Daniel Hugo in gesprek met Gisela Ullyatt
oor sy nuwe digbundel Openbare domein (Naledi, 2018).
GU: Daniel, die voorbladfoto is geneem deur jou vrou, Marlene Malan; so ook die voorblad vir jou vorige bundel, Takelwerk. Vertel ons meer oor waarom jy hierdie besonderse foto gekies het vir Openbare domein?

DH: Ja, Marlene is ’n lieflike fotograaf. Dit is ’n foto van ons voordeur op Prins Albert; die bodeur staan oop en laat die vroegoggendson inskyn. ’n Gedeelte van ons vetplanttuin en die Karoo-rante in die verte is sigbaar. Die deur simboliseer die skeiding tussen binne en buite, tussen die private en openbare. Die halfoop deur nooi die leser die bundel binne, en gee hom beperkte toegang tot wat in die studeerkamer en slaapkamer gebeur, maar omgekeerd ook tot wat buite in die tuin afspeel.
Ek het, nadat die grafiese uitleg van die manuskrip voltooi was, spesiaal ’n gedig vir die agterblad oor daardie voorbladfoto geskryf. Die titel is “Voordeur”, en staan dus eintlik op die plek waar die bundel se agterdeur moes wees:
die dag dring die kamer binne
met klank en kleur, met geur en lig
die woordventer kom tot sinne
begin stamel aan ‘n gedig
.
die teks het sy eie drumpel
waaroor woorde versigtig tree:
wat binnerym sag laat rimpel
word in die buitelug geskree.
Die eerste strofe bevat ’n bedekte verwysing na Eben Venter, skrywer van onder meer die roman Ek stamel ek sterwe: “die woordventer kom tot sinne / begin stamel aan ’n gedig”. Die “woordventer” dui natuurlik in die eerste plek op myself, maar ek het die vrymoedigheid geneem om Eben se naam hier te laat eggo, aangesien die huis op Prins Albert voorheen aan hom behoort het. Verder het ek die gedig “Die skrywer se kat” (72) aan hom opgedra. En in “Selfportret” (58) verwys ek na sy roman Foxtrot van die vleiseters. Ek bedoel dit alles as ’n huldeblyk aan hom, en uit dankbaarheid dat ons elke dag plesier het aan die huis en tuin wat hy en sy lewensmaat Gerard Dunlop met soveel sorg tot stand gebring het.
Die bundel as geheel is egter aan Marlene, die geliefde fotograaf, opgedra.
GU: Die titel, Openbare domein, word geëggo in die bundel se motto, ’n kwatryn, wat aan Marlene opgedra is:
alles wat rym, gee ek prys
aan die openbare domein:
die ongerymde vers bly
versweë – dit is ons geheim
Daar is egter nog ’n gedig, “Edms. Bpk.” (76), wat saam met die bogenoemde kwatryn die nexus vir jou bundeltitel vorm:
die openbare domein is kopieregvry:
jy mag maar natuurgedigte uitkraam
eindelose eposse oor die kosmos konkok
en treurspele skryf oor wat in hofverslae staan
niemand sal jou aankla van blatante laster
of gruwelike skending van privaatheid nie –
nog die Skepper, nog die slagoffer, nog die dader
maar die skrywer vereis dat sy gedagtegoed
beskerm word: “intellektuele eiendom”
noem hy dit graag, die arrogante klein sot
Tot welke mate speel bogenoemde gedig in op D.J. Opperman se “Edms. Bpk.”?
DH: Ek het beslis Opperman se gedig in gedagte gehad, hoewel hy in die eerste plek oor materiële eiendom praat: sy stranderf op Franskraal. In sy gedig eis die natuur (janfiskaal en bakkapel) sy grond vir hulle op, ondanks die feit dat hy dit omhein en sy naam op die hek geverf het. Ek brei hierdie gedagte uit tot skrywers se gewaande “intellektuele eiendom”. Dit is trouens ’n idee wat al reeds in my bundel Die twaalfde letter van 2002 opgeduik het in die gedig “Pro Deo”:
As daar ‘n God is, het Hy beslis
kopiereg op sy skepping. Wees dus
gewaarsku: fotograwe, landskapskilders
en groen digters. Eendag gaan julle betaal
vir die kwistige illustrasiemateriaal
wat julle vervreem het in swart-en-wit of kleur
– riviere, berge, vlaktes, blomme, vlinders –
sonder erkenning aan die Groot Outeur.
