Marlies Taljard. “Home is where the music is”

Kgositsile

 

This then is the rhythm
and the blues of it
Home is where the music is
(Uit: For Hugh Masekela – Keorapetse Kgositsile)

Min Afrikaanse poësielesers ken die stem van Keorapetse Kgositsile (ook bekend as Bra Willie), wat in 2006 deur die South African Literary Awards aangewys is as Suid-Afrikaanse “hofdigter” (Poet Laureate).

Kgositsile is in 1938 in Mahikeng gebore en het in Johannesburg grootgeword. In 1961 word hy gedwing om in ballingskap te gaan. Eers gaan hy na Dar es Salaam waar ʼn groot aantal ballinge destyds gewoon het en werksaam was en waar die hoofkantoor van die ANC gesetel was. Hier skryf hy ʼn jaar lank vir die radikale tydskrif Spearhead waarna hy na die VSA emigreer. Hy studeeer aan verskeie Amerikaanse universiteite, onder andere Lincoln University in Pennsylvanië, die Universiteit van New Hampshire en die Universiteit van Columbia waar hy in 1971 ʼn Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns behaal. In dieselfde jaar verskyn sy eerste digbundel, Spirits Unchained wat in die VSA met twee literêre pryse bekroon word en gou daarna verskyn sy belangrikste werk tot op datum, My Name is Afrika. Na die verskyning van dié bundel word hy as een van die invloedrykste Afro-Amerikaase digters beskou. Benewens ʼn doseerpos aan die Universiteit van Columbia, raak Kgositsile ook betrokke by ʼn verskeidenheid kulturele bewegings, onder andere die Uptown Black Arts Movement en die lees en voordrag van sy gedigte in verskeie Downtown klubs. Ten spyte van sy reeds ikoniese status as digter in die VSA, aanvaar hy in 1975 ʼn pos by die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië waar hy in 1978 in die huwelik tree met die bekende Baleka Mbete, in Suid-Afrika onder meer bekend as Speaker van die Parlement. Gedurende die tyd toe hy uit Suid-Afrika verban was, beklee hy ook doseerposte in ander Afrikalande, soos Kenia en Botswana. Die eerste bundel van hom wat in Suid-Afrika verskyn, is ʼn bloemlesing, When the clouds clear (1990). In Julie 1990 keer Bra Willie terug na Suid-Afrika waar hy sedertdien ʼn groot deel van sy tyd deurbring. Hy gee nog van tyd tot tyd in Amerika klas.
Kgositsile is in die VSA verskeie kere vir sy poëtiese werk bekroon, en in Suid-Afrika het hy reeds die Herman Charles Bosmanprys verower en is hy in 2008 bekroon met die Nasionale Orde van Ikhamanga (silwer) vir sy bydrae ten opsigte van letterkunde en die oopvlek van die booshede van die apartheidsbestel.
Hoewel Kgositsile veral bekend is vir sy skerp bewoorde en kompromielose veroordeling van apartheid, konsentreer ek in hierdie blog op die liriese inslag van sy gedigte en die sterk invloed van jazz en Afrikaritmes op sy werk. Oor kuns – en veral digkuns – laat hy homself soos volg uit:
“There is nothing like art—in the oppressor’s sense of art. There is only movement. Force. Creative power. The walk of Sophiatown tsotsi or my Harlem brother on Lenox Avenue. Field Hollers. The Blues. A Trane riff. Marvin Gaye or mbaqanga. Anguished happiness. Creative power, in whatever form it is released, moves like the dancer’s muscles.”
In sy gedigte is daar sowel die loslit-ritme van jazz as die inkanterende, polsende ritme van Afrika hoorbaar. In sy voorwoord tot die bundel If I could sing (2002), waarin verskeie gedigte oor musiek en opdraggedigte vir bekende musiekikone byeengebring is, skryf Sterling Plumpp dat, wat die kombinasie van politieke aktivisme en digkuns aanbetref, Kgositsile se werk vergelyk kan word met dié van Pablo Neruda, Garcia Lorca, Agostinho Neto en Thomas McGrath. Ek haal doelbewus uitgebreid aan, omdat Plumpp dit regkry om die poëtiese aard van Kgositsile se kuns in een paragraaf trefseker te tipeer:
“Kgositsile’s work is complex: exploring a sense of impending impotence, anger, disgust, commitment, joy, love, metaphysical death, birth, confession, loss and an overriding need to participate concretely in struggles to liberate the land of his birth. These poems are no mere slogans. One might observe that their rhythms alone are both stunning and original; perhaps drawn from the insistence of an inner-ear sensitive to the possibility of utilising music and Setswana to affect poetic lines. These poetic texts are masterfully written evoking a superior orality and aurality (…) This is the work of a poet hearing his own muse and inventing an original expression as medium for the oracle.”
Wat beslis in die bostaande viering van Bra Willie se werk uitstaan, is dat musiek en poësie nie los van mekaar staan nie, dat dit nie – soos die werk van baie politieke aktiviste wat ook gedigte skryf – ʼn kombinasie van swak poësie en goeie politiek is nie, dat die orale kenmerke van Afrikamusiek duidelik gehoor word en – vir my besonder insiggewend – dat sommige van die gedigte, hoewel dit in Engels geskryf is, ʼn duidelike Setswana-klank aan hulle het. As ek reg onthou, het Willie by meer as een geleentheid ʼn skrywer aangehaal wat ʼn diep indruk op hom gemaak het deur te sê dat mens die vreemde taal so moet leer bemeester dat dit soos jou moedertaal klink.
ʼn Gedig waarin sowel die meesleurende ritme van blues en die inkanterende aard van Afrikasang meewerk om ‘n verruklike klankeffek te bewerkstellig, is When the clouds clear, waaruit die volgende aanhaling kom:

