Engel: Evette Weyers
What is the knocking?
What is the knocking at the door in the night
It is somebody wants to do us harm.
No, no, it is the three strange angels.
Admit them, admit them.
(Uit: Song of a Man Who Has Come Through – D.H. Lawrence, 1917)
ʼn Paar weke gelede ontvang ek ʼn versoek van Evette Weyers om ʼn blog te skryf oor die betekenis van die engele in die bekende gedig van D.H. Lawrence, Song of a Man Who Has Come Through. Dit doen ek graag in hierdie blog, en in ʼn opvolgblog kyk ek na ʼn ander reeks gedigte wat in dieselfde tyd as Lawrence se gedig ontstaan het, naamlik Rainer Maria Rilke se Duineser Elegien (1912 – 1922).
Die meeste groot religieë ken engele. Baba Sawan Singh, Meester van een van die oudste spirituele filosofieë, verduidelik dat engele in die astrale vlak van die heelal voorkom en die vrugte van goeie karmas uit vorige leeftye geniet. Hulle is steeds onderhewig aan reïnkarnasie. Volgens hierdie filosofie is engele spiritueel minderwaardig ten opsigte van mense omdat God nie in hulle “woon” soos in mense nie. Die insig dat engele mense is wat ʼn staat van perfeksie bereik het, kom ook in die Bybel voor (Hebreërs 12:22-23). Die Bybel leer eweneens dat engele van mense verskil (bv. Mattheus 22:30). Die woord “engel” kom van die Griekse woord aggelos wat boodskapper beteken en kom meer as 100 keer in die Ou Testament van die Bybel voor en meer as 160 keer in die Nuwe Testament. Ook in die Koran word dikwels na engele verwys. Hulle is volgens die Islamitiese geloof wesens wat geen vrye wil het nie, maar slegs die wil van God doen – meestal tree hulle as boodskappers van God op: Dit was ʼn engel wat Mohammed as profeet opgeroep het! Dat elke mens sy eie beskermengel het, kan blykbaar aan Zoroaster (Sarathustra) se insig toegeskryf word. In die kuns word engele reeds millennia lank as sublieme wesens uitgebeeld, in voorkoms verwant aan die mens, maar dikwels toegerus met voëlagtige vlerke. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat engele vlerke het, aangesien hulle nie ʼn konkrete liggaam het nie en hulleself slegs in menslike gedaante aan mense vertoon omdat dit in die aard van die mens is om meer geloof aan konkrete en sigbare dinge te heg as aan “onsigbare” dinge en wesens.
Volgens hulle verskyning in die verskillende heilige geskrifte van uiteenlopende religieë, verrig engele gewoonlik die take van boodskappers, beskermers, gidse, voorsieners, vernietigers en skerpregters. Hulle versterk en bemoedig mense in nood, beantwoord gebede, versorg sterwende mense en lei hulle siele na die plek waarvoor hulle bestem is. Engele is primêr mediërende figure wat tussen verskillende sfere van die heelal kan beweeg en kommunikeer. As intermediêre wesens het hulle egter geen persoonlike identiteit nie, maar is hulle eerder palimpseste van alles wat deur die eeue oor hulle geskryf en geglo is. In die moderne wêreldletterkunde (in besonder die poësie) word hulle meestal uitgebeeld as wesens wat onaangetas is deur tyd en wat verhewe is bo die mens en sy bestaan op aarde. Engele dien dikwels as jukstaponering wanneer skerp onderskeide getref word tussen hemel en aarde, goed en sleg, heilig en profaan, die geestelike en die vleeslike. Hulle is poëties funksioneel deurdat hulle die draers kan wees van wysheid en verskuilde insig, maar tog bly hulle meestal passief omdat hulle argetipes verteenwoordig. Hulle is universeel, transendentaal en nie-tydgebonde. Dikwels verteenwoordig engele spirituele heelheid of die moontlikheid van heelwording – opvallend selde word hulle spreekbuise van ʼn bepaalde godsdienstige groepering.
Die gedig van D.H. Lawrence waaruit die bostaande bekende aanhaling kom oor die engele wat aan die spreker se deur klop, lui soos volg:
Song of a Man Who Has Come Through
Not I, not I, but the wind that blows through me!
A fine wind is blowing the new direction of Time.
If only I let it bear me, carry me, if only it carry me!
If only I am sensitive, subtle, oh, delicate, a winged gift!
If only, most lovely of all, I yield myself and am borrowed
By the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world
Like a fine, an exquisite chisel, a wedge-blade inserted;
If only I am keen and hard like the sheer tip of a wedge
Driven by invisible blows,
The rock will split, we shall come at the wonder, we shall find the Hesperides.
Oh, for the wonder that bubbles into my soul,
I would be a good fountain, a good well-head,
Would blur no whisper, spoil no expression.
What is the knocking?
What is the knocking at the door in the night?
It is somebody wants to do us harm.
No, no, it is the three strange angels.
Admit them, admit them.
Dié gedig word deur die meeste kritici geïnterpreteer as ʼn kommentaar op digterskap: dit is die opdrag van die digter om geduldig te wag vir die “klop aan die deur” – die oomblik van insig en inspirasie wat dikwels onverwags en op ʼn vreemde wyse opdaag. So ʼn insig is dikwels ʼn Damaskus-ervaring waarvoor die digter nie gevra het nie, ʼn oomblik van waarheid wat dikwels radikale nuwe denke en insigte vereis. Van die digter word dikwels verwag om bewustelik ʼn keuse te maak, om die engele van inspirasie (kennis) in te laat. Kathryn Levi (in Dakse poems) skryf: “It can be … startling when the door flings open and you suddenly discard conventional knowledge and the tired habits of being. Those are the moments the poet lives for—when it’s possible to see and hear most acutely, when confusion clears and you can finally utter the unforced truth.”
Die drie engele wat in die laaste strofe van die gedig onder bespreking vermeld word, kan tweërlei betekenis hê. Een interpretasie is dat hier verwys word na Abraham se ontmoeting met die drie engele by Mamre (waarvan een die Here self was), soos dit in Genesis 18 opgeteken staan:
“Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. Laat hulle tog ʼn bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. En laat ek ʼn stukkie brood gaan haal, en versterk u hart — daarna kan u verder gaan — want daarom het u by u kneg aangekom” (Genesis 18:1-5, Ou vertaling).
Nadat die engele geëet en ontspan het, het hulle Abraham meegedeel dat sy vrou Saraï op ʼn gevorderde leeftyd swanger sal raak en ʼn seun in die wêreld sal bring. God het ook, toe Abraham hulle afsien, aan hom openbaar dat hy Sodom en Gomorra sal uitwis as gevolg van hulle sondes. In hierdie verhaal tree die engele dus op as boodskappers wat ʼn goddelike openbaring aan die mens bring.
Dit is egter onwaarskynlik dat Lawrence se engele na die bogenoemde Bybelse verhaal verwys soos dikwels beweer word. Die reël “The rock will split, we shall come at the wonder, we shall find the Hesperides” verskaf die interpretasiesleutel tot die engelefigure wat in die slotreëls van die gedig optree. Hesperides is die naam wat kollektief gegee word aan die drie engele of nimfe wat bekendstaan as Dogters van die Aand of Nimfe van die Weste. Hulle is die oppassers van Hera se paradyslike tuin in die mees westelike uithoek van wêreld, naby die Atlasgebergtes van Noord-Afrika, aan die kus van Okeanos, die oseaan wat die wêreld omsluit. In die middel van dié boord is daar ʼn appelboom wat goue appels dra wat, indien mens dit eet, onsterflikheid waarborg. Die boom was ʼn huweliksgeskenk van Gaia aan Hera en Zeus. Die Hesperides moes die tuin oppas, maar by geleentheid het hulle hulself tog vergryp aan die appels sodat Hera ʼn monster in die tuin moes laat woon om die oppassers te verskrik … Die mite van die Hesperides vertoon duidelike ooreenkomste met die Genesis-verhaal waarin God die mens in die paradys laat woon, maar hulle verbied om te eet van die boom van kennis van goed en kwaad en die boom van die ewige lewe. “Ewige lewe” moet in antieke mites verstaan word soos dit in baie Oosterse filosofieë en godsdienste verstaan word, naamlik perfekte selfkennis wat lei tot bevryding van die ewige Wiel van Lewe en Dood (soos in die Boeddhisme, die Zen-Boeddhisme, ens.). In haar bespreking van die gedig op haar blog, skryf Mandy de Waal:
The strange angels are the acts of fate that bring experience which, once lived through, forever leave our lives changed. The strange angels we fear and resist. The strange angels that we hope and pray will never knock at our doors. Yet, when they depart, can leave us wiser, compassionate and if we allow, more deeply in touch with ourselves and our purpose for being. “Some things cannot be spoken or discovered until we have been stuck, incapacitated, or blown off course for awhile,” says David Whyte. “Plain sailing is pleasant, but you are not going to explore many unknown realms that way.”
Lawrence se engele, wat beslis geassosieer kan word met verborge kennis kan, op ʼn abstrakte vlak, beskou word as simbole van of herinneringe aan iets subliem wat ons vergeet en verloor het, naamlik die perfekte (paradyslike) staat van die mens, maar wat ons nog (by wyse van iets soos Jung se Kollektiewe Onbewuste) eien wanneer ons daarmee in aanraking sou kom. Benewens die digterlike inspirasie, wat by die interpretasie van die gedig nie buite rekening gelaat kan word nie, is die engele ook simbole wat elke mens wat die tydsgees swaar op haar voel druk, oproep om sensitief te word vir die heeltemal nuwe en die heeltemal vreemde wat kan lei tot ʼn deurbraak ten goede. Dit gedig behoort nie slegs as ʼn ars poetica gelees te word nie, maar kan ook van toepassing gemaak word op enige leser wat haarself wil oopstel vir transformasie – ʼn transformasie wat uiteindelik mag uitkring tot die mensdom wat in die greep van ʼn apokaliptiese tyd vasgevang is, ʼn transformasie wat vandag net so noodsaaklik is as ten tyde van die eerste Groot Oorlog toe die gedig ontstaan het.
Engele!
Wat `n heerlike, vars bries om te lees. Hoe meer mens glo dat engele altyd om ons is, hoe meer werk “hulle” om ons lewens te verryk.
Mag elkeen luister, as daar geklop word.
Dankie vir jou dankie, Nini. Ek is bly as mense dit darem lees!
Dankie vir hierdie blog oor die digterlike ligdraers, Marlies; ek het dit baie geniet.