Vivian Van Blerk . Na die Partytjie
Hierdie aanbieding is ‘n mini blik uit die bundel sprokies, verhale en gedigte wat skrywers en kunstenaars vir ons WoordFees publikasie en twee tentoonstellings geskep het. Nagenoeg sewentig skeppende wesens het rondom die tema iets spesiaal geskep:
Kobus van Bosch, Tokoloshe amongst the cats.
Spreek die Woord/ Break the Spell 1&2
Twee verbonde tentoonstellings: Galery Universiteit Stellenbosch en Oude Libertas Galery
Magstryd en towerkuns. Politiek en feëverhaal. Is dit werklik ’n opponerende paar, of dalk net verskillende kante van dieselfde munt? Ons wonder soms wat die betowerende stories met politiek uit te waai het. Dit mag dalk lyk asof ’n mens deur die towerspreuk verlei word om die ware geskiedkundige en sosiale basis van die sprokies te vergeet om te kan leef in ‘n wonderwêreld waar konflik nie bestaan nie en waar harmonie hoogty vier. As ons egter die sprokies in ‘n historiese konteks lees, besef ons dat hierdie geliefde verhale gevul is met alle soorte magstryd – oor regmatige regering, geld, oorwinnaarswil, vroue, kinders en grond. Ons kom agter dat die ‘werklike’ betowering van die sprokies afkomstig is van hierdie dramatiese konflikte en dat die verstaan of begrip daarvan vir ons dalk ’n blik op ’n beter lewe bied.
Vir die insetsel kies ek ‘n paar gedigte as ‘n voorsmakie van die bundel/katalogus wat op die 8ste Maart om 12h00 in die H B Thon foyers bekendgestel gaan word. Vir ‘n verdere aptytwekker plak ons ‘n paar kragtige beelde ook aan.
.
die weerlig is die naglug vol
die weerlig is die naglug vol
met lokaas kom ek na jou toe
waar jy in die skadu van ‘n bosvy lê
verdoesel teen korsmos en gevlokte rots
kom nader, wilde maat
kom maar nader
teen alle eeue van beskawing in
dat jy kan sien
die waterlelies van my oop hande
koud en bloupers soos organe
die aarde veraar en klop ondervoets
modder spat teen my kaal enkels op
maar ek fluisterstap na jou
dat jy moet ruik
dat jy moet weet
hoeveel ek vrees
en verlang
.
Carina Stander
sprokies is ook wonde
Someday you’ll be old enough
to start reading fairy tales again
– C.S. Lewis
hy lees sprokies uit ’n groen boek voor
terwyl sy die winterkombers
tot onder haar koue ken trek
sy droom van towermantels
ryskluitjies en reuse
drie hekse uit die blair witch-woud
wat haar met stokkielekkers lok
in haar drome hoor sy steeds sy stem
wat haar toeslik met sy vrese
soos rawe haar kop toeswerm
wanneer sy wakker word weet sy
dat hy die roete van broodkrummels
self weggevee het
sy ook nou verdwaal het
wanneer hy eendag oud en steeds verlore is
sal sy aan hom grootmenssprokies voorlees
in ’n saal waar almal reeds vergeet het
want feëverhale
nes glaskoetse om die aarde
verander om middernag in yskoue pampoene
.
Gisela Ullyatt
ontheemd [dis nogal mooi, die woord, bedoel ek]
vir emile : nog ’n verjaardag in ’n vreemde
daar is ’n brug daar, een van dáárdie brûe (lorca
skryf daaroor, en rilke) en teen die middagson, laat,
loop mens hemingway skielik raak op straat.
orals, orals hoor jy, ruik jy die vegter en die dier se spoor.
dis ’n mak winter in andalusië maar in ronda
staan jy met jou vuiste by willowmore se wit poel
sien ek hulle bal soos branders terwyl jy dink
hoe mense deur die eeue mure bou.
hier waar mens oor-
kyk, uitkyk is dit ’n stukkie cantilever-dek, vrydraend
in afrikaans. dis nogal mooi, die woord bedoel
ver, ver, ver onder, ook, die water sag en blink.
en ver, ver, ver lê berge ingeryg soos daar by riversdal.
die stad gooi orals mure op: die een vernuftige skans
na die ander. ’n spaanse man speel eenkant klaend
op sy spaanse ghitaar ons is maar almal net toeriste hier
die mure altyd tevergeefs die aarde se draai uit wans
uit. dis ouderwets en reeds gesê [toegegee] maar nogal
mooi. die woord bedoel ek; baie mooier as “balans”.
as mens sou spring [dis maklik, die reling laag] dan dra
die lug jou vir ’n oomblik soos ’n veer [’n tarentaal
s’n, ’n kiewiet, ’n kolgans] voor hy jou laat val.
wat sou ek antwoord as iemand my daaroor sou vra?
jy ruk ons almal reg, die span: “dis tyd vir eet; ek soek ’n bier!”.
