Breyten Breytenbach.”Pensief” Grafika, DWV
Vir Breyten Breytenbach met sy 80ste verjaarsdag op 16 September 2019
Liewe Breyten, hiermee wens Versindaba jou geluk met die vername jarigheid vandag. Uit verskillende oorde het ons ʼn paar bydraes vir jou versamel (alfabeties vlgs van) as ʼn gebaar van waardering deur jou mededigters en ook om hopelik ʼn bietjie prettigheid toe te voeg tot jou geboortedag. Ons almal is saam met jou bly vandag en vier jou as mens én uitsonderlike digter.
Voorspoed en vele kreatiewe jare word jou toegewens!
=====================================================

16 September 2019
op weg na kû
Breyten Breytenbach
kyk hoe hou hy die handspieëltjie
hoog in die duister
om die melkweg as droomstroom
te vang in die skuit van bewussyn
ek slaap in ’n satelliet se vergesig
en alles wat verborge
of verlore is, als argief
mag die dag nooit breek
hierdie nag se vergete juwele
die silwer reën van meteore
verder as
die galery van sterre ja verder as
die bladeindes van nog ’n vers
[© Nini Bennett. 2019]
=====================================================
René Bohnen
16 September 2019
al die honde blaf geel
vandag-vandag
is breyten
taggentag
kom dans dan, dans
van sonkol tot sonkol
al kou die ure aan ons
blou hande, al klou
die winter aan die tuinklip
met sy logogramme
weet
ook vir ʼn landskap is ʼn mens
net een keer
ʼn maagd
ook vir papier
word
mettertyd ons rymelinge
mymeringe
in ʼn veld van suggestie en skaduwees
so minsaam so min saam
skyn
die kulprofeet ou sensmaan
en gevlekte uile met ingehoue vokale
uil die donker vol –
nagvlieërs op ʼn blinde reis
tot in der skewigheid
kyk kyk
Woordgogel
hurk daar op die dak
die ene vlerk en inasem(s)ing
breytenste buiteblaf
dankie jy
bring gloeipampoene vir ons ont-donkering
(© René Bohnen. 2019)
*
====================================================

lama dashi
Vir Breyten Breytenbach, 16 September 2019
baardbard
elke lente droom jy
oor kamers vol rooi blomme
trap jou skaduwee sonder kop in jou spoor
soggens met die kleur van café con leche
voet op die vloervelletjie
wink jy iesie-iesie die dood nader
maar geel soos sult is jy ou ingesoute
opgefrommel soos dasji-dorzo
in jou trans van toekdam
*
vat jou hand selfgestook vlam
op blaaie vol foto’s van slagters
opgekaptes swaaiend aan ‘n haak soos slagskape
in die aand die maan rooi soos pampoen
knars jy skulpe sonder skoene see toe
jou skryfhand ‘n fakkel vir die nagdwalers
die staanklokke groei vlerke in die heuwelhuise
jy bind ‘n stralekrans (vis aan tou) om jou kop
kuif teen die wind hand onder die lapel (klein generaaltjie)
seil jy uit onder ‘n string seevoëls
soos gebedsvlae saam bo die skuit
die land sal jy nie meer sien nie
ou blinde seeman
die beentjies in jou ore verkrummel
ou patatrank
selfs die klank van bokkoms en boegoe
irriteer nie meer jou neushare
ou uitgebrande botterlamp
toemaar
ons gevlerktes
wit soos ghwano op die klippe
ons wag vir jou
ons sal die boot vang
met die verbykom
[© Marius Crous – 2019]
*
=====================================================

