Tussen die abjekte en die eteriese: ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq
Michel Houellebecq
Vertaal deur Henning Pieterse
Michel Houellebecq, wie se poësie as melankolies, pynlik selfbewus en bytend satiries teenoor die lewe en die verbruikersamelewing beskryf kan word, is al die “Baudelaire van die supermark”, of “Baudelaire gekruis met Philip Larkin” genoem. Benewens die liriese en melancholiese aard van sy werk, is talle van die sy gedigte ook uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê.
Ek het op die rivier gedobber
Naby die Italiaanse karnivore
In die oggend was die gras vars,
Ek het koers gekry na die goeie.
Die bloed van klein soogdiere
Is nodig vir balans,
Hul beendere en hul ingewande
Is die voorwaardes vir ’n vrye lewe.
’n Mens vind hul weer onder die gras,
Jy hoef net die oppervlak te krap
Die plantegroei is manjifiek,
Dis so kragtig soos die graf.
Ek het tussen die wolke gedryf
Absoluut desperaat
Tussen die hemel en die slagting,
Tussen die abjekte en die eteriese.
OOR DIE OUTEUR
Michel Houellebecq (gebore Michel Thomas), wat in 1956 op die Franse eiland Réunion gebore is, is ’n kontroversiële en veelbekroonde Franse romanskrywer en digter. Vir aanhangers herinner sy werk aan die tradisie van literêre provokasie soos gevind by Markies de Sade en Baudelaire terwyl kritici soms sy werk as aanstootlik en gemaak-skokkend afmaak. Hoewel Houellebecq sy grootste bekendheid (en berugtheid) met sy romans verwerf het, is dit in sy poësie waar die spanning tussen die verhewe (eteriese) en verwerplike (abjekte) ten diepste ondersoek word. Houellebecq is in 2010 met Frankryk se hoogste literêre toekenning, die Goncourt-prys, vereer vir sy roman La Carte et le Territoire (in Engels vertaal as The Map and the Territory).
OOR DIE VERTALER
Henning Pieterse was reeds as kind bekoor deur die verse en klanke van digters soos Thomas Elliot, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Henning is vanaf die begin van 2016 professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Al behaal hy in 1994 ’n doktorsgraad in taalkunde, is dit veral kreatiewe skryfkuns wat hom na aan die hart lê. Hy debuteer in 1989 as digter met die bundel Alruin wat bekroon word met die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys. Hy publiseer verskeie akademiese artikels en resensies oor aspekte van die linguistiek, letterkunde en kreatiewe skryfkuns, lewer referate by verskeie nasionale en internasionale kongresse en fasiliteer meer as 150 werkswinkels oor skryfkuns landswyd. Hy was voorheen ook direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Musiek is die ander groot liefde in sy lewe en hy het onder meer klavier en klarinet gespeel. Deesdae slaan hy tromme en speel ook die eiesoortige didjeridoe. Hy woon saam met sy lewensmaat, Karen Lazenby, en twee kinders in Bloemfontein.
[R295.00 (BTW ingesluit), Protea Boekhuis, 2018. ISBN (GEDRUKTE BOEK): 978-1-4853-0796-9, FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, 288 pp.]