´n rooi roman
Pietersburg was ´n gesin
met ´n binnenshuise tuin met langbeenspinnekoppe;
daarteenoor is geboue op kerksgrond uiteraard en ewig
dubbelsinnig
want Pietersburg is nou Polokwane en
in nigelsecundakroonstadsasolburgermelo
sit ek op ´n EGK-dak in oopte waar niemand
ooit kyk nie om alleen in vrede bo
self te dink dit is stil daar en oop die duiwe
koer hulle skrik nie op nie hulle kir nie hulle
steur hulle nie aan my nie al is ek
bewerig en siek
my lyf perserig van val en val
in die pastorie-huis langsaan telkens
spikkels voor my oë voor die donkerte my vang
daarom sit ek op ´n dak en teken bome met uile-
oë en sommer ook die kat uit die boom sodat
niemand kan sien hoe oorverdowend
ek val nie ̶
wanneer ek afklim moet ek weer dapper
saam met die gemeentekinders na iets jaag
(dit lyk soos ´n muis)
rooibruin en harig onder die straatligte
al agter ons skaduwees aan
© Fransi Nieuwoudt/2018