Onderhoud met Gisela Ullyatt (Die waarheid oor duiwe)

René Bohnen gesels met Gisela Ullyatt oor haar debuut,

 Die waarheid oor duiwe

RB: Gisela, hartlik geluk met jou pragtige debuut, Die waarheid oor duiwe

Die bundel is ontroerend en uiteindelik ook ontredderend. Ek het gedwonge gevoel om sleutelbegrippe breedvoerig na te slaan. Die soekresultate gaan my nog lank laat wakker lê. Die mees ontstellende ontdekking was dat duiwe die selfherkenningstoets (the mirror test) slaag –  alles wat hulle beleef en waarneem, beweeg deur ‘n bepaalde bewustheid. Dit was vir hierdie leser geen troos nie.

Hoe lank het jy aan die bundel geskryf? Wat was jou inspirasie vir die titel?

GU: Dankie, René. Ek is so gewoond daaraan om onderhoude met digters te voer en nou sit ek aan die ander kant van die tafel… ek moes my innerlike vere regskud  vir hierdie eerste vlug.

Hierdie bundel is die  kulminasie van 27 jaar se skryf. Ek het as ‘n hoërskoolkind my eerste “ernstige” gedigte in 1992 begin skryf, omdat ons onderwyseres siek was vir die dag en ons onsself in die tikklas moes besig hou (waar is die dae wat “tik” slegs verwys het na die aksie op ‘n pre-historiese masjien?) Dit was ook in daardie jare wat Sonkring ‘n nuwe TV-reeks was waarin die hoofkarakter, Maryna (Anna-Mart van der Merwe), se tragiese lewe as ‘n jong digteres (toe is daar nog nie na die gender-neutrale begrip, digter, verwys nie) uitgespeel het. Ek was gaande oor die karakter en haar gedigte en kon my heeltemal identifiseer met haar. Voor dit was daar nog nooit ‘n Afrikaanse vrouekarakter op die kassie waarmee ek kon identifiseer nie.

My eerste manuskrip het ek in 2003 gestuur, wat natuurlik afgekeur is. Daarna het ek in 2008 weer een gestuur, waarna ek in 2014 weer probeer het en toe ten minste keurverslae ontvang het. As ek nou na hierdie ellelange proses kyk, is ek egter dankbaar dat die manuskrip nie goedgekeur is vir publikasie die eerste twee kere nie. Ek het tussen elke nuwe weergawe (ek kan nie meer tredhou met die hoeveelheid kere wat dit verander het oor die jare nie) asemgeskep en nuwe gedigte geskryf, party gedigte uitgelaat. My gedigte het eksponensieel gegroei en ek het ook kritiese vaardighede aangeleer, iets wat my nou handig te pas kom wanneer ek na ander se gedigte en manuskripte kyk.

Wat die titel aanbetref: ek het een laat-oggend op die bed gesit, so ‘n paar maande nadat ek vir vyftien dae in die hospital opgeneem is. ‘n Gebeurtenis uit my kinderdae het soos een van daardie ou parkeermeters vanuit my onbewuste opgespring (o, hoe het ’n mens nie daardie rooi metaalskyfie met “time expired” gevrees nie…). Die beeld van die duiwehok was so sterk, asook die verlies daarvan. Ek het dit maklik neergepen en die titel was eers in die gedig, waarna ek die reël verwyder en dit as titel benut het. So ‘n ruk later het ek besef dat ek die nuwe titel van die manuskrip gevind het. Dit was goed en ek het intuïtief geweet dat ek bereid was om vir hierdie titel te baklei: een van die vroeë keurverslae het aangedui dat daar nie genoeg duiwe in die manuskrip was om die titel te regverdig nie. Maar as jy mooi lees, sal jy die duiwe dikwels hoor koer vanuit die die bladsye…

RB: Die voorblad is tegelyk broos en onheilspellend. Vertel ons asseblief meer hieroor. Het jy jou in die bundelkomposisie  laat lei deur die bekroonde kunswerk van Toni Pretorius, of het jy agterna eers besluit die porseleinduif pas op jou omslag? Het jy dalk spesifieke gedigte geskryf na aanleiding van Pretorius se kunswerk met keramiekduiwe?