Wat die digter weet
Deurentyd en deur die tyd heen
gaan dit oor veel meer as net ewewig;
oor meer as die eweveel
op twee pannetjies van die weegskaal;
veel meer as die balans waar alles val
en een ding staande bly.
Dit gaan gewis oor meer
as blote simbiose of meeleef,
oor meer as die samehang
in die weefsel van ’n spinneweb
waarin meervoudige vertakkings
as een patroon meetril.
Hoe onverklaarbaar die maan
en die eb en vloed van die oseaan
se liefkosings wedersyds heen en weer
wat waters laat kook en bedaar
langs die kus en snags oor die land
silwer weerkaatste son áfstraal.
Hoe skrikwekkend die kragte en magte
van magma onder die aardkors
wat gloeiend die aardplate dra
en onverstoorbaar stuwe en kolk
totdat dit uitbars in kokende klip
en die as van ’n verbrandende wolk.
Hoe ontstemmend die mensdom
se heersug, die griewe, die labiliteit
wat voortwoeker onder die vel,
wat heimlik agter die oë ver van die lig
strukture selfkoesterend uitdink
en ander se lewens vertroebel en kwel.
Nogtans, nogtans, nogtans.
Onder die son en die maan
bly die see steeds binne sy strande,
die rivier steeds binne sy bedding; sprei
die boom homself ondergronds uit,
wyer as die span van sy takke bo
en dieper as sy kruin teen die lug.
ons weet nie
wat vir ons bestem is nie
ons tas
met dun
wortels in die lug
heg
met senings
aan die aarde
vir gerusstelling
en vir uitsig
Goedaardige amoebes is wat nodig is
om hulleself in duike en in skeure te werp,
hulleself óm bulte en óór uitstulpings te vou
in die onvoorspelbare wêreld en wêrelde:
allerindividueel bestem, versigtig
soos die slange en opreg soos die duiwe.
want ons weet nie
hoe die sterre hang nie
hulle bots nie
en hulle val nie
en ons
ons stort
bloot
voorsiens
in
ons voortgang
in
[© Heilna du Plooy. J’baai 2019]
*
=====================================================

Lumier
En jy, tot stilstand gebring
deur die trae spoed
van ʼn begeerte: die landskap wat knak,
voue maak, met jou. Iewers elders,
hoog, deur die wind
in ʼn stadige valk se sirkelgang gesluit –
Daar is melk in die aarde se holtes,
hoor jy, heuning in die lig se gebreekte klip.
[© Louis Esterhuizen / Sept. 2019]
*
=====================================================

om tagtig op te verdeel
(vir breyten breytenbach op sy 80ste verjaarsdag)
ons sukkel nie meer met literêre verset nie.
nou drup daar genoeg rooi op ‘n witblaai.
met gesigte teen die wind blaas ons uit
terug na daar waar die onheil broei.
ons boeke laat vure ontvlam,
hoeke so skerp, dit sny die swere oop.
tog is ons blaaie verbande, ons woorde salwend
en ja,
mag ons nooit vergeet dat daar ‘n tyd was
toe jy geen doekies om onreg wou draai nie.
jy het revolusie gedrup en daarvoor …
het jy met ‘n groot hap uit jou tagtig betaal.
enkosi, dankie, thank you, merci,
die een en enigste breyten
breytenbach!
[© Diana Ferrus. 2019]
*
======================================================

onrus kiekie van breyten
[tussen uys en jan]
bruingebrand
in jou winterlandfrokkie
bobaas ontbaasde slaweklokkie
om die hele ou spulletjie van ons
se koppe trompop op te dons
meedoënloos sonder kies of keur
gesondheid boere
teer en veer
wees hom nie ge-nadig
kyk, hy is ons-kuldig
[© Pieter Fourie]
*
=======================================================

Sterftejas
’n gedig vir Breyten Breytenbach
Deur die nag gekom
verby verlate stasies gereis
daagliks klop die koerier
aan die geelhoutvoordeur
omdat die sterfjas
te swaar, te lomp
is vir ’n hemelvaart
stuur sy vrou dit terug
na die onkoloog.
Die sieke vra ’n mooier jas
of selfs ’n seremoniële baadjie
’n seeblou lotus borduur deur sy geliefde
nee, ’n lang synagrok van die langoorrivierkonyn
kartel teksture in die varingplek van berge
die middernagson wat sweef deur die singende bome
kontinente wat seismies skeur
heeldag voor die kaggelvuur
almal huil, maar niemand
dink aan oleanderspatsels
as die donkerte aan die ruite pluk
of die raaisels van die dood
wat hom skielik uit die bloute pas.
Alles van waarde is weerloos.
[© Melanie Grobler]
*
=====================================================

