N.P. van Wyk Louw 50. Bernard Odendaal

 

 

 

Valsbaai

Die geloof aan die onsterflikheid van die kuns is die voltooide waansin

van die persoonlikheidsverafgoding[.] (N.P. van Wyk Louw)

 

“In die baai het die wind gaan lê,”

haal sy, daar op die balkon voor ons slaapkamer, uit die bloute aan.

“Maar niks en niemand bid teen die vrees vir die vrees

soos in daai gedig wat jy so graag van hier

kom opsê nie.” Sy beduie hoog oor my kop heen

waar ek met haar gieter onder in die tuin staan:

Kaappunt se kant toe, lyk dit, dan om en anderkant toe, tot in Hangklip se buurt.

“’n Yslike inham oseaan wat vonkel,” sê sy dan.

“ʼn Kil, stil geskitter. Reusediadeem halfedelsteen.”

 

Sy kyk my nou vol trane aan;

dan weer op. “Gister het die boeing ’n streep skuimwit verdriet

deur al wat ultra-, al wat akwamaryn wou wees, getrek –

ons laaste kind en dié se gade in die buik.

En nou kom lê die wind behaagsiek in die baai vandag.”

Sy kyk en kyk. “Vir wat? Op wie en wag?

Hier gaan g’n kleinding se wysvinger oop-

gebuig en, handjie en al,” sy maak dit na, “só gestuur

kan word om uit te wys: Die Strand hier voor, daar Gordonsbaai, en Romanpunt

om, of oorkant toe, die verte in: die boggels Swartkopberg by Simonstad nie.

Die ou plekname nie. Of hom of haar vertel word hoe die voëls hier,

hoe die struike wat jy natgooi daar genaamd …”. Eers as sy gesnuit,

die snesie in haar hand gefrommel het, kom die “is nie.”

“Wie gee van anderland af om, wie,

oor juis ’n suikervoël by die voedfles se tuit

aan daardie olienhouttak? Oor sporrie, en lanternheide? Wáár gaan

geskiedenis wat hulle traak die kinders voor die voete lê

soos hier, op die Kaapse Vlakte, in die Boland en gans die Kaap van Storms rond?

Waar ’n land soos dié wat – hoe nou weer? – ’n mens kan haat en liefhê

net soos jy kan gru van jou terwyl jy van jouself durf hou?”

Sy snik, laat met ʼn afweergebaar die woorde opgedam bly in my mond.

“Wáár moet die kleingoed waarop ons hoop, heen as hulle kreef wil vang

in rotspoele, daglank langs die baai, soos die seuns in daai gedig van jou?”

 

Ék keer nou: Dis ’n gedig van Van Wyk Louw

en nie dieselfde een van hom as die ander twee van netnou nie,

en daardie baai van hom die lê …

Sy knip met ʼn gesnuit en -snuif my feiteprotessie kort.

 

Verlate, die tuin waarin ek staan.

“Voertsek jy en jou gedigte,” kom dit kort voor lank.

“Vir wie gaan jy dit nog kan leer, hè?

Vir wie gaan jy dit langer opsê?”

Haar oë soek boontoe: ’n Vliegtuig grom, maar sonder dampstreep trek.

“Verniet die versgedoente. Woordgetower ofte not:

Dis hol. Eggogrotte. Egokluise. Vort,

sê ek! En voertsek hierdie land

wat so sy kinders dryf tot emigreer!

Wat mens jou nageslagte laat ontbeer.

Ék voel hol. My kinders voel my keer op keer wéér uit die buik

geskeur.”

 

©Bernard Odendaal 2020

Bookmark and Share

8 Kommentare op “N.P. van Wyk Louw 50. Bernard Odendaal”

  1. Marlies Taljard :

    Bernard, dankie vir dié aangrypende gedig met sy stuwende ondertone van woede en hartseer.

  2. Breyten Breytenbach :

    Kan enige gedig verligting bring – opheldering, ‘berusting’- vir wat in hierdie land gebeur – hoe? deur wié? waarom? Kan enige vers die omvang omskryf van ‘n taal wat willens en wetens deur haar eie mense vernietig word? En daarmee saam die soete kennis van méns te gewees het, volwaardig en met ‘n ‘omvoeling’wat deur niks anders vervang kan word nie? En wie sal kan onthou en restitueer sodat dit weer lewe in die sintuie… daardie begrippe en lewende omgewing wat intiem gesoog is uit die omvormng van noemer-genoemde noemgoed?

    U klaagsang van woede en weersin en pyn en verlies en verlange laat mens huil, Professor Odendaal. Dankie vir hierdie wyse waarop u vir ons nou laat begin begryp hoe dit is, moet wees, gaan wees – soos dit miskien nog altyd deur die mens se geskiedenis die geval was (daardie ‘val’ om nie weer te kan opvlieg nie) – om nie meer hier te wees nie.

    Dankie dat u dit nog kon vas-droom in woorde. Vir oulaas? Maar dankie namens vele.

  3. Trienke Laurie :

    Hoe bvoel ‘n mens nie saam nie! Maar dis veral ook jou natuurlike taalgebruik wat my opval.

  4. Bernard Odendaal :

    Baie dankie, julle, Ons kinders is nog in die land – maar soveel vriende, en selfs familie, gaan hierdeur. Julle meelewing dra ek aan hulle op.

  5. Zandra Bezuidenhout :

    Besondere vers, Bernard; treffende kadans ook. Dankie!

  6. Ontroerend! Baie dankie, Bernard, dat jy hierdie ervaring so raak opvang in woorde. Ek sukkel bietjie om hierdie kommentaar te tik, want ek huil te veel – dis presies hierdie situasie wat baie dae vir my in weemoed laat weggly.

  7. Marlies Taljard :

    Heilna, ek kan so met jou meevoel en saamhuil. Wat vir my die ergste is, is dat die hartseer nie net van ons kant kom nie, maar ook van die ander kant af. Australië het nou hulle grense 6 maande lank gesluit, ons grense is toe … mens het nog altyd in jou agterkop die idee gehad dat mens sou kon gaan kuier as die verlange te groot word, en nou besef mens dat selfs al sou jy te sterwe kom, sou jou kind jou nie vir oulaas kon kom vashou nie.

  8. Bernard Odendaal :

    Ek het nogal juis aan julle twee gedink, heilna en Marlies, by die skryf hiervan.

  •