GU: Nadat ek my titel gevind het, het ek byna dadelik die konneksie met Toni Pretorius se porseleinwerk gevind. Sy was indertyd  ‘n dosent in kuns by Midrand Graduate Institute in Bloemfontein, en ‘n kollega van my man, Tony wat Engels daar gegee het vir ‘n paar jaar (ja, Jung sou oor die naam-sinchronisiteit glimlag). Ek was verlief op die broosheid van haar werk, maar ook die amper makaber skoonheid daarvan. Sy skep ook die mooiste porseleinjuwele.

Ek het dus eers die gedig geskryf waarna ek die verband met haar kuns gemaak het. Toe ek gehoor het dat my manuskrip aanvaar is by Protea, het ek spoedig in verbinding getree met haar oor ‘n kommissie. Nog ‘n sinchronisiteit is dat sy toe besig was om te werk aan ‘n uitstalling saam met ander kunstenaars wat moes handel oor voëls: nadat ek haar vertel het oor my idee, het sy gesê dat sy beslis ook ‘n paar duiwe by haar bird-repertoire by die uitstalling sou voeg. Jano Myburgh, die fotograaf, het die duiwe van verskillende invalshoeke afgeneem en kon ek dus kies watter ek mee wou werk nadat ek die foto’s by hom gekoop het. En die bandontwerp deur Hanli Deysel is natuurlik vir my duiselingwekkend lieflik.

RB: Kom ons kyk vinnig na die bundelstruktuur en voorkoms. Afdeling 1 bevat treffende elegiese verse saam gegroepeer, maar die dood is ‘n ononderbroke weefdraad deur die hele bundel, ons vind in Afdeling 6 weer elegiese gedigte, nou aan bekende figure.

Op watter temas fokus jy? Hoe het jy die sewe ongetitelde  afdelings georden en die indelings bepaal?

GU: René, ek het deur die jare op dinge gefokus wat my verontrus, wat my persoonlike lewe ontwrig of verander het. Die Boeddha praat altyd van efemeerheid, verganklikheid, en dat niks (goed of sleg of enigiets tussen-in) ooit vir ewig is nie. Soos ek ouer word, voel ek hierdie waarheid aan lyf en siel.

Ek dink nie juis aan temas wanneer ek dig nie, behalwe as ek gevra word om by te dra vir ‘n spesifieke rede, soos ‘n kompetisie. Omdat dit my debuut is, is daar gedigte wat uit my hoërskooldae dateer (natuurlik herskryf deur die dekades), uit my grungy studentejare, my laat-twintigs, my dertigs en minder as ‘n handjievol uit my vroeë veertigs.

Die ordening van gedigte is altyd ‘n tameletjie, veral as sekere gedigte binne meer as een tematiek of afdeling kan val. Ek druk gewoonlik die gedigte uit en maak hopies op die vloer en verdeel die gedigte tussen hierdie hopies. Dan kyk ek watter hopie moet byvoorbeeld die eerste afdeling wees, ensovoort. Dit vat gewoonlik die hele dag om so ‘n “Operasie Manuskrip” uit te voer.

RB: Die bundel open met die titelgedig, wat die gemoedstemming van die bundel vestig. Jou effektiewe benutting van klank word goed daarin geïllustreer, asook fyn waarneming van klein besonderhede wat jy gebruik om atmosfeer te skep. Dwarsdeur die bundel het ek groot genot gehad aan die ryk aanbieding van visuele en ouditiewe prikkels. Hoe ervaar jy jou sintuie tydens die inkubasie van gedigte en hoe verloop jou skryfproses?

 

die waarheid oor duiwe

 

daar trek die bure in my agtste jaar
na ’n swanky suburb anderkant
brandkopbrug en los hul duiwehok
by die kweperbome in ons agterjaart

die hok my ogiesdraadkasteel
die lemoenduiwe royalty

eers hou ek hulle dop
deur skrefies en gaatjies beloer ek
gesnaweldes later klim ek versigtig in
sit op flertse duiwemis bestudeer die saad
in die hoop dat hulle uit my hand sal vreet

ek betas flets eiertjies
knus in houtkasnessies
hulle laat my gloei

ek aanskou die fights die jagsheid
die ongenaakbare fladdering

die swanky bure het na ’n ruk
hul not-so-swanky hok kom terugvat
en net ’n leë vierkant
op die vergeelde gras gelos

