PSALMS VIR OUPA M’POEN
kom ons buig en soen daai pampoen wat versteende-traan glinster
aan die hemel daar bo
*
alles wat ooit bestaan het
alles wat ooit gelewe het
alles wat ‘n ruimte laat bewe
om ‘n merk te laat
vir die vergeet
van altyd se asem
en daarom vir altyd sal wees
want al manier om die lewe
verby vashou te onthou
is om dit veilig te bêre
onder die pols-sing van maanvergeet –
elke asemteug grasspriet goejop wolk
voëlsang wolk potlood lied
tong en wolk volk
is boeddha my boet pampoen
alles wat bloei tot boeddhawees
is pampoenmaan
en jy net (‘n) bewuswording
om onder
om op
te gaan in die lewe
en so te bly bewe in die dood
jy mag maar huil
want alles huil
in stilte se syn
jy mag maar al uitkringende
sing-sing intiem by nie-syn ingaan
daarom : indien jy boeddha
teenkom op die weg na Kû :
maak hom dood
met al die liefde
van jou vergaanbestaan
en éét daai soetpampoen !
*

*



*
‘n man wat praat
is ‘n besmette man :
om te lewe ‘n daad
van aanvulling van
onomvatbare materialiteit
soos ‘n planeet in beweging gebaan
aanhou verbrokkel
en verdwyn in die niet
en die onvoorstelbare virtualiteit se bestaan :
om stil te wil staan
in die ewigheidsbewing van aanhou vergaan :
om as asem na long te soek
en in vervlieting wat nood is te vloek op die tong
se vlug van verbeelding na die skyn van sin
se daarom-om en om om te om
sonder sang
uit kromme note gehaal
die les te leer :
dat die self ‘n fles is:
leeg gedrink op soek
na syn
se so-ek : die maan-neerslag
van die naam
van die man
wat gedog het dis wyn :
soos ‘n god se piepie
‘n straaltjie pyn
om die leeg
weer vol te kan
skink
met niks
se skyn
van die niet se verdwyn ?
want verby die punt van terugkeer
is pampoen weer pampoen
skoen skoen
soen soen
die seisoen van sterwe
en die hand ‘n ekkende sweer:
is
is-ek
insek
of inkbek ?
moenie
nou wanneer
woordvrek
op hande is
in die hek
wil kak nie
meneer…
voertsek !

*
ons reis en ons reis en ons sien nie / ons pas aan ons maak vuurtjies
ons pak klein klipstapels vir ‘n maat/ ‘n liefde die voorsaat
wat hier en daar gehurk onder ‘n bossie skaduwee
die onverteerde onbekende soos vrees uit die skoot skyt
met die tong ‘n dooie akkedis in die mond
ons vind uit ons maak staan/ kweek begrip
ontleed die klip projekteer abstraksies modelle afmetings
en versin wolke van staal / om die vergete weg te bêre
prakseer woordklosse en klikke as taal skuins gestreep
om die kaal van vreemdelingskap toe te maak / om die tong
in te prent die mond is geskiedenis / siende daar ‘n begin is
en eendag geen einde aan ons na-aping van voëls
net soms kom daar ‘n rilling van einder tot kim
in ‘n ketting lig ver buite enige verwysingsveld
na mensgemaakte mens-owerskap/ dryf die maan
rooi soos ‘n embrio in die stof / van oseane eindeloosheid
kom ‘n wind dieper as strepe se omvatting / lou uit die oerte
van nie-mak-maak bewussyn
en vrek enige pretensie van vlug in ons drome

