Hierdie blog is deel van ʼn reeks rondom die Ars Poetica’s van digters wat onlangs gepubliseer het. In hierdie en die volgende paar blogs bespreek ek eers temas wat dikwels in Ars Poetica-gedigte voorkom. Daarna sal ek gedigte bespreek van afsonderlike digters, soos Daniel Hugo, wat dikwels metatekstuele kommentaar lewer deurdat hulle oor die skryfambag as sodanig reflekteer.
Die eerste bestaande Ars Poetica is dié van Horatius wat die digkuns as ambag beskou en die gedig as iets wat gemaak word. Hy verskaf praktiese raad aan digters wat hy – anders as byvoorbeeld Aristoteles en Plato – binne die sosiale orde besonder hoog aanslaan. Na hom het letterlik duisende gedigte in alle moontlike tale en tradisies verskyn waarin die digter oor die skryf van poësie kommentaar lewer. Die volgende twee strofes van Pablo Neruda is sekerlik van die bekendstes in die moderne poësie:
I did not know what to say, my mouth
had no way
with names,
my eyes were blind,
and something started in my soul,
fever or forgotten wings,
and I made my own way,
deciphering
that fire,
and I wrote the firts faint line,
faint, without substance, pure
nonsense,
pure wisdom
of someone who knows nothing,
and suddenly I saw
the heavens
unfastened
and open,
planets,
palpitating plantations,
shadow perforated,
riddled
with arrows, fire and flowers,
the winding night, the universe.
And I, infitesimal being,
drunk with the great starry
void,
likeness, image of
mystery,
for myself a pure part of the abyss,
I wheeled with the stars,
my heart broke loose on the wind.
Hierdie bekende Ars Poetica handel oor ʼn oomblik van transformasie: een oomblik is die spreker nog besig om te sukkel met sy woorde; die volgende oomblik is dit asof die hemele geopen is – die tipiese spirituele ervaring wat dikwels by profete, groot meesters en bekeerlinge voorkom. Die gedig, of dan die skryf van gedigte, – so blyk dit – is blykbaar in staat om ʼn spitituele dimensie te aktiveer.
Spiritualiteit is ʼn baie breë begrip, maar hou byna altyd verband met die besef dat daar iets groters as onsself iewers, onsigbaar, teenwoordig is. Dikwels word spiritualiteit in verband gebring met die soeke na die self, na ʼn dieper dimensie van bestaan, na dit wat heilig en verborge is of selfs net die soeke na betekenis (van die lewe). As sodanig is dit ʼn universele belewenis, iets waarmee die meeste mense kan assosieer – nie noodwendig in ʼn religieuse sin nie. Dikwels ondervind digters dat hulle die spirituele dimensie die beste kan aktiveer deur die skryf van ʼn gedig. Waarskynlik omdat ʼn goeie gedig – soos ʼn spirituele ervaring – ook staatmaak op implisiete betekenis, selfs ʼn liggaamlike belewenis, wat nie volledig deur (objektiewe) woorde uitgesê kan word nie – dit wat, aldus Van Wyk Louw “om die grense flikker van my duister woorde”.
Die bekende Amerikaanse digter, Henry David Thoreau beskou die digter as dié persoon in die samelewing wat in staat is om die geestelike dimensie deur poësie te aktiveer. Hy skryf: “Where the most beautiful wild flowers grow, there man’s spirit is fed, and poets grow.” Ek verstout my om te beweer dat solank die mens die skoonheid van die natuur deur liedere en verse besing het, het digters (en sangers) besef dat die poëtiese oor die vermoë beskik om dieper dimensies van bestaan by luisteraars (vandag: lesers) te aktiveer. Trouens, alle goeie kuns beskik oor dié vermoë.
