Nuwe publikasie: Openbare domein (Daniel Hugo)
Openbare domein
Daniel Hugo
Openbare domein is Daniel Hugo se vyftiende digbundel en is toeganklike gedigte vir gewone lesers en letterkundiges. Hugo geniet wye mediadekking as digter, vertaler, resensent, rubriekskrywer, radiovoorleser en openbare onderhoudvoerder. Hugo is een van Afrikaans se voorste en gewildste digters. Hugo het al meer as vyftig werke uit Nederlands in Afrikaans vertaal; dit sluit in romans, digbundels, asook kinder- en jeugboeke. Hy is in 2014 en 2017 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy vertaling van onderskeidelik Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn.
Hugo het in 1987 sy doktorsgraad in die letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang vir sy ondersoek na die vernufsvers in Afrikaans. Na ʼn tydperk as lektor in Bloemfontein was hy twintig jaar lank radio-omroeper by RSG en daarna uitgewersredakteur by Protea Boekhuis. Deesdae is hy voltyds ’n vertaler en vryskut-taalpraktisyn. (Naledi, 2018. • R 175.00, Sagteband, • 114 p, 213mm x 137mm; ISBN: 978-1-928426-07-3)
.
.
Suidpunt
die wind waai noord – vanaf die stoep hoor ons
die arm buurt se geradbraakte brakke:
’n eindeloos godskryende geblaf
wat deur murg en been sny – ek verbeel my
ek hoor elke wurgketting wat ratel
en die fyn getjank wat uit dun kele
kom – slap Angelsaksiese sentiment,
maak ek my wys, en totaal onvanpas
hier waar ons suig aan brandsiek Afrika
se uitgeteerde, dorre tepellyf
.
(Uit: Openbare domein. Daniel Hugo, 2018.)
.