What had the ancients observed
when they said of cattle
when I lack it
I have no sleep
when I have it
I still lack sleep
remember only yesterday someone said
something makes you do right
the same thing makes you do wrong
singing about love and happiness

So when we tame this turbulence
it will not be without pain
it will not be without pain
if memory can be witness
and could claim some wisdom
mother used to say
in the crucible of life
it is what you value most
that will cause the most pain

Die gedig, Santamaria, opgedra aan die Afro-Kubaanse drommer Mongo Santamaria, is een van die beste voorbeelde van die legendriese samesmelting van musiek en liriek in Kgositsile se werk, byvoorbeeld deur die nabootsing van die tromme by wyse van die herhalende o-klank en die byna bedwelmende ritme van die vers wat onder andere deur die enjambemente in die lang aaneengeskakelde sinsuitinge verkry word. In ʼn onderhoud met Menza Wali in 2012 sê Kgositsile: “I do my thinking away from writing, so when I sit down to write poetry, I take my solo. I literally approach it like a musician approaches his solo.” In die gedig waaruit ek hier onder aanhaal, hoor ek die saksofoonsolo met sy lang improvisasie wat so eie is aan jazz-musiek:

Santamaria
Is where the vowels dream
in a name among consonants
chasing the crevices of sound
in a ritual longer than the distance
between the shores of the ocean
which cannot expose its hideous memories

Refusing to be blinded by sea water
Mongo is not from the Congo
but on conga or any drum
Mongo gathers all our memories
like the crop of an abundant harvest
from the oracle of his palms
and commands them to the bidding
of the polyrhythmic dance of life

Benewens die groot aantal gedigte wat aan musiekikone opgedra word en deur middel waarvan die digter implisiet na invloede op sy werk verwys, kan kundige lesers ook ʼn hele web van intertekstuele verwysings uit die jazz-domein in sy werk herken – dit is immers ʼn kenmerk van jazz dat improvisasie dikwels geskied op ʼn tema uit ʼn ander komponis se werk.
Dit is nie vir my vreemd dat Kgositsile, wat aanvanklik probeer het om verhale te skryf, nie in dié medium tot uiting kon bring wat hy op die hart gehad het nie, want wanneer ʼn mens sy gedigte lees, is dit duidelik dat hy in ritme en in vloeibare vorme dink. Self erken hy dat hy in bewegende beelde dink en dat dit makliker is om sulke beelde in poësie uit te druk as in prosa. Wat die musikale inslag van sy poësie betref, maak die digter geen onderskeid tussen gedig en musiek nie:
“…the separation between poetry and music is artificial. It was imposed deliberately to serve certain interests. Even today among all our poets in South Africa, you could go into the countryside and run into an oral poet who can recite and recite and seamlessly move into singing and come back. There’s no boundary, there’s no separation. Poetry at its best aspires to be music.”
Hierdie stelling sluit aan by sy insig dat die instrumentalis in jazz nie vooraf komponeer nie: “To me improvisation is composing and playing at the same time.” Dit is myns insiens waar die heerlike vloei in sy gedigte vandaan kom, soos in die gedig For Johnny Dyani:

(…)
Johnny you take us out there
where we gasp silently
amidst a bombardment of sound
in the spell of the witchdoctor’s son
where I cannot even ponder
how a witch and a doctor paradox
could be one entity