Intellektuele eiendom verval in elk geval vyftig jaar ná die digter se dood, soos wat ek uitspel in die gedig “Vakuum” (101). In die geval van huidige Afrikaanse skrywers gaan dié onteiening – oftewel verlies van kopiereg – nog radikaler wees, aangesien die taal teen daardie tyd waarskynlik ook nie meer as literêre medium sal bestaan nie:
ná die dood my inhaal
duur dit nog vyftig jaar
en alles wat ek hier openbaar
.
word deel van die publieke domein
.
dan verdwyn ek postuum
in die klanklose vakuum
van mense sonder ’n taal.
Die motto-vers handel oor die kunstenaar se ewige dilemma: Hoeveel van sy privaat bestaan kan hy openbaar, sonder om homself en sy naastes in die verleentheid te stel? Die antwoord wat die vers bied, is dat dit wat rym, m.a.w. dit wat ’n estetiese vorm aangeneem het, genoeg afstand skep en die outobiografiese sodanig kunsmatig verdoesel dat dit gepubliseer kan word. Die liefdesgedig “Woorde vir die binnekamer” (44) werk ook met hierdie gegewe:
liefdesverklarings hoort in die binnekamer
word gesê en ek stem saam: openbare reklame
is ’n verleentheid – daarom uiter ek dit graag,
liefsteling, in die hermetiese ruimte van ’n gedig:
hier waar ek agter my lessenaar sit, kan ek dit waag
om te fluister wat ek van die dakke wil verkondig.
Die slotreël weerklink ook in die agterblad-gedig se slot:
wat binnerym sag laat rimpel
word in die buitelug geskree.
GU: “Studeerkamer” (4) is myns insiens een van die sterkste gedigte in die bundel: die digter-as-bouer (“hier kan ek my pen hanteer soos ’n troffel”) maar ook as knoeier of “arrogante klein sot”:
tussen die draadsteiers van my snippermandjie
groei die groot odes aan, diggefrommel
Is die digkuns iets wat jy oor die jare heen as iets inherent frustrerend beskou of is daar nog genot in dig? Is die feit dat digters hulself moet besig hou met ander dinge as die digkuns om hul daaglikse brood te verdien ook ’n faktor in hierdie frustrasie? Of verskaf dit ’n welkome afleiding?
DH: Die skryf van gedigte het my nog altyd net vreugde verskaf. Daar is min mense wat in die posisie is om voltyds gedigte te kan skryf, soos Emily Dickinson of Gerrit Achterberg. Gelukkig verdien ek deesdae my brood uitsluitlik met literêre dinge: vertaling, keuring, redigering, resensering, werkswinkelaanbiedings en voorlesings. Ek het intussen ook my beperkings as digter leer ken – “groot odes” soos wat Van Wyk Louw en ander kon fabriseer, is buite my bereik. Terloops, die ode-skrywende Louw maak sy verskyning in “Tantalus” (51), waarin ek ook wys op die negatiewe effek wat so ‘n allesoorheersende obsessie met die digkuns op persoonlike verhoudings kan hê.
Realistiese ambisie voorkom frustrasie, het ek geleer.
GU: ’n Aspek van jou oeuvre wat uitstaan is jou verstegniese vakmanskap en veral die vernuf wat jy aan die dag lê met die rympatroon van elke vers (”en die rym as anker” (54)). In ’n pragtige vyfdelige vers, “Stoepsermoen” (12-14), word eindrym merendeels nié gebruik nie: slegs Deel V benut paarrym. Hier lê vir my ’n ironie in die twee laaste koeplette van hierdie gedeelte:
ek swyg: as rym jou gedagtes begin skik
raak jy in ’n spekboomlabirint verstrik
Gegewe die onderhoudende rol wat rym in jou verse speel, hoe moet lesers hierdie koeplet lees?
DH: Ek spot daar ’n bietjie met my rym-obsessie. Maar dit is ook waar dat die rym jou soms dinge laat sê wat jy nie aanvanklik in gedagte gehad het nie. So word elke vers ’n avontuur wat jou dwingend hemel of hel toe stuur. (Daar rym ek al weer!) Vra maar vir Dante.