ʼn Bundel waarin bewustheid van die numineuse en die gewyde in byna al die gedigte teenwoordig is, is in die niks al om van René Bohnen. Vir hierdie digter is die skryf van ʼn gedig ʼn inisiasie- of transformasieproses. Die skryf van ʼn gedig word in die metafoor van die San-kuns van die Drakensberge aangebied:
brand die bondels soet mpepho
brand die bergwierook
met die koors in my
word ek
elandbul mpofu
word ek bruin
en motwit pigment
op kwarts of perkament
koggelmanders by die kambergkrans
die dassies in amfiteaters rots
groot lammergeier in sy oker vlug
mierleeutjies onder warm sand
hoe flikker hulle
in my hande as ek in sirkels
binne sirkels binne sirkels
die oerpad vat
ja my voete verf ʼn gedig
oor die gedugte gang
van tyd en lig
o die muse is ʼn maalklip
en alle bokke stof[.]
Die vat van die oerpad in sirkels is ʼn erkende simbool van die betreding van ʼn alternatiewe bewustheidsvlak wat byna altyd ʼn spitituele betekenis het. Skryf is vir die spreker in hierdie gedig dus ʼn wyse om die grense van die suiwer aardse bestaan te transendeer en ʼn spirituele reis (“die oerpad”) aan te pak. Enersyds is die begin van dié reis natuurlik ʼn aflegging of dood, maar andersyds is dit ook ʼn geboorte, soos blyk uit ʼn ander gedig, “inspeel met Dylan Thomas”:
net soos hy
het ek die beginklanke
van dood en geboorte
uit ʼn vakuum getoor[.]
Die laaste gedig van die bundel vat die tema van inisiasie (wat sowel ʼn dood as ʼn geboorte impliseer) saam deur na die skeppingsverhaal en die begin van die Johannes-evangelie te verwys:
want alles was see
en alles was leeg
voor die sterre losgeskeur het
uit die niks alom
in die begin
was die woord
ʼn naam wat uit sy nate bars.
Die woordspeling op “naam” is belangrik: op die basies vlak van betekenis verwys die woord na identiteit. Die frase “ʼn naam wat uit sy nate bars” sou dan kon verwys na identiteitskepping of -uitbreiding (wat met individuasie verband hou). In die Evangelie van Johannes word egter na die heilige Woord van God verwys – die Woord wat kennis van die verborge dinge openbaar. In sommige Oosterse spirituele tradisies verwys die woord “naam” ook na die woord van God, maar hier is dit direkte kontak met God deur die geluid van Stilte (of van die sterre) wat reeds aan Pythagoras en sy dissipels bekend was. Deur te luister na die Naam, word karma verbrand (en sondes dus vergewe).
ʼn Ander heilige woord uit die Oosterse tradisie (wat gesing word om ʼn meditatiewe toestand te bereik), is die woord Om, soos dit onder andere in “vlamtong” gebruik word:
en toe hy die woord ukhahlamba
spreek
was daar vuur in
sy mond
berg
het hy gesê en
om
het die pieke geantwoord om
eggo
die amfiteater om
Die heilige woord Om aktiveer ook in hierdie gedig die spirituele dimensie. Dit is eweneens, net soos Johannes se Woord, die begin waaruit alle geskape dinge hulle ontstaan het.
In die bundel Sloper van Louis Esterhuizen word verskeie temas wat ek hierbo uitgewys het, eweneens aangeraak:
Sakramente
Gebreekte woord en wyn,
die sakramente van verwisseling
en hoop. Dít is ʼn gedig.
ʼn Stad wat jy graag besoek,
maar waar jy nie mag bly nie, ʼn stad waar strate
verslinger lê en tempels
van verlange en verlies. Só is ʼn gedig, ja –
ʼn plek om van te vlug met krummels
en gekurkte drome as enigste sakrament
by die afreis. En lees jy terug
word jy steen, en die steen
sout. Ook dít is ʼn gedig: ʼn rigtingwyser
vir hulle wat gaan volg
op hierdie beskeie bedevaart
sonder punt.
