Onderhoud met René Bohnen oor haar nuwe bundel
Op die vingerpunte van die heelal, deur Louis Esterhuizen.
René, van harte geluk met jou derde digbundel, Op die vingerpunte van die heelal. Jy het in 2000 gedebuteer met Spoorsny as selfpublikasie. Daarna het In die niks alom (2011: Lapa Uitgewers) gevolg. Hoe voel dit om hierdie derde boek te kan vashou?
Dankie vir die gelukwensing, Louis, en ook vir die geleentheid om vrae te kan antwoord. Om hierdie boek vas te hou voel half onwerklik en half wonderlik – ek veronderstel die woord wat dit dan vasvat is: fantasties? Ja, dit voel fantasties. Nou moet die pad ontvou. Elke bundel het sy eie roete, leer ek algaande – ek was tot dusver bevoorreg dat my bundels vir my nuwe deure oopgemaak het en geleenthede geskep het wat ek nooit kon voorsien nie. Ek is opgewonde oor die nuwe reis.
Op die vingerpunte van die heelal is ʼn lieflike titel. Vertel ons iets hieromtrent? Hoekom dié titel, byvoorbeeld, en hoe skakel dit met die gedigte?
Die titel is vir my kosbaar, omdat ek dit nie uitgedink het nie en ek is dankbaar as my leser dit treffend vind. Dit was ʼn geskenk uit die nag. Ook was dit vir my ʼn verrassing, omdat titels gewoonlik die laaste element is wat na my toe kom. Hierdie keer was dit anders. Ek het een oggend so teen vier-uur wakker geword met “op die vingerpunte van die heelal” in my kop. Of is dit hart? Tesame daarmee, die vaste wete dat dit die titel van my volgende bundel is. Die gebrokenheid en geborgenheid wat in die titelwoorde vervat word, bly vir my beduidend. Gedigte wat ek uit vorige bundels weggelaat het, het nou ook lêplek gevind. Ek het egter nie nuwe gedigte geskryf al op die titel af nie – in slegs één gedig het ek die titel doelbewus inkorporeer. Ek hoop dat die res organies saamgebind is en dat dit ook vir my leser sin sal maak as ʼn geheel.
Die bundel open met die indrukwekkende gedig “Inkommers” met die volgende reëls as eerste strofe waarna ʼn pragtige beskrywing van ʼn bepaalde stadsruimte volg:
Op die elfde dag van die eerste maand
asem God vlinders uit
oor bedelaars, bosslapers en biljoenêrs ‒
ʼn geborduurde wasem wat migreer
oor glasgeboue, gaswerke, die bakens
en landmerke, deur slaggate en sandgoue
riwwe van ontginning
Watter stad is hier ter sprake en hoe skakel dié gedig met die sentrale bundelgegewe? Wat is byvoorbeeld die belang van die datum wat jy reeds met die eerste reël aksentueer?
Ek stel belang in migrasiegedrag, in groepsgedrag en kollektiewe geheue. Ek hou van tussenruimtes, oorgange en raakpunte, veral tussen mens en omgewing. Dit gee my groot vreugde om te sien wát oorleef op welke wyse in die stad. Die wit skoenlappers wat elke jaar migreer spook al lank in my verse, ek het in my vorige bundel na hulle verwys as wit vlaggies in die boom voor my venster. En dit is nou maar eenmaal my manier van dink: een ding word altyd geëggo deur ʼn ander ding. So lyk die duisende eiendomsagentbordjies op die sypaadjies vir my soos die blomme in Namakwaland – en dis nie eers vir ʼn gedig nie. Ek wil dus nie slegs die dier of natuur beskryf nie, ek wil daardie sprong na die toepassing vind. Ek voel die sensasie van ʼn vlinderstroom het in “Inkommers” naby gekom aan my visuele ervaring daarvan. Ek kon in hierdie gedig ook met hulle identifiseer, as vreemdelinge in die stad Johannesburg, waar ek ook maar altyd ʼn inkommer sal bly, net soos hulle.
