Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 January 20209 January 2020

N.P. van Wyk Louw 50. Zandra Bezuidenhout

Zandra Bezuidenhout

Klein ode

Ter huldiging van Nicolaas Petrus van Wyk Louw, 2020

 

Toe Opperman in die jare sestig

Van Wyk Louw se blou-bruin Tristia

op die kateder oopslaan, swaar oorleun

en sy voordrag met ’n sonore stem begin,

was daar iets teatraals in die gebaar.

Die leslokaal het ’n ouditorium geword;

woorde en strofes was bundels lig

wat skuif en kruis

deur die progressie van ’n vers,

met klank gereguleer

deur die gedig se binnewerk.

 

Hier was een meester-digter

oor ’n ander aan die woord,

en daar was agting.

Elke sillabe in Tristia het gewig gedra;

beelde het gespreek

soos gestaltes in ’n openbaring,

maar die toon was dikwels lig-ironies –

ver van die fraai liriek of serieuse dreun

van literêre vaders.

 

Sutterland en Wes-Europa

sou mekaar in Louw se oeuvre vind;

met één tong het ’n Karoodorp

en ’n besneeude vasteland

saam Afrikaans gepraat; selfs jaargetye

was figurasies van digterlike dubbelheid.

Vir die seun van Calvinia, filosoof

en geleerde held wat eenmaal

na ’n dorpsdam sou terugverlang,

was hartstog en verstand

knooppunte in sy poësie.

 

Die ontmoeting was ’n kantelpunt,

vir jong studente die oopbreek

van ’n onontdekte korpus.

Voortaan sou ons anders lees,

stipter en ruimer;

ons moes die edel spel leer ken,

en die gedig as distillaat.

 

Wyk – vergeef die intimiteit –

maar vir my was jy die animus,

Raka en Koki tegelyk.

 

© Zandra Bezuidenhout 2020

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nuwe publikasie: Arsenaal van klank (Anna Enquist)
N.P. van Wyk Louw 50. René Bohnen →

9e gedagtes oor “N.P. van Wyk Louw 50. Zandra Bezuidenhout”

  1. Zandra Bezuidenhout says:
    13 January 2020 at 11:45

    Kolskoot, Lizzie, en dankie!

    Reply
  2. Bernard Odendaal says:
    12 January 2020 at 16:31

    Dankie, Lizzie, vir taalblomruiker uit die Roggeveld wat jy bring vir die vieringgeleentheid!

    Reply
  3. Daniel Hugo says:
    11 January 2020 at 13:33

    Lieflike gedig, Lizzie!

    Reply
    1. Lizzie Jantjies says:
      12 January 2020 at 07:57

      Dankie, meneer Hugo.
      Komende van u as ou hand, ‘n grote eer.

      Reply
  4. Lizzie Jantjies says:
    11 January 2020 at 11:23

    Roggeveldse seun

    issie van die of daai
    is orie presies onthou en fyn verdig
    (uit oujaar-Parys)
    van kleintydse mens en dier en blom en plant
    daar warie spekblom aanhou spou
    (al weet g’neen meer van “spou”
    of horlosieblomse-wortel-innie-klip-inslaanse -blou)

    issie orie groot gedoe of luid opgee
    offie groot woorde

    is orie geheugenis
    die presíés onthou
    van wíé en wát en hóé innie innertydse Roggeveldse Kro
    deurie oorsee-wonende geleerde man
    middel-van-sy-lewe op droë grond
    tóé het hy skielik
    als gebaai gesien innie helder lig

    toe die klippie-op-die -rots-gekap
    begin split
    bly split
    oopskeur
    donker wortel toe

    tot by die wig
    tussen “hul”en “ons”
    al langs
    die donker
    naat

    Reply
  5. Daniel Hugo says:
    11 January 2020 at 05:59

    Dankie, Zandra, vir die uitleg. Gelukkig was Louw nooit ‘n seun van Calvyn nie!

    Reply
  6. Zandra Bezuidenhout says:
    10 January 2020 at 20:58

    Dankie Breyten en Daniel vir jul kommentaar. Hmm, Daniel, oor die kwessie van Calvinia: Van Wyk Louw het baie groot dele van sy seunslewe op sy oupa Louw se plaas in die Calvinia-distrik deurgebring, waar hy die omgewing, leefwyse, en allerlei aspekte van die plaas en natuur, familie, ens. geïnternaliseer en dikwels in sy werk aangewend het. Miskien kon ek liewer “kleinseun van Calvinia” of iets in dier voege geskryf het. Soos jy sien, het ek nietemin die spreektalige “Sutterland” (sy geboortedorp) by my gedig ingewerk. Groetnis. Zandra

    Reply
  7. Daniel Hugo says:
    10 January 2020 at 18:10

    ‘n Mooi gedig, Zandra! Ek het ook by Opperman klas gehad oor Tristia en was verstom dat hy so ‘n hermetiese kluis so gemaklik en grinnikend kon ontsluit. Maar hoekom noem jy VWL ‘n “seun van Calvinia”?

    Reply
  8. Breyten Breytenbach says:
    10 January 2020 at 08:50

    Ons lewe almal (en sterwe almal) – oppervrou en opperman, voorbidder en bedelaar, dienskneg en -maagd, professor en profeet, woorddief en skarlakenlakenmaat… – binne die riglyne van vryheid van dieselfde Wyk.

    Dis vertroostend om ‘n Oubaas te hê. Of ‘n Outop. Of ‘n ou pêl. Of ‘n Ousie. of ‘n verslete engel. Veral wanneer dit donker word in die dorp en ons wonder wie de hel het ons vertel dit word weer môre.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d