GU: Ja, jy is korrek met die “visuele en ouditiewe prikkels”. Wanneer ek aan ‘n gedig begin skryf is dit gewoonlik óf ‘n visuele prikkel óf ‘n beeld uit die onderbewuste óf uit ‘n droom. Soms is dit ‘n frase waarmee ek wakker word waarvan die klank die gedig se struktuur bepaal. Klank in ‘n gedig is vir my allerbelangrik: dit moenie soos verkapte prosa lees nie. My sintuie is baie sterk terwyl ek op ‘n gedig fokus: ek hoor die ritme, ek lees dit oor en oor hardop om te hoor waar ek struikel. As jy struikel oor woorde, hersien dit en skryf daardie dele oor. Soms is dit net ‘n woord of twee wat omgeruil moet word, ander kere versreëls of selfs strofes.

RB: Die ek-spreker in die laaste gedig is herkenbaar die ek-spreker in die eerste gedig. Die droomplek was van die begin af ‘n gebroke paradys vol duiwe en ‘n dogtertjie met ‘n kasteel vol gate (“ogiesdraadkasteel”).

 

nawoord

(met ’n naaldwerkskêr het ek
al daardie duifeiertjies
oopgeknip ’n paar duiwe
laat uitvlie per ongeluk
ek en die kweperbome
het gekonsulteer getreur
maar van my duiwehok kon
ek myself nimmer losfletter)

Is die bundel dalk soos ‘n labirint, waar die ingang en uitgang dieselfde plek is, met kronkels en draaie die pad tussen-in, soos een van die haikoes in afdeling 5 beweer?  Bladsygewys dink ek “sneeukoningin” is die middel van die bundel. Dit is ‘n gedig waarin die skildery ook ‘n spieël is. As motto dra dit die veelseggende slotreëls van To the lighthouse deur Virginia Woolf. (“Yes, she thought, laying down her brush in extreme fatigue, I have had my vision”). Is hierdie die middel van die labirint, waar insig, verligting en ommekeer dikwels plaasvind?

GU: Dis ‘n skerp waarneming dat die programgedig en die eindgedig se spreker identies is.

Ek weet nie of daar insig, verligting of ommekeer plaasvind in die middel nie, maar dalk eerder ‘n oopskryf van jeugdige verhoudings wat nie uitgewerk het nie of sogenaamde “love lost”, asook die skryfproses wat soms ‘n doolhof word waarin die digter self verdwaal. Ek het bykans vir tien jaar geen gedigte kon skryf nie en het my telkens in ‘n doodloop in die doolhof van my lewe op die daardie stadium bevind.

Hopelik is die eindproduk egter meer van ‘n labirint waarin die leser nie te veel sal verdwaal nie. Of dalk is verdwaal ‘n goeie ding, gedigte moet tog ook uitdaag en tot bepeinsing lei.

RB: Die sterk spel met interteks en intrateks in die bundel is opvallend en word onder andere ook ars poëties aangewend. Die bundelmotto is uit vlugskrif van Johan Myburg : 

 

Die dae het onrustig geword
met die pote van duiwe
op die windgrys dak

dit het onherroeplik winter geword

Só tree die gedig “winter” priemend in gesprek met die bundelmotto:

 

winter

winter is onversadigbaar
in blomloosheid in duifkarkasse
soos ‘n grysaard mompel die wind
deur gaas in die spens die laaste lig

geleidelik verdof die middag tot igloo
ek skryf sondag-gedigte
aan die naderende koue
die koolstoof troetel
geheime teen die sneeu

gedigte nes emmers
vang vuil sneeu op
om te vries
vir volgende jaar se somer

Hierdie is maar een van ‘n hele paar ars poetica’s in die bundel. Elkeen beeld ‘n ander faset uit. Wat is jou gedagtes rondom poësie as beswering en vertroosting? Hoe oorvleuel dit, al dan nie, met jou rol as literator?