Die datum was gelukkige toeval, ek hoef bloot waar te geneem het. Dit was Januarie, dit was die elfde. Natuurkundig dus akkuraat. Poëties, numerologies en simbolies vir my ʼn vonds. Ene is beginne, net soos Januarie dit is. Maar dit het ook die individu ter sprake, sowel as die eggo’s van Genesis en die verwoording van die skeppingsmite. Om dan die bosslapers en biljoenêrs sáám te kon groepeer teenoor die ene, vestig solank die neiging en problematiek van verhoudings wat ek ondersoek. Dit dui hopelik ook aan dat ek as leek, altyd as leek, speel met die betekenis van getalle en die ordenende aard daarvan. Ons gebruik die Goue Ratio in fotografie, maar op ʼn ander vlak sal ek nog lank moet kou en herkou voor ek die Fibonacci-formule of -beginsel deeglik begryp. Indien Wiskunde wel die poësie van die heelal is, word dit deur my inderdaad gevoel voordat dit verstaan word, à la T.S. Eliot!
Die eerste gedigte in die versameling het almal te make met stedelike en privaatruimtes. Wat die leser egter onmiddellik opval, is die oorweldigende visuele ingesteldheid. Hierdie gedigte plaas die leser direk ín die ruimte danksy die sensoriese beskrywings. Is jy ook aktief by visuele kunste en bestaan daar vir jou ʼn wisselwerking tussen poësie en die skilderkuns of fotografie, byvoorbeeld?
Ja, Louis, ek bedryf fotografie as ʼn bykomende uitdrukkingsmedium. Ek kan nie eintlik onderskei tussen “in prentjies dink” en die klank van woorde nie – ek ervaar ʼn konstante sinestesie. My foto’s en my verse illustreer mekaar nie, hulle benader ʼn tema vanuit twee verskillende rigtings. Soms is ʼn foto meer welsprekend as ʼn gedig, soms is die foto ʼn sneller vir die vers. Ander mense se foto’s dien ook as prikkels vir verse, soos die geval is met Diane Arbus se werk.
Ek boer by kunsuitstallings, skilderye praat met my. Ek ervaar ʼn drang om op die een of ander manier terug te antwoord. Biografieë en outobiografieë is groot leesliefdes van my en ek is, weliswaar as introvert, lief vir mense. Flieks wat gebaseer is op kunstenaars se lewens is nog ʼn gunsteling tydverdryf en ek verslind dokkies. Is dit nie so dat ons onsself herken in ander mense se ervarings nie, dat ons probeer sin maak van ʼn kollektiewe skuld of redding? Deernis, meelewing; waarna soek ons? Wat géé ons? Ek neem graag mense af, probeer die onbewaakte oomblik vind waar die siel en die masker momenteel skei. Dit is só kwesbaar, dit dwing respek af.
Een van die kragtigste gedigte oor hidrobreking in die Karoo is die gedig “Nieu-Bethesda, 2020”. Vertel ons meer omtrent dié gedig en wat dit vir jou beteken? Ter wille van leesgerief plaas ek die gedig hieronder. (Indien jy wil, kan jy dit sommer in verband bring met die daaropvolgende gedig, “rooidata” aangesien dié twee verse teenstellend teenoor mekaar staan, is dit nie?)
Nieu-Bethesda 2020
Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,
hulle gekrys verdring deur bore se ra-ta-tat-tat, deur
vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.
ʼn Meermin se uitgestrekte handjies verweer
in die suurreën, haar bierbottel-oë bars,
rapat; rapat breek die watertafel. Sien is glo –
protesplakkate tolbos soos orakels
oor fracking in die Oos-Karoo.
Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.
Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.
Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas
bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.
Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile
glip ʼn gladde tweekopakkedis. Sien is glo – hoofletter
protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes
oor fracking in die Oos-Karoo.
In die broeines hoog teen Kompasberg lê ʼn witkruisarend
haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.