‘n HANDVOL BREYTEN
Almal ken mos die maer man
die een met die groen trui
hy vir wie ons woorddadig al haarloos blinkgevat het
hy wat die drome van ons reis
deur hierdie voorlopige suide
met geheime gedigte
in die deuropening laat staan
Maar ken ons hom?
Die ruiter van syn op die perd van lug
die ros van asem wat moes vlug
voor die gedaste menere van ons liederlike nagmerrie?
Hy was skadeloos, maar ons was hom ongenadig.
Wat het geword van Bittergesig Buiteblaf?
Hy het aanhou gedigte kug
terwyl hy die swaar klip moes dra
sy kop het bly groei hemelruim toe
met sy ware handskrif een van rus
woordend aan die volmaking
van die wysheid die lieflike die heilige
soos ‘n bergkruin vol sneeu
maar ons het hom genadeloos
te lig ge-yk
te donker ge-sel
gedink sy skaduwee sal klein skuil in sy lyf
Wie is hierdie Bullebach?
Hy is die groot voël so groot soos lig
Dié Afrikaanse Vokaal in ons familie van verskeurde klinkers
met ‘n konstellasie van sterre op sy voorkop wat arendsoog
steeds méér sien
steeds murg uit die werwels suig
*
Breyten, ken ons jou?
Of ken ons net die hond se swartvlieërblaf
teen die donker ruit?
Hoe leef jy in hierdie Taal wat jou ge-Judas én ge-Jesus het?
Wees ons, die fokkenvolk, tog genadig
Al is daar die kraak en knetter en krimp
van die verbygaan van die lewe
laat die Akashiese voël tydloos
gedigte pik pik pik
teen jou tronkselskedel
op weg na die kû
tot jou vlerke met koel blou windteue vryvlieg
héél in die heelal
[© Pieter Hugo. Sept. 2019]
*
======================================================
Louis Jansen van Vuuren
Liewe Breyten
Ek begin ‘n odegedig te skryf:
‘n speedcop sê my op agtien:
jy dobbel met jou lewe
as die naald op tagtig bewe
my moed begewe my
eerder, ‘n mondvol van jou eie woorde
as verjaarsdaggeskenk aan jou:
‘oopgaandae, vorentoeverstand, nagswerwer en soen
lysternagtegaal, wegvlerk. oerdonker en oerkluis
saamreisengel, weggooibrak en sterre
trapdans, spookvoëls, witgloeimaan en flintroer
besnuffel, handuitsteek, bekrabbel en ‘n pluksel vye
sterfjas, voordagbreekglans en huis-toe
droomkluitjie, botteroog en roetrook
ek stuur vir jou hier
die mondklippies toegedraai in papier’
baie geluk Breyten
van Louis
[© Louis Jansen van Vuuren. 2019]
*
======================================================

