Tsead Bruinja – Vertaal deur Charl-Pierre Naude
“liefste, niemand weet …”
(“leave nimmen wit ….”)
deur Tsead Bruinja
(oorspronklik geskryf in Fries. Vertaal uit Nederlands.)
liefste, niemand weet hoe in vroëer lewens ons
mekaar op straat verby geloop of die bus verpas
het met een van ons in jy my suster of moeder
in was en niks van kon kom oor die groot verskil
in jare of ’n geloof wat ons skei die afstand
tussen ons so rotsdig soos ’n kontinent
ek miskien die elemente aan’t troef was om vuur
uit te vind terwyl jy en jou minnaar
aan die oorkant van die oseaan kersies aangesteek het
hou ek jou alweer te styf vas ek voel amper ek druk
jou inmekaar maar ek’s so bly en bedroef gelyktydig
dat daar nooit meer tussen ons sal wees as hierdie heelal
waarin ons nimmer bymekaar kan uitkom nie omdat
dit te klein is vir die verdriet van twee wat een word
liefste laat die tyd ons uitmekaar skeur eendag wanneer ons beurtelings sterf
nou sal ons terugslaan met brûe van woorde
[Uit “leave nimmen wit hoe’t wy yn eandere libbens” in uit die Friesiese digbundel de wizers yn it read, uitgegee in 2000 deur Utjouwerij Bornmeer.]
