Marlies Taljard: “Elke engel is skrikwekkend”

Elegien

Wie, as ek skreeu, sou my dan hoor vanuit die engelekore?

En sê nou maar een van hulle

druk my skielik vas teen sy hart: ek sou vergaan weens sy

sterker teenwoordigheid. Want die skone is niks anders nie

as die begin van die verskrikking wat ons nog nét kan verduur,

en ons bewonder dit so, omdat dit gelate weier

om ons te vernietig. Elke engel is skrikwekkend.

So klink die aanhef van Rainer Maria Rilke se Duineser Elegien (ek gebruik die Afrikaanse vertaling, Duino-Elegieë deur H.J. Pieterse, 2007. Protea Boekhuis). In hierdie reeks van tien elegieë wat tussen 1912 en 1922 ontstaan het, is die engel die ordenende simbool wat mistieke heelwording of eenwording verteenwoordig. Die Elegieë is besonder moeilike, gekonsentreerde poësie waarin ʼn magdom simbole, temas en subjektiewe insigte vervleg is. Dit word deur die meeste kritici beskryf as sterk simbolistiese poësie – sommige meen dit is van die beste digterlike werk in die wêreldletterkunde; ander meen dit is die egosentriese, liries-romantiese mymeringe van ʼn digter wat hoofsaaklik deur vroue van die hoër klasse gelees is. Dit is egter nie die doel van hierdie blog om die literêre waarde (wat myns insiens voor die hand liggend is) te beredeneer nie. Ek sluit met hierdie blog aan by ʼn vorige blog wat op 29 November 2015 verskyn het, en waarin ek die verskyning van engele bespreek in die gedig Song of a Man Who Has Come Through deur D.H. Lawrence. Dié gedig het in 1917 ontstaan, dus gedurende dieselfde tyd waarin Rilke se Elegieë geskryf is. Ek wil in hierdie blog argumenteer dat die Rilke-engele in wese dieselfde funksie vervul as die Lawrence-engele, naamlik dat hulle simbole van transformasie is.

DuinoDie ontstaansgeskiedenis van die Elegieë is interessant en insiggewend vir interpretasie van die engelfigure waarna in byna al die elegieë verwys word. Nadat Rilke ʼn lang poëtiese droogte beleef het, is hy deur sy vriendin en beskermvrou, prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe, uitgenooi om ʼn ruk lank in die familie se kasteel by Duino, buite Trieste in die noorde van Italië, te woon. Op ʼn dag aan die begin van 1912 het hy op die hoë rotse waarop die kasteel gebou is, gaan stap. Hy het oor sy finansies nagedink, toe hy die stem van ʼn engel uit die tierende see, ongeveer 200 meter onder hom, hoor praat. Hy het die woorde in sy notaboek aangeteken: “Wer, wenn ich schriee, höre mich denn aus der Engel Ordnungen?” – wat hy direk daarna sou neerskryf as openingsreëls van sy Eerste Elegie. Die res van die dag en die volgende paar weke het hy fanaties geskryf en gedeeltes van al tien die Elegieë geskryf. Hy het die werk egter eers in 1922 voltooi. Rilke self het male sonder tal verwys na die wyse waarop die engel as’t ware vir hom die Elegieë “ingegee” het. Hieruit kan die afleiding gemaak word dat die digter self die engel (onder andere!) beskou as boodskapper wat aan hom ʼn bepaalde waarheid openbaar.

Rilke het graag en dikwels oor sy werk gepraat en geskryf. Hy het lesers aangemoedig om vir hom te skryf en vrae te vra oor sy gedigte. Daar is letterlik duisende oorgelewerde briewe waaruit teksontleders kan put. Een van Rilke se beste vriende, Rudolf Kassner, skryf in sy memoires uitgebreid oor Rilke se lewe. Wat vir die interpretasie van die Elegieë en die engele wat daarin figureer belangrik is, is dat Rilke veral aangetrokke was tot die Zen-Boeddhisme waarin mistieke eenwording van die mens en die heelal nagestreef word deur voortdurende transformasie. Vir Rilke is “transformasie” in baie opsigte soortgelyk aan ʼn mistieke “transsubstansiasie”, soos blyk uit die Tweede Elegie waarin Engele beskryf word as

spieëls: wat hul eie afstralende skoonheid

weer terugskep in hul eie gelaat.