Hierdie gedig speel in op verskeie belangrike Bybelse temas, soos die vermeerdering van die brode, die instelling van die sakrament van die nagmaal, Lot se vrou wat teruggekyk het na die brandende stede Sodom en Gomorra en toe in ʼn soutpilaar verander het …
Die titel van die gedig, “Sakrament”, dui op ʼn heilige teken of simbool – iets wat vir die meeste groot wêreldgodsdienste belangrik is. In die gereformeerde Christelike tradisie dink mens hier veral aan die sakramente van die doop en die nagmaal. Sowel die doop as die nagmaal kan beskou word as ʼn vorm van inisiasie of inlywing in die gemeenskap van ʼn bepaalde geloofstradisie. Sakramente is (in die Christelike tradisie) die uiterlike tekens van Christus se genade wat ʼn innerlike, spirituele ervaring (en verandering van ingesteldheid) by die gelowige veronderstel. Die simbole van brood en wyn wat tydens die nagmaal deur gelowiges geniet word, word dikwels op sigself ook as heilig beskou. Aangesien alle spirituele lig van dieselfde bron afkomstig is, is daar eweneens ʼn fundamentele, universele bron waaruit alle spirituele handelinge voortspruit. Daarom sou ʼn mens weliswar kon beweer dat sakramente en handelinge wat daarmee gepaard gaan, deel van die mens se primordiale belewenis uitmaak en daarom in staat is om alle mense op ʼn besondere wyse aan te spreek. Sakramente word in baie spirituele praktyke beskou as handelinge van God self en is nie slegs tot die Christelike kerk beperk nie.
In Esterhuizen se gedig (hierbo) word dit eksplisiet gestel dat die gedig iets van ʼn inisiasie (“verwisseling”) bevat – dit kan die leser/skrywer transformeer en tot nuwe insigte bring. Dit is egter ook hoop – soos wat die viering van die nagmaal vir deelnemers herinner aan die hoop van ʼn geestelike bestaan van die siel na die dood, soos inderdaad deur Strofe 2 geïmpliseer word. Die gedig is egter – soos ʼn sakrament – ook ʼn rigtingwyser na ʼn transendentale dimensie op ʼn “bedevaart sonder punt”. ʼn Bedevaart is ʼn pelgrimstog of soeke wat verband hou met morele en spirituele aangeleenthede. Dikwels is refleksie oor die verlede (sondes wat gepleeg is) deel van so ʼn bedevaart, soos dit uit die laaste deel van die gedig blyk. Ook dít is ʼn gedig – ʼn soektog na insig op ʼn dieper dimensie, wat ons weer terugbring na die inisiasie wat in die eerste strofe gesuggereer word … Die gedig dien in dié soektog as rigtingwyser.
Die gedig as genade – verwysend na die vermeerdering van die brode en visse by die See van Galilea – kom tot uiting in ʼn verdere gedig uit die bundel “Sloper”:
Soos skuite, die woorde
op ʼn stand uitgesleep, dan gebreek
om as stukkies uitgedroogde vis
aan die menigte anderkant geduld
op te dis: korsies brood
vir hulle wat vra na ʼn vangs
wat grootliks sal kan
vermeerder.
Maar tussen die skuit
en die skare
lê die nette steeds en wag
om heel te word.
Die son skuif aan.
Volgens die bogesiteerde gedig, sou gedigte as sodanig die vermoë bevat om as klein stukkies genade wat “grootliks sal kan vermeerder” te dien. Helaas is diegene aan wie gedigte gerig is, selde in staat om daardeur getransformeer te word …



Wat meer kan mens vra, Marie! Geniet Calvinia, geniet die Boekhuis!!Dankie vir jou kommentaar.
Dankie Marlies vir hierdie insigte: ek is op ‘n goeie plek in die hantam, groot ruimtes en stilte om my en sulke luukshede soos die Boekehuis op Calvinia – ek dink ek gaan my ‘n dag lank daar ingrawe met hierdie blog ter hand.
Baie dankie Susan en René. Mens hoop maar dit vind inslag. 🙂
Dankie hiervoor, Marlies.
Marlies, ‘n inspirerende blog! Jou lesing van die gedigte van twee digters vir wie ek baie respek het, is helder en met fyn aanvoeling gedoen. Dankie!