Reeds in 2008 wys Leti Kleyn op die hernude belangstellings in die ouer Afrikaanse digters se werk, soos byvoorbeeld die herdrukke, vertalings en geleentheidsbundels van onder meer Ingrid Jonker en Eugène Marais se oeuvres. Met die onlangse verskyning van Vlam in die sneeu, ’n bestekopname van liefdesbriewe tussen Jonker en André P Brink, asook Carel van der Merwe se Donker Stroom oor Eugène Marais, blyk dit duidelik dat Jonker sowel as Marais steeds gewild bly onder die leserspubliek – soos ook die groeiende korpus metatekste rondom hulle werk getuig. Die rolprente Black Butterflies en Die Wonderwerker bevestig in ’n sekere sin hierdie ikoniese status. In die eerste deel van die blog is daar gekyk na die Ars poetikale invalshoeke en tendense in die filmkuns wat oor die lewens en werk van historiese digters handel (https://versindaba.co.za/2015/10/11/nini-bennett-digters-in-die-filmkuns/). In hierdie tweede aflewering van die blog word daar ’n vernouende fokus op Suid-Afrikaanse digters gestel.
Black Butterflies (2011)
In laasgenoemde Nederlandse filmproduksie wat in Engels vervaardig is, word Jonker se verhouding met Jack Cope, ander minnaars, haar vader, Abraham Jonker, en haar digterskap as uiting van protes teen die Apartheidsregime belig. Alhoewel die rolprent gemengde reaksie plaaslik en in Nederland ontlok het, ontvang Carice van Houten die filmprys as beste aktrise tydens die 2011-Tribeca-filmfees in New York. Die prent is ook genomineer vir nege SAFTA-toekennings en kry ’n gunstige resepsie in The New York Times. Dit is egter jammer dat die film werklikheidsgetrouheid moes inboet deur ’n “fiktiewe” André P Brink in die karakter van “Eugène Maritz” in die biografiese narratief in te skryf. Ironies genoeg fokus dit juis die aandag op Brink! Sommige literêre kritici, soos JC Kannemeyer, spreek hulle twyfel oor die (moontlik oorskatte) oeuvre van Jonker uit, en deel die mening dat dit inderwaarheid Jonker se kultusstatus is wat generasies lesers bly aangryp. In ‘n onlangse studie word Jonker se lewe as ’n argetipe van die sprokie, Die Rooi Skoene, geanaliseer (http://www.litnet.co.za/was-ingrid-jonker-n-slagoffer-van-die-rooi-skoene/). Die skeptisisme ten spyt, is Jonker se werk onder meer vertaal in Zoeloe, Hindi, Pools, Duits en Russies. Brink verwys na haar klein, maar seminale bydrae as digter, en dat sy verse skryf wat sing in die universele hartsaal van die mens. Jonker is by verre die gewildste digter op die sosiale media, en heelwat van die huldigingsbladsye en inisiatiewe om haar nagedagtenis te herdenk, word deur haar dogter, Simone Garcia Marques, geadministreer.
Die Wonderwerker (2012)
In 1908 daag Eugène Marais, siek aan malaria, op by die Van Rooyen-gesin in die Waterberg in Limpopo, waar hy vertoef en sy navorsing oor termiete en bobbejane doen. Marais se digterskap word verbeeld as deel van ’n groter, maar rustelose intellektuele soeke. Dawid Minnaar skitter in die hoofrol as ’n charismatiese Marais wat die lewens van ’n boeregemeenskap verander; hy word die klassieke Buitestaander, ’n enigmatiese vreemdeling en ‘dokter’ wat siekes in die distrik genees en “mesmeraais”. Die besondere kinematografie verdien vermelding, byvoorbeeld die tonele waar ’n termietnes oopgemaak word. Die prent herinner aan visuele poësie, en Marais se gedig, Winternag, word geplaas teen die groter tafereel van dié digter en natuurkenner se gedagtewêreld. Ben Ludik sorg eweneens vir ’n mooi klankbaan. Ten spyte van die kritiek van enkele literêre kommentators op die internet, is dit belangrik om te onthou dat ’n Suid-Afrikaanse rolprent soos hierdie (met ’n veel kleiner begroting as sy oorsese eweknieë) suksesvol kon kompeteer met ’n gunstige IMDb-gradering (7.2/10); ’n rolprent waarvoor Leon van Nierop sonder huiwering 9/10 gegee het.
Total Eclipse (1995)
In hierdie biografiese drama val die soeklig op die verhouding tussen die Franse digters, Paul Verlaine en Arthur Rimbaud. Leonardo DiCaprio oortuig in die hoofrol as die genie en infant terrible, Rimbaud, en die draaiboek herinner plek-plek aan ‘n manlike weergawe van Nabokov se meesterroman, Lolita. Verlaine tree sadisties en manipulerend op teenoor sy sewentienjarige swanger vrou, ’n siklus van emosionele geweld wat die sestienjarige Rimbaud op sy beurt weer teenoor Verlaine voortsit. Beide Verlaine en Rimbaud is labiel en eindelik disintegreer hulle psigologies – en beland Verlaine in die gevangenis nadat hy Rimbaud tydens ’n onderonsie in die hand skiet. Die prent gee ’n onthutsende kyk op die ontstuimige aard van Rimbaud se kreatiwiteit, gevoed deur anargie en die minagtiging van sosiale kodes. Rimbaud se dig- en skryfwerk het ’n groot invloed uitgeoefen op generasies skrywers, digters, skilders en musici, en kan ook as ’n voorloper van Surrealisme en Dadaïsme (naas sy invloed op Simbolisme) gesien word. Vervolgens die gedig, Eternity van Rimbaud wat in die slottoneel van die film genoem word.