Mag die jaar wat voorlê skandalig geseënd wees , liewe Breyten!
En ter herinnering ’n gedig oor die tye toe ons waarskynlik op ons heelste was…
watervalberaad
liberation – here I am this first day shimmering bright
among angel choirs; afar the feathered folk sing psalms
breyten breytenbach
die plat breë groen voorkop van die Zambesi
wat stort en stort af
af
vallende water
skakels skuim
spattende slierte
hare stromend
rokend
reënboë wat bind opbind
die damp
die sproei
die stomende groen voorkop van die onliegbare Zambesi
op die versengende lughawe
anderkant die doeane
Breyten sigbaar tuis op die vasteland
yours now slaked of all dishonour
sy oë eboniet grys bak baard om die towertong
Barbara met die blinkste oë
in dié gedig wil ek jou teen my vashou
jy omarm my weeklagende hart
sê weer: everything will come right
weer: and it will be soon
and you’ll wait for us at the airport
Essop maak sy kinders groot in Londen
leer hulle Schweitzer- Reineke sê
hulle enigste land lê net op sy tong
Rebecca en Baleka: ons kyk foto’s
van ons kinders onbevange gesiggies na die kamera
onsself stram op die agtergrond
huise waarin politiek nooit gaan lê nie
yours all freaked free in the boweries of the night
‘n aparter strofe vir Albie Sachs
donkerblou penstrepe skryf fyn oor die gesig van die vers
Mandela Mandela sing Baleka
Freedom is in your hands
en die harde stemme van skrywers
en die moeë stemme van digters
vlek die aand die land soos ‘n mat
skiet dit oop aan ons voete
en dit lê ons land lê tussen ons
deur taal getaal totaal vertaal
deur soveel trane en trooste verlangend afbetaal
praat ons ons land se nuwe taal ‘n metaallose taal
‘n veelkleurige heel taal se soel soet mense-taal
Senzenina – wat het ons gedoen
wat het ons gedoen
yours where dolphins windsoftly wheel
die bus rammel almal gepak deure toe
en julle bly staan voor die Makasa hotel
ons ry stadig vorentoe
en julle bly staan voor die Makasa hotel
en ons groet en roep en waai en huil
en julle bly staan voor die Makasa hotel
vuiste in die lug
die gesig van Jeremy Cronin kry ek nie vergeet nie
oë opgeskroef onleesbaar
Jeremy in die maroentrui kry ek nie vergeet nie
julle bly staan voor die Makasa hotel
soos ons vorentoe beweeg gaan sy vuis effens los
sy vingers roer asof hy iets wil saamgee wil vashou
julle bly staan voor die Makasa hotel
agter julle die druisende damp van die Zambesi
bly staan geliefde kamerade
nou in hierdie vers
ek skryf dit neer soos ek dit onthou
sodat op papier solank
ons een kan wees
en saam kan uitkyk uit hierdie vers
totdat bevryding skuimend druisend oor ons spat
die ballinge terugkeer soos engele of bokke of bome of honde
en ons mekaar omhels
binne en buite
alle vers
(Zimbabwe Julie 1989)
[© Antjie Krog]
*
======================================================
Johann Lodewyk Marais
Wêreldboom
Die kolos spel hom uit in tak en blaar,
wat in ʼn ander bestaan groter is
as alles in die sirkel rondom hom.
Heel bo tuur ʼn witkruisarend waaksaam,
bosnagape vreet sy jong lote,
bobbejane verorber sy vrugte
en mieliekewers en boomslange
misbruik sy sagte hout en gasvryheid.
In die soel tropiese nag vlieg motte
om die blomme en vrugtevlermuise
raak-raak met hulle vlerke die stampers,
terwyl ’n bruinhiëna onder draai
en ’n boomeekhoring op en af hol
asof hy iets aan die arend fluister.
(Vir Breyten Breytenbach)
[© Johann Lodewyk Marais. 2019]
*
====================================================

onkant
al brand
die reënwoude
al skilfer die skubbe
binneste buitentoe
van reptiele af
al kook skilpaaie lewend
in doppe sous
al hou
kapibara’s vyf
minute asem op
al hoor ons
skreeuape drie kilometer ver
sal ons laaste asem
woorde wees
om bome mee te saag
en balke drome en nagmerries
snorkend skuimend bloots
tot satwordenstyd
te ry
ons is saad
van ons soort
ons reis deur ’n woud
van vuurhoutjies en vuiste
skotvry om ons goeiemôres
en goeiewense te krap
in as van verkoolde been
al vlug
luidiere vier meter per minuut
al loei pienk
rivierdolfyne ten
hemele in borrelende
amasoonriviere
al drup korwe was verskiet
bye in vonke onderweg
na pampoenblomlandskappe
vyf en tagtig duisend
vure in die hand
vier ons woorde wat ons in ’n wip
onkant vir ’n verjaring
betrap
skryf ons
hande in die vuur
dat die gedig ‘haar om mag draai
om die nag in die oë te kyk’
[© Susan Smith. 2019]
*
====================================================

