Dreaming of not another white Christmas
Dis weer wit en bevoorreg Kersfees in Afrika
maar die tweede revolusie steek op en dit pla my
dat dit my nie meer pla nie dit pla my
dat dit my nie pla dat ek so lanklaas iets
probeer skryf het nie.
Joni Mitchell se “River” roep veraf na my
voor die liggiekrans van die Chinese Crazy Store wat voor
my voorstedelike diefwering flikker en ek besef
dis te laat en niks is glo erger as te laat nie,
maar ook dit skud my nie soos dit moet nie.
Ek gee nie genoeg om om dronk te word of te huil nie.
Die whisky brand of blus niks in my nie Joni se begeerte
om weg te skaats op ’n ysrivier klink absurd ek is nie meer deurtrek
van verlange nie ek kan my nie meer beter elders
verbeel of my “privilege” op Gumtree verkoop nie daar’s niemand
op eBay wat my Afrikanerskap wou hê nie.
Dis nie ’n geval van easy come, easy go hierdie nie –
dis ’n aangebore siekte wat jy jou kinders gee dié
jy kan dit nie saam met jou besittings op die 7-uur nuus
in Afrikaans uitdeel en vergewe word in die honger oë
wat jy oral ontmoet nie kyk almal regtig
beskuldigend, wantrouig na my of is ek besig
om saam met almal mal
te word?
Ek probeer dus waardig sug en staar dis darem tradisie
vir my om Oukersaand só
met ’n klingelende glas te sit
asof ek dink oor iets om te skryf asof
iets my pla
maar tot die revolusie die huis kom vat
en my of ’n kind vermoor
of ek my joppie verloor
of die rand finaal vrek en die krag
heeltemal met die water verdwyn
kan ek nie kla nie is ek
vir alle praktiese doeleindes
werklik geseënd of perfek ironies vervloek.
Ek sit net met ’n wit velprobleem wat nie
wil opklaar nie en dis Kersfees
en ek’s ’n pappa en ’n man en die Ander vir baie ander
en daar’s niks wat ek daaraan kan doen nie
en wat daarvan?
© Danie Marais / 2016