
My vriend, die professor, sê eendag vir my hy hou nie van die woord ‘bibliofiel’ nie. Dit klink vir hom té veel na ’n woord wat veragtelike herinneringe aan Gert en Joey van Rooyen oproep. Toegegee, hy het ’n punt beet. Maar weet Jan Publiek werklik wat ’n bibliofiel is? Het enige navorser al sy of haar spreekwoordelike vergrootglas gegryp om dié vreemde spesie te bestudeer? (Die navorser kan tog heerlik hieroor tesisseer.) Hoe lyk die spesie se habitat en waarmee verwyl hul hul tyd?
Boeke is die Bibliofiel se finansiële ondergang, stokperdjie, lewensmaat en ontvlugting van die daaglikse gejaag na wind. Gevolglik bied die Bibliofiel u, die leser, onbeperkte toegang tot die psige en habitat van ‘n Bibliofiel. Laat hy begin deur Antjie aan die woord te stel. Sy ken immers van digbundels versamel (en gedigte skryf). So skryf sy in Lady Anne (1989:68-69):
Pleidooi om bevryding
my poësie blink soos ’n voormalige hoer
langs die slimline mannekyne uit Palinodes
maar dit terloops
sal vryheid en broederskap my eindelik weerhou om
langreëlig jags te wees met ’n man
se reuk oorstuur mag te verander van boog
na teer gebenedyde heup nie met uitgesponne
vokale die nuwe somer naby te probeer skryf maar een
kortgebakerde stem een mens te sê wat ek liefhet ombies
in die kleur van salm en swart metaal – jambies
mekaar tersluiks nie los te laat voormalige varkentjies
wars dog tandeloos nie verdrietig oor lyne van stryd
bly vilt in saffraan – net in die demokratiese
enjambement kan die hart losweek. ag
beminde agter al die woorde kyk hoe
wanhopig ek om bevryding veg soveel
lettergrepe smyt ek dig as om eenkeer
dit nooit te besef nie. (ek voel hoe hy my
ontsink en ry by die voorstedelike vers verby
waarin jy, bogher die stryd, nou kwistig
met iemand anders aard.)
op ’n dag voel my man ek verdien
wel ’n groter boekrak van melamine
digbundels voorheen emosioneel
gerangskik, nou alfabeties beveel
hy. D.P.M. Botes se Wat is ’n gewone man?
goddank neem die poësie met Boerneef ’n aanvang
yskoud sien ek Cloete staan knus
teen ons enigste terroris!
rats onalfabeties en mauve bou Stephan Bouwer
met private dele tussen die twee ’n buffer
Cussons stapel op soos snye brood
(langer kan ek haar nie koop)
toe: die beheersde Eybers my classy heldin
wat die wrangste gebied met die kilste woorde in
Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse
begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry!
stug en sterk hou Manne in die kosmos kerk
verby M tot waar Komas, groot opgewerk
sonder Ziervogel te sê
teen losbandige Stet moet lepellê
bitter smaal Smal smaller smal Spies
langs hulle staan later Stockenström in Grieks
Watermeyer kon sekel sny in die hoogste klas
maar verkies om die “volk” vir Volkskas op simbaal te pas
My oog val op die vergeter stapeltjie Hambidge…
so kom woon Eybers en my – die nouveau riche

Die bibliofiel se ontdekking in Grahamstad.
Om ’n Bibliofiel te wees behels baie meer as ’n liefde vir die geskrewe woord. Deel van die obsessie wat aan dobbel- of dwelmverslawing grens, is om elke denkbare digbundel, roman of dramateks te kan besit. Dit is ’n ewigdurende dors wat nie geles kan word nie.
Tydens reise word daar eerste na boekwinkels gesoek. Tweedehandse boekwinkels is veral aanloklik. Die reuk van ou boeke en die afwagting maak die Bibliofiel so opgewonde soos ‘n R200-noot. Die literêre skatte wat tussen hope stofbesaaide boeke wag om ontdek te word. Die ewige hoop om daardie skaars eerste uitgawe teen ’n winskoopprys te ontdek. Die lekker gevoel wanneer jy ’n eerste uitgawe van ’n digbundel of skaars roman vir R2 aankoop wetende dat die teks aanlyn vir R2000 te koop aangebied word. Die Bibliofiel se tone krul heimlik van genot (Die sin klink darem baie na chick-lit…) terwyl hy so onobskuur moontlik by die kasregister staan om te betaal.

Eendag ontvang die Bibliofiel die geskenk in ‘n boekwinkel op Stellenbosch.
Maar die heel beste ervaring is om ’n tweedehandse digbundel oop te maak en uit te vind aan wie dit behoort het. Elke boek het ’n geskiedenis. Wie was die vorige eienaar? Hoekom het hy/sy die boek soos ’n vrot skroplap weggegooi of vir liefdadigheid geskenk? Hoekom het die universiteitsbiblioteek een van Afrikaans se grootste digters se digbundels uitgegooi? Hoe kan enige mens dit oor sy of haar hart kry om ’n boek weg te gee? (Die Bibliofiel glo vas daar is ’n spesiale plek in die hel vir sulke mense.)
Die Bibliofiel se habitat is besaai met boeke. In elke vertrek. In die motorhuis. Opgestapel. Gerangskik. Ongerangskik. Sommige boeke het die Bibliofiel meer lief as ander. Veral digbundels. ’n Digbundel is soos ’n woordeboek. Poësie raak nooit uitgedien nie. Dit is soos goeie wyn wat met veroudering net beter en meer waardevol word.
Jan Publiek vra die Bibliofiel gereeld vrae soos: “Wat gaan jy met al die boeke doen wanneer jy sterf?” My vriend, die professor, het glo in sy testament opdrag gegee dat alle boeke verbrand moet word. Die Bibliofiel het sy vriend, die professor, met ’n hooggeregshof-interdik gedreig. Geen boek sal verbrand word solank as wat die Bibliofiel hierdie aarde bewandel nie.
Ek benodig juis nog ‘n boekrak. Spreker, stuur maar jou geliefde om solank te begin timmer. En dankie vir die mooi gedig, Antjie Somers.

Dankie Dewald. Ja, die -fiele woorde borg soms hoofbrekens (behalwe vir diegene in Fanon se kategorie van ellendiges van die aarde). Ek kan jou geleerde vriend aanraai om morfologiese inversie te gebruik/te pleeg ter wille van ‘n rustige gewete en die koloniale sedes.
Ek hou liefs pligsgetrou by die fiel- woorde, soos fielafooi, of, in gesprek, selfs die wellistige filatelis.
Oor die iefde vir boeke weet jy seker van Walter Benjamin se sin “Every passion borders on the chaotic, but the collector’s passion borders on the chaos of memories” in sy opstel “Unpacking my library: a talk about book collecting.”
Dewald!
My broek (of is dit boek?) is om my enkels, uitgevang! Ek deel die obsessie met tweede handse boekwinkels – die bedwelmende reuk van molm en muf en stof. Ek deel graag ‘n vers wat ek hieroor geskryf het:
Die een se dood is die ander se woord
Advertensielogo: “You never really own a Patek Phillipe. You only look after it for the next generation.”
Ek koop tweedehandse digbundels
by die hospice,
blaai honger
om by Stockenström, Pieterse, Cloete, De Lange
uit te kom.
Uitgawes uit druk,
gespaar van vismot.
Binne vind ek name geskryf,
pagters van poësie,
verbeel my hulle vingers
strelend oor die reëls,
verse in Sixtynse taferele
gewek tot lewe.
Maar dood ken geen rympies nie.
Ek loop met my stapel:
Ex Libris FC.
Bundel na bundel tel ek my dae af:
bied dié slegs veilige hawe
vir die nasaat,
kan nie daarmee graf toe nie.
Die bundels vloei
dood na dood
onverstoord
voort.
Dewald jy het my nou dadelik laat dink aan twee skilderye wat jy waarskynlik ken. Ongelukkig kan mens nie afbeelings in die kommentaarblokkie plaas nie, dus stuur ek maar die skakels: https://www.1st-art-gallery.com/Carl-Spitzweg/The-Bookworm.html
En: http://www.sothebys.com/en/auctions/ecatalogue/2015/american-art-n09350/lot.40.html