GU: Weereens het die vleis mooi skoon en sag van die been afgeval met betrekking tot die bundelmotto: ek het Johan se debuut eers in 2018 raakgeloop op bidorbuy. Die oomblik toe ek hierdie gedig gelees het, kon ek eenvoudig nie glo dat dit so moeiteloos skakel met eie tematiek nie: dit was ‘n beeldskone moment. Wat dit egter nóg meer spesiaal vir my gemaak het, is dat die gedig op die 15e Desember 1977 geskryf is, presies ses maande nadat ek gebore is. Ek kon natuurlik hierdie “toevallige teken” (dankie, Martjie Bosman) nie ignoreer nie. “Winter” is ‘n gedig wat ek reeds as student geskryf het, seker so tussen 1997 en 1998. Dit het my dus twintig jaar geneem om ‘n gepaste bundelmotto te kies wat skakel met die duiwe- tematiek. Wat seg Hannibal Lecter vir Clarice Starling in The Silence of the lambs? “Everything comes to those who wait”. Ek reken ek het seker maar onbewustelik hierdie raad gevolg!

Op jou vraag oor die digkuns as beswering: ek glo vas dat digters siek raak (emosioneel en fisies) wanneer hulle nié hulle digkuns uitleef nie. Daar is beslis ‘n verband tussen wat die bekende mitoloog, Joseph Campbell gesê het – “follow your bliss and the rest will follow”  –  en die geestesgesondheid van iemand wat bedoel is om te dig. Ek het dit self ervaar deur die jare: die tye wat ek vasval in die slyk van burokrasie en admin by die werk, wanneer ‘n mens bedreig word deur die sneeustorting van merkwerk, studenteopstande, die druk om akademiese artikels uit te rol vir die worsmasjien van die akademie, en besnoeiings van poste: dit is dan wanneer jy “under the pink” raak, om Tori Amos aan te haal.

Wat die oorvleueling van literator en digter aanbetref: ek sien myself nie juis as ‘n literator nie, altans nie een in die klas van ’n Louise Viljoen, ’n Joan Hambidge of ’n Hein Viljoen nie. Wat egter soms moeilik is, is die rol van resensent, omdat ‘n mens as digter so bewus is van hoeveel arbeid, bloed en derms in ‘n bundel ingaan. Dit is dus moeilik wanneer jy ‘n kritiese standpunt moet  inneem teenoor ‘n bundel, omdat ‘n mens as digter weet hoe moeilik en terleurstellend kritiek ten opsigte van ‘n mens se skryfwerk is. Ek probeer dan die rol van die resensent/kritikus skei van die digterlike ek of die persoonlike ek, anders sal ek nooit ‘n eerlike resensie kan skryf nie. Die rol van die resensent laat my soms dink aan dié van ‘n geneesheer: jy is die oordraer van slegte, sowel as goeie nuus nadat byvoorbeeld bloedtoetse of skanderings gedoen is of ‘n operasie. Dit help nie as die dokter vir jou lieg nie, hy/sy moet jou help om ‘n oplossing te vind vir wat ookal skeel. Ek glo dieselfde geld vir ‘n kritikus: jy moet begrond wat jy krities uitlig en dit professioneel doen, sonder om persoonlik te raak. ‘n Mens moet ook oppas dat ‘n klein letterkunde soos ons s’n nie te self-congratulatory raak nie, anders gaan ons digters nooit kan groei nie.

RB: Veral Afdeling 2 bevat gedigte oor mediese situasies.  Soms wend jy humor aan in die sketsing van banale omstandighede van die pasiënt, soms is daar ‘n somber aanklag teen die medici. Die intieme ruimte van die liggaam word telkens oopgevlek tot geskende gebied. Menige leser sal saam met die digterspreker die ervarings van waarneming en belewing deel, wat jy so skrynend skets. Menige leser sal ook groot waardering hê vir jou onsentimentele aanslag en gebrek aan moraliserende insigte. Die gedig waarin “pa” aangespreek word,  “intensiewe sorg” op bladsy 30, is besonder aangrypend.

 

intensiewe sorg
 

die tempel
 

die offerlam lê
op die intensiewesorg-altaar
tussen blêrende masjiene
priesteresse in uniforms gluur jou aan
tussen steriele wagtorings van grafieke en lêers
 

stilte word met elke hartklop opgehef
die dood is ’n raserige ou vrou
by die deur rammel sy oumensgebede af
waarna niemand wil luister nie
die oubaas langs jou hyg
in sy suurstofmasker
hurk die donkerte
 

almal is verkneg in kampies van glas
 

in ’n ritueel van antiseptiese seep
was ons hande voor besoektyd
ons wag dat die voorhangsel ooptrek
voordat ons die allerheiligste binnekruip
waar akoliete waak
 

pa jou hartmonitor prewel
elektronies in tale van babel
oral pieng en piep dit op die skerm
jou hartsake is geen geheim meer nie
 

die skrif is aan die muur
ek kyk
na besoekers in die kafeteria
ek hoor
die mure van jerigo val

 

uittog
 

besoeke later is jou lyf
se gevlekte grysheid
skoongespoelde tinte van appelkoos
versigtig skeer jy soggens weer
met ’n altaarkelk water
 

in hierdie saal van die allerhoogste
verlang jy na jou en ma se houtskipbed
van veertig huweliksjare
 

jy is ’n piramide van rites en stiltes
jou papirusboot navigeer jy
uit die rietlandskap se slik
 

pa jy is ’n heilige kewer
skuifel-skuifel
reis jy die skitterende dagbreek in

Vertel ons meer oor hierdie hartseer beeldende gedig in twee dele, wat tempel en uittog heet?

GU: René, ek is bly dat jy die “siekte”-gedigte as sulks ervaar het: as digter probeer ek my debiete en krediete balanseer deur nie té afstandelik te skryf nie, maar aan die ander kant moet ‘n mens ook nie in selfbejammering verval nie.  ‘n Digter soos Ernst van Heerden is ‘n groot voorbeeld van hoe daar met siekte en die navrante skending van ‘n lyf deur amputasie omgegaan word sonder soetlike sentimentaliteit. Iemand soos Beverley Rycroft wat die Ingrid Jonkerprys in Engels gewen het ‘n paar jaar terug, se debuut, Missing, is nog ‘n voorbeeld hoe iemand oor borskanker geskryf het. Dis tough stuff, honey. Sy draai geen sentimentele doekies om nie.

Wat my gedig “intensiewe sorg” aanbetref: dis uiteraard outobiografies, maar met die inkleding van Oud-testamentiese praktyke soos die offerlam; die hospitaal as die Allerheiligste waar die Ark bewaar word. Net priesters mog deur die Voorhangsel gaan, net soos die spesialiste en intensiewe sorg-susters (noem ‘n mens die manlike personeel broeders?) beheer neem oor lewe en dood en die besoeker soms laat voel dat hulle nie welkom daar is nie en dat hulle geliefde nie meer aan hulle “behoort” nie.

Die tweede deel van die gedig utiliseer beelde uit die Egiptiese mitologie, wat dan uiteraard verder terugbeweeg in die geskiedenis, maar vir my ‘n meer mistieke element bevat. My pa het Oud-Testamentiese studies en Egiptiese doodsrites bestudeer nadat hy afgetree het as deel van ‘n meestersgraad in Religieuse Studies, vandaar die spesifieke metafore wat by my opgekom het toe hy in intensiewe sorg met hartversaking in Rosepark Hospitaal in Bloemfontein beland het. Hy het dit wonderbaarlik oorleef, vandaar die metafore en beelde wat ek aan die einde van deel twee aanwend.

RB: Jy en Kurt Cobain is deel van die X-generasie, Gisela, en jou gedigte oor hierdie grunge ikoon tref met hul outentiekheid. Ek ervaar jou taalgebruik in die bundel dan ook as heerlike grunge-Afrikaans –  ryklik besprinkel met akademiese begrippe en wetenskaplike terme. Musiek is taal en taal is musiek.

Die Barney Simon Show, Courtney Love, Neil Young  en kinderspelliedjies maak ook hul opwagting in die bundel saam met Cobain. Watter rol speel musiek in jou digkuns? Luister jy na musiek terwyl jy skryf? Moes jy lank soek na jou eie stem?

