5-uur
(vir Gisela Ullyatt, en met Daniël Hugo se helder resensie van haar bundel in gedagte)
dag breek niewers hier
objekte tot heuwels en wolke
en ook in intieme skemer
selfs woorde kry omvang en gewig
geleidelik
onopsigtelik
en as jy nie kyk nie
skielik is die nag iets van die verlede
en sterf jou sinne aan helderheid
elk met ‘n skarrel-skaduwee soos wat
iewers kon gewees het
jy vergeet om te lewe
oor die see word vure aangesteek
en alles vervaag en niks hou stand
hier hou water op
hier begin land
hier vlieg voëls
daar was spore verdonker in die sand
die bewussyn word weer in pyn ‘n gegewe :
die besef dat jy lewe
nog ‘n wyle
nog ‘n wyle
voor jy binnedonker vergeet
© Breyeten Breytenbach 2020
Dis asof jy jou skoene hier wil uittrek en weer begin lees.
Saranatayam, Gisela… En “Boji so-wa-ka…”
Vir Breyten, roshi van die digkuns, met dankbaarheid.
Die duiwe
koer in Zen-grepe
die stilte, ‘n doolhof
van helderheid
Buddham saranam gacchami
Dhamman saranam gacchami
Sangham saranam gacchami
Zafu:swart pampoen
roshi van die kopgrot
eet nie koue pampoen nie
selfs nie met suiker of
Ouma se kaneel nie
Soos die ounag grys raak
buig die sterre wit
buig ek soos dun bamboes
in my bors klop:
Shantih Shantih Shantih
Gisela Ullyatt 25/02/2020,Oos-Londen.
‘die besef dat jy lewe’ – wat ‘n mooi gedig! Ook baie spesiaal vir Gisela. Ons het altyd woorde om mee te vlieg…