Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
12 February 2016

Loftus Marais. Die purper digter se kar gaan staan duskant Opraap in die Noordwes-provinsie

rBrandstof“Brandstof”, olie op doek, Andries Bezuidenhout

 

Die purper digter se kar gaan staan duskant Opraap in die Noordwes-provinsie

Vir die uitstalling “Gas” met werke van Andries Bezuidenhout, Kirby van der Merwe en Hanné Koster.

.

Deel 1. Sy finansieel-verstandige voertuig, ’n afbetaalde Suzuki SX4, gee die gees naby Opraap. Die purper digter klim uit. Shostakovich op die CD-speler (hy glo nog vas in physical media.). Hy dra nie jeans nie, hy is klam in sy beige broek, ’n snit polities regs van cargo pants. Hy sug en is duidelik gespanne. Hy dink:

“Wat roggel in die enjindonkertes? ’n Petrol-prewel, weet-ek-wat? Geluid soos perkussiewe afblaas en toe staan ek stil. Ja god behoed my in die snikheet landskap sis die misterie in staalse skadu. Wat weet ek, wat plante, bome in hul wáre name inheems groet – halleria lucida, voelsitboom, die witgat en die saliehout, gaan lees daar in my veelbekroonde eerste bundel – nou moet ek die heiligskennis pleeg van enjinkap verhef, o tog die terme: krukas, stootklep, olietrempomp en die koppelbuis. En alles git omgeef van swaelbrandstofstank! My rug is seer. Ek is alleen. My oë vind die skouer van die pad en dit verflou in brokkies teer. ’n Pad wat skaam is vir homself. Dit krummel hier die grasbepolde nêrens in. Maar ek bepeins die heiningdraad se liminaliteit daar dialekties: Hoekom selfs met hakies lyk dit asof dit dalk orden eerder as verdeel? ’n Grens is ook ’n eie plek, ek pluk die spanning as ’n snaar, en terug die kar in, lugverkoeling, Shostakovich wat my laat bedaar.”

Deel 2. Later, buite ’n garage in Klerksdorp, staan die purper digter en wag vir ’n mechanic om klaar te maak. Hy kyk na die landskap om hom. Nou en dan stoot hy sy cuticles senuweeagtig terug, ’n gewoonte wat hy doelbewus gekweek het teen naelbytery. Hy dink:

“Beskou die leë plaassementdam net hieranderkant. Die skurfte van die wal so skokkend pokkerig absurd soos perlemoendop en die skadu wat dit gooi so swaar dit skyn die droë aardkors in te sink. Die motorwerktuigkundige, die petroljoggie, die kafee – ek sien hul nie as draers van die platteland nie, nee, die kapitaal selfs hier skuif stil tektonies onder alles. Die besete woer: Getalletjies daar op die petrolpomp blits digitaal. Die reuk van brandstof, ingewikkeld en beskryfbaar ja soos wyn, en ek besnuif oktaanboekette! Denke en die dekadensie. Dit is hierdie afgeskilferde klein tempeltjie van groot ekonomie, die afdak oop na eerste amber in die noorde skielik soos ’n basnoot vir tereggestelde Stepan Razin. Ek dwaal af, verskoning. Petrolstasie as die transmutasie van balansstaat – nommers omgesit hier voor my oë in konkrete maar beheerste plas en spatte. Kyk hoe staan die pompe, kierts die skildwagte van soewereine syfering. Saluut. Die akoliete of verraaiers of masjinerie, dit weet ek nie. Ek wend myself dan eerder tot die landskap. Smeersels smeersels wolke, grond wat deurslaan uit verweer, en vetplantskadus, en die takkies houtjies fyngebasde lootskiet wat so wiebelkruiselings bly wag vir vuurmaak in ’n herd geswart van roet en nag. Daar, ’n windpomp. Al die heuwels diakronies maar sy kolkkop tob sinchronies, inderdaad! Merk die opgerigte hierheid – of bedoel ek inderwaarheid dáárheid – van sy staan, tog met die soort gelatenheid wat mens kan sien in die gesig van elke oorlogveteraan. Windpomp, spreek my aan! Kerf die lugstroom, diep die oerkoel waters op, ons neem ons neem ons neem, of wydsbeen jy as gas hier op ’n byna ongetraakte horison? Jy tol jou Dada-blom.”

