Eks. 4:10
“Ek praat swaar en my tong sukkel”
Ag, Here van die leërskare,
ek’s nie ’n man van woorde nie
nie van toeka af aan nie
ek staan hier vasgevang
tussen doodsvrees en bang
vir ander mense
hulle
sing lofwaardige lofsange
skryf volop verse vir U
in engeltale
hulle wange bol spraaksaam
volgens Lina Spies
en blaas woorde tot vlamme vreugde
tienduisende engele
staan volop in U stad
in feestelike vergadering
hulle praat die hele openbaring vol
maar ek
is swaar van mond en tong
dit hakkel as ek praat
ek sukkel met die skryf
en prut-prut deur die bank
waar ek klinksuiwer klank
in fonografie verander
om uit te saai as elektrone
kan U
my prullerige gestotter
wat vashaak in die algemene
formules en formuliere
sinvol gebruik
die dubbelsuinige gewoord
en dwalende gedagtes
tot brandpunt trek
sodat die mense luister?
Leer my wat te sê fluister
in my ore wees
Ek is
met my mond
help my gebroke stem
en halsstarrige vingers
om slim woorde vas te pen
bring hulle nader laat dit ryk
stol
soos voor die dolosgooier
van die woord se flits
laat ek, met wyk,
heilige ongehoorde dinge sê
wat waardig is van U
soos die donder en die blits
is dit wat U wil hê?
So nie, Here,
stuur liewers iemand anders
om te sê.
© Meyer van Rensburg, 2020
Met ‘n kopknik rigting Van Wyk Louw, wat juis tans op Versindaba gehuldig word.
Dit is ook ‘n mooi huldeblyk aan Lina Spies wat gister 81 jaar jonk geword het.
Die digter van Klankmanwoordboom (1983) is terug op volle sterkte!