die doekvoet denkpad
Scarring dictates the poetical process and evokes the poet’s
deepest and greatest longing for wholeness.
Ashral Jamal
MY BROER SE NAAM
1.
Ek het die droom
in ’n blikkissie bewaar en saam
met sy geskrifte teen die berghang begrawe
in die nag begin dit skielik sag te reën
heelnag soek ek deur die laaie na my
boetie se naam
nou loop hy deur my slaap
en stap dan verder aan
onthou hy ook die verbeelde water
die verlore rimpelings op die plaasdam
en die treurende laatherfsreën.
2.
Ek verbeel my ek hoor die eggo’s
boetie, ouboet, boeta, broertjie
‒ die name van bome
sterre en sy vriende; hulle loop saam
deur die weerstandige hoofstraat
verby straatbome in die stil vuur van herfs
’n kraai vlieg verby en later ’n meeu
verby ’n markplein waar seuns
donkerblou albasters in die rooi stof skiet
draai af in ’n nou stegie
met vele inkwinkels met prente
teen die muur
vroue wat swem
deur die blou golwe
na die soom van ’n donker oseaan
waar walvisse verdwaal
en hul wanhopig bulk
in waterswaar wagkamers.
4.
Maar vir jou vra ek of jy my broer gesien het
sy transparante gesig in die daglig
sy voete verlore in die donker nag
het jy hom sien leun teen die maanlig
gesien hoe sy formules verander in krone van die wind
ruisende vlerke wat vlieg oor die verkoolde veenland?
5.
Kom tog, geliefde broertjie
vir ’n laaste lopie
kom, ek neem jou na die seder
aan die einde van die aarde
kom luister na die skugter roep
van die bamboesbosduif.
JOSEPH BEUYS
1.
Geklee in sy ou onderbaadjie en vilt hoed
leef Joseph Beuys in ’n boomryke plek
waar hy hom oopstel vir die geluid van voëls
aandagtig luister hy, steeds gedagteloser
na die geluid van voëls, die wind en die blare
na die insekte bogronds en wildehase ondergronds
die haas wat sy hopie grond boontoe stoot
Beuys het uit die hok van hase gekom
om die donker gange van die haseryk
vir oulaas in diepte te verken.
2.
In sy doodsoomblik sien hy
grys ou vroue met vlerke aan die
skouerblaaie lok hom na
die apokaliptiese gange
in die diepste van die Karoo
die pad wat hy stap
word water na sand
van sand na sneeu
op sy graf
’n stil meer
sonder rimpeling
van ’n enkele seil. [i]
DIE DOEKVOET DENKPAD
Waarom beweeg sy hande soos donker vlerke
waarom deursoek sy oë die suisende stilte
waarom luister hy na die galmende
momente diep in die niet van riete
wie onthou die vilt hoed, die winterjas
wie luister na die gebabbel van dagbreek
wat oor sy lippe stroom. Wie, vra ons
sien die skemer in die sjamaan se oë.
In sy hart dra hy ’n kaart
van die terugvouende ysvlakte
in hierdie uitgebreide haseryk
ontvlerk die graafdiere se blou asems
die man se siel
nogtans strompel hy verder
om lyflik te voel hoe alle remlyne
van die gehurkte self uitgevee word.
DIE DOEKVOETJIE
Die sagte asems van mense wat verbykom
om bo in die werf van water te gaan sing
sê dat huise met plat dakke verbrand is
’n vertwyfeling en ’n verkwyning
van reënwaters van die doolhof van vore
reeds verkleur die verskimmelde
doekvoetjies, die graafdiere
in ondergrondse labirinte
die sagte asem van mense
wat verbykom om bo in die
werf van water te gaan sing. [ii]
DIE AREND EN DIE SLANG
Daar word vertel van pelgrims wat glo
dat vraagstelling die mens lei na antwoorde
soos reisigers se dors, hul na die water neem
is daar die siening dat reisigers verslaaf raak
aan die labirint
dis juis die momentum van stap
die stil paaie en die leë komme
van die gedagtes wat vernuwing bring.
en die wat lig ontvang
as hul die denkpad voltooi
nie kan nie verdra, om tot stilstand te kom nie. [iii]
Waarom beweeg die hande nog
Maar waarom beweeg die hande nog
in fladderings van donker vlerke
waarom deursoek ons oë die suisende stilte
van die heelal
waarom luister ons na ’n rigtinglose roep
van die voël diep in die niet van riete?
