Romeinse offisier by die Kruis
Hy hang voor my
het net gevra: vergeef hul, God
toe ek hom vas laat kap, laat spot
Hy hang voor my
met “Koning van die Jode”-klag
gedoringkroon; ’n lam, geslag
Hy hang voor my
roep skor ’n “Eloï” se naam
en donker wolke pak nou saam
’n duisternis pak dikker saam
Hy hang voor my
en prewel hy’s van God verlaat
(net ek is hier om mee te praat)
Hy hang voor my
verpletter, arms oopgevlerk
’n blote karkas – rou soldatewerk
Hy hang voor my
en fluister iets aan my oor dors
Die sponswyn druppel oor sy bors
en spat oor mý gesig en bors
Hy hang voor my
en kyk my innig aan deur bloed
Die dank spring op in my gemoed
Hy hang voor my
en asem uit: “Dit is volbring”
Ek voel ’n skudding als deurdring
Ek staan voor hom
en hoor Jerusalem se kreet
en dan iets diep in my wat weet:
Ek staan voor Hóm!
Die seun van God,
ek staan voor Hóm!
© Bernard Odendaal / 2016
Op Goeie Vrydag om 11:00 lees ons hierdie aangrypende vers van Bernard op RSG voor op ons spesiale Vers en klank. Luister.