‘n Goëllied vir Breyten
(16 September 2019)
As die taal ‘n liggaam is
is jy die inkvlek op haar handpalm
vloeiend oor die vlegtende treinspoorgroewe van vel.
Die taal is die skelwit orgidee wat jou met morbiede beloftes verlei
asof jy ‘n insek is.
As jy ‘n rietfluit is, is die taal die verderflike moeras
waaruit windklanke gekerf word.
As jy ‘n wolk is, is die taal die glas
wat jou watergeboorte en -sterfte weerkaats.
As jy ‘n muis is, is die taal die duisterswiepende uil.
As jy ‘n skokbeentjie is, is die taal die slaanstok wat agter die deur skuil.
As jy ‘n rivier is, is die taal jou oewer, die grens wat jy oorstroom.
En as jy steeds ‘n rivier is, word die taal so waar die padda wat manel dra
en in jou woon.
As jy die grond is, sal die taal ‘n tuin wees.
En as die taal ‘n tuin is, is jy die klouterstruik,
die pampoenblom met geel vlerkslae
of hopelik die komposhoop.
Want as jy die komposhoop is – ‘n blareberg, erdwurmdeurwoel –
sal die taal sonder tyding ‘n boord kan word
swaardragtig aan bittersoet woorde.
As jy die vyeboom is,
is die taal die by wat jou bestuif
en as die taal die by is,
is jy die nektar.
Omdat jy die nektar is,
haal ons vandag met dié verdigsels
kaalhand heuning uit die taal
– dwase wat storm waar die duiselgrote engel huiwer –
ons vingers en voelers tintelend van al wat swewend leef en kleef.
[© Carina Stander / 2019]
*
====================================================

Ode aan ’n vangriem
Hulde aan Breyten Breytenbach
geskryf in ‘n styl van Pablo Neruda
Oda a un lazo
.
El captor de plumas
de pájaros y sus peculiaridades,
atrapas vacas
rumiando sobre ellos
filosofías
Vanger van vere,
van voëls en hulle bekkighede,
jy vang koeie
herkouende aan hulle
filosofieë,
bronsrooi Afrikanerbulle
vang jy aan die uitgeleende been,
keer hom om
bleekpens bo
horings krap
kragtelose
sirkels in die grond,
witbont verse
van Friesland vang jy,
sandbruin verse van Frankryk,
met oë
soos mere
wat lepellê tussen die alpe,
want in baie lande
is dit vroegaand nog donker,
blinkblinde visse
vang jy
onder melkgroen water,
onbevange
oor honde in mense,
mense in hulle toegedinkte
stanings
waar wit latte van slaap
soos ’n hut groei om hulle op,
vanger van woorde
wat vlug soos voëls
weg
van die waarheid
se brand,
kleure kom nie weg
uit jou noustropstrik nie,
sodat die roos
se ruisende rooi klanke
soos kruimels tummel,
jy krul
om ’n ietermagog
wat snuifel
aan ’n miernes
vol waarhede,
oud soos die antikythera dinkding,
en vang hom vas
dat hy praat
deur sy beskubde lippe
van dít wat vroue
weet
wat mans nie weet nie,
grypend na wat ons
almal soek
pluk jy dit in jou
vangende hande en gee ons
vye wat suur word,
maar die liefde,
maar die liefde is soeter as vye,
alles is vliegtig
smeltend, verdampend
in mense se hande,
maar jy met jou
diereriem,
jou vasleggende tongriem
trek dit nader
sparwelende blinkvis
in die net,
jy lig dit uit
omdat die gedig in sy toegevoude hand
’n klippie
versteen soos dromer se skip
beskerm
teen die gekerm
van onthouspoel en sand.
Is daar iets
wat jy nie kan
vasgryp nie?
Wat maak jy
met woorde soos bitter moer
ná die drink?
Dalk kan jy nie
meer die voetspore intrek
wat ingedagte geliefdes geloop het nie,
of die smaak
van jou heel eerste woorde
op papier
nou lank vergane.
Jy raak al dunner, riem,
langer en vattender meer
meer as wat lesendes
in een jaar of meer
kan verteer,
ons groet jou
en jy glimlag terug,
môre donkerbreek-dagbreek,
ligfetus
met handjies en hare platgelek,
en jy praat met stilte,
die sabbatsgeluid van koelte
wat jou nooi om oor
jou eie skaduwee te tree.
Alles wat jy vang,
dankie gebêre in boeke
en dankie
dat ons
die gewone
breyten
kan kry in die mielieland.
[© De Waal Venter. Sept. 2019]
*
=====================================================

