
Die waarheid oor duiwe deur Gisela Ullyatt. Protea Boekhuis, 2020.
Resensie: Amanda Lourens
Gisela Ulyatt se debuut is ’n besondere versameling verse oor broosheid, kortstondigheid en verganklikheid. Die bekoorlike voorblad met die afbeelding van ’n porseleinduif deur Toni Pretorius slaag daarin om die tematiek van die bundel vas te vang, wat dalk ten beste beskryf kan word as ’n uitbeelding van lewende wesens op hulle kwesbaarste, omring deur ’n talmende somberheid en uitgelewer aan ’n onbekende en onverskillige noodlot.
Soos in Pretorius se kunswerk die geval is, stel die digter-spreker haar in ’n posisie van weerloosheid op voor haar gehoor – wys sy letterlik die kwesbaarste dele van haar menswees, soos die duif wat die wondbare maagkant wys. En die “waarheid oor duiwe” wat deur die loop van die bundel ontbloot sal word, is dan inderdaad ook die digter se waarheid.
Die bundel gebruik as motto vier lieflike, maar droefgeestige reëls deur Johan Myburg, wat dan ook ’n voorsmaak van die toonaard daarvan gee:
die dae het onrustig geword
met die pote van duiwe
op die windgrys dak
dit het onherroeplik winter geword
Die bundel is in sewe afdelings verdeel, maar word nie beheer deur ’n baie strakke indelingsmeganisme nie, sodat temas mekaar eggo oor die grense van die afdelings heen. Die eerste afdeling bevat die titelgedig (p.8) met ’n beheersde terugblik na die kinderjare toe wegtrekkende bure hulle duiwehok in die spreker-hulle se agterplaas gelaat het, sodat sy met verwondering die voëls en hulle doen en late dopgehou het. Die hok met die duiwe word vir haar as sensitiewe waarnemer haar “ogiesdraadkasteel”, en die duiwe self word “royalty”, wie se “fights, […] jagsheid / […] ongenaakbare fladdering” sy soos ’n nuushond dophou. Verlies is egter die einde van hierdie verhaal, want:
die swanky bure het ná ’n ruk
hul not-so-swanky hok kom terugvat en net ’n leë vierkant
op die vergeelde gras gelos
Verlies, droefheid, sterwe en ondergang in verskeie gedaantes is dan die tema van heelwat van die gedigte uit die eerste afdeling, alhoewel uiteenlopende onderwerpe, en ook op verskillende wyses, aangeraak word. In “pop goes the weasel” (p.20) is dit die dood van ’n groen parakiet wat sonder veel omhaal ten tonele gevoer word, maar in “agter gordyne” (p.18) en “vir liam” (p.16) word die dood van ’n vrouefiguur en ’n kind met ’n veel swaarder emosionele lading verhaal. In laasgenoemde gedig sorg die intertekstuele oproep van Totius en Antoine de Saint-Exupéry vir twee sterk slotverse:
op die agtste dag
besluit jy oplaas hierdie wêreld
was nooit jou woning nie
reis liam reis deur sterre
na waar daar vosse
rose en stiltes is
In “postpartum” (p.11) raak die leser die toeskouer van verbrokkeling ten spyte van die geboorte van ’n baba. Die realisme daarin herinner aan ’n jong Krog se ontluisterende huisvrougedigte, terwyl wrang ironie saamklink in die spreekwoord van die “baba met die badwater uitgooi” wat geaktiveer word:
met ’n skurwe elmboog