It has been found again.
What ? – Eternity.
It is the sea fled away
With the sun.
Sentinel soul,
Let us whisper the confession
Of the night full of nothingness
And the day on fire.
From human approbation,
From common urges
You diverge here
And fly off as you may.
Since from you alone,
Satiny embers,
Duty breathes
Without anyone saying : at last.
Here is no hope,
No orietur.
Knowledge and fortitude,
Torture is certain.
It has been found again.
What ? – Eternity.
It is the sea fled away
With the sun.
The Raven (2012)
Hierdie bonatuurlike riller handel oor ’n reeksmoordenaar wat figmente uit die skrywer-digter, Edgar Allan Poe se gruverhale gebruik om “leidrade” vir volgende moorde te verskaf, en só kat-en-muis met die polisie en Poe begin speel. Biografiese verwysings in die film is die uitbeelding van Poe se laaste dae, en die sinistêre omstandighede waaronder hy dood aangetref is op ‘n parkbank. Die intrige is fyn en slim bedink, en werk verruimend deur die verhaalgebeure self as ’n Gotiese gruverhaal aan te bied (Poe was ’n groot eksponent van Gotiese literatuur). Ten spyte van kritiek, is dit ’n film wat getuig van waagmoed en byvoorbeeld nie huiwer om die soeklig op Poe se vermeende nekromanie te laat val nie. Die rolprent sluit dan ook gepas met die eerste strofe uit dié treffende gedig van Poe (A Dream within a Dream) ná sy eienaardige dood.
Take this kiss upon the brow!
And, in parting from you now,
Thus much let me avow-
You are not wrong, who deem
That my days have been a dream;
Yet if hope has flown away
In a night, or in a day,
In a vision, or in none,
Is it therefore the less gone?
All that we see or seem
Is but a dream within a dream.
En van donker Gotika na die eindpunt van die skaal: Songs from the Second Floor (2000) is ’n nihilistiese rolprent wat swaar dra aan invloede van Cinema Noir, en waarin eksistensie en sin uitgedaag en negeer word. In skrille kontras hierteenoor staan Shakespeare in Love (1998), ’n genietlike en verglansde voorstelling van ’n jong Shakespeare se liefdesintriges, geldnood, ensomeer. Van skeppende invalshoeke rondom die tematiek van digters, biografies of fiktief, en digterskap in al sy fasette ontbreek dit filmvervaardigers nie. Tog moet die impak van Dead Poets Society (1989) nie onderskat word nie. Ná Robin Williams se selfdood verlede jaar het huldeblyke en elegieë van digters en bewonderaars bly instroom na nuus- en ander elektroniese netwerke: Williams is ikonies tot lewe gewek na analogie van sy rol as die geliefde onderwyser, John Keating (O Captain! My Captain!). In bykans alle digfilms is dié fokale punt teenwoordig: digters word voorgestel as (dikwels masochistiese) beoefenaars van digkuns, met al die verrukkinge en verdriet – en die ewige spanning tussen die binêre kragte van noodlot en wonder – wat die kunsvorm vergesel. Vir diegene wat meer wil lees of na ander films oor die onderwerp wil kyk, hier volg ’n meer volledige lys. (http://www.imdb.com/list/ls050659361/).
Bibliografie
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Pretoria, Kaapstad & Johannesburg: Academica.
Black Butterflies. IDTV & Cool Beans. Riba Film International (rolprent). 2011
Die Wonderwerker. Sonneblom Films (rolprent). 2012
The Raven. Filmnation Entertainment. Relativity Media (rolprent). 2012
Total Eclipse. Fine Line Features (rolprent). 1995
http://www.poemhunter.com/ (Besoek 10 November 2015).
http://www.litnet.co.za/n-ander-bestekopname-van-die-afrikaanse-po-e-sie-2004-2007/ (Besoek 11 November 2015).
http://www.nytimes.com/2012/03/02/movies/black-butterflies-a-biopic-about-the-poet-ingrid-jonker.html?_r=0 (Besoek 11 November 2015).
Dankie, Gert, ek gaan dit definitief in die hande kry.
Baie dankie, Gisela!
Dankie Nini – dit was lekker. ‘n Ander gunsteling – oor en deur ‘n digter – is die fliekweergawe van Cyrano de Bergerac.
Dankie, Nini, ek het heerlik hieraan gelees. Van ‘Total Eclipse’ en ‘The Raven’ het ek nog nié gehoor nie en sal dié films graag wil kyk.
Dankie vir die lees en sinvolle opmerkings oor die simbiose tussen filmkuns en poësie, Sigeuner.
Kunsfilms speel `n groot rol om digkuns opbouend te ondersteun. Dit is `n liefdesdaad op sigself. Elke film hier genoem is ook nie net digkuns wat voorgehou word as die hooftema nie, maar om fliekgangers `n kykie te bied op die menslikheidsfaktor van digters en hul lewe.
Mense behoort te weet hoe digters geleef het en wat hulle gedryf het om die kunsvorm te beoefen. Dis uitstekend geskryf en vul die eerste blog oor kunsfilm perfek aan!