’n Verjaarsdagsgedig
Vir Breyten 16 September 1939 –
Die feestafel kreun onder al
die lekkernye en soet verleidinge;
ook pampoenkoekies word opgedis
om jou te herinner jy is nou tagtig.
Genooides en ongenooides,
moedswilliges en onwilliges,
kwaadstokers en vrededuiwe,
vergun my om julle voor te stel
aan Breyten Breytenbach,
die man met die verweerde groen trui,
glo my tog, hy is nog steeds skadeloos.
Op 16 September is ’n seun
met ’n mond vol woorde gebore.
Sy pa was trots op die bulkalf
en sy ma op haar skoothondjie.
Snags voor bedlê het hulle klein
Breyten aan die Here opgedra:
“Here, ons weet nie hoe hy die see
gaan bevaar en hoe sy weg
oor berge en dale gaan kronkel,
met wie hy gaan konkel nie.
Maar wees tog net goed vir
hierdie vreemde woordsmous van ons.”
Die trotse Parysenaar het in sy onthou
traanbelope aan sy pa en ma gedink.
Oubaas en Ounooi het gesien hulle spruit
was van speentyd af ouderwets.
Kleintyd het die jongeling reeds
’n lotus met woordstiksels borduur.
Die swikswaar taak is aan my opgedra
om ’n lourierkrans met lowergroen woorde
vir die kunstenaar se 80ste te vleg.
Ek smeek Apollo om my krag te gee –
tot behae van die jarige en sy geliefde.
Na tagtig jaar op die woeste aarde
het ek hom in ’n woud opgespoor.
Hy vra of ek ’n ster vir hom sal pluk.
In die sterlig het ek dinge gesien
en gehoor waarvan ek nie kon droom nie.
Sy baard het sy inkennige ken bedek,
maar ek kon sien hy is veel gryser en wyser.
Die grys is die gevolg van al sy seereise,
die wind het die seesout opgeswiep,
sy hare en baard besprinkel en dit so gegeur.
Ek het soms by ’n onkreukbare regter
tuisbesoek gedoen. Hy het my na sy
studeerkamer gelei waar ons ure lank
Virgilius en Catullus bewonder het.
Al om die uur het ons onder eed oor jou
fluisterpraatjies gemaak, te bang
vir selspioene met bose gedagtes.
Vra jy wie die regter is? Die eerbare
een wat jou met vyftig rand vir briefsmokkel
en gedigte met vlerke beboet het. Hy het sy geheim
aan my toevertrou wat ek aan jou, tagtigjarige, onthul:
“As ek die regter was, sou ek Breyten vrygespreek het.
Miskien ’n paar rand vir sy ontydige vliegrit.
Hy is tog net ’n dromende digter en skilder – niks meer nie.”
Sewe lange jare het jy voorspooksels gesien,
hoe veroordeeldes met “Here, wees my genadig”
asemsnakkend met die geklingel van kettings
galg toe strompel waar die doodsengel wag.
Jou drome het jou snags onder vonklig na jou
geliefde in die verte gelei om haar hoop te gee.
Wette kon nie jou skeppingsdrang gevange hou
en die muse het jou nie aan die waansin van alleenheid
se skroeiende verlange oorgelaat nie, maar jou met ’n oorvloed
influisteringe besoek. Vryhand kon jy tydig en ontydig dig.
In ’n visioen het jy gesien: om te lewe is om te sterwe.
Daarom moes jy lewe voor jy sterwe en reik na die ontmoeting:
sange het jou bevryding uit die grot begroet, palms is gewuif,
jou gesig was welriekend en jou eens geboeide hande is gesalf