solitaire_“Solitaire Namibië”, fotodruk,  Hanné Koster

Deel 3. Die purper digter is ingeboek in ’n plattelandse gastehuis. Daar is ’n Wedgewood-nougatjie op sy kopkussing en die eerste donkerte van die nag buite sy vensters. Hy is moeg na die dag se gebeure. Hy dink:

“Soveel vertikale in die dorp, die skoorstene en stoeppilare, pale vir die telefoon se drade, straatligte en parkieswaaie, tekens vir verkeer, en stééds is daar net een beginsel hier: Die leë straat. Wat doen die ougeteerde dorpstraat – nooi of tart of niks-nie hy verwoed? En wat van grondpaaie wat tussendeur die skemerbosse doer en ongesiens vertak? Verstaan, die oog word sagter êrens heen gelei deur sand as deur verbousel, maar ek wil beklemtoon hierdie is geen liefdesbrief vir die natuur se windgeskonsekreerde rigtings nie. Dalk eerder wil ek dreig. Ja ek beny die mense hier hul ánderse soort tyd. Die vensterbank as tyd, en sifdeure as tyd, en bekerlappies as ’n mate wat nie meet nie, ook ’n grasspriet in ’n krakie in plaveisel in die ure van die dag, die monsteragtig-heiligheid van beeste, die buiteband waarin die kinders van ’n boomtak swaai, enorme nul waarin hul net so in kan klim. Daarenteen tel ek. Ek jambe soos ’n stadsjaap. Ek kan nie arriveer nie, want ek kan nie hierdie leegtes dekodeer nie. Môre sal ek verder ry. Die werktuigkundige se oë was heel jonk maar waterig, sy hande vuil maar oop. Sy rekeningbedrag was min en op sy oorpak was sy naam, hy heet toe “Maans van Huyssteen”. Bid jou aan, ’n agsteman, ’n KP-naam! ’n Begeleier van fossielverbranding met ’n skewe oogtand en vergrote neusporieë, Maans, begryp en respondeer dan: Hoekom skik die wêreld soms homself asof hy juis presies dan só gesien wil word? Die frons van gewels en die wip van blare en die son wat as belediging op glas of wit kan val. Dit ís nie ek of jy wat projekteer nie, daar is selfbewustheid, heer ek sweer, in landskap wat homself so aanbied as die waarheid. Van eensaamheid weet dié land niks, hy is ’n rofverslete strekking van ’n stelling van ’n ding wat in homself berús. L’envoi, en goeienaand groet ek vir u meneer Van Huyssteen hiermee dan: ’n Mens van watter orde rig sy blik op landskappe en word dan nét gesus?”

Oorlogveteraan Kaapse Kleurlingkorps“WW11 Oorlogveteraan Kaapse Kleurlingkorps”,olie op doek, Kirby van der Merwe

© loftus marais / 2016

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nini Bennett. Openbare vervoer as teater van sosiale protes.
Bibi Slippers. Gesprekke met Loftus Marais & Shirmoney Rhode →

2e gedagtes oor “Loftus Marais. Die purper digter se kar gaan staan duskant Opraap in die Noordwes-provinsie”

  1. Fanie de Villiers says:
    16 February 2016 at 17:42

    Wonderlik! Ek hou baie daarvan. Net een van baie hoogtepunte: “Die besete woer: Getalletjies daar op die petrolpomp blits digitaal.”

    Reply
  2. Marthe McLoud says:
    16 February 2016 at 09:05

    Ek vind hierdie skrywe baie interessant. Iets heel anders.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d