Die beginsel van voortdurende transformasie kom ook by Heraclitus en in die I Ching voor. Volgens Kassner het Rilke nooit van die woord “idee” gehou nie, en in die plek daarvan gebruik hy engele as suiwer verteenwoordigers van die “onsigbare dinge”. Emily Grosholz skryf dat Rilke dit as die taak van die digter beskou het om die “sigbare” te omskep in die “onsigbare” (wat Rilke Weltinnenraum – wêreldbinneruimte – noem). In die Sewende Elegie word die beginsel van verinnerliking beskryf:

Nêrens, geliefde, sal daar wêreld wees, as binne nie. Ons

lewe gaan heen met verandering. En steeds geringer

kwyn wat buite is. Waar daar eenmaal ʼn blywende huis was,

dring ʼn uitgedinkte skepping hom op, dwars, volledig behorend

aan die voorstelbare, asof dit nog heeltemal ʼn hersenskim was.

In sy begeleidende aantekeninge by die Duino-Elegieë skryf Pieterse (p.15) dat die kernkonsep in die Elegieë die siening van verandering, verinnerliking, transformasie en selfs vergeesteliking is, soos dit in die Sewende uiteengesit word: “om die ‘objekte’ (dinge) en ‘ervarings’ van ons bestaan na ons innerlike lewe oor te plaas deur ‘verinnerliking’, waardeur hierdie dinge, ervarings en ook die aarde, ʼn nuwe bestaan in ons belewing kry, binne ons ‘herskep’ en aan die verganklikheid ontruk word. Die ‘instrument’ waarmee verinnerliking tot stand gebring word, is die poësie …” Die engel is, volgens Rilke “daardie skepsel in wie die omvorming van die sigbare in die onsigbare, wat ons opdrag is, reeds voltooi lyk. (…) Die engel van die Elegieë is daardie wese wat daarvoor borg staan dat in die onsigbare ʼn hoër graad van werklikheid te ontdek is. – Vandaar dat hy ‘skrikwekkend’ is vir ons, omdat ons, sy liefhebbers en herskeppers, tog nog aan die sigbare geheg is” (uit ʼn brief van Rilke aan sy Poolse vertaler, soos vertaal deur H.J. Pieterse, p.95&96).

Leishman (sien Pieterse, p.98) voer aan dat die engel by Rilke die grondslag is van die idee van volmaakte selfkennis (“perfect consciousness”) – in Boeddhistiese terme ʼn “verligte wese” of bodhisattva: “a being in whom the limitations and contradictions of present human nature have been transcended, a being in whom thought and action, insight and achievement, will and capability, the actual and the ideal, are one.”:

Engele (sê hulle) weet glo dikwels nie of hulle tussen

lewendes beweeg of tussen dooies nie. Die ewige stroming

sleur alle leeftye deur beide sfere

áltyd met hom saam en oordonder hulle in beide.

(Eerste Elegie)

Daarom kan engele boodskappers wees wat inligting oordra uit die sfere waartoe die mens nie toegang het nie. Die onbekendheid van so ʼn gegewe mag ʼn verdere rede wees waarom engele vir mense “skrikwekkend” is, maat ook omdat hulle die mens se hoogste strewes verteenwoordig en gelyktydig die mens daaraan herinner hoe ver hy nog van die perfekte staat van menswees verwyder is.

Die aspek van “skrikwekkend”-wees, wat in sowel die Eerste as die Tweede Elegie voorkom, word deur literatore dikwels ook in verband gebring met ʼn gedig van Rilke wat reeds in 1907 verskyn het, naamlik Mohammeds Berufung waarvan ek die Engelse vertaling van Leonard Cottrell aanhaal:

Mohammed’s Summoning

Power stepped into his hiding place:

at once a presence he could not mistake.

He begged the Angel — pure, erect, ablaze —

to leave him as he was. He would forsake

 

all his ambitions; it was best he stayed

that baffled, over-traveled man of trade.

He’d never learned his letters…and now such

a word! For wise men, even, far too much.

 

But no, the Angel fiercely showed and showed

the writing on its page. This will that glowed

would not back down, again demanding: — Read.