vir die belofte in volvoering: bevryding na die beminde.
Jy het ná sewe jaar in doodskadu opgestaan om die lewe te vier.
Nou beier die klokke klankryk en ek staan met die gedig voor jou
om jou te kroon en jou te vra om op jou digterstroon te sit.
Ek hang ’n mantel om jou skouers waarop pryk: Woordmaker.
Mag jy nog nagte deur droom en skemerwoorde een vir een naderwink.
Mag jou gedigte ons harte altyd verheug en soos die singende son
en sterre ons pad vol skrikgodinne na die ongesiene anderkant lig maak.
[© Cas Vos. 2019]
Met vergunning van Naledi. [Vlug van die gees, 2019]
===================================================
Dit was nou heerlik om soveel mooi verse te lees! Baie dankie. Geluk aan Breyten.
Dis ‘n baie mooi pad, hierdie laaste
in September van twee-duisend-neëntien
al langs die water, die vlaktes en berge.
Lug roer die lig, met rondom
wyd-strekkend die land.
Wat bly tot die laaste, is jou verse…
(met ‘n kniebuig na Sebald)
Baie geluk, Breyten.
liewe liewe mense – a, my mense… (“en ons sal ‘n volk wees…”):
ek sal nie, nie nou nie, vir elkeen kan sê hoeveel julle woorde tot my spreek nie – soos heuning oor ou wonde of soos goeie pekel oor rou kwesplekke –
net kan volstaan (volsit) met ou Basjô se vermaning – siende veral dat gisteraand bloedmaan was:
“kyk pampoen
eet maan
poep stilwoord”
Met liefdegroete,
Ka’afir
Geraamde pampoen en een-en-tagtig nalaatsels
Anderman staan skouer teen skouer met pampoenkenners in die derms van die Universiteit van Suid-Afrika. Die studente wat die geboue bewoon vertel besoekers oor die minator (zhou) wie die gange sy labirint maak. Hy raak veral versot op die maan die tyd van die jaar. ‘n Verjaardag soos 16 September. Hulle stel egter besoekers gerus almal is veilig voor die paintings. Hulle moet net nie te diep kyk nie.
Wie sou nou na skool-kinders luister? (shou)
Die bleek galery is stampvol. Lywe wat ruik aan die verf. Met hulle naels wat krap aan die riffels van die kwasspore. Hulle tonge wat sleep langs die rante van die rame. ‘n Pampoenlus wat soos hondsdolheid die are vol maak . In ‘n trans staar digters vas na die fraktale klippampoen wat voor hulle oë verkrummel en weg breek om ‘n groter landskap te openbaar. Onnies gly in die modder soos hulle gryp na ‘n metafoor se toon wat dobber net bo die rant van water. Die leeubekkies hap aan hulle skoenveters en die sluwe bitter eende bekak hulself van die lag. (tou) Tannies moes kamer verlaat. Mens sou sweer geraamde pampoen is aas vir taalbrommers op 16 September. (lou)
Die minator, versteek in ‘n skildery, streel sy droë rooi baard. Die skuim van nagswart bier op sy bolip blink onder die lig van ‘n verbeelde maan. Hy bekyk die mense in die galery. Hulle lyk vir hom soos miere knaend aan ‘n pampoenskil. Sy maag grom.
Koerant berug lees: Pampoen praat met dooies. Beloning vir enige inligting. 16 September 2019