GU: Die motto van Afdeling ii lui soos volg:
hier leef ons reeds in die ewigheid:
tyd genoeg om lief te hê
en die seisoene te ontsyfer
Verwys die “hier” hoofsaaklik na die Groot-Karoo? Verander die landskap waarbinne ’n digter skryf sy poësie?
DH: Ja, dit verwys na die Groot-Karoo. In my geval het die verhuising hierheen inderdaad ’n groot invloed gehad op my gedigte. Landskappe wat in my vroeër verse opdoem, is dié van Namibië en die Boland. In Takelwerk (2015), my vorige bundel, neem ’n Bolandse akkerboom die sentrale posisie in, hoewel gedigte oor Prins Albert en die Groot-Karoo daar ook al hulle opwagting maak. In Openbare domein is die gedig “Klip” (18) as ’t ware my afskeid van die landskap van my jeug: “die skurwe rantjies rondom Windhoek”.
Al het die landskappe in my poësie verander, dink ek nie dit het ’n wesenlike uitwerking op my styl gehad nie. Dit is moeilik om ’n ou reun nuwe rym-tricks te leer. Hoewel: die vormlose wydsheid van die omringende Karoo-landskap het moontlik die vryer, assosiatiewe gang van “Stoepsermoen” bepaal.
GU: In “Plattelandse kunsles” (52) vind die leser ’n musiekonderwyseres as die spreker se nuwe buurvrou: “maar/ hier en daar kletter die note vals”. Luister jy meestal na die buitegeluide wanneer jy skryf of is daar spesifieke musiek om die digterlike litte los te maak?
DH: Ek kan nie lees, vertaal of skryf terwyl daar musiek speel nie. Dit verbreek my konsentrasie. En aangesien die meeste van my wakende ure in beslag geneem word deur lees en skryf, luister ek selde na musiek. Dit is ’n afgeskeepte aspek van my kultureke vorming, ek weet, maar die stilte in my studeerkamer laat inderdaad toe dat die buitegeluide my gehoorveld binnedring. Daarom kan ek die leivoor buite my venster hoor praat: “die leivoor klater die woord water” (35). Daarom kan ek die swerm spreeus in die peperboom by ons agterdeur hoor:
hulle fladder kwetterend en skerts
met mekaar terwyl skerp bekke
lomp soos eetstokkies kletter (24).
.
En ek kan dieselfde spreeus ook op ons bure se erf hoor:
.
die spreeus kweel ’n cliché
in die kaal populier
maar dit bly ’n soet geluid (26).
.
Maar die buitewêreld lewer ook vals note op sodra die mens inmeng met die natuur. Naas die “musikale kriek” (27) is daar die geblaf en getjank van die “geradbraakte brakke” (30) van die bruin woonbuurt, en die pastoor en sy koor se klankversterkte godsdienstige lawaai (87), wat ontstellend goed hoorbaar is wanneer die noordewind waai.
Die gedig self is natuurlik vir my hoofsaaklik ’n klankkonstruksie – waarin wanklanke ook ’n funksie kan hê.
GU: “Selfie” (65), ’n uitstekende satiriese gedig, lui soos volg:
wanneer ’n bekende sterf, spring
ieder en elk op die lykswa
verkieslik met ’n kiekie paraat
waarop die dooie verleë glimlag
.
(’n lokval was elke openbare plek)
die roubeklaer straal selftevrede
in daardie flitsende sekonde
van ware virtuele roem
.
wanneer ’n bekende sterf, vier
die kleinsielige ego’s fees
skoffel lomp voete op die graf
word die vars lyk grof geskend
.
en die dooie dié gryns verleë
in die lang lens van die vergetelheid
.
Kan jy kommentaar lewer oor hoe bogenoemde gedig ontstaan het? Heilig die doel – sosiale media soos Facebook en Instagram – die middele: Is dit deesdae broodnoodsaaklik vir ’n digter/skrywer om ’n teenwoordigheid op hierdie forums te hê?
DH: Sosiale media verskaf ’n onbeperkte platform vir digters wat nooit ’n papierproduk met eie gedigte in die hand sal hou nie. Dit help skep aan die valse idee dat ’n ieder en ’n elk wat op skool letters leer maak het, poësie kan skryf. Die gevolg is dat daar ’n groeiende skare aspirant-digters is met wrewel in hulle harte oor die literêre hekwagters – veral uitgewerskeurders, maar ook resensente en akademici. Maar dit tersyde. Sosiale media bied ‘n besonder effektiewe manier om digbundels – wat meestal bitter min aandag in die gedrukte media kry – te adverteer.
