak weer begin.
’n Halfverlepte hoedjie hang
Parmantig oor een oog.
Die rooi veer is verrinneweer
Maar staan nog met ’n boog.
Katrina dra haar beste rok.
Sy stryk die kreukels plat.
Sy fyn asof ’n vryer wag,
Het sy haar uitgevat.
Maar eer sy van haar huis gaan,
Kyk sy ’n keer weer om:
Lank sal die leë ure wees
Voordat sy daar kan kom.
Katrina stap deur Roosstraat:
Astrant, met slentergang.
Wie raai nou aan haar houding
Dat sy na huis verlang?
Nou kom sy by haar susters:
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel,
Of somber staan en wag.
Katrina ken haar roeping:
’n Harpy van die eer,
’n Noodgedwonge rower,
Wat alles tóg ontbeer.
Katrina haat die lewe,
Katrina vrees die dood,
Katrina gaan haar slentergang,
Verdien haar bitter brood.
Marlies Taljard, bekende literator en kritikus, se Dag 1 is soos volg: “Winter”, die derde sonnet in NP van Wyk Louw se “Vier Gebede by Jaargetye in die Boland”-siklus:
Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
Op Dag 2 skryf Marlies: “Een van die mooiste liefdesgedigte wat ek ken en wat ek sekerlik al dikwels op fb gepos het, maar dit bly nooit volprese. Kom uit Kleur kom nooit alleen nie van Antjie Krog, deel van die siklus “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu”:
liefste, jy mág nie doodgaan nie
jy mag nie eers dúrf dínk aan dood nie
ek, wat agterbly, balsem jou in taal
vou jou in woorde
dat more jou kan erf en kan hê en kan hou
ek skeur jou daagliks terug uit die dood
ek vertel jou verhaal
ek voltooi jou einde, liefste fragment
jy wat eens gefluister het
langs my in die nag
Dag 3:
Viaticum
They recognize each other at night by the voice, by
their breathing, by a dark tenderness of arms.
They recognize each other slowly, as if
they had never met, nor exchanged the strange
words of a farewell.
They recognize each other by their desperate unfamiliarity
that robs both sides of feeling, leaving them
with the aridity of a reflection.Come from that wharf that was ravaged by winter,
that was not visited by ships, by birds, or by
the craziest old whore imaginable, and
bring with you a refuge of shadows on
your lips, an infection of the soul in the weariness
of your bodies, the strain of a glaze in the obscurity
of your eyes.Partake with me in life’s disorder,
in the indecision of roads,
in the wound of a silence where
a smile you once loved and
your ageless face flow
like images in a dream.-Nuno Júdice
Dag 4: “een van Sheila Cussons se vroeë kwatryne”:
Hoe’t U die weerlig van die denke ingeplooi
in daardie skedel sonder om die murg te skroei?
Wie kan ’n duiselender droom nog droom:
ons kloof die Onbekende oop met iets so sag soos room.
Ester de Beer, kliniese sielkundige in privaat-praktyk, se Dag 1:
You Fit Into Me
You fit into me
like a hook into an eyea fish hook
an open eye– Margaret Atwood
Dag 2 se gedig is een van Ester se eie gedigte:
Holy Awareness
my terrible texts
touch you and bruise you
i send you instead:
my awareness
of you, of you, of you,
of all of you i’m aware of
on this sad sunday
my awareness is barefoot,
treading softly on tiptoe
my barefoot awareness
obeying strict orders
not to disturb the flow
of many mysterious rivers:
not to touch you
not to feed you
not to breathe you
not to speak you
just to be:
barefoot awareness
awaiting you
Die gedig op Dag 3 is ook een wat Ester self geskryf het:
content
the sun is warming the shell
a nautilus, not a clamped mussel
the shell’s openness turned to the sea
her glistening, glittering inside invites
the sea flexing his emotional musclethe sea reaches for the shell
touching, retreating
gliding in, gliding out
the sea showers the shell
confetti-spray: everything gives waythe shell parafalling into darkerness
tumbling, rolling, twirling
bubbles butterflying to the light
rushing waters, water falling
waves over her, waves inside hera moment of perfect stillness:
the sea in the embraced shell’s embrace
suspended motionless in stable darkestness
filled fully, fully fulfilled
containing, contained, content
Izak du Plessis, bekroonde Monitor-aanbieder, wie se gedigte in Nuwe Stemme 5 verskyn en alombekend op fb vir sy motto “Steek hom, Stinkie!”, skryf die volgende oor Dag 1 se gedig-uitdaging:
“Gisela Ullyatt het my uitgedaag om vir die volgende vier ’n spesiale gedig te deel. Hieronder is, wat my betref, een van die treffendste gedigte in Afrikaans. Dit het my al desjare getref in standerd nege en matriek toe ek op Hoërskool Middelburg Afrikaans by doktor Van der Merwe gehad het. Ek wens ek kan so mooi skryf, het ek gedink toe ek dit die eerste keer in daai rooi Groot Verseboek gelees het. Al waarvoor ek die liewe doktor blameer is dat sy my wou wysmaak die vers het iets te make met die digkuns, terwyl ek oortuig was dit gaan alles oor seks”:
Grense
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
-NP Van Wyk Louw
Dag 2: “My tweede vers soos uitgedaag deur Gisela Ullyatt is ’n vers deur Anat Zecharaya vertaal deur Lisa Katz. Dit is ontstellend maar aangrypend”:
A woman of valor
“35 soldiers on active duty and several civilian employees at an air base have been conducting sexual relations with a 14-year-old girl over the past year. Many of the suspects claimed during questioning that the girl had told them she was of enlistment age.” Hannan Greenberg, Ynet News
The first
places your head on his naked lap
and one might think
you weren’t being forced but rather
thanked and your head stroked.