maar jou ver oë die inrol van jou vuiste die stuk geel
grond agter die ineengebuigde muur [ronda se ander ding]
wat bulkend skrynend altyd oorloop in ’n metafoor
wil net nie los nie.
as ek aan jou dink dink ek aan
al die mure wat jy daaikant bou waarmee jy jou omring,
jou staal [dis nogal mooi, die woord, as jy jou dit verbeel]
maar meestal die muur-sonder-end waarin jy jou bevind
nou die man op die hoë perd, die een met die lans;
dan die een met die vernuftige voete, wat priemend soek;
maar ook sien ek jou briesend hulpeloos die stier
wat stof opskop teen die flappende rooi doek
wat jou in sy ban hou [dis nogal mooi, die woord, jy
weet wat ek bedoel] en voor jy jou kom kry
laat uitsleep [jou kadawer my kadawer] uit die kring
jy, jou ver oë, die branders, die kraaines en jou kind.
ek hoor jou sê, oorlopens vol, waar jy vrydraend staan:
“hoeveel sleeping beauties kon oom van hieraf sien, hier? “
[ronda-poznań-london]
Fanie Olvier
Louis Jansen van Vuuren the spell is broken
.
Ooreenkoms
.
Jy is die prins
op wie ek wag
slaaploos snags
en smorens wanneer ek
die as van uitgebrande vure
uit koue kaggels krap.
En ek, Aspoester,
– gereed vir die bal
maar gewaarsku
dat die betowering
net duur tot middernag –
is vasbeslote
om my streng te hou
aan die ooreenkoms
met my goeie fee
en sonder murmurering
te vertrek voordat die klok
om twaalfuur slaan,
wetend dat sonder ’n veto
geen wonder kan bestaan.
.
Lina Spies
.
Fetisj
.
Die voet in jou mond
kon geskilder gewees het
deur Caravaggio
of El Greco –
die voet van ’n heilige
of gekruisigde,
elke skrander toon
& sening lenig-
end, die vel
’n perkamentgeel.
Die voetbrug rus
in ’n harige oksel,
’n wynrooi tepel op-
geprik. Jou kop
is agteroor ge-
gooi in adorasie,
jou oë versluier
met ’n apokriewe begeerte,
litanie van ’n honger
wat soos skadu arm-
holte, voet & mond verteer.
.
Johann de Lange
Robert Hamblin, Comfort the Power
Drie gedigte van Lynthia Julius…
.
Die drie rassies
En ek sal raas en ek sal blaas en om is jou huisi…
maar Nkandla, bloedsuier van belastings het bly staan
en ’n Sparrow vêr het van apies laat val
( nie die fooie nie )
in die parlement iemand Skiet die boer gesing
en die laatmiddag het ras geword
af ligte en Sandton en Soweto
’n Nene. Van Rooyen. Gordhan
en ’n Rand wat val
’n etterende kwaad uit postAparteid fetusse
en die wolf wat ’n Rёenboognasie plat blaas
hy’t geraas
geblaas
en nie eers Ubuntu kon staan
Afrikaans uit universiteite
en comrades wat march
en daar staan die drie rassies
almal met wapens teen mekaar se slape gerig
en ’n wolf wat sy laaste lag uitblaas
’n laatmiddag wat ras word
af ligte in Sandton en Soweto.
.
Raponsie
“ Black hair is political. ”
- Chimamanda Ngozi Adicie
Raponsie Raponsie laat sak jou hare
’n doodse stilte
die potloodtoets gedruip
en die laatmiddag het relaxer geword
’n oneindige reguitmaak proses
van goed wat erfsondes verklik
want kroes, het haar ma gesê is vir niemand kuns
’n prins wat oppad is
sielverkoop en buig
onder wat die tydskrif sê mooi is
Raponsie Raponsie laat sak jou hare
’n wedergeboorte uit die wonderpot
blink en glad
en die potloodtoets geslaag
’n man op ’n witperd
wat met ’n glimlag wag
.
Sneeuwbruintjie
Spieёltjie spieёltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?
die een wat die media besluit mooi is
die een wat geslaag deur die potloodtoets is
ligter as die bruin papiersak oor haar kop
sy wie se taal erken is as amptelik
nie gebore uit die hottentotsgot
gebore, nie misgekraam nie
uit die mitologie van Heitsi – Eibib
nie. jy. nie
sit by jou spieёlkas
smeer jou Ponds,
die Sunsilk ( For coarse hair ) uit die pienk pot
laat vaar vir Beauty is skin deep
glo die media-god, die klug van skoonheid wat hulle voer
en vanaand,
( voor die Hottentotsgot en die stilte )
vervloek jou donker vel,
die kreukels in jou hare
die mooiste in die land, my kind is op Huisgenoot en Vogue
tot op die rooi en wit mayonaise bottel ook
gaan tel jy jou pa en sy drankduiwels
voor die smokkelhuis op.
Inspirerend soos altyd. Jy gee gedagtes vleuels met hierdie versameling. Sien uit…
Dankie vir al die moeite met hierdie pragtige publikasie. Ek sien uit na die bekendstelling!