Die heimlike heiligdom deur Jacobus van der Riet. Protea Boekhuis, 2020.
Resensie: Dewald Koen
Die sonnet (hetsy die Italiaanse of Petrarchaanse/Shakesperiaanse sonnet) kan as een van die mooiste digvorme beskou word. Die woord “sonnet” is afgelei van die Latyn sonare wat “om te klink” beteken (Grové, 1953:123). In Nederlands word daar ook van die “klinkdicht” gepraat en dit is juis hierdie musikale klankryke aard wat die sonnet as digvorm so treffend maak. Dit is sekerlik ook een van die mees uitdagende digvorme wat aan talle reëls moet voldoen, en soos Grové tereg opmerk, maklik in ’n “leë vernufspel kan ontaard” (1953:124).
Vader Jacobus van der Riet is een van slegs twee Afrikaanssprekende geordende priesters in die Grieks Ortodokse kerk in Suid-Afrika. Naas priester is hy ook bibliotekaris en digter en het in 2012 met Die onsienlike son gedebuteer. Kenmerkend aan Van der Riet se debuutbundel is die sestigtal sonnette gebaseer op die heiliges wat deur die Oos-Ortodokse kerk gekanoniseer is. In sy jongste bundel Die heimlike heiligdom sluit Van der Riet aan by Die onsienlike son met ’n verdere vyftigtal sonnette geskoei op die die lewens van heiliges. Die argument kan dus aangevoer word dat die twee bundels ’n tweeluik vorm waarin die konsep van heiligheid, maar ook spiritualiteit ondersoek word.
Digters soos Sheila Cussons het reeds talle gedigte in haar roemryke oeuvre geskryf waarin daar veral klem geplaas word op die Katolieke geloofsbelydenis in teenstelling met digters soos W.E.G. Louw, T.T. Cloete en I.L. de Villiers waarin die Protestantse geloof prominent figureer, terwyl Breyten Breytenbach alom bekend is vir sy Zen-Boeddhistiese inslag. Dit is dus belangrik om te noem dat Van der Riet se bundel nie ’n spesifieke geloofsbelydenis wil verkondig of bevorder nie, maar bloot gedigte met die leser deel binne die verwysingsraamwerk van die Grieks Ortodokse kerk. Die sonnette is gevolglik nie slegs op religieuse lesers gemik nie, maar kan ook vanuit ’n meditatiewe perspektief gelees word. Die leser word as sulks gedwing om te besin oor die dieper boodskap binne elke sonnet en word ook aan onbekende heiliges vanuit ’n Grieks Ortodokse perspektief bekend gestel.
Die titel van die bundel sinspeel op die gewydheid van die heiliges wat vir die gewone mens bestaande uit vlees en bloed as amper verborge figure voorkom. Hierdie “heiligdom” is “heimlik” van aard. Die mens se soeke na antwoorde op vrae wat geestelik van aard is, vorm deel van hierdie ‘heimlike heiligdom’. Van der Riet bied aan die leser die spreekwoordelike toegang tot die ‘heimlike heiligdom’ deur die onbekende wêreld van die heiliges vir die leser te ontsluit.
Alhoewel Die heimlike heiligdom nie enige kleurafdrukke van ikone soos in Die onsienlike son bevat nie, is die voorplat heel besonders en esteties aanloklik. Dit sluit sterk aan by die gewyde stemming van die bundel as geheel met ’n kunswerk deur die Oekraïense kunstenaar Ivanka Demchuk se “Annunciation” – of eerder die aankondiging van die blye boodskap waarin die engel Gabriël Maria inlig dat sy ’n kind sal baar, naamlik die Seun van God. Demchuk se kunswerk sluit ook direk aan by die gedig “Die Aankondiging van die Blye Boodskap”:
Het die dagbreek gedui op wat hierdie dag sou bring,
die son hom met haas aan die nag se tentakels ontruk,
’n gloedrooi granaat met ’n kroon van ses punte gepluk?
Het ’n duif dringend gekoer, ’n lewerik luidkeels gesing?
Het soos ’n bruid ’n lelie haar stempel met skroom omhul,
oornag dalk ’n amandelboom met ’n enkele bloeisel gebloei?
Het ’n roos van Saron sy kop gelig waar daar distels groei?
Het ’n kind by die basilisk gespeel, ’n leeu van Juda gebrul?
Waar sy garing spin vir die weef van ’n nuwe tempelgordyn,
kon sy dink dat die hemel skielik sou open, ’n engel verskyn?
Het sy Babilon se vurige oond onthou, veral die mistige bries,
en wat van die bloeiende staf in die ark, die dou op die vlies?
Hoe kon sy weet hoe sag die voetjies in haar buik sou skop,
Hy wie se hart sy nou in haar skoot voel klop, nes ’n kneukel?
Dit is interessant om die bostaande gedig te lees en met die “Maria”-gedigte van onderskeidelik W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons en I.L. de Villiers te vergelyk. Ook Cas Vos se “Maria van Nasaret” is hier van toepassing. Reeds in Die onsienlike son het Van der Riet oor Maria geskryf in sy gedig “Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God”. Die gedig fokus meer op die menslike eienskappe van Maria as moeder in die wending vergeleke met “Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God” wat meer op die gewyde vreugde van die koms van die Seun van God klem plaas.
