Bernard Odendaal gesels met Lynthia Julius oor haar debuutbundel Uit die kroes
Bernard Odendaal: Baie geluk met Uit die kroes. Na hierdie debuutbundel van jou het ons uitgesien sedert jy in 2018 in die Afrikaans-kategorie van die AVBOB-digkompetisie die eerste prys weggeraap het voor die neuse van talle gevestigde digters. In die bekendstellingsbrief van Kwela Boeke word gesê dat jou bundel die geringgeskatte rol van die bruin vrou in die Suid-Afrikaanse verlede en hede in die kollig stel – “hoe daar byvoorbeeld steeds teen wanpersepsies oor ras en skoonheid gestry word,” skryf jou uitgewer. Dit lyk dus vir my of die titel van jou bundel meer as een betekenis wil suggereer. Het ek reg?
Lynthia Julius: Uit die kroes kan gesien word soos Kwela Boeke dit beskryf. Tog is dit nie al wat ek in gedagte gehad het toe ek aan die bundel gewerk het nie. Ek was eers van die genoemde tema bewus toe my eerste keurder dit noem. Dis een manier hoe mens die bundel kan lees: “kroesheid”, wat kan handel oor die rol van die bruin vrou. Maar die titel van die bundel speel met twee betekenisse – ook met “uit die kroes” waar dit gaan oor iemand wat al gelouter is.
BO: ʼn Mens kan sê dat identiteit sentraal staan in die tematiek van jou bundel. Die portretagtige omslagontwerp daarvan dui ook in hierdie rigting, of hoe?
LJ: Dit dui presies die rigting, veral die hangsel om die vrou in die portret se nek, wat sinspeel op die kettings wat daar soms om slawe se nekke vasgemaak is. Die dame op die voorblad lyk ook soos die vrouens lyk wat ek die meeste om is. Ek lees laas ’n vrou sê: “If someone says your hair blocks the view, tell them, Honey, my hair is the view.” Die hare-gegewe sinspeel ook op hoe mense van kleur, met die potloodtoets, se identiteit onder apartheid vir hulle geskep is.
BO: Uiteraard gaan dit oor jou persoonlike identiteitsontwikkeling (sy lyk na jou, die vrou op die omslagportret); daardie identiteitsontwikkeling is egter ook verteenwoordigend van iets kollektiefs. Vandaar, byvoorbeeld, dat goed die eerste kwart van die gedigte in jou bundel die belewenisse van figure uit die koloniale tydperk van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, tot kort voor die einde van die apartheidsera, tot onderwerp het. ʼn Mens moet dus nie jou bundel lees asof dit outobiografies van aard is nie, of hoe?
LJ: Ek dink nie my bundel moet as outobiografies van aard gesien word nie. Ek het laas iewers raakgelees dat die skrywer nie altyd verantwoordelik moet wees vir die skepsels in sy/haar boek nie. Daar is baie gedigte wat gaan oor my familie, my voorkoms; tog is daar ook anders wat ek gesien het, wat ek beleef en bygestaan het, wat deur kwessies gaan wat in die bundel aangespreek word. Daar is te veel om oor te dig. Iemand moet my tog op my vingers kap as my werk te outobiografies van aard word.
BO: Van “ontwikkeling” gepraat: Is dit hoekom jou bundel nie in duidelik identifiseerbare afdelings (met afdelingnommers of -titels, en/of oop bladsye tussen hulle) ingedeel is nie? ʼn Mens vind wel dat sekere tematies verbandhoudende gedigte op mekaar volg, maar ook dat temas en motiewe verspreid deur die bundel voorkom. Waaraan wou jy gestalte gee met hierdie samestellingswyse?
LJ: Ek is hopeloos te dom met titels en samestellings. Omdat dit my eerste bundel is, wou ek leer. Ek het elke stukkie leiding gevat wat daar vir my voorgestel is; tog het ek ook die vryheid gehad om te kies. Die tegniese goed … o, dis ’n ander ding as kreatief skryf vir my.
My uitgewer, Carolyn Meads, het stukkie vir stukkie met die gedigte gewerk, en my sin in hulle tesame gegee, en watter gedig ek waar moet plaas. Ek wou veral net hê die laaste gedig in die boek moet “Kroes” wees.
BO: Hoe die lewe as slaaf en onderdrukte in koloniale en pre-demokratiese Suid-Afrika moes wees, is moeilik vir ʼn jong volwassene soos jy om jou in te dink. Vertel hoe jy dit kon regkry om die besonder treffende gedigte hieroor te skryf.