GU: Wat ‘n in-die-kol term, Grunge Afrikaans en ja, ek is ten volle generasie X. Musiek is integraal tot my alledaagse lewe. Die Kurt Cobain gedigte in die bundel is geskryf nadat ek aan ‘n blog oor Kurt Cobain gewerk het vir Versindaba in 2013. Ek het vir ‘n week of twee basies net teruggegaan na al my Nirvana CD’s en slegs na dit geluister. Vir my is musiek gekoppel aan in watter gemoedstoestand jy jou bevind en help musiek my om die nuanse te vind vir wat ek wil skryf. Dit help veral ook wanneer ek my gedigte moet hersien: die musiek wat daaraan gekoppel is, help my om my terug te verplaas na die oorspronklike toonaard van die gedig. Uiteraard is daar tye wat ek ook in stilte skryf, maar omdat die moderne lewe so raserig is, is dit onbegonne om ‘n stil plek te vind waar ek kan konsentreer.

Dit was nog nooit moeilik om my eie stem te vind nie. Ek dink ‘n digter het egter verskeie “stemme” wat oor die jare en dekades ontwikkel, en elk is op daardie oomblik outentiek.

RB: Van Kaddisj tot Kurt Cobain (in Afdeling 4 en Afdeling 6, onderskeidelik). Enige gedig oor Cobain gaan outomaties sy lirieke, uitsprake en laaste brief aktiveer.  Buiten jou vernuftige aanwending van die Nirvana-begrip in die Cobain-gedig op bladsy 63, het dit my ook opgeval hoe die prysgebed, die rougebed en die roulied mekaar eggo in gedigte wat op die oog af uiteenlopend is. Ontgogeling is duidelik in al twee die sterk slotte ter sprake. 

 

kaddisj vir kristallnacht
 

november is die maand
van drome elkeen helder
soos kristallnacht se skerwe

my koffers bly agter
op trietsige perronne
my gedagtes verloop in veetrokke

moedernaak marsjeer my woorde
na ’n donker toring
van rook

waar niemand
die droom oorleef nie
 

 kurt cobain unplugged
 

jy krimp weg
in ’n oorgroot knooptrui

jou lewe
kringfluit soos jou laaste mikrofoon 

die hees windbars in jou stem
nou ’n finale knalsein 

jou kerse en stargazer-lelies
wag geduldig op jou heart-shaped box

jou eie grunge
het jou ingehaal

want jesus roep jou nie meer
vir ’n sonstraal nie

  

Ek moét vra: watter gesprek vind plaas as ek hierdie twee gedigte naas mekaar plaas, Gisela?

GU:Dis ‘n interessante verband wat jy hier trek, René. Ek het die twee gedigte jare uitmekaar geskryf: “Kaddisj”, hier so in die vroeë 2000’s rond en die Cobain-gedig, in 2013. Die Holocaust is vir my iets wat my diep ontstel, tot die punt waar ek nie meer boeke lees daaroor of video’s op Youtube daaroor kyk nie. Ek het dosyne boeke daaroor gehad en elke moontlike dokumentêr daaroor gekyk oor die jare. Die gedig daaroor wat eintlik ook ‘n tipe ars poëtika is, is om die Holocaust van die mind daar te stel, want dit is in die kop wat alle boosheid en lyding ontstaan.

Kurt Cobain het op ‘n ander manier gely: hy had sy hele lewe ‘n erge maagkondisie waarvoor geen geneesheer ‘n oplossing kon vind nie: hy skryf in sy dagboek dat die pyn met tye so erg is dat hy net van hierdie aarde af wil verdwyn, om nooit weer terug te keer nie. Ek dink dit het ‘n groot rol gespeel in sy depressie en sy heroïenverslawing. Dalk is hierdie ‘n kort kaddisj vir hom.

RB: In die bundel se voortgesette oopvlekking van die waarheid oor duiwe, tref die leser ‘n hele aantal motto’s by gedigte aan. So is daar die reeksgedig “vir ‘n uiltuin” in afdeling 1, wat ‘n aanhaling van William Blake as motto het en dan reëls van Omar Khayam as onderafdelings gebruik. Ons vind ook verskeie sitate in die gedigte, wat die leeservaring betekenisvol impakteer. Al hierdie wegwysers lei die leser na simboliese moontlikhede en vou die bundel intertekstueel oop.

Is ek reg as ek beweer dat jy op hierdie manier spanning skep tussen verskillende waarhede, Gisela, en dat die leser ‘n ontstuimige vlug te wagte kan wees?  Ek wonder ook hoe jy te werk gegaan het in jou keuses: wanneer was die gedig eerste en was die motto soms die inspirasie? Gebruik jy motto’s oor die algemeen dikwels as wegspringplek vir jou skryfwerk?

