Liewe Louis en liewe Marlise,
Dis nie dat digters meer waardevol is as skrynwerkers of vissers of boere of bendelede of universiteitsprofessors of politici of hofnarre nie. Inteendeel, hulle is op die ou einde waardeloos en skadeloos. Maar iewers vergestalt hulle die gesamentlike besef van die mense-spesie se rou en obskure konfrontasie met die wonde en die verwondering van bewuswording en bewuswees op hierdie planeet. Met slegs woorde as metgeselle in die gesels-met-self-en-met-ander. Miskien is dit ‘n aardsinstink om dit wat ons nie weet nie te probeer doodmaak. Al wat ons kan doen is om nie medepligtig te wees nie. Iewers sal Tom Gouws se woorde bly voortklink omdat dit uit die mees primitiewe kennisname van ons gedeelde menslikheid kom. En selfs die meer listige en siniese pogings van Stellenbosch Universiteit se arrogante selfverraaiers om die Kreoolse synskepping, die diepklank van omgang tussen mens en moedertaal, te vermoor (ons is almal die kreolisering van lewe en van dood, van syn en van donkerte), om die base na die mond te praat, sal uiteindelik nie slaag nie. Al word hulle ook aangemoedig deur dié wat leedvermakerig beweer, “ons het julle mos gesê,” of die pragmatiste, of dié wat jil, of dié wat nie wil weet nie. Hierdie stryd om menswaardigheid voor die ewige gedeelde lot, om begrip of die soeke daarna tussen die skimme en die dansers van taal, is vir my die sin van Tom Gouws se reis. Miskien was dit absurd en futiel – maar dit is ons reis. Of ons dit nou wil weet of nié.
Jou gedig vanmôre op Versindaba is ontroerend, Louis. Dankie daarvoor. Ek het nie voorreg gehad om vir Tom Gouws persoonlik te ken nie. Dit was ook nie nodig nie. Vir my is hy ‘n broer en ‘n voorbeeld soos digters/sangers in die wandelgange en kerkers en teen die skuinstes van berge oor die eeue heen in die ritmes van bestaan, elk met haar of sy taal. Hoe anders sou ons kon uitreik na mekaar? Ek is seker Li Bai en Szymborska en Lorca…. skuif op om plek te maak vir Tom Gouws. Mag dit hom goed gaan daar.
Die ‘ek’ waarvan daar sprake is in die volgende hulde-offer is nie ek nie maar generies. En ek probeer nie woorde in Tom Gouws se mond lê of aanspraak maak op bedenkinge wat hy miskien sou gehad het of op sekerhede wat vir hom dalk duidelik was nie.
Sterkte vir julle almal, ons almal – en ons hartseer medelye met sy naastes.
Breyten
gedig vir woorde
dis nie dat ek na julle wat woorde is soek
(sê wié van wanneer ?)
want ek weet julle lê eweneens
agter my bloed kom klop
aan die sinnelose hart wat al lank
‘n eggokamer van vlerkslae is
en jaag soms sillabes op in die donker
soos die ettering van ou swere
weer bloei
luister
moenie blindemol speel
moenie ophou voel-voel na omlyning
van die herinnerde gesig
in die donker bloed nie
ek sal hier wees soos altyd
(effens vervloek van ‘n té lang reis)
in die leë gedig
om verby genade die holtes oop te hou
en die fees van vlervoëls weer verbeel
vir julle huis toe kom
en indien dit dan moet wees
dat ons ons afwesighede aanneem
is dit ook goed
sweer ek hier met my hand op papier
kyk
in die skryflaai van raaisels
is die goëlaar se handkaart gebore
en weggebêre
(myne ? van wanneer af ?)
neem dit
sodat julle die beweging
na mag maak
om aan die skyn
van volbringing te raak
© Breyten Breytenbach. 2018

En Lorca sal plek maak vir Tom, soos Breyten tereg vertel. Al weet ons steeds nie waar Federico begrawe is nie. Wat wys dat die wreedaardighede van hierdie andersins mooie bestaan – die misterie en mooiheid waaroor Gouws so klinkend en intens gedig het – is oor kontinente heen meer ons deelgoed as verdeelgoed.
Breyten, baie dankie vr jou ontroerende gedig. Innige mede-lye met Retha en haar en Tom se bloedkinders. Hulle kroos en sy digwoorde is die na-troos waarin Tom sal voortleef.