’n Ode vir Kodi Lee
“America’s Got Talent,” September 2019
Vir nege maande het jy gespartel
in jou ma se broei-oond.
Toe maak jy jou verskyning
en jy lyk so anders as ander.
Met vae vrae is jou ma na die internis.
Sy verdoemende uitspraak was:
“Die kind is ongeneesbaar: ’n outis.”
Toe weet jou ma: jy is ’n misbaksel.
Dié broodjie het nie gerys nie.
“Waarom, Here, moet ek die hel
en bitter van my eersteling smaak?”
Jou ooglede het jou oë gesluier,
lig het ligweg by jou verbygegaan,
jou tong het woordlomp gestruikel.
“Wat gaan van my word?
Ek het aan alles ’n tekort.
As volslae outis strompel ek
van afgrond tot afgrond.”
Soos Paramenides1 vra ek die godin
om haar leisels in toom te hou
en my syns- en sinvraag te beantwoord:
“Waarom in hemelsnaam is ek gekies
om in die sonwa na die godepaleis te reis?
Ek vrees die Onsienlike sal my verjaag.
Kan ek nie op aarde ’n ligstraal opvang nie?”
In Kodi se stikdonker het die Onsienlike
Hom oor die dwalende seuntjie ontferm
en aan hom die gawe gegee om note
te hoor en met sy klankryke stem te sing.
Op die dag van die groot kompetisie
het Kodi ma-vas onbeholpe rondgewaggel
maar toe wonderbaarlik ’n melodie gespeel
en soos ’n engel gesing, die skare was
asemsnakkend en trane het gestroom.
’n Tydlose oomblik van verwondering.
Kodi ry in die stralende sonwa;
die skare juig – hy is die algehele wenner.
Hy is: Bridge over troubled waters.2
1 Parmenides (rondom 500 v.C) was een van die denkers van die vroeë Griekse filosofie. Slegs die eerste deel van sy wysgerige leerdig bestaan nog. Dit begin mitologies: die filosoof klim in ’n wa wat deur ses merries getrek word. Hulle begelei hom na die god van die Reg.
2 Die lirieke van “Bridge over troubled waters” is deur Paul Simon geskryf.
© Cas Vos. Oktober 2019