*
‘n Boom is baie soos ‘n spinnekop. Veral in die doodse stilte tussen ontwaak en syn wanneer dit nog weer heeltemal donker kan word en boom in die ontskemering aangesien mag word vir ‘n groot spinnekop – aandagtig in ingehoue (maar oorgehaalde ?) afwagting. Wanneer dit soos die spinnekop gespin in die web en uitreiking van (en na) aanraking net ‘n trilling van blare is. Die boom is soos die spinnekop oënskynlik immobiel. Dit verplaas sig nie : begrippe van ‘interaksie’, ‘uitreiking’, ‘jag’, ‘opvang’, ‘agtervolg’ en selfs dié van ‘n magsverhouding tussen soeker/verbruiker/plukker en prooi (of is dit kliënt ?), selfs vriend of bondgenoot of bywoner – die insekte, die akkedisse, die voëls – alles word op die kop gekeer. Wie reik uit ? Wie word gevang of verlam ? En waarom ? Omdat dit in die aard van interaksie is ? Kan syn slegs in uitwisseling bestaan ?

Daar is ‘n heilige tydloosheid, streng afgebaken in die ophef van beweging of omgang, wanneer die metafoor dit (of dié) wat vergelyk word snoer en saam laat smelt. Om te sê : die boom is (soos) ‘n spinnekop is dan nié ‘n stylfiguur, ‘n aweregse uitlig van ooreenkomende eienskappe of slegs oëverblinding meegebring deur die sluierdans van taal nie, is dan nie verregaande absurd nie. Dit steek niks oop en verander niks na niks. Dit is dan (en altyd ?) die totaal geïntegreerde vergestalting van die vanselfsprekende wat nie gesê hoef te word om te bestaan nie. Dit is en die beeld sê dit. Of dit is dan vry van begin en selfs ophou en selfs die wette van bymekaarbring. Simbiose. Fusie. Vervlegting in die absolute. ‘n Fluisterwete.
Daar is fluisteroomblikke wat buite die raamwerk van tyd eenvoudig hierdaar is.
En dan kom die dag – lig, opheldering, verafsonderliking, die naasmekaarsit van fenomene en dinge en syne en myne en julle s’n. Dan word die metafoor weer ‘n mes – op onverwagse wyses, want dit skil vanselfsprekendhede en vanselfsprekende hedes bloot – om te kerf of te boor of te boetseer.
So soos taal ‘n verwydering is, ingestel op toenadering en besitname. Maar in die sin van haar wese ‘n vervreemding. ‘n Uitmekaarhaal.
*

*
die aard van bewussyn
die eienaardigheid van bewussyn
die aardse van bewussyn
die aardige van bewussyn
die ontaarding van bewussyn
die ter aarde bestelling van bewusword
*

*
kom ons buig en besing die maan wat soos ‘n traan in die water pampoen

Katalonie, September 2018
© Breyten Breytenbach / 2018

Mal oor “die metafoor weer ‘n mes” – so fantasties “vanselfsprekende”, om nie te praat van:
“So soos taal ‘n verwydering is, ingestel op toenadering en besitname. Maar in die sin van haar wese ‘n vervreemding. ‘n Uitmekaarhaal.”
Vlymskerp, soos mens mos nodig het vir boer- en ander pampoene!
Genoeg om mens te wil laat “buig” en die “maan” “besing” – “wat soos ‘n traan in die water pampoen”!
Al die pampoenpos! Ja, eet liewer pampoensop met ‘n dop! Ons het aan jou gedink by die digtersbyeenkoms in die Breytenbachsentrum.
Baie geluk met nog ‘n groot pampoen verjaarsdag! Mag die beste woordpitte nog jare lank oor en oor geplant word.
Baie geluk en verdere “aanhou vergaan”-verlokkings, Breyten (en met ‘n dop van ‘n dop op die groot pampoen).
Lekker Pampoendag, Breyten. Dankie vir al die ingewikkelde maneuwers oor die jare heen en die woorde wat darem iets vir iemand beteken. Dankie vir daai, Cara Negra.
Van harte geluk, Breyten!
Hartlik geluk met jou pampoendag Breyten. Mag hierdie jaar ‘n ryk oes oplewer.
Veels geluk met die jarigheid, Breyten. Mag die nuwe lewensjaar net pure onverdunde vreugde wees vir jou en al jou geliefdes.
Ek huil so bietjie. Dankie Breyten