toets sy die water in die roomgeel bababad
weggooidoeke
en poeier staan gereed
so ook die teebekers taankleurig van binne beskuitkrummels ’n pappery
geen water uit die krane nie net ’n hol geborrel van niks
wasmandjie loop oor van bra’s broekies en jockeys
die strykplank kners onder verskrompelde skooluniforms
op die mat die hond se modderspore die kat doop sy gebied met vrank pis
die baba brabbel in sy biesiemandjie sy skiet die water uit
Kunstenaarskap kom ter sprake in die kort reeks gedigte oor Helen Martins (“vir ’n uiltuin”, pp.12-13), wat deur ’n lieflike droomkwaliteit omgeef is. Tog boei die donkerder, rock-geïnspireerde “vir eppy” (p.17) my meer, juis deurdat die komplekse aard van kunstenaarskap daar onder die soeklig kom:
haar kitaar haar donker lover
sy speel sadomasochisties
tot haar vingerpunte bloei
sy is comfortably numb
Die tweede afdeling bied veral gedigte wat die digter-spreker se siektebelewenis tot boustof neem. Sosiale kommentaar word opgelet in gedigte soos “beendigtheid” (p.24) en “intensiewe sorg” (pp.30-31) (oor onderskeidelik ’n eie kwaal en die vader se siekte) waarin die mediese bedryf uitgebeeld word as vals en geldgedrewe, maar ook verbeel word as ’n godsdienstige kultus wat nie-ingewydes tot ’n infeksiegevaar reduseer en pasiënte verontmenslik:
die offerlam lê
op die intensiewesorg-altaar
tussen blêrende masjiene
priesteresse in uniforms gluur jou aan
tussen steriele wagtorings van grafieke en lêers
stilte word met elke hartklop opgehef
die dood is ’n raserige ou vrou
by die deur rammel sy oumensgebede af
waarna niemand wil luister nie
die oubaas langs jou hyg
in sy suurstofmasker
hurk die donkerte
almal is verkneg in kampies van glas
in ’n ritueel van antiseptiese seep
was ons hande voor besoektyd
ons wag dat die voorhangsel ooptrek
voordat ons die allerheiligste binnekruip
waar akoliete waak
[…]
Te midde van haar eie siekte ervaar die spreker hoedat sy van haar eie naam vervreem raak wanneer sy dit op onpersoonlike mediese vorms oplet (“my naam”, p.25), maar paradoksaal genoeg is sy persoonlik geteiken deur die naamlose siekte en word sy implisiet ook die siekte se eiendom, soos sy in die slotparagraaf van “jy omsingel my” (p.28) met sy Bybelse toespelings konstateer:
patologieverslae verbloem
jy is nie malaria herpes bilharzia nie
dalk wel leukemie meen die spesialiste
die moontlikhede legio
wanneer jy jou tentpenne
daagliks in my steek
jy het my by my naam geroep
Uiteindelik word ook taal en haar vermoë om ’n liefdesgedig te skryf, deur die siekte afgetakel (“ek wou”, p.29). Dit is interessant dat die gedigte in hierdie afdeling juis gekenmerk word deur ’n groter mate van strakheid en ’n fokus op die materiële, teenoor die meer liriese aard van die eerste afdeling.
Die derde afdeling bestaan uit die vier gedigte in die kort reeks wat “al daardie dae” heet, en kyk onder meer na kollektiewe en individuele sielkundige letsels – die gevolge van onder meer die apartheidsverlede asook ’n genadelose laerskoolonderwyseres.
