
Plattelandse Pietà
vir Kutlwano Garesape van Jan Kempdorp
ek wonder hoeveel gebreekte bottel
hul uit jou klein lyf moes haal –
stukke glas wat ‘n mal man
deur jou gesteek het
jy wat jou ma teen die
bottel en die stok verdedig het
is in klein gebreekte stukke
deur my gedagtes gesteek
jy vra vir ‘n laaste soen
en sterf
bebloed
in die arms van jou ma

Waterdoop
die see is ‘n doopvont
wat jou naam
saam met die water
oor jou voorkop vee
soos ‘n predikant
se hand in die oggenddiens
ek doop jou Aylan Kurdi
in die laagwater
ek doop jou vlugteling
in die hoogty
van die oorlog
ek doop jou brander van sirië
wat uitspoel aan die kus van turkye
jy is ‘n bloeisel
en ‘n opslagloot
aan die bome
van die arabiese lente

El Niño
‘n leë krip
altyd vol dou
in tye van droogte
Bronne:
http://www.sabc.co.za/wps/portal/news/main/tag?tag=Kutlwano%20Garesape
http://www.biblelandhistory.com/israel/manger-stone.html
http: //www.robertsharp.co.uk/2015/09/05/photo-aylan-kurdi/photo-04-09-2015-22-46-39/