Die gedig het ontstaan as reaksie op ʼn klein plakkaat teen ʼn boom in hierdie dorpie wat na aan my hart lê. Omrede Nieu-Bethesda alreeds ʼn unieke karakter het as gevolg van die Outsider Kuns wat dit bekend gemaak het, was dit vir my die aangewese voorbeeld van verdere vreemdmaking wat kan plaasvind as die aktuele bedreiging van fracking die landskap kan omvorm tot iets uit ʼn wetenskapfiksie riller. As meerminne en kamele, uile en wyse manne kan woon in ʼn Karoo erf wat na ʼn Mekka roep, is dit die ideale ruimte waarin tweekopakkedisse en neon-eiers kan ontstaan, het ek gevoel. Ek het baie navorsing gedoen oor die gevolge van fracking en die effek daarvan op ʼn landskap en op gemeenskappe. Hoewel ʼn enkele leser gemeen het die reël oor “vierhonderd tenkwaens” is oordrewe of vergesog, is dit inderwaarheid ʼn feit wat na vore gekom het in verskeie berigte en ek het dit eintlik net so neergeskryf.
Met “rooidata” wil ek die haiku so ʼn bietjie op sy kop keer, aangesien dit tradisioneel ʼn natuurbeeld bevat en die natuur in die 21ste eeu juis aan groot stres onderworpe is. Eerder as om die landelike te besing wou ek die verdwynende beklemtoon. Die Oosterse vorm moet ook aandui dat ons renosters, byvoorbeeld, blykbaar veral vanuit die Oosterse lande bedreig word. “renoster geenhoring” dui vanselfsprekend op die gruwelike stroping wat ons sien en ook die gevaar wat ons loop dat die renoster sal uitsterf en ʼn skimgedaante word soos die mitiese eenhoring. Die rooidatalys bevat natuurlik die name van bedreigde spesies, maar ek het dit effens uitgebrei om ook Afrika se minerale te bevat, sowel as die subtieler verwysing na plaasmoorde, waar die bedreigde kraanvoëls dalk langer voortleef as die mense. Groen aktivisme is ʼn verwikkelde stryd wat dikwels met sosiologiese vraagstukke bots; ek wou daaraan erkenning gee. Die skoenlappers was natuurlik ʼn handige ligte eggo deur die bundel, maar die plante en skoenlappers waarna ek in “rooidata” verwys, is wel werklik bedreig. Ek probeer my bes om wetenskaplik akkuraat te werk, al is dit nie my kennisveld nie.
Terwyl ek in my vorige vraag na teenstellende gedigte verwys het, wil ek nou die bundel se struktuur betrek. Dit is opvallend dat jy vanaf jou debuut in 2000, en ook met hierdie bundel, verkies om die gedigte nié in onderafdelings te groepeer nie, maar volgens sikliese samehang. Is dit ʼn bewustelike keuse? Hoe het jy byvoorbeeld te werk gegaan om hierdie bundel te struktureer?
Weet jy, ek probeer elke keer afdelings maak, ek dink selfs lekker name vir hulle uit, werk noukeurig aan die indelings, alles. En dan, sodra ek dit reggekry het, kan ek hoor hoe die gedigte sukkel om asem te haal. Ek hou nie van boksies nie en my gedigte blykbaar ook nie. Alhoewel ek ander digters se afdelings dikwels bewonder, moet ek my verse gehoorsaam en die organiese roete volg. Ek spandeer baie, baie ure om die volgorde vas te stel. Gewoonlik werk ek met ʼn progressie of woordassosiasies om oorgange te bewerkstellig. Soms probeer ek ʼn verdieping of intensivering van ʼn spesifieke emosie, gevaar of situasie daarstel. Dikwels laat ek eindes toe om my na beginne te lei. Titels mekaar te laat eggo of opponeer. Alhoewel elke gedig alleen moet kan staan, moet daar ook ʼn geheelbeeld ontstaan. In “Op die vingerpunte van die heelal” het ek konstant gewerk met die begrip een-tot-geheel en ook my persoonlike gedagtes oor holisme. Dit is vir my besonder belangrik dat die gedigte nie lukraak geplaas word nie en dat die leser op ʼn dieper leesvlak beslis die struktuur kan begin agterkom.