Your bass
Johnny pins nothing down. Your bass
rides on wave or height or rock
or depth or crevice of sound
to bathe us in music

And we are moved
where we cannot even
hear ourselves gasp

Kgositsile se poësie kan getipeer word deur wat Julia Kristeva oor die aard van literêre tekste sê, naamlik “… poetic language points to the fact that language cannot live by grammar or syntax or even vocabulary alone, that sensation will leave its indelible stamp …” (Smith 1998:14). Hierdie tipe taalgebruik noem sy semiotiese taalgebruik, in aansluiting by wat deur Lacan as simboliese taalgebruik bestempel word (min of meer vergelykbaar met woordeboekbetekenis van woorde). Semiotiese taalgebruik, soos dit in literêre tekste voorkom, verteenwoordig hoofsaaklik nieverbale, sensoriese betekenis, soos dit ook in musiek voorkom. Die semiotiese aspek van ‘n teks word deur Kristeva gedefinieer as “musical, anterior, enigmatic, mysterious and rhythmic” (Smith 1998:21) en word bewerkstellig deur poëtiese middele soos ritme, rym, alliterasie, onomatopee, toon, timbre, beweging, lag, jouissance, modulasie en woordspel (Lechte 1990:129, 132; Smith 1998:22).
Hiermee wil ek nie voorgee dat Kgositsile se werk deur die lens van Westerse literêre kritiek en beginsels van poëtiese vormgewing gefilter behoort te word nie. Sy werk is nie gebaseer op die Westerse poëtiese tradisie nie, maar Kristeva se definisie van semiotiese taalgebruik sê dalk iéts oor die aard van sy poësie sonder om dit te probeer verklaar.

To move towards
laughter has always been my desire
so here now knowing what
you should do you must do
right now I laugh
moved by the memory
of hate and guns and love
(Uit: Re/Creation)

Bronne
Lechte, John. 1990. Julia Kristeva. New York en Londen: Routledge.
Lechte, John en Margaroni, Maria. 2004. Julia Kristeva: Live theory. Londen en New York: Continuum.
Smith, Anne-Marie. 1998. Julia Kristeva: Speaking the unspeakable. Londen: Pluto Press.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marlies Taljard. “Home is where the music is””

  1. Maria Snyman :

    Marlise, ek het hierdie artikel baie geniet. Ek sien die stelling “Home is where the music is” onder andere ook in die lig van Nietzsche se “The birth of tragedy, from the spirit of music”, d.w.s. die bekende huis “move towards” die onbekende/vreemde, oftewel word unheimlich (“uncanny”) en “To move towards
    laughter” word dus op ‘n manier voorgeskryf …

    As Derroris soos ek al hier op Versindaba genoem is mag ek seker ook die volgende skakel voorstel: http://jazzstudiesonline.org/content/jacques-derrida-and-jazz

    Derrida se teks “Play—The First Name” (“Joue—Le Prenom”) word soos volg ingelei:

    Translator’s Note: Derrida wrote “Play—The First Name” in response to Coleman’s invitation for him to perform a “solo” onstage with Coleman and pianist Joachim Kühn during one of their La Villette concerts. On the appointed evening, Derrida took the stage with Coleman and Kühn and began to perform his composition, but press reports indicate that the audience jeered him so loudly that his words could hardly be heard. The irony of this was undoubtedly not lost on Coleman, who has himself been the object of more abuse and ridicule than perhaps any other musician in the history of jazz.

    ***

    Qu’est-ce qui arrive? What’s happening? What’s going to happen, Ornette, now, right now? What’s happening to me, here, now, with Ornette Coleman? With you? Who?

    It is indeed necessary to improvise, it is necessary to improvise well [II faut bien improviser, il faut bien improviser]. I knew that Ornette was going to call on me to join him tonight, he told me so when we met to talk one afternoon last week. This chance frightens me, I have no idea what’s going to happen. […]

    Soos Kgositsile dit immers ook stel:

    What had the ancients observed
    when they said of cattle
    when I lack it
    I have no sleep
    when I have it
    I still lack sleep
    remember only yesterday someone said
    something makes you do right
    the same thing makes you do wrong
    singing about love and happiness

  2. Marlies Taljard :

    Dankie Maria. Dit is inderdaad soos die duitse spreekwoord (ek dink aan Goethe ontleen) sê:
    Wo man singt, da laß dich ruhig nieder
    böse Menschen haben keine Lieder.

    Waar hulle sing, kan jy maar gaan sit [tuis voel] – slegte mense het geen liedere [musiek] nie)

  •