The second slides slowly down your back
the feelings are new
and you can still concentrate.
The third inserts three fingers, says
“Don’t move.” You don’t,
the map of greater Israel
in your eyes.
The fourth moves aside a pile of reports
on air accidents in the south
and takes you from behind.
A great love you think
a great love scorches me
and won’t let up.
You raise and lower your arms
your body stretches to the edge of the sky
your hands cupped for the rain.
The unstoppable fifth and sixth
course into you.
The arrogant salt of the earth, avoiding eyes,
those waiting their turn. Soon your body may look beautiful
even to you.
Dag 3:
Izak se gedig-keuse vir Dag 3 kan gevind word in Gert Vlok Nel se om te lewe is onnatuurlik (1993). “Hillside” is ook die laaste gedig van hierdie bundel: “My derde gedig na Gisela Ullyatt se uitdaging. Daai laaste sin … Grabbed me van ek dit die eerste keer gelees het”:
hillside
daar was i aand in hillside, 7 jaar
nadat amerika in 1968 was, op die N1
het karretjies liggies geprojekteer tot pff ver waar niemand sien
nie. (in die dorpshoek het die here i merry-go-round
gehou t.b.v. die suiderkruisfonds.) op só i aand is Tittertjie
getroud. klokke het begin beier in die eenvoudige skemer.
hoe mooi, was sy nie. sy is waaiend weg, in slow motion.
maar Tittertjie’t snaaks gewaai
“Ma, Tittertjie’t snaaks gewaai.” in in
die heiliger nag in. ry hulle. uit uit die moordenaarskaroo uit.
hoekom onthou ek dat die straatligte een-een aangegaan het
as dit gelyktydig was? dit was i lukrake nag, vol warrelwinde
doellose liefde & eksakte haat. & Tittertjie
-hulle se ford capri het voortgesnel deur die verbete land
na die bakermat-hotel van die hart
toe die liefde nog nie intertekstueel was nie. (anderkant
die lewe, in china, het i amptenaar die rysveldvrou
met die ewige oë in die broeiende fluitjiesriet
ingestamp t.w.v. onnodige distansiëring
& en die balansering van die as van die aarde.)
en hier het i trein die nag geknip soos i skêr
(terwyl stokers met geel reënjasse afdiewerkkom)
die nag het volledig gebreek.
& nou & nou.
Tittertjie, my muse, my sussie, ek skryf hierdie bitter brief.
op i blooming oggend. die bloeisels ruik awhrgg. ek stap.
vanaand terug na ons huis in hillside, beaufort-wes ek
leen jou goeie aand en jou magiese reis vir die doel.
terug, terug, in by die stram voorhekkie stap ons in.
(sodat ons nie weer kan uitstap nie
as ons van buite af binnetoe stap nie.)
en Ma kom uitgehol
en sy neem ons in soos wasgoed voor die reën. sal
ons hello sê of koebaai? sal
ons sê ons was so ver soos pluto Ma & en die aarde was nowhere
to be had? sal ons die familie join aan die kombuistafel vir brood
met marmite en stroop? of sal ons bang sê ons moet liewer loop?
sal ons verlos wees op alle vlakke
maar bowenal van
die fluit, die verbyfluit van treine
die druk, die drukking van die dakke?
ek het i foto van die aand in hillside
jy is i bruid
agter jou raak dit donker
gaste staan rond soos in i ruiter-in-swart-boekie, versteen
hul asems maak wolkies op die aarde soos op die môre
van die agtste dag
in die wolkies sê hulle
ons is lief.
en op die agtergrond kom i trein soos i byl uit die nag
-Gert Vlok Nel
*
Moenie die Laaste Groot Poësiebrander verpas nie!
Bibliografie
Nhat Hahn, T. 1991. Peace is every step. New York: Bantam.
Gert Vlok Nel en Die Wasgoedlyn …
Gert Rautenbach vertel:
“Daar bestaan ‘n album hiervan wat Die Wasgoedlyn genoem word.
Dit is die eerste versameling van hierdie musiek – met songs van Laurinda Hofmeyr, Les Javan, Bacchus Nel, Riku, Gert Vlok Nel, Churchill Naude en ander.
[…]
Kapenaars kan hierdie naweek die Wasgoedlyn sirkusgroep in aksie sien – ondersteun hulle asseblief, hulle verdien dit.”
Skakel vir meer inligting by Gert Rautenbach se blog: http://gertrautenbach.blogspot.com/
Baie dankie, Anita. Hoe druk jy die blogs uit? Ek het al probeer maar slegs die URL bo-aan kom uit. Die res wil nie print nie?
Het gewag dat jy al ses episodes pos. Ek het dit geprint en gaan dit nou rustig oor die naweek lees. Kan nie wag nie. Het reeds deeltjies “gescan” en dit lyk indrukwekkend
Hi Gisela
Ek gaan dit op eie tyd lees.
Ek het beelde gemaak oor Indra se sent en ‘n film begin skryf oor INDRA’S NET. Hy lê op die rak maar ek sal dit later verder skryf
Gisela: Jy dwing my tot facebook-taal – “Wow!”