LJ: Daar was ’n tyd toe ek nie kon verder studeer nie. Ek het vir Lynthia baie goed voorgesê
sy beter nie net fokus op een sekere genre nie. Ek het Giliomee op Giliomee gelees. Ek het Karel Schoeman gelees. Man, geskiedenis en geskiedenis. So besef jy ook hoe anders dit vir almal voor jou tyd was. Die hede raak soms vervelig en jou dae raak later ook net ‘das Nichts’ as jy net jou tyd se kwessies aanraak.
BO: Dit is duidelik dat die identiteitskwessie wat so in die hartjie van Uit die kroes staan, as ʼn ingewikkelde, selfs omstrede een deur jou beleef word. Die slotgedig van die bundel, daardie “Kroes” waarvan jy gepraat het, met ʼn titel wat herinner aan die van die bundelgeheel, is ʼn sprekende bewys hiervan. ʼn Opstandigheid teen neerhalendheid op grond van kleur of geslag spreek duidelik uit gedigte soos “Die hulp” en “Ma’t gesê”. Is dit ʼn regverdige versoek as ek jou vra hoe jy jou identiteit sien?
LJ: Voor ek ’n suster, dogter, auntie of niggie is, is ek my eie mens. Ek steek nie myself aan die brand om enigeen warm te hou nie.
BO: Meer as een gedig in jou bundel bevat verwysings na jou Nama-afkoms, of het daardie afkoms as onderwerp. Soms word hierdie afkoms kennelik gekoester – maar nooit op versoete wyse nie. Trouens, daar is plek-plek (in ʼn gedig soos “Die intellektualisme van goed”) ʼn bepaalde spanning te bemerk tussen die tradisionele van daardie afkoms en jou nagraadse geleerdheid in byvoorbeeld die filosofie. ’n Mens sou selfs kon praat van ʼn anti-sentimentele drif in jou gedigte; oor jou afkoms, maar ook oor ander dinge wat jou na aan die hart lê. Laasgenoemde kom byvoorbeeld tot uitdrukking in sekere stilistiese kenmerke van jou bundel: die spontane, maar opvallende saambestaan van streekstaal en sogenaamde standaardtaal; beeldspraak wat verras, maar terselfdertyd ontluister. Steek daar waarheid in hierdie waarnemings van my?
LJ: Ek is my voorouers se wildste drome. My oumagrootjie moes vee oppas al wou sy verder skool toe gaan. Ek doen dit wat die mense voor my tyd nie kon gedoen het nie oordat daar kolonisasie was, omdat apartheid daar is. Omdat my Oupa nie die geleentheid gekry het om ’n prof te kan word nie. Ek doen wat hulle nie kon doen nie. Ek studeer, omdat ek wil. Ek maak sin van my poësie deur kennis wat ek gekry het deur die harde werk van my ma en pa en die trane wat my Nama-oumagrootjie gehuil het toe sy nie klaar skool kon gaan nie.
BO: Nog ʼn helder spoor wat deur sekere van die mees onvergeetlike gedigte in Uit die kroes gevolg kan word, is dié van die vrouefigure in jou lyn van afkoms én in jou eietydse beleweniswêreld – byvoorbeeld die moeder-figuur. Weer eens is die beskouing wat jy bied van hulle, nie enkelvoudig nie; getuig dit van die spanninge in ʼn wêreld wat nie heel is nie, maar ook nie sonder helende moontlikhede nie. Gesels hieroor.
LJ: Ek het gevoel ek moet eerlik dig. Ek het gevoel as vrou moet ek eerlik oor vrouens dig. Om vrou te wees, is nie maanskyn en rose nie. Jy leer ken die krake van die vrouens om jou. Hoe hulle te kort kom aan sekere eienskappe. Ek skryf oor my ma soos ek haar ken. Met dit saam kom die stilte. Stilte oor wat jy al deurgemaak het, wat jy nie oor mag praat nie. Ek voel dis ’n skrywer se plig om stem te gee aan die wat al vir so lank deur die lewe stilgemaak is. Ons is al so gewoond aan “binnetoe huil” dat dit ons op die ou end vernietig.
BO: Van die moeder-figuur gepraat: ʼn Wye register veral literêre verwysings, in die besonder na die Afrikaanse digkunstradisie, is in jou bundel te bespeur. Jy het al vertel dat jou ouers ʼn groot rol gespeel het om jou (en jou suster en broer) se belangstelling in die Afrikaanse digkuns te prikkel. Vertel meer hieroor.
