‘n Braai in Chwaliszewo op die oewers van die Warta wat hier deur Poznań op ‘n Sondag in die somer vloei.
Hier, waar daar op Sondag 24 Mei 1511, skemer; ‘vetula combusta [est] in campo extra oppidum Valischewo – ‘n heks in die veld buite die dorpie van Waliszew of Chwaliszewo gebrand is’. Op die 5de Sondag na Paasfees vind die eerste teregstelling van ‘n vrou skuldig aan heksery in Pole plaas. Daar is egter geen rekord van die verhoor nie en min kennis van die beskuldigde heks se misdaad. Al wat wel bekend is, is dat sy aangekla is vir die vernietiging van verskeie brouerye deur haar toorkuns. Vermoedelik die gis bederf. Laasgenoemde inligting is opgeteken in die geskrifte van ‘n lastersaak in die kerk se hof in Poznań. ‘n Inwoner van Chwaliszewo het ‘n priester van die teregstelling ingelig, waarop daar geantwoord is: “Alle inwoners van Chwaliszewo moet gebrand word”. Die priester het in die hof verduidelik dat hy bloot ‘n grap gemaak het en die saak is uitgegooi.
Ongeveer 50 000 mans en vrouens is veral tussen die periode 1580 – 1620 in Europa vir heksery tereggestel. In Pole was die teregstelling van hekse ooreenkomstig met die res van Europa; beskuldigdes (meestal vrouens) was aangekla vir die gebruik van die duiwel se magte om bonatuurlike veranderinge te beïnvloed, inkantasies, veroorsaking van siektes, impotensie en aborsies, verandering in die weer, die doodmaak van beeste, die gebruik van kruie, ens. Maar in Poolse gevalle was dit raar dat die beskuldigde deur ‘n prokureur of enigiemand verteenwoordig was met die gevolg dat teregstelling in 90% van alle gevalle uitgevoer is. Dié doodstraf se morele outoriteit berus op die Bybelse teks, Eksodus 22:18 – “’n heks mag jy nie laat lewe nie” en is ook dikwels in die hof aangehaal. Meeste van die verhore vind in die Wielkopolska area, waarin Poznań geleë is, plaas. In 1776 bring Koning Stanisław August Poniatowski ‘n wettige einde aan die marteling en verhoor van hekse in Pole, alhoewel die fenomeen van ‘die swem van ‘n heks’ steeds plaasgevind het. Die beskuldigde se vingers is aan teenoorgestelde tone vasgebind en in ‘n dam of rivier gegooi. Indien die persoon gesink het, was hy/sy onskuldig.
Die kunstenaar Alicja Biała se uitstalling; Die Heks van Chwaliszewo (Czarownica z Chwaliszewa) is ‘n reeks illustrasies wat handel oor die 1511 teregstelling en word vergesel met fragmente van Die Hekse Koor (Chór Czarownic) se lirieke. Ewa Łowżył se inisiatief om ‘n ‘klein en smaakvolle’ monument op te rig tot eer van die naamlose vrou wat hier op ‘n stapel verbrand is, is onderweg.
So braai ons Julie in Chwaliszewo op ons oewers saam hekse op ‘n Sabbat met die Warta wat hier verby Poznań loop.
Oor spel
Om nie eens van hekse
in Pole te praat,
toemaar sjuut
Czarownica[1]
sneeu in haar nek
smelt steeds
Śnieżyć[2] sjuut
oor ingebrande
korrels peper
Pieprzyki[3] sjuut
sy prik steeds
in ‘n sestet
Róża[4] sjuut
sy vee steeds soms na 12
haar stiletto en al
in ‘n hoek in
Dopasować[5] sjuut
haar oë toor steeds
jou van jou voete
tot in haar stapel in
Zapalić[6] sjuut
steeds los sy vir jou
in die slot
Klucz[7] sjuut
en nooit ooit haar spel
uitspreek of sin maak
Zrozumieć[8],
toemaar sjuut-woorde
roep steeds hekse
in Pole op.
Bibliografie:
halaczkiewicz.eu: Przemysław Hałaczkiewicz (Ontwerp) [Julie 2017]
https://witchcraftinpoland.files.wordpress.com/2013/05/centraleurope-article-complete-2003.pdf. [Julie 2017]
http://www.alicjabiala.com/ [Julie 2017]
Ostling, M. 2011. Between the Devil and the Host: Imagining Witchcraft in Early Modern Poland. Oxford: Oxford University Press.
[1] heks
[2] sneeu
[3] moesie
[4] roos
[5] aanpas
[6] vlamvat
[7] sleutel
[8] begryp