GU: Elke sitaat wat in bogenoemde gedig voorkom, kan in die Uilhuis gevind word. Ek laat dit aan lesers oor om elkeen op te spoor, as hulle sou belangstel. Ek het ‘n insiggewende boek oor Helen Martins gelees, genaamd This is my world. The Life of Helen Martins, creator of the Owl House (1997) deur Susan Imrie Ross. Dit het hierdie aanhalings uitgelig en hoe en waar hulle in haar huis gevind is. Ek het ook die Uilhuis in 2011 besoek en dit was lewensveranderend. Miss Helen se energie kraai nog koning in haar huis en oor die werf heen.

Gewoonlik skryf ek die gedig eerste, waarna die motto na die pype van die gedig dans. Ek het byvoorbeeld die Uilhuis-gedig as een lang gedig geskryf, waarna ek dit gedurende die hersieningsproses in kort dele opgedeel het, elk met ‘n aanhaling wat na aan haar hart was.

Ek dink nie ek het probeer om onstuimigheid in die bundel te skep nie, dit het bloot maar so by my aangekom. Ek dink dis soms goed vir lesers om die witwater van ’n gedig te ervaar in plaas daarvan om in die slik en waterplante vas te val.

RB: In verskeie gedigte word religieuse begrippe aangespreek, gekritiseer of selfs verwerp. Verskillende godsdienste word onder die loep geneem, hetsy uit die ek-spreker, die digterspreker of ‘n ander karakter se oogpunt.

Hoe kulmineer hierdie ondersoeke in die kort gedig “urban hymn” op bladsy 82  – wat Walt Whitman se woorde oor liggaam en siel oproep? Dit tref my ook dat “urban hymn” die laaste gedig in die bundel sou wees, as dit nie vir die nawoord was nie. Hoe beduidend is hierdie plasing in die bundel?

 

urban hymn


daar was ’n kerktoring
sonder duiwe maar met wolke en whitman
iewers was daar son en eindelose drade
i sing the body electric   

Walt Whitman se woorde lui:                               

 

 I sing the body electric
I celebrate the me yet to come
I toast to my own reunion
When I become one with the sun

GU: Ek dink nie enige Afrikaanse digter wat sy of haar sout werd is, kan sommer die Afrikaanse Bybel buite rekening laat nie, omdat daar net te veel verwysings daarna in ons taal is: dink maar aan die woord “jobstrooster”. Dis veral die poësie onderliggend aan die 1933- en 1953-vertalings wat in my kop vasgelê is, dink maar aan Psalm 23 se “hy maak my hoof vet met olie”. Om metafore of verwysings uit die Bybel te gebruik in my gedigte is iets wat outomaties en onbewustelik na vore tree.

Wat “urban hymn” aanbetref: jy is in die kol dat dit op ‘n stadium die slotgedig was. Ek het baie gewik en geweeg voordat ek “nawoord” in die eindposisie geplaas het, maar die oorweging het gewen omdat ek ‘n sterker klem op die programgedig wou plaas: full circle, soos hulle in Engels sê.

Walt Whitman se poësie het ek eers werklik begin te lees terwyl ek my proefskrif oor die digter Mary Oliver gedoen het. Hy was haar grootste mentor al het sy hom uiteraard nooit ontmoet nie. Haar opstelle oor hom het my nuuskierig gemaak oor sy gedigte wat so uitgestrek is soos die prairies. “I celebrate myself” was so ongewoon en flagrant vir ‘n digter van die negentiende eeu en dan was hy nog boonop so cheeky om homself as ‘n Amerikaanse digter uit te basuin en nie as deel van die Engelse kanon nie. En die versreël – “I sing the body electric” – was vir my so modern vir iemand van sy tyd, dit klink meer soos ‘n reël wat uit cummings kon kom.

RB: Gisela, jy het so ‘n hegte, veelvlakkige bundel vir ons gegee. Ek wil darem baie graag stilstaan by die sereniteit, verganklikheid en oordenking van die reeks wat afdeling 5 volmaak – “vir ‘n zoeloeland-boeddha”.