 

And then he did. The Angel bowed its head

before him, one from thenceforth who had read:

who knew, and carried out, and who decreed.

In hierdie gedig is die engel (Gabriël) inderdaad ʼn vreesaanjaende figuur. Dit is waarskynlik hierdie magtige figuur na wie Rilke verwys in sy brief aan Hulewicz (sy Poolse vertaler): “Die ‘Engel’ van die Elegieë het niks met die Engel van die Christelike hemel te doen nie (eerder met die engelgestaltes van die Islam) …” (Pieterse, p.95). Presies wat die engele van die Islam is, is nie duidelik nie – ʼn mens kan maar net aanneem dat Rilke verwys na die engel wat aan Mohammed verskyn het om hom op te roep as Profeet. Volgens Karen J. Campbell (Rilke’s Duino Angels and the Angels of Islam) word die engel wat aan Mohammed verskyn het vir Rilke ʼn soort “thought experiment in which the archangel, impressively conveyed as he may be, figures not as God’s creature but as Muhammad’s: a kind of celestial guarantor generated by the prophet’s inspiration who stands in a transparent, indeed a specular relation to him and his own concerns.” Die engel is vir Rilke dus ʼn spieëlvlak waarin hy homself kan sien soos hy behoort te wees en wat hom terselfdertyd herinner aan die bejammerenswaardige toestand waarin hy tans verkeer en die lang reis van transformasie wat nog vir hom voorlê. Ten spyte van wat Rilke eksplisiet oor sy engelfigure sê (en na aanleiding van wat implisiet bly in sy verduideliking) is ek geneig om met Pieterse saam te stem dat daar iets van die bodhisattva in die Rilke-engele steek – dalk meer as wat Rilke self en ander literatore wat dit raaksien, sou toegee: die engel is dié wese wat die Wiel van Lewe en Dood agtergelaat het, maar weer samsara (ʼn bestaan wat gebonde is aan getye van lewe en dood) aanneem ten einde sy insig, wysheid, meelewing, hulp en liefde in belang van die wêreld as geheel beskikbaar te stel.

Ek sluit af met fragmente van die aangrypende beskrywing in die Tweede Elegie waarin die ambivalente aard van die engele besing word:

Elke engel is skrikwekkend. En nogtans, wee my,

sing ek tot julle, byna dodelike voëls van die siel,

en ek weet van julle.

(…)

As die aartsengel, die gevaarlike, nou net één tree van agter die sterre

na onder toe trap en hiernatoe: ons eie hart

sou hoog in ons opslaan en ons doodslaan. Wie is julle?

 

Gelukkige eerstelinge, julle oogappels van die skepping,

bergreekse, rooidagrooi bergkamme

van alle skepping, – stuifmeel van die godheid in bloei,

verbindings van lig, gange, trappe, trone,

ruimtes van bestaan, skilde van geluksaligheid, opskuddings

van stormagtig verrukte gevoel en skielik, elkeen,

spieëls: wat hul eie afstralende skoonheid

weer terugskep in hul eie gelaat.

 

Want ons, waar ons voel, vervlugtig; ag ons

asem ons uit en verby; van houtgloed tot houtgloed

verswak ons geur. (…)

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Marlies Taljard: “Elke engel is skrikwekkend””

  1. Louis Esterhuizen :

    Vergeet om te sê: Dankie vir hierdie fantastiese blog, Marlies. Ek onthou hoe hard Henning hieraan gewerk het en watter skitterende vertaling het hy nie tot stand gebring nie. Jou stuk laat absoluut reg daaraan geskied.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Die blog is ‘n baie, baie nuttige byvoegsel en beligting tot die verhelderende aantekeninge wat die vertaling reeds vergesel. As daar iemand is wat nog nie die vertaling gelees het nie, doen jouself ‘n guns.

  3. marlies taljard :

    Dankie Louis en Charl-Pierre. Julle sal onthou dat Henning wel ook bekroon is vir sy vertaling. Ek het hom woord vir woord met die Duits vergelyk en NIEMAND sou dit beter kon doen nie – die toon, die woordgetroue en steeds uiters poëtiese aard van die vertaling is onvergelykbaar!! Die Elegieë kan eintlik nie uitgeput raak nie, elke keer sien mens iets nuuts …

  •