LJ: Ons huis is vol meubels, wat my pa gemaak het. Gedigte wat ek al geskryf het; kortverhale van my suster; my broer het ’n musiek-studio in sy kamer. (Hier ounag oor jy net die gedoef-doef van sy keybord.) Ek bly in ’n huis vol kunstenaars (deurmekaar goed!). Maar by die digkuns is dit my ma. Veral die gedigte wat sy vir my en my suster voorgelees het, snags voor ons gaan slaap het. “O, die pyngedagte” en “Die ruiter van Skimmelperdpan”. Toe ek in graad een was, het ek al vir “Ruiter van Skimmelperdpan” en “Waar ruwe rotse” uit my kop geken.
BO: Tog val dit op, in ʼn tyd waar bundels dikwels deurtrek is van gedigte oor digkuns as verskynsel, dat daar relatief min poëtikaal besinnende gedigte in Uit die kroes voorkom (wel een of twee teen die einde van die bundel). Is dit ʼn geval dat daar belangriker onderwerpe is wat jou interesseer as ʼn nadinkery oor wat digkuns en digterskap behels?
LJ: Digkuns is belangrik. Dis onlosmaaklik deel van my. Om digkuns te lees is belangrik. Maar ’n vriendin wat my vra om haar by te staan by Marie Stopes, is belangriker as Phillip Larkin en die Groot Verseboek. As jy hoor van hoe vrouens verkrag word en daar ’n groter kans is vir jou om verkrag te word as wat jy werk kan kry, skuif ek poësie eers eenkant. Ek is nie net poësie nie. Ek is eers mens.
BO: Een van die onderwerpe wat jou kennelik interesseer, is die liefde as veelkantige verskynsel: van hygendhertse erotiek tot afhanklikheid-te-midde-van-geweldpleging tot verlatenheid se smart. Gekompliseerde verhoudings word uitgebeeld, maar nooit sonder empatie en deernis nie. Wil jy op my aanmerkings hieroor reageer?
LJ: Aljarreau moet my begin betaal laat sy naam nou so geken word. Die liefde-ding verstaan ek nie aldag nie. Ek hou tog baie van die erotiek. Ek is versot op die gedig “The beautiful Poem”, geskryf deur Richard Brautigan:
I go to bed in Los Angeles thinking
about you.
Pissing a few moments ago
I looked down at my penis
affectionately.
Knowing it has been inside
you twice today makes me
feel beautiful.”
Wys my die mens wat die liefde volkome verstaan en ek gee jou my lewer en nier. Ek kan soms koud wees as dit by die liefde kom. So hier en daar het ’n man al trane gestort oor my – maar wat is dít nou? ’n Ander antie se kind het my ook al laat huil. Vir my familie, die mense wat ek liefhet, ry ek ’n ystervark se rug kaalgat. Maar ek het ook al vriendinne wat ek liefhet maar wat my in die rug gesteek het, net gevra “Et tu, Brute?” en hulle toe doodgetippex uit my bestaan uit.
BO: ʼn Ander aspek wat deel van jou spesifieke identiteit uitmaak en waaroor jy in enkele verse skryf, is die depressiesiekte waaronder jy soms gebuk moet gaan. Hoe gaan dit tans met jou, hier nadat die vlakke van afsonderingsmaatreëls weens die COVID-19-pandemie darem ietwat verlig is?
LJ: My ouma sê my nou al jare ek moet leer om my bek in my gat te steek. Laat ek eers my ouma se woorde kop toe vat en die geheim hou. Maar ek moet sê, so ’n biertjie, hier as jy die maan sit kyk in die COVID-tyd, is nie so sleg nie.
BO: Ek sien werklik uit daarna om te hoor wat mense van hierdie besondere bundel van jou gaan dink!
LJ: Nie die mense nie, ek worry oor my ma en pa. Julle moet net weet wanneer my ma die bundel in die hande gaan kry, is ek dakloos en wees. Ek sal ’n blyplek vir die winter waardeer, en so nou en dan twee blikkies baked beans.
So lui die slotgedig van die bundel:
Kroes
[I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood. – Zora Howard]
Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
net ’n bietjie BaByliss hier
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie
daar was ’n tyd toe ek in Kimberley in wou pas
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen
ek was te kroes om ’n Kimberley Coloured te wees
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
ek het uit die as opgestaan met my kroes hare, Mamma
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie