Daar is so baie mense – te veel – wie mens nooit sal leer ken om ‘n mondjievol woorde mee te wissel nie ; daar is so baie digters, ook oor die eeue heen, met wie jy in gedagtes sou wou tree om te ja-maar of ‘n beaming te mompel by die lees van hulle tekssterf, maar hierdie deurgang wat ons ‘lewe’ noem is weinig meer as kortpad-vat en jy kom nie by al die stanings uit nie. Dit word seker ook gerig deur wat jy op ‘n gegewe moment raaksien. Dan is dit nie aan te beveel om vanuit Parys ‘n venster oop te maak op wat ver hiervandaan gebeur nie…
My eerste twee aan(d)tekenings as verstekelinge is vir Charl-Pierre Naudé, miskien met die gedagte dat daar tog ‘n Parys in die Vrystaat is (tot vryheid in staat ?), te ver om te loop en te na om te ry ; my derde gesang is vir Gisela Ullyatt. Niemand kan haar na-praat nie.
die keiser se skaduwee in die hemel
Napoléon – op al sy swerftogte
na die ontwykende droom van mag
deur bevryding, oor slagvelde
met ‘n nagwaak se melkweg van lyke bestrooi
in paleise waar in elke kooi ‘n nooi
naak getooi en mooi soos melk wag –
het nag vir nag
buite geslaap
hoed op die kop
gestewel en gespoor
slegs in sy groot jas toegerol
om oë oop of toe
na Jupiter te staar
asof hy al sedert die begin
dood is
*
sous-entendu : stilskryf
(vir lees tussen die snoere)
hoe omvattend daardie woord
soos die keiser se jas
wanneer hy punt in die wind
die melkweg in ‘n idioteboot bevaar
na die eiland van vergaan
gryp !
die greep vang niks vas
behalwe afwesigheid in die jas
as omwoorde begrip van die nieweesniewers
van nikswordnêrens
ook wanneer die melkemmer se geklingel
dood se ryp-word kristal-lig in die skrywe beskrywe
dit wil sê
dis nie te sê nie
maar wel te hoor
wanneer ‘n kiel die nat
in die water naat
en smoor
om naamlik net wat nié geuiter
of begryp is na te laat
in die keel :
dat die uur van die koei
reeds ryp (soos) as is
*
aardsengel
mens is altyd self
jou eie demoon
om te verskoon
totdat jy opeens onthou
jy is ook jou eie
inwonende verwonde engel
waaraan jy jou moet wend
en na meriete
van verdriet en vreugde
mag behou
of oor kan rou
al is dit ook slegs
met die stil
rietbeweging
se vlerkdans woorde
want dit is
soos dit sal wees na behoorte
wanneer al wat voël is
ophou sing in die boord
en julle drie
die laaste passies meet –
te wete : engeldemoon,
mens-is-altyd-self,
en skrywe –
© Breyten Breytenbach, 2020