Hier vind die leser helderheid, onskuld en ‘n momenteel koesterende natuur.  Daar is egter heelwat aksie –  hierdie is nie ‘n passiewe vrede nie, eerder ‘n rare vreugde. Jy het Boeddhistiese filosofiese begrippe gebruik om bepaalde gevolgtrekkings in jou gedigte te ondersteun en insigte uit te bou. Kan ek hierdie afdeling in die lig van ander musiek en liedere in die bundel ‘n boeddhistiese psalm noem? Ek weet nie eers of daar so iets is nie.

In hoe ‘n mate integreer jy Oosterse skryftegnieke en vaste vorme in jou digkuns? Waar soek ons die duiwe om die boeddha?

GU: Ek hou baie van jou nuutskepping, Boeddhistiese psalm, René!

‘n Westerling kan uiteraard nooit werklik Oosterse tegnieke vervolmaak nie, veral nie in ‘n taal waarvan die etimologie so fundamenteel verskil nie. Ek het in hierdie bundel met weinig vaste vorm gewerk, omdat ek oor so ‘n lang tydperk daaraan gearbei het. Ek wou die vrye versvorm behou omdat ek nie die bundel te laslappie-agtig wou hê nie. Dit gesê, vereis die vrye vers ook baie dissipline en struktuur, net van ’n ander aard as prosodiese vers.

Ek het hierdie gedigte-reeks geskryf in 2012, so ‘n paar jaar nadat ons vir vyf maande by die Buddhist Retreat Centre in Ixopo, KZN, gewerk het. Die kritiese leser sal opmerk dat die haikoes nie elke keer aan die sillabetelling voldoen nie, maar hier het ek eerder iemand soos Jack Kerouac se siening oor die haikoe gevolg wat nie so streng hou by die oorspronklike digkonvensies nie. Ek het egter intussen ook haikoes geskryf wat daarby hou, maar ek vind hulle minder treffend.

Ek het die essensie van die retreat probeer vasvang, die samesmelting van Boeddhisme wat posgevat het in die nat grond van die Natalse platteland; die mistigheid, die Zoeloevrouens se kleurvolle uitrustings en kopdoeke, die asemrowende Chibinivallei wat netsowel uit die eerste sin van Alan Paton se Cry, the beloved country, kon kom. Die reeks het maklik uit my gevloei.

RB: Die leser se speurtog na die waarheid oor duiwe meander deur jou genealogiese verse, sketse van oumas en oupas. Net soos die dogtertjie in die eerste gedig, het die vader,  oumas oupas en ander wesens ook op ‘n eiesoortige manier vasgevang gebly – sommige deur voorouerportrette of liefde en sommige deur vibracrete-versperrings.

Ons word begelei deur interteks en gedigte met bekende skrywers, Antjie, NP,  André, Ingrid, Ernst van Heerden, Gert Vlok Nel, gedigte oor skilderye. Vernietigende misdaad in die land kom aan die bod. Daar is ook nog kleuterrympies en kwaai juffrouens.  ‘n Paar kombuisruimtes kan met groot vrug bepeins word. Hierdie onderhoud is maar ‘n dun bolagie van al die ontginning en vrae wat moontlik is.

Wat ‘n vreugde om so ‘n volwaardige debuut te ontvang.  Dankie dat jy al my afdraaipaadjies geduldig gevolg het om my vrae te kan beantwoord, Gisela.

Mag hierdie bundel vlerke sprei en vir jou alles wees waarop jy gehoop het.

Is daar nog een laaste gedig wat jy wil uitsonder om hier met ons te deel?

GU: Dankie dat jy saam met my deur die tonneltjies en draaijies geloop het, René. Graag deel ek die volgende gedig met lesers:

 

geel sambreel

             I’m jealous of the rain
            that falls upon your skin
            it’s closer than my hands have been
            I’m jealous of the rain
                        Labrinth

 

jy het my nie weer besoek nie
jou geel sambreel hier vergeet
 

ek skilder op die donkerte prewel
onvoltooide mantras teen die son
 

die buislig flikker in verblindende grepe
 

ek hoor jou soos ver-af tabla en sitar
jy was my indiese moeson
 

die droë seisoen het aangebreek
jou geel sambreel steeds hier

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Gisela Ullyatt (Die waarheid oor duiwe)”

  1. Melanie Grobler :

    Ongelooflik werk. Beide die resensie en die digkuns. So trots op jou Gisela.

  •