Die eerste ses gedigte in die bundel fokus op heiliges wat aan die meeste Christenlesers bekend sal wees, insluitend die Profeet Moses, Dawid en Lukas. Die programgedig bestaan uit drie afdelings en fokus op die lewe van “Die Heilige Profeet Moses”. Die spreker slaag daarin om die weemoedige toon van Moses se lewensverhaal en die talle uitdagings wat hy moes oorwin op geslaagde en klankryke wyse te verwoord:
[…]
Ontmoedige Moses, wat uitgeput klim
na Nebo se hoë kruin, beteuterd staar
na waar melk- en heuningland glim
kyk hoe blink daar ver die olyf se blaar.
In “Die Heilige Brandaan die Seevaarder” (ook bekend as een van die twaalf Apostels van Ierland) word die Heilige Brandaan se soeke na die Tuin van Eden uitgebeeld:
O Vader, altoos voor my uit in die wind en weer,
op die kruin van die golf en ook diep in die trog
op hierdie dolende Eden-soekende pelgrimstog
as my siel soos ’n kormorant oor die water skeer. […]
Laasgenoemde gedig aktiveer ’n intertekstuele verwysing na D.J. Opperman se agttal sonnette getiteld “Brandaan” in sy bundel Engel uit die klip (1950) wat, alhoewel dit inhoudelik grootliks van Van der Riet se interpretasie verskil, geïnspireer is uit die Middeleeuse verhaal van die reis van “Sinte Brandaan” (Grové, 1974:67). Die reismotief staan dus sentraal in beide Opperman en Van der Riet se gedig gebaseer op die Heilige Brandaan.
Opvallend omtrent die vyftigtal sonnette in die bundel is die digter se vermoë om telkens die vorm van die sonnet te verander. Laasgenoemde dra by tot die afwisseling van strofelengtes om eentoningheid te vermy. Sodoende word die sonnette nie ’n blote herhaling van die kenmerkende resepmatigheid wat met die sonnetvorm geassosieer word nie, maar bied die digter ’n unieke beeld van elke heilige – beide in inhoud, klank en vorm. Met die sonnetvorm bestaan daar altyd die gevaar dat die digter hom- of haarself aan woordoordaad of dwangrym skuldig kan maak. In dié opsig toon Van der Riet duidelike groei vanaf sy debuutbundel en word elke woord heelwat swaarder geweeg. Die bundel sluit af met ’n gedig “Die Heilige Paisios van die Heilige Berg”:
Jy vlieg verder, swerfvalk van God,
op jag na die tergende, lokkende prooi
wat skuil op Sinai se kruin of straks in ’n grot
aan Athos se hange, Tuin van die Nasaretnooi.
Vir jou, Paisios, bring die visarend vis,
in jou hand soek Walid, die rooiborsie, kos;
by jou luier die wesel, skilpad, slang en akkedis.
Jy sweef hoog, malmok van die Gees,
omsirkel die pole van ons gefolterde eeu
tot in jou verste vlerkveer gevoelig waar hees
die krete opklink, verwees soos dié van ’n roek of meeu.
Jy skrop nes, soos ’n bospatrys of ’n kelkiewyn;
naglank waak jy – hoe roep die uil, hoe huil die vos –
tot die lig deur die donker wolk van ons wanhoop skyn.
In die geheel is Van der Riet se jongste bundel ’n geslaagde voortsetting van sy debuut waarby religieuse sowel as spirituele lesers aanklank sal vind. Lesers aan wie die heiliges van die Grieks Ortodokse kerk onbekend is, sal die biografiese afdeling aan die einde van die bundel insiggewend vind, aangesien dit belangrike inligting oor die verskillende heiliges wat in die bundel aan bod kom, uiteensit. Die bundel word foutiewelik as “fiksie” op die agterplat aangedui – ’n aspek wat hopelik met ’n moontlike herdruk reggestel sal word. Die heimlike heiligdom is ’n bundel wat die leser tot diep besinning dwing om bestekopname te neem van die gewyde aspekte van ons geestelike en spirituele lewensbeskouing. Soos met sy debuutbundel, het Van der Riet weereens bewys dat hy oor kranige digvernuf beskik met ’n bekwame hand wat beheersd met die skryf van ’n sonnet kan omgaan. Dit is ’n bundel wat die menslike psige verryk en die ernstige poësieleser tot nadenke sal stem.
Verwysings
Grové, AP. 1953. Woord en wonder: Inleidende studie oor die tegniek van die poësie. Kaapstad: NASOU.
Grové, AP. 1974. D.J. Opperman – Dolosgooier van die woord: Saamgestel deur A.P. Grové by geleentheid van die digter se sestigste verjaardag op 29 September 1974. Kaapstad: Tafelberg.
‘n Behendige en aangrypende bundel. Welgedaan.