Daniel Hugo. Haar woordpaljas laat ons steier

 

Dit lyk of die Afrikaanse digbedryf ’n waterskeidingsoomblik bereik het. Die voorheen selfgepubliseerde digter Francis Grobler se bundel Nagblind is deur die hoofstroomuitgewery Naledi uitgegee. Dit is haar vierde publikasie in hierdie genre. Die bundel kom vergesel van aanbevelings onder andere deur die bekende skrywers Dana Snyman en Koos Kombuis, asook die sanger en liriekskrywer Richard van der Westhuizen. Op die agterplat staan ’n uitspraak van Antjie Krog: “Daadwerklike talent wat ’n eie interne woordeskat tot stand bring.”

Die enigste onbekende aanbeveler in dié deurlugtige geselskap is Berdéhan Brand wat homself bekendstel as “digter, resensent, vryskut en keurder by hoofstroomuitgewers”. Sy blakerteks word ook as mediavrystelling gebruik deur die uitgewery.

Hier is die teks:

“Francis Grobler skuif die sluier van ’n verskuilde wêreld met ’n afgerigte werklikheid en konformiteite oop met ’n moderne benadering tot digkuns. Die digbundel se outentieke benadering dra by tot ’n skaars, maar nodige kommoditeit in Afrikaanse poësie. Nagblind is ’n kragtige, eiesoortige en eenmalige lesers-ervaring. Die woord word verhelder deur retoriek en metafore wat vonk en word sterk beeldend verwoord. Dit delf in die geestelike dimensie en verfyn en rond die eindproduk tot ’n ‘andersheid’ af wat ver verby die grense van konvensies gaan en aan die geskrewe woord ’n nuwe betekenis gee. Nagblind breek behoorlik die skedels tot nuwe denke.”

Hierdie wartaal (soos metafore wat “beeldend verwoord” word) klop met die troebel segswyse en gedagtegang van die verse self:

            Denke is abstrak

            ’n terminale oomblik van iets wat saakmaak –

            tydelik of terloops

            geen blinde nag haal asem nie.

In ’n resensie op Moerala Media skryf die digter, romanskrywer en taalkundige Hans du Plessis onder meer: “Vir my is Nagblind van Francis Grobler een van die opwindendste debute (sic) van die afgelope tyd, nie net om die pragtige poësie daarin nie, maar ook om die diepte van die dink in die bundel.” Verder herinner die verse hom aan dié van Ingrid Jonker.  As ’n voorbeeld van die voortreflikheid van haar poësie haal Du Plessis onder meer die gedig hier bo aan.

Gewone denke is inderdaad abstrak, soos wat Grobler in die gedig beweer. Digterlike denke daarenteen is meestal konkreet beeldend van aard en hierdie vier reëls bevat inderdaad beeldspraak.

Maar maak dit sin?

Sy omskryf denke as ’n “terminale oomblik”. Dit verdwyn dus net so vinnig as wat dit verskyn. Wat “saakmaak” bestaan dan in ’n oogwink nie meer nie. Denke is dus by implikasie nutteloos. Waarop “tydelik of terloops” moet dui, is glad nie duidelik nie. Die sprong na die “blinde nag” wat nie “asemhaal” nie, bly duister. In elk geval is die personifikasie van ’n nag wat sou kon asemhaal as hy nie blind was nie hopeloos vergesog.

Ek is dus glad nie soos Du Plessis oortuig van die “diepte van dink” by Grobler nie.

Terloops, Du Plessis is nie ’n gereelde resensent van digbundels nie. Dieselfde geld vir Koos Kombuis, Dana Snyman en Richard van der Westhuizen. Om nie eens te praat van Berdéhan Brand nie. Krog en Du Plessis is wel erkende begeleiers van aspirant-skrywers.

Hoe is dit moontlik, vra jy jou af, dat soveel groot name in die literêre wêreld so oorboord kan gaan. Wat het geword van ’n nugter oordeel? Intussen plaas die digter die een video ná die ander op Facebook waarin haar gedigte voorgelees word.

Toe, op Versindaba verskyn ’n oorwoë resensie deur ’n ervare en belese resensent wat self ’n digbundel by Naledi die lig laat sien het: Nini Bennett. Sy wys onder meer op die volgende gebreke van die bundel: “’n Logiese poëtikale verloop ontbreek en botsende metafore vier hoogty.” Sy praat van “amorfe poësie” wat herinner aan – met verwysing na J.C. Kannemeyer se uitspraak in sy literatuurgeskiedenis – die Afrikaanse digkuns van die 1970’s. Sy tipeer die gedigte met die volgende frases: “stilistiese armoede en gebrek aan verstegniese beheer”, “potsierlike sameflansings van woorde” en die “mildelike gebruik van poëtiese clichés en die gesogte woord of beeld.”

Onmiddellik bars ’n storm los. Die digter se ondersteuners sak so hewig op die resensent toe dat die webmeester, Marlies Taljard, verplig voel om van die felste kommentaar te verwyder omdat die resensent persoonlik aangeval en beledig word.

Hier is ’n voorbeeld van so ’n reaksie. Ene Estelle skryf: “Hierdie sg. ‘resensie’ het my sprakeloos gelaat. Ek het nog nooit so ’n wrede, gevoellose en vernederende aanval op ’n digter gelees nie. Was dit nou werklik nodig? Die hele betoog is weersinwekkend en negatief en laat ʼn bitter smaak in jou mond. Hierdie begaafde digter verdien dit nie. Ek stel voor dat dit onmiddellik onttrek word. Dis onaanvaarbaar en gemeen.”

En Alida braak soos volg haar gal: “Aarde sluk dié gekots tog in. Wat op dees aarde het ek sopas gelees? Die enigste ooglopende afleiding wat mens kán maak, is die volgende. Hoofstromers, Ressesente (sic), die hooggeplaasdes (sic) m.a.w., sluk swaar aan die golf van núwe, briljante en geliefde Digters, waarvan hulle nie hou, op húlle uitgediende speelveld waarvan die gras verbleik het, nie.”

Nadat Engela O probeer het om die logika en geldigheid van Bennett se redenasie te ontsenu, kom sy tot die volgende slotsom: “Bennett se resensie is uiters persoonlik en ongegrond. Dit dui op haar persoonlike gevoelens en daar is ’n duidelike gebrek aan insig. Die resensie steun swaar op Kannemeyer se konsepte, en daar is dus ’n ook ’n gebrek aan relevansie en oorspronklikheid. Bennett sluit af met: ‘In Nagblind is daar té veel voetwerk en te min poësie’. Dit is sogenaamde ‘resensies’ soos hierdie wat die beste digters van ons tyd probeer stilmaak en hulle digterlike vryheid wil versmoor.”

Die probleem is dat sosialemediadigters almal deur ’n hoofstroom-uitgewer gepubliseer wil word, maar nie die spelreëls van die gevestigde literatuursisteem wil aanvaar nie. Hulle en hul akoliete verwag louter akklamasie en bewondering.

En dan vra Elmarie Viljoen-Massyn die vraag wat my ook laat wakker lê: “As ’n mens Hans du Plessis se resensie op Maroela Media lees, sou mens nie sê dit is dieselfde bundel wat Nini Bennett onder oë gehad het nie. En as Antjie Krog sê iemand het ‘daadwerklike talent’, wie’s ek om te stry? Dus: Waarom sê Krog en Du Plessis sus en Bennett so?”

Inderdaad. Het die hoofstroom-digters, die gekanoniseerdes, die poëtiese kluts kwytgeraak? Is hulle almal verblind deur Nagblind? Of is Francis Grobler se gedigte wel iets nuuts en opwindends in die Afrikaanse literêre arena?

Die literator Helize van Vuuren dink klaarblyklik so in haar kommentaar. Sy verwys na ’n gedig wat Bennett in haar resensie aanhaal: “’Kopklank’ is vir my ’n skitterende vers. Kyk met ʼn vars oog, gebruik ʼn vars taal, hang nie moeg en verkreukeld aan ou tegnieke soos eindelose rym en ou vorme nie. Strik nie mooi prentjies nie. Slaan ʼn bres in verlepte sienings van die mens en sy maniere van ‘syn’…”

Die enigste erkende digter en literator wat Bennett ondersteun, is Gisela Ullyatt (wat die afgelope tyd uitstekende resensies vir haar debuutbundel, Die waarheid oor duiwe, ontvang het): “Bennett se resensie is uiters relevant, juis omdat sy nié die digter aanval nie, maar uiters professioneel die mankemente in die bundel aan die hand van gestaafde voorbeelde uitwys.”

Boerneef het ’n vers geskryf oor digters wat hy as pretensieus en onverstaanbaar ervaar het: “sy woordpaljas die laat my steier”. Die slotreëls van dié vermaaklike gedig lui só:

            Babel se toring staan hand in die sy

            en skud soos hy lag oor die gektalery.

Ek staan aan die kant van Boerneef, Bennett en Ullyatt op hierdie waterskeidingspunt.

Daniel Hugo

28 Maart 2020

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Daniel Hugo. Haar woordpaljas laat ons steier”

  1. Louis Esterhuizen :

    Uitstekend verwoord, Daniel. So ook Dewald Koen elders op die blad. Ongelukkig is hierdie debat ‘n voortslepende twisgesprek weens die afgelope dekades se klem op eieregte en demokratisering van eie mening met behulp van sosiale media.
    Die probleem is dat die digkuns nié demokraties van aard is nie. Die gedig is ‘n konfrontasie met die self; met eie drome, verwagtings, teleurstellings, ensovoorts. Daarom bly dit altyd ‘n subjektiewe belewenis – geen twee lesers kan ‘n poëtiese teks dieselfde ervaar nie en daarom kan dit nie “algemeen geldend” wees of “verdemokratiseer” word nie, al wek die blootstelling op sosiale media daardie indruk. In wese bly die belewenis van ‘n gedig altyd privaat en persoonlik – indien nie, is dit nie poësie nie, maar retorika.
    Dit is dan die resensent se taak – synde ‘n ingeligte, ervare leser – om daardie eie belewenis so eerlik moontlik te verwoord en binne konteks van die groter geheel te plaas. Met integriteit.
    En dit doen Nini Bennett by uitstek. Dit beteken egter nié dat sy reg óf verkeerd is nie; ook nie die wat van haar verskil óf mee saamstem nie. Volgens my is Bennett ‘n uiters fyn leser van die digkuns en daarom heg ek meer waarde aan haar oordeel as baie van die ander kommentators wat op haar resensie reageer het.
    Soos Daniel Hugo skaar ek my eerder óók aan die kant van Bennett, Ullyatt, Koen, en ander vir wie die digkuns ‘n saak van erns is.
    Ten slotte moet Marlies Taljard, synde Versindaba se inhoudsbestuurder, gekomplimenteer word met haar hantering van hierdie ongemaklike (dog belangrike) diskoers.
    Volgens my het sy dit uitstekend hanteer.
    A luta continua.

  2. Dankie, Louis!

  3. Breyten Breytenbach :

    Hoor! Hoor! Lewies. (Ek sou ‘demokratisering’ in aanhalingstekens sit.)

    En
    eintlik is (die) ek
    maar net die lokalisering
    van ‘n plek
    vir die na-aapselstreke
    van gewaarsyn

  4. Engela O :

    Die gedig “nagblind” is verkeerd aangehaal.

    Hier is dit soos wat dit verskyn op bladsy 83 van die bundel:

    “donker is abstrak
    ’n terminale oomblik van iets wat saakmaak –
    tydelik of terloops

    geen blinde nag haal asem nie.”

    Die woord “denke” word glad nie gebruik in die gedig nie…

  5. Engela O, baie dankie vir die regstelling. Ek het uit Hans du Plessis se resensie aangehaal – weens die virus het ek nie toegang tot my eksemplaar van die bundel nie. Die gedig maak nou meer sin.

  6. Engela O :

    Daniel Hugo, Hans du Plessis se resensie bevat die korrekte weergawe van die gedig. U verwys na “Moerala Media”, ek neem aan dit is die resensie in Maroela Media gedateer 2 Maart 2020? In daardie resensie is die woord “donker” gebruik, nie “denke” nie.

  7. Weer is ek tereg tereggewys. Die oorskryffout was dus myne. Jammer, Hans! “Donker” skakel wel deeglik met die titel “Nagblind” en “blinde nag”. Verder bly ek egter by my uitspraak dat die gedig ‘n demonstrasie van wartaal is. Hoe op aarde kan “donker” (die nag) ‘n “terminale oomblik” wees? Die frase “tydelik of terloops” slaan nog steeds op niks. Die sprong na die “blinde nag” wat nie “asemhaal” nie, bly duister en vergesog.

  8. Engela O :

    Met respek; jy weerspreek jou Daniel Hugo.

    Eers erken jy jou fout en noem dan dat die gedig nou meer sin maak.

    Met die tweede teregwysing erken jy jou tweede fout, maar behou jou argument wat jy indirek self ongeldig verklaar.

    Jy kan nie ñ objektiewe aanname maak van ñ bundel op grond van ñ ander een se resensie nie, nog minder van één gedig. As literator weet jy dit tog?

    Sal dit nie meer verantwoordelik wees om eers die bundel te bestudeer en dan te reageer, eerder as om ñ artikel te grond op ñ resensie van Hans nie?

    Versindaba se beleid vereis immers integriteit.

    Jy noem dat jy na die gedig gekyk het op grond van Hans se resensie, en dat jy nie toegang tot die bundel het nie.

    So ver as wat my kennis strek, is die bundel ook nie in e-formaat beskikbaar nie.

    Hiermee ‘n aanhaling vanuit Prof. Marlies Taljard se onlangste skrywe aan my, gedateer 25 Maart 2020:

    “U sal nooit sien dat enige erkende en gerespekteerde letterkundige ʼn waarde-oordeel oor ʼn resensie uitspreek sonder dat hy/sy die bundel gelees het nie. Dit is die mees basiese vereiste vir resensente en kritici van resensente. Dit is hoe dit in die literêre wetenskap gedoen word. Ek sal byvoorbeeld nie ʼn rugby-kommentator se kommentaar kritiseer as ek nie na die wedstryd gekyk het nie.”

    Hier was Prof. Taljard ongelukkig oor my kommentaar wat ek op 24 Maart gelewer het (sien by Nini Bennett se resensie). Sy het beweer dat ek geen tekens getoon het in my kommentaar dat ek inderdaad die bundel gelees het nie.

    Is hierdie vereiste dan net op my van toepassing? Hoe staan hierdie artikel van jou nog? Veral nadat jy erken het dat jy nie toegang tot die bundel het nie? Geen tekens word getoon dat jy die bundel gelees het nie.

    Dit laat ‘n mens onwillekeurig wonder in watter stadium (en deur wie) besluit is hoe fel die kritiek op Grobler dan nou móét wees.

    Dit is goed dat ons beskaafd hieroor kan praat.

  9. Engela O, ek het die bundel gelees en my oordeel gevorm. Op die tydstip toe ek die artikel geskryf het, was ek reeds terug in Prins Albert terwyl die boek ongelukkig in Kaapstad agtergebly het. My negatiewe kritiek op die bundel as geheel berus nie op een gedig wat in elk geval nie gered kan word deur die herstel van een oorskryffout aan my kant nie.

  10. Ek wou nog byvoeg: Baie dankie vir die les in leeskunde, Engela O.

  11. Waldemar Gouws :

    Oor Ovidius sien ek die stelling dat: “vigorous literary allusion defines all Ovid’s works.” Die idee van sinspeling, toespeling deel die spel-element met “allusion” se Latynse herkoms, nl. “alludere” – om te speel met – en “ludus” – ‘n spel.

    So is die “speeltradisie” kenmerkend geskakel met Breyten Breytenbach se “na-aapselstreke/ van gewaarsyn”, van vroeër hierbo.

    Wat my laat wonder oor intertekstualiteit in “Nagblind”.

  •