N.P. van Wyk Louw 50. Zandra Bezuidenhout

Zandra Bezuidenhout
Klein ode
Ter huldiging van Nicolaas Petrus van Wyk Louw, 2020
Toe Opperman in die jare sestig
Van Wyk Louw se blou-bruin Tristia
op die kateder oopslaan, swaar oorleun
en sy voordrag met ’n sonore stem begin,
was daar iets teatraals in die gebaar.
Die leslokaal het ’n ouditorium geword;
woorde en strofes was bundels lig
wat skuif en kruis
deur die progressie van ’n vers,
met klank gereguleer
deur die gedig se binnewerk.
Hier was een meester-digter
oor ’n ander aan die woord,
en daar was agting.
Elke sillabe in Tristia het gewig gedra;
beelde het gespreek
soos gestaltes in ’n openbaring,
maar die toon was dikwels lig-ironies –
ver van die fraai liriek of serieuse dreun
van literêre vaders.
Sutterland en Wes-Europa
sou mekaar in Louw se oeuvre vind;
met één tong het ’n Karoodorp
en ’n besneeude vasteland
saam Afrikaans gepraat; selfs jaargetye
was figurasies van digterlike dubbelheid.
Vir die seun van Calvinia, filosoof
en geleerde held wat eenmaal
na ’n dorpsdam sou terugverlang,
was hartstog en verstand
knooppunte in sy poësie.
Die ontmoeting was ’n kantelpunt,
vir jong studente die oopbreek
van ’n onontdekte korpus.
Voortaan sou ons anders lees,
stipter en ruimer;
ons moes die edel spel leer ken,
en die gedig as distillaat.
Wyk – vergeef die intimiteit –
maar vir my was jy die animus,
Raka en Koki tegelyk.
© Zandra Bezuidenhout 2020
Ons lewe almal (en sterwe almal) – oppervrou en opperman, voorbidder en bedelaar, dienskneg en -maagd, professor en profeet, woorddief en skarlakenlakenmaat… – binne die riglyne van vryheid van dieselfde Wyk.
Dis vertroostend om ‘n Oubaas te hê. Of ‘n Outop. Of ‘n ou pêl. Of ‘n Ousie. of ‘n verslete engel. Veral wanneer dit donker word in die dorp en ons wonder wie de hel het ons vertel dit word weer môre.
‘n Mooi gedig, Zandra! Ek het ook by Opperman klas gehad oor Tristia en was verstom dat hy so ‘n hermetiese kluis so gemaklik en grinnikend kon ontsluit. Maar hoekom noem jy VWL ‘n “seun van Calvinia”?
Dankie Breyten en Daniel vir jul kommentaar. Hmm, Daniel, oor die kwessie van Calvinia: Van Wyk Louw het baie groot dele van sy seunslewe op sy oupa Louw se plaas in die Calvinia-distrik deurgebring, waar hy die omgewing, leefwyse, en allerlei aspekte van die plaas en natuur, familie, ens. geïnternaliseer en dikwels in sy werk aangewend het. Miskien kon ek liewer “kleinseun van Calvinia” of iets in dier voege geskryf het. Soos jy sien, het ek nietemin die spreektalige “Sutterland” (sy geboortedorp) by my gedig ingewerk. Groetnis. Zandra
Dankie, Zandra, vir die uitleg. Gelukkig was Louw nooit ‘n seun van Calvyn nie!
Roggeveldse seun
issie van die of daai
is orie presies onthou en fyn verdig
(uit oujaar-Parys)
van kleintydse mens en dier en blom en plant
daar warie spekblom aanhou spou
(al weet g’neen meer van “spou”
of horlosieblomse-wortel-innie-klip-inslaanse -blou)
issie orie groot gedoe of luid opgee
offie groot woorde
is orie geheugenis
die presíés onthou
van wíé en wát en hóé innie innertydse Roggeveldse Kro
deurie oorsee-wonende geleerde man
middel-van-sy-lewe op droë grond
tóé het hy skielik
als gebaai gesien innie helder lig
toe die klippie-op-die -rots-gekap
begin split
bly split
oopskeur
donker wortel toe
tot by die wig
tussen “hul”en “ons”
al langs
die donker
naat
Lieflike gedig, Lizzie!
Dankie, meneer Hugo.
Komende van u as ou hand, ‘n grote eer.
Dankie, Lizzie, vir taalblomruiker uit die Roggeveld wat jy bring vir die vieringgeleentheid!
Kolskoot, Lizzie, en dankie!