Die aangehaalde gedig spot eintlik met mense se egoïsme, soos dit op byvoorbeeld Facebook tot uiting kom. Die dood van ’n bekende dien slegs as ’n geleentheid vir selfreklame. Maar die vergetelheid wag vir almal – vir die beroemde sowel as die selfbehepte selfoonkieker.
In die satiriese “Selfportret” (58) betrap ek myself ook op dié soort ekkerigheid. Ek bestudeer graag die boekrakke wat byna altyd op die mediafoto’s van skrywers verskyn
en, moet ek deemoedig bely, ek doen dit
ook louter uit skaamtelose selfbelang:
staan op die vol rak dalk ’n boek van my?
maar tot op hede, selfs met behulp
van ‘n vergrootglas, kon ek g’n enkele kry.
Die enigste effektiewe teenvoeter vir selfbeheptheid is selfspot.
GU: Hierdie vraag sluit aan by vraag 7: in “Die digter as wesp” (59) is die venyn / wraak nie werklik soet nie:
“jou verse is veels te venynig
– veral teenoor ander digters”
het iemand op ’n keer beweer
.
dis waar: met klei en eie speeksel
bou ek sel aan sel waarin woorde
mettertyd vlerke en angels kry
.
tot op ’n kwade dag die betekenis
loskom van die vorm: dan moet
ook ek vir my giftige maaksel vlug
.
Alhoewel bogenoemde verwys na venyn in ’n gedig, vind jy dat meeste van hierdie woede dikwels eers uitspeel op die sosiale media soos facebook? Met ander woorde, het iets soos facebook waar ’n mens onmiddellik iets kan deel, die literêre landskap verander? Word die sogenaamde wraakgedig se angel uitgehaal teen die tyd dat dit gepubliseer word vanweë die onmiddellike uitlaatklep van sosiale media?
DH: Gebundelde wraakgedigte was nog nooit volop in Afrikaans nie – selfs ook voor die koms van die internet. (Dit kan ’n interessante navorsingstema vir ’n nagraadse student wees.) Ek dink dus nie dat die sosiale media enige invloed op die publikasie van hierdie soort gedigte gehad het nie. Dat daar heelwat in hierdie genre op die internet verskyn, is waarskynlik so. Die vraag bly egter of dit enige literêre waarde het.
Die naaste wat ek aan ’n egte wraakgedig in Openbare domein kom, is die driedelige “Onrusbarend” waarin ek oor die briljante maar onbeskofte digter Barend J. Toerien skryf. Die eerste een in die reeks klink so:
sodra jy dink: dis nou die laaste sien
van daardie babbelende blikkantien
duik hy op, onverwag uit Praag of Wien,
die onbeminde Barend J. Toerien.
Daar is nog heelwat gedigte in hierdie trant in my laai, maar ek sal hulle waarskynlik nooit publiseer nie – ook nie op die sosiale media nie!
GU: Daniel, Openbare domein bevat pragtige liefdesverse. Kan jy vir Versindaba-lesers aandui wat (a) Marlene se gunstelingliefdesgedig in hierdie bundel is en (b) die liefdesvers waarvan jy, as digter, die meeste hou?
DH: Marlene se gunsteling is “Danklied” (37). Daarin verwys ek na die twee belangrikste inspirasiebronne van Takelwerk en Openbare domein: onderskeidelik die akkerboom van Stellenberg en die vetplanttuin op Prins Albert. In albei gevalle was sy die fasiliteerder:
eers het jy vir my ’n boom gebied
met gevleueldes se troosgeluid:
na liggaam en gees kon ek genees
van ’n bar onherbergsaamheid
.
daarna vir die oog dié geil domein
wat die tong in beweging bring:
ek loof jou nou vir al die lower
die liefde wat my nuut laat sing.
My gunsteling is “Karoonagte” (32):
snags sluimer ons in die onmeetlike ruimte
van dié ruwe aardklip en sy sterrewoesteny
.
aan muskiet en verskietende meteoriet
uitgelewer droom ons onverstoord tot dagbreek voort
.
terwyl die sonar van vlermuise oor ons waak
en die spreilig van die maan op ons werwe skyn
.
die bemoerde haan sal vroegdag alarm maak
voor die son se rolbos weer oor die vlakte brand.
***