Reg in die middel van die bundel vind ons die lang reeks gedigte “Spartikels” waarvolgens jy bekende kinderliedjies en -verhale met onthutsende beskrywings integreer. Wat ‘n kragtoer is dit nie! Manjifiek gedoen, René. Vertel ons ietsie meer omtrent hierdie reeks? By wyse van inset plaas ek die laaste gedig in die reeks:
10.
yskristalle plagieer mistieke getalle,
elke doudruppel is ʼn kristalbal
ons is hipoteses in die heelal –
spartelende partikels,
duisendpootpixels
glaukus in ʼn poel van lig,
ikarvis;
die weerlig vat dooierus
Dankie, Louis, die kompliment is vir my kosbaar, veral omdat ek hier ʼn meer emosionele stem toegelaat het. Daar moes vir my ʼn versoening wees tussen die oënskynlike kilheid van algoritmes en die subjektiewe ervaring van sodanige ordening van elemente. Die herhaling wat voorkom in volksliedjies moet dien as ironiese teenstelling en ook om die gruwels te aksentueer. Dit is so dat uitroepe van smart deur lydendes byna inkanterend aandoen, dat slagspreuke in oorlog en sport herhaal word en dat religieuse dreunsange, lofliedere en gebede herhalende patrone en refreine het. Dit wat as troos dien, is dus ook tekenend van dit wat martel. Hierdie reeks het vir my die sterkste elemente bevat van hoe fraktale, ratio’s en formules ook op abstrakte vlak voorkom. Die idee van biomimese het my dan ook gehelp om die onderwerpe binne my beheer te hou en groot gedagtespronge weer terug te katrol na ʼn vaste patroon. Ek kon hierdie onderwerpe nie aan streng rymvorme onderwerp nie, dit sou vir my té netjies wees, maar ek wou dit ook nie in chaos laat verval nie. Ons probeer immers binne versplintering heel koherent lewe – hiervan was ek as kind al bewus. Uiteindelik begin ek daaraan uiting gee, nadat ek in my vorige bundel ʼn plek van innerlike krag kon bereik, waarna ek in ʼn destydse onderhoud verwys het as “eilandjies van stilte”. In hierdie bundel ondersoek ek die lawaai tussen daardie eilandjies, dink ek. Op hierdie wyse skakel die twee bundels ook met mekaar.
Nog ʼn interessante vers is “Tien grepe vir ʼn vindvers”. Hoe het hierdie gedig tot stand gekom? Is dit byvoorbeeld toevallig dat hier van 10 grepe sprake is terwyl die reeks waarna ek hierbo verwys het ook uit 10 dele bestaan?
Dit is wat dit sê dit is: ʼn optelvers, ʼn “found object”. Ons het ʼn twyfelagtige greep op sosiale media, ons almal het ʼn ekstra avatar bygekry. ʼn Mens se vriende en kennisse stroom in liggies op ʼn skerm verby, dit word gemaak in ʼn binêre kode. Ons verskaf self die kohesie. Hoe sou die samehang lyk, het ek gewonder, indien ek vir sewentig minute lank die kortste plasings wat op facebook verbykom, neerskryf. Die vers moet ʼn weerspieëling wees van die dikwels absurde, vlietende aard van dinge wat belangrik genoeg geag is om te plaas waar ander mense kom lees en “like”. Dit het my verbaas hoe daar ʼn byna surrealistiese logika in die geheel na vore gekom het en ek laat dit aan my leser oor om afleidings te maak oor onbewuste seleksie van stellings wat iewers sin maak. Hierdie klein oefening het ook ʼn Engelse gedig opgelewer, ek het plasings nie vertaal ter wille van ʼn bundel nie.
Om nogmaals beheer te behou en binne die struktuur van die bundel te bly, het ek in albei die verse waarna jy verwys, die getal tien gebruik. Natuurlik speel ek rond met die verhouding tussen die mens se tien vingers en die heelal se onbegryplike vingerpunte. Hierdie tipe spel word oral in die bundel herhaal. Numerologies dui 10 dikwels op eindes of voltooiing. Dit bestaan ook uit ʼn 1 en ʼn 0. Alles binneplesiertjies!
Een van die kenmerke van jou gedigte is die interessante spel met tipografie en konkretisering van die gedig. Ook bedryf jy ʼn webblad waar jy eksperimenteer met visuele uitdrukking van poëtiese materiaal. Vertel ons meer hiervan?
Ek is gedurig besig om die wisselwerking tussen woord en beeld te ondersoek. Hoekom lyk ʼn “O’ soms mooier op papier as ʼn “B”? Dit dien vir my ʼn doel. Ek wroeg oor hoofletters, ek sweet oor ʼn komma. Wit spasies is magtig. Ek weet nie hoekom nie, ek volg nie ʼn konvensie nie (dit weet my teksversorger alte goed), maar daar is ʼn interne riglyn wat ek kan voel, al kan ek dit nie verduidelik nie. Teen die tyd dat die bundels gedruk word, het ek egter al mooi geluister na die raad wat die redakteur en teksversorger gee!
My “Stippelverse” reeks bestaan uit gedigte wat ek visueel probeer weergee, deur die woorde te behou en dan deur middel van ʼn rekenaarprogram met ʼn algoritme te vertolk. Ek kies getalle wat ek wéét (wel, dis ʼn subjektiewe waarheid) die gemoedstemming van die gedig op ʼn numerologiese of vibrasievlak weergee. Dan pas ek hulle toe en ek kyk wat die resultaat is. Afgesien van my nommerkeuse, is ek nie in beheer van die eindproduk nie. Dit verras my telkens dat die visuele beeld wat verskyn, so naby is aan die betekenis van die woorde. Ek sou graag hierdie stippelverse ʼn plek in ʼn bundel wou gee, dalk sal dit eendag moontlik wees.
Ook het jy in 2009 ʼn M.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Watter invloed het hierdie kursus op jou ontwikkeling as digter gehad?
Die graad is om emosionele redes gedoen en was nie eintlik vir my ʼn tegniese strewe nie. Miskien daarom, het ek dan ook perspektief daaruit verwerf, eerder as enige skryfinvloede. Ek het geleer hoe uiteenlopend mense se reaksies op dieselfde gedig kan wees en hoe my temperament op terugvoer reageer. Ek het leer onderskei tussen kritiek en interpretasie. Ek het ook maar deeglik agtergekom waar my leemtes is, veral as leser wat dekades lank in ʼn onverwante veld gewerk het en ʼn ander woordeskat en raamwerk as die literatuur opgebou het. Bowenal het ek geleer dat ʼn mens nooit te oud is om na jou eerste liefde terug te keer nie, al het jy verre draaie gaan loop in die lewe.
Naledi is die uitgewer van hierdie bundel en dit is merkwaardig hoe vinnig hulle hul in die bedryf gevestig het as een van die vernaamste rolspelers ten opsigte van poësieproduksie. Hoe was hierdie ervaring vir jou?
Naledi verdien elke stukkie lof wat na hulle toe kom. Hulle was en is vir my ongelooflik goed – die proses was pynloos; ek het gevoel daar is spanwerk, wedersydse respek en outentieke kommunikasie. Daar heers ʼn demokratiese stemming, maar ek kon veilig voel in die bekwaamheid van kennis en vaardigheid. Naledi se boeke is pragtig versorg en ek dink daar is baie moeite gedoen om te verseker dat elke boekomslag ʼn unieke karakter het. Ek verstaan nou hoe ʼn skrywer verknog kan raak aan ʼn uitgewer! Ek is so dankbaar en bly dat Naledi my bundel uitgee. Ek voel tuis onder hulle ster.
René, nogmaals geluk met ʼn besonder indrukwekkende publikasie. Mag hierdie bundel vir jou alles wees waarop jy gehoop het. Ten slotte wil ek vra of jy so vriendelik sal wees om ʼn gedig met die lesers te deel? Miskien een wat vir jou besonderse waarde en/of betekenis het? Vertel dan sommer ook waarom jy juis dié betrokke gedig kies.
Dankie vir jou insigryke vrae, Louis. Ek waardeer Versindaba se aandag. Ek kies ʼn korter gedig, wat hierdie onderhoud miskien nog ʼn bietjie toelig en sommige van my antwoorde ook bevat.
Baie dankie vir die geleentheid!
Afkopengele in die web
Die vrou
weet nie waar sy hoort nie
nie in die opgerolde duisendpoot
of in hierdie groot mandelbrot nie
Sy is ʼn boompie in ʼn blomkool se blomkoolboompie,
inderdaad is sy
ʼn snipperpers knip-en-plak vers
Plek van hiperbool en gebro/ke harte,
iewers is daar ʼn nommer, ʼn algoritme
vir raak en lukraak
die patrone van donker materie
die koningskandelare bloedrooi
in die veld ná die brand
vuurlelies in die sand
almal palimpses in ʼn god se hand
Soms is roekeloosheid ʼn noukeurige, toegespitste toewyding
ons plaas maar altyd ons gebede in die krake van ʼn muur
; ; ;
is luidkeels op eilandjies van stilte ingeboek
(c) René Bohnen (Uit: Op die vingerpunte van die heelal, 2017: Naledi)
Baie dankie René en Carina asook vir die skakel hier op Versindaba. Die toonsetting van Nieu-Bethesda 2020″ was vir my besonders lekker en n eer.
Baie dankie, Sandra, ek hoop jy sal die res van die bundel ook geniet.
Baie geluk met ‘n deeglik omvattende bundel. Dit voel omtrent of die vingerpunte van die heelal jou aangeraak het om te besin en te lees en te leer om deel van jou skeppingswerk te word. Dit is vir my vreeslike nuus dat Nieu Bethesda in 2020 so gaan lyk. Die migrasie van die wit skoenlapperkies het ek ‘n paar keer gesien en ek was heel verwonderd. Ja, die mooiheid en aanpasbaarheid van lewe om ons verskaf troos beslis vir bosslapers en ook vir biljoenêrs. En sal ook altyd
‘n egte gesamtkunstwerk
Dankie vir hierdie kommentaar, Carina. Ek verstaan jou siening aangaande die datum, maar moet darem noem dat ek ook die gedagte van perfekte visie wou oordra, om ook aan tesluit by die woorde “sien is glo”wat herhaal word in die gedig. Buiten die datum, dus, die bewering dat 2020 visie ‘n mens dalk in staat sou stel om die gevare van hidrobreking ordentlik raak te sien. Betreffende die toonsetting – ek het nie daaraan gedink nie, dankie vir die herinner. Hier is die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=JHwROpEx238
Baie-baie geluk, René. Jou uitstekende gedig “Nieu-Bethesda 2020” (wat in hierdie onderhoud met Louis goeie aandag kry) se toonsetting deur Liza Lorenz slaan ook ‘n mens se asem totaal en al weg. Die inheemse musiek saam met jou swart-wit foto’s van die Karoo aanvullend by jou indringende, maar ook baie organiese teks besit die belofte van ‘n klassieke kunswerk in Afrikaans. Daarom is my enigste kommentaar op spesifiek Nieu-Bethesda 2020 dat die datum in die titel te beperkend is. En ek wonder of kan die videofilm daarvan nie ook hier vir versindaba se lesers geplaas word nie?
Hou baie van hierdie vars ‘groen’ een.En ook die verwsysings na Johannesburg amper as ‘n stad met ‘n verskuilde goue hart.
Baie dankie vir al hierdie vriendelike woorde – ek waardeer elkeen se perspektief.
En geluk met die mooi bundel, René.
Ai, dit was weliswaar ‘n geingspireerde onderhoud wat ‘n kwantumgolf in my binneruimte instuur. Dankie Louis vir die lus- en losmaak daarvan. Geluk met ‘n veelbelowende bundel, René.
Ek wil jou ook gelukwens met die bundel, René. Die manier hoe jy jou digwerk benader – noukeurig seker maak van feite en nougeset hersien – vind ek indrukwekkend. Die gedig uit die Partikels-reeks is vir my een van die mees treffende verse: “die weerlig vat dooierus”!
Ek het groot besondering vir jou besondere kyk op die lewe en dan natuurlike die verse in die groentetuin van jou verbeelding. Baie dankie vir die mooi onderhoud, Louis.
Baie geluk René! Ek is uiters geprikkel na die lees van hierdie onderhoud. Ek kan nie wag om jou bundel te verslind nie!
Baie geluk Louis én René: hierdie lekkerlees-onderhoud plaas die leser dadelik tuis bínne-in die digter se heelal van verse. Kan nie wag om hom in my hande te hou nie!