Wie onthou die kleur van haar winterjas
wie luister na die gebabbel van dagbreek
wat oor haar lippe stroom
waar moet sy nog leef om meer te weet
die lakens van die bed het reeds die
nag se koue vergeet
en sy hang dag ná dag in die skroeiende
gedig wat haar vlerke skroei
sodat die hart kan sing.
——————————–
[i] As Post Tweede Wêreldse Oorlog kunstenaar en deel van die Duitse Fluxus beweging, het Joseph Beuys saam met ander kunstenaars soos Anselm Kiefer, die trauma van die na-oorlogse tydperk probeer verwerk. Beuys, as kunstenaar sjamaan, het suggereer dat die uitvoering van die kunswerk in die openbaar, Performance Art, ’n helende uitwerking op beide die toeskouers en die kunstenaar mag bewerkstellig. Een van sy belangrikste werke met simbole was die wilde haas (the Hare). Die simboliek van die graafdier in die vorm van die haas verklap baie oor die naoorlogse Duitsland; die erfenis wat verlore is, hoe om die verlies te herontgin en te herontdek, is almal resonansies wat die Haas vir Beuys oproep. Volgens Beuys was dié simbool belangrik omdat die graafdier homself in die aarde inbou; it incarnates itself in the earth: that alone is important. Na ’n lang siekbed sterf Beuys en het toe self graafdier geword.
https://en Wikipedia.org/wiki/Joseph_Beuys The _artist_as_shamaan
https://en Wikipedia.org/wiki/ How_to_Explain_Pictures_to_a_Dead_Hare
[ii] #Riverene Rabbit Thinking Path. A Site_Specific Land Art Karoo Geoglyps project. Photo by Lance Foster. Environmental awareness via Google Earth. Rabbit = konyn. Pharos. Afrikaans-Engelse Woordeboek.
LOXTON 104.5 x 90 2016
[iii] The Snake Eagle Thinking Path. A Sitespecific.org.za/karoo–geoglyph. Photo by Gustav Ludick of Aerial Pictures SA. Environmental awareness via Google Earth.
Snake Eagle Thinking Path. Matjiesfontein. https!//www.youtube.com/watch?=z1MET-gcPn4
MATJIESFONTEIN 170m x 58m 2015
Magiese gedigte, Melanie! So met die lees neem dit jou mee na plekke en gewaarwordings buite jouself – en terselfdertyd binnetoe, al grawend. En die mooi woord: “graafdier”.
Baie dankie vir die inligting Carina!
Interessant, Melanie, hoe jy die twee permanente Karoo Geoglyphs projekte van Annie Snyman en haar broer PC Janse van Rensburg by Loxton ( Riverine Rabbit Thinking Path – 2016) en by Matjiefontein (Snake Eagle Thinking Path – 2015) verwoord het. Dit is inderdaad materiaal vir gedigte. DIE DOEKVOETJIE het 38 mense 10 dae geneem om uit te pak. Sy roete gee ‘n stapafstand van 1097 meter en duur teen ‘n flinke pas 25 minute om te voltooi. DIE AREND EN DIE SLANG gee ‘n stapafstand van 1536 meter. Dit bestaan uit ‘n deurlopende lyn en eindig waar dit begin het. In Februarie 2016 is DIE AREND EN DIE SLANG opgeneem in prente op GOOGLE EARTH – ‘n eer en grootste manier van eietydse herkenning vir dié kunstenaars.
Melanie, hierdie is aangrypende gedigte! Welgedaan.
Melanie, dit is `n groot kompliment dat jy my tekening gebruik! Baie dankie.
dit raak my diep.