Eindes, afskeide en die sterflikheid is weer eens in die vierde afdeling aan die orde, en die tekstuur van hierdie groep verse word baie goed weerspieël in die eerste hiervan met die titel “sneeukoningin” (p.40):
vandag se lug ’n krakeluur in ys ek is gereed
om vir die laaste keer te skilder
maande se sneeu
en geniepsige yskeëls
het my verfkwaste verniel
die skilderdoek beluister
’n stil seisoen
ek neem afskeid in die kleur van swane
in drome lok my winterkoning kinders om stukke ys
in die sneeupaleis te splyt
ek besweer die toendra met ’n blou slee
met wit honde en klokkies
hierdie landskap wat selfs die finne koudlaat
dae gaan verlore maar jare herwin ek hierdie spieël geskep uit ’n kleurlose palet van
vreemde heksagone
Hierdie triestige, winterse tyd gaan gepaard met verskraling en ‘n verlies aan kreatiwiteit, soos blyk uit die slotstrofe van “onteer” (p.43) met die slim spel met “skraps” en “skraap”, terwyl die motief van die duiwe weer opgetel word:
alle gedigte uit my geskraap
en skraps is die middag
waaruit bosduiwe vlug
Intertekstualiteit kom ook heelwat voor in hierdie afdeling, onder meer in “jy’t weggegaan” (p.46) na die bekende Louw-gedig, maar met die verskil dat die geliefde gesien word as deel van die subjek:
jy bewoon ’n herberg in my
onder silwer verberg ek jou
ek droom jou om
trek luike dig
’n Hoogtepunt in die afdeling, maar ook die bundel, is Ulyatt se omdigting van die Ophelia-gegewe in “ophelia” (p.52), met beelde van ondergang asof uit die onderbewussyn:
uit swart wilgers se skaduwees
kom hy na haar
bou met slik stewiger walle
om sy waterblommetjies digter te laat groei
hy vleg ’n krans uit pendorings
kroon haar as sy bruid
stadig vaar sy stroomaf
tussen mosbegroeide beentjies
drywende voëlneste
haar ruiker van lantana mimosa magriete
so geel soos vinkmannetjies
haar rok ’n modderroos
hy staan op die wal verkyk hom
aan hoe die bruid verpletter
siltsteen oopgekraak
Die tweede kort gedig onder die titel “oorsprong” (p.55) beeld duiwe uit as die draers van die botydelike, wat waarskynlik ook die naaste is wat die digter aan die metafisiese kom. In “alfa” lees ons:
vlerkig in eteriese vlug
’n duif oor mitologiese stede
waar geelwordende engele
bach in katedrale fluister
‘n Besoek aan ’n Boeddhistiese sentrum is die boustof vir die reeks haikoes wat in die vyfde afdeling aan bod kom. Die digter slaag goed daarin om indrukke en teksture in hierdie kort verse vas te vang, waarvan die volgende ’n uitstekende voorbeeld is:
stilte
is windklokkies
van glas
Die sesde afdeling behels onder meer elegiese verse oor kunstenaars soos Kurt Cobain, Wilhelm Knobel, Ernst van Heerden en André P. Brink, tesame met herinneringe aan die kinder- en studentejare.
Die bundel sluit af met ’n laaste sewende afdeling waarin daar enersyds teruggekyk word na die kinderdae en die persoonlike verlede, maar waarin die dood ook ’n haas tasbare teenwoordigheid word – asof ’n kringloop voltooi is. Die slotgedig vertel hoedat die spreker haarself nooit kon losmaak van die herinnering aan die vergete duiwehok nie, maar dit is in die treffende “gedig in vibracete” (p.81) dat daar ’n versugting gehoor word om van die aardse asook die eie herinneringe ontheg te raak – om as’t ware ’n Boeddhistiese staat van volkome vrywees te bereik:
ek
vroeëperskebloeisel
bespieder van vibracrete-heinings
en die bure se boomlose jaart
hulle hond howl soos ginsberg
sonder ’n beat
geen kaddisj opgedra aan die son nie
eerder ’n venynige wiegelied
heilige here van laerskooldae
if you happen to listen
laat my alles afsterf
verlos my en die brak
van ons vibracrete-dae
Teen hierdie tyd het die bundel die “waarheid oor duiwe” op gestadige wyse onthul, maar sonder enige grootdoenerigheid of breedsprakigheid. En hierdie waarheid is dat verlies die essensie van alle aardse dinge is – dít is die alfa en die omega.
Die waarheid oor duiwe ontroer op ’n manier wat jou as leser vir ’n wyle tot stilstand dwing. Aanvanklik was my kritiese indruk dat die fokus dalk té veel op die konkrete is, dat die metafisiese en die besinning aan die agterspeen suig. Maar soos die bundel in jou wese ingroei, besef jy dat die dieper besinning juis ingeweef lê in die besondere tekstuur van die verse – die fisiese wêreld is die noodwendige vehicle vir die broosheid wat die lewe is.
Mag daar nog vele verse uit Ulyatt se pen verskyn.

Skitterende resensie vir ‘n eweneens skitterende bundel.
Veels geluk.
Baie geluk met ‘